Vraebus
◼ Wie moet by gemeentelike vergaderinge bid?
Gemeentelike gebed is ’n belangrike deel van ons aanbidding. Dit is ’n kosbare voorreg en ’n gewigtige verantwoordelikheid om ander voor Jehovah te verteenwoordig. Omdat dit so belangrik is, moet ouer manne goeie oordeel aan die dag lê wanneer hulle besluit watter broers aan die vereistes voldoen om by vergaderinge te bid. Gedoopte broers wat die gemeente verteenwoordig, moet ryp Christenbedienaars wees wat as goeie voorbeelde bekend is en wat deur die gemeente gerespekteer word. Hulle godvresende en eerbiedige gebede moet ’n goeie verhouding met Jehovah God weerspieël. Die artikel “Bid voor ander met ’n nederige hart” in Die Wagtoring van 15 Mei 1986 sit belangrike beginsels uiteen wat veral nuttig is vir diegene wat in die openbaar die gemeente in gebed verteenwoordig.
Die ouer manne sal nie ’n broer wat bekend is vir twyfelagtige of ligsinnige gedrag ’n gebed laat doen nie. ’n Broer wat geneig is om ontevredenheid uit te spreek of openbare gebed gebruik om persoonlike geskille te lug, sal nie gekies word nie (1 Tim. 2:8). Al is ’n jong tienderjarige broer gedoop, sal die ouer manne moet vasstel of hy geestelik ryp genoeg is om die gemeente in gebed te verteenwoordig.—Vergelyk Handelinge 16:1, 2.
Soms is dit dalk nodig dat ’n gedoopte suster by velddiensvergaderinge bid as daar nie ’n geskikte broer is om die groep te verteenwoordig nie. Sy moet ’n gepaste hoofbedekking dra. As daar waarskynlik nie ’n geskikte broer by sekere velddiensvergaderinge sal wees nie, moet die ouer manne ’n geskikte suster vra om die leiding te neem.
Gewoonlik doen die voorsitter van die Openbare Vergadering die openingsgebed. Maar by ander gemeentelike vergaderinge, wanneer daar ’n hele paar geskikte broers beskikbaar is, hoef die een wat die vergadering open of die een wat die laaste deel behartig nie noodwendig die openings- of slotgebed te doen nie. Hoe dit ook al sy, die broer wat gevra word om by ’n gemeentelike vergadering te bid, moet voor die tyd daarvan in kennis gestel word sodat hy kan nadink oor wat hy gaan sê. Dan kan hy ’n samehangende, opregte gebed doen wat gepas is vir die betrokke vergadering.
Sulke gebede hoef nie lank te wees nie. Wanneer ’n broer ’n openbare gebed doen, sal hy gewoonlik beter verstaan word as hy opstaan en hard en duidelik genoeg praat. (Vergelyk 1 Korintiërs 14:16.) Dan sal almal wat teenwoordig is die gebed kan hoor en aan die einde opreg “Amen!” kan sê.—1 Kron. 16:36.