“Hoe sou ek . . . kon, tensy iemand my lei?”
1 Toe die evangeliedienaar Filippus die Etiopiese eunug gevra het of hy verstaan wat hy uit God se Woord lees, het die man geantwoord: “Hoe sou ek tog ooit kon, tensy iemand my lei?” Filippus was bly om hom te help om die goeie nuus oor Jesus te verstaan, en die man is onmiddellik gedoop (Hand. 8:26-38). Filippus het die opdrag van Christus gehoorsaam om ‘dissipels te maak van mense van al die nasies, hulle te doop en hulle te leer’.—Matt. 28:19, 20.
2 Ons moet die opdrag gehoorsaam om dissipels te maak, net soos Filippus gedoen het. Maar die vinnige geestelike vooruitgang wat die Etiopiese eunug gemaak het, word nie dikwels onder diegene gesien met wie ons die Bybel studeer nie. Daardie man, ’n Joodse proseliet wat die Skrif goed geken het, het ’n ontvanklike hart gehad en moes slegs aanvaar dat Jesus die beloofde Messias was. Dit is ’n uitdaging as diegene met wie ons studeer nie met die Bybel vertroud is nie, deur valse godsdiensleringe mislei is of onder moeilike persoonlike probleme gebuk gaan. Wat sal ons help om Bybelstudente met welslae tot toewyding en doop te lei?
3 Stel vas wat die Bybelstudent se geestelike behoeftes is: Die byvoegsel tot Ons Koninkryksbediening vir Augustus 1998 het bespreek hoe lank ons met mense kan studeer deur die Vereis-brosjure en die Kennis-boek te gebruik. Dit het die volgende riglyne gegee: “Dit is noodsaaklik om die pas van die studie by die omstandighede en vermoë van die student aan te pas. . . . Ons wil nie ter wille van spoed verhinder dat die student ’n duidelike begrip verkry nie. Elke student het ’n stewige grondslag vir sy nuwe geloof in God se Woord nodig.” Dit is dus raadsaam om nie deur die materiaal in die Kennis-boek te jaag omdat jy die boek binne ses maande wil voltooi nie. Dit kan baie meer as ses maande verg om party mense te help om tot doop te vorder. Terwyl jy week na week die studie hou, moet jy soveel tyd as wat nodig is, gebruik om die student te help om te verstaan en te aanvaar wat hy uit God se Woord leer. In sommige gevalle sal twee of drie weke nodig wees om een hoofstuk in die Kennis-boek te dek. Dit sal jou die tyd gee om baie van die teksverwysings te lees en te verduidelik.—Rom. 12:2.
4 Maar gestel jy besef, nadat julle die Kennis-boek voltooi het, dat die student se begrip van die waarheid afgerond moet word of dat hy nog nie ten volle gemotiveerd is om ’n standpunt vir die waarheid in te neem en sy lewe aan God toe te wy nie (1 Kor. 14:20). Wat kan jy nog doen om hom te help om op die weg te kom wat na die lewe lei?—Matt. 7:14.
5 Bevredig die Bybelstudent se geestelike behoeftes: As dit duidelik is dat iemand vordering maak, al is dit stadig, en dat hy waardering opbou vir wat hy leer, kan jy die Bybelstudie in ’n tweede boek voortsit nadat die Vereis-brosjure en die Kennis-boek voltooi is. Dit sal nie in elke geval nodig wees nie, maar wanneer dit wel nodig is, moet die studie voortgesit word in die Ware vrede-boek, die Verenig in aanbidding-boek of die God se woord-boek. Die meeste verkondigers het persoonlike eksemplare van hierdie boeke wat hulle kan gebruik as die gemeente nie ’n voorraad daarvan het nie. Die God se woord-boek is die enigste een wat van die Genootskap aangevra kan word. In alle gevalle sal die Vereis-brosjure en die Kennis-boek eers gestudeer word. Julle moet die Bybelstudie, herbesoeke en tyd wat verder aan die studie bestee word, tel en rapporteer, selfs al word die student gedoop voor die tweede boek voltooi is.
6 Beteken dit dat diegene wat onlangs gedoop is, maar wat slegs een boek gestudeer het nou verdere hulp moet ontvang om die tweede boek te studeer? Nie noodwendig nie. Maar dalk het hulle onbedrywig geword of nie enige vordering in die waarheid gemaak nie, en hulle voel dalk dat hulle persoonlike hulp nodig het om in groter mate die waarheid in hulle lewe toe te pas. Die diensopsiener moet geraadpleeg word voordat ’n studie met ’n gedoopte verkondiger hervat word. As jy egter van iemand weet wat die Kennis-boek in die verlede gestudeer het, maar nooit tot toewyding en doop gevorder het nie, kan jy dalk die inisiatief neem om uit te vind of hulle hulle Bybelstudie wil voortsit.
7 Dit is ’n teken van Christelike liefde om opregte, persoonlike aandag te gee aan elke belangstellende met wie ons studeer. Ons doelwit is om die student te help om groter insig in die waarheid van God se Woord te kry. Dan kan hy ’n ferm, ingeligte standpunt vir die waarheid inneem en sy lewe aan Jehovah toewy en daardie toewyding deur waterdoop simboliseer.—Ps. 40:8, NW; Ef. 3:17-19.
8 Onthou jy wat gebeur het nadat die Etiopiese eunug gedoop is? “Hy het sy reis vreugdevol voortgesit” as ’n nuwe dissipel van Jesus Christus (Hand. 8:39, 40). Mag ons en diegene wat ons help om op die weg van die waarheid te kom, groot vreugde daaruit put om Jehovah God te dien—nou en vir ewig!