Eenvoud is die beste
1 Waarom boei jong verkondigers dikwels die aandag van diegene aan wie hulle die Koninkryksboodskap oordra? Een rede is dat hulle aanbiedings eenvoudig is. Sommige verkondigers voel dalk dat ’n doeltreffende getuienis net met ’n treffende aanbieding gegee kan word. Ondervinding toon egter dat ’n eenvoudige en duidelike aanbieding die beste is.
2 Jesus het op ’n eenvoudige, reguit manier van die Koninkryk van God getuig en sy dissipels geleer om dieselfde te doen (Matt. 4:17; 10:5-7; Luk. 10:1, 9). Hy het eenvoudige inleidings, vrae en illustrasies gebruik om sy luisteraars se aandag te boei en hulle hart te bereik (Joh. 4:7-14). Ons moet sy voorbeeld navolg en aanbiedings doen wat maklik verstaanbaar is.
3 Die “goeie nuus van die koninkryk” is die boodskap wat ons moet verkondig (Matt. 24:14). As jy die Koninkryk as jou basiese tema gebruik, sal dit jou help om jou aanbieding eenvoudig te hou. Praat oor dinge waaroor jou luisteraars besorg is. Vroue stel dikwels meer in hulle gesin belang as in politieke onderwerpe. Vir ’n vader is sy werk en die veiligheid van sy gesin van onmiddellike belang. Jongmense stel belang in hulle toekoms; ouer mense in beter gesondheid en hulle veiligheid. Mense is dikwels meer besorg oor plaaslike gebeure as dit wat in verafgeleë lande gebeur. Nadat julle oor gemeenskaplike belange gesels het, kan jy die aandag vestig op die seëninge wat die gehoorsame mensdom onder God se Koninkryksheerskappy sal geniet. ’n Paar eenvoudige, goed gekose woorde saam met ’n teks kan die beste manier wees om jou luisteraar se belangstelling te wek.
4 Jy kan ’n gesprek begin deur te sê:
◼ “Jy sal sekerlik saamstem dat die mensdom deur talle ongeneeslike siektes geteister word. Maar het jy geweet dat God belowe het dat hy binnekort alle vorme van siekte, asook die dood, gaan vernietig?” Wag vir ’n antwoord en lees dan Openbaring 21:3, 4.
5 Mag jy, deur middel van duidelike en eenvoudige aanbiedings, die verstande en harte van meer mense in julle gebied bereik en hulle help om te leer van Jehovah en die vooruitsig om vir ewig te lewe.—Joh. 17:3.