Ouers—Lei julle kinders van kleintyd af op
1 “Lei ’n seun op volgens die weg vir hom; ook as hy oud word, sal hy nie daarvan afwyk nie” (Spr. 22:6). Ouers, wanneer moet hierdie opleiding begin, as julle nie wil hê dat julle kinders van die weg van die waarheid moet “afwyk” nie? Vroeg in hulle lewe!
2 Toe Paulus gesê het dat Timoteus se geestelike opvoeding “van kleintyd af” was, het hy blykbaar bedoel vandat hy ’n baba was (2 Tim. 3:14, 15). Gevolglik het Timoteus ’n uitstekende geestelike man geword (Fil. 2:19-22). Ouers, julle moet ook “van kleintyd af” julle kinders die opleiding begin gee wat hulle nodig het om ‘by Jehovah groot te word’.—1 Sam. 2:21.
3 Voorsien die water wat hulle nodig het om te groei: Net soos jong boompies ’n konstante watervoorraad nodig het om groot bome te word, moet kinders van alle ouderdomme met die water van Bybelwaarheid deurweek word om ryp knegte van God te word. Die vernaamste manier waarop kinders die waarheid geleer kan word en gehelp kan word om ’n intieme verhouding met Jehovah op te bou, is deur middel van ’n gereelde gesinsbybelstudie. Maar ouers, julle moet in ag neem hoe lank elke kind kan konsentreer. Verkorte onderrigsessies wat dikwels gehou word, sal waarskynlik vir jong kinders doeltreffender wees as ’n paar lang sessies.—Deut. 11:18, 19.
4 Moet nooit jou kinders se leervermoë onderskat nie. Vertel vir hulle verhale oor Bybelkarakters. Laat hulle Bybeltonele teken of gebeure in die Bybel opvoer. Maak goed gebruik van ons video’s en oudiokassette, insluitende die Bybeldramas. Pas die gesinstudie aan by die ouderdomme en leervermoëns van jou kinders. ’n Kind se opleiding sal aanvanklik eenvoudig wees, ’n bietjie op ’n slag; maar namate hy ouer word, moet sy opleiding meer omvattend en progressief word. Maak Bybelonderrig lewendig en sorg vir verskeidenheid. Jy wil hê dat jou kinders ‘’n verlange ontwikkel’ na die Woord, en daarom moet jy die studie so aangenaam moontlik maak.—1 Pet. 2:2.
5 Betrek hulle by die gemeente: Stel vir jou kinders progressiewe doelwitte sodat hulle ten volle by die gemeente betrokke kan raak. Wat kan hulle eerste doelwit wees? Die ouers van twee jong kinders het gesê: “Ons het albei kinders begin leer om stil te sit in die Koninkryksaal.” Help kinders later om by die vergaderinge in hulle eie woorde te antwoord en dit hulle doelwit te maak om vir die Teokratiese Bedieningskool in te skryf. Goeie doelwitte wat in die velddiens bereik kan word, is om ’n traktaat by die deur aan te bied, ’n teks te lees, ’n tydskrif aan te bied en sinvolle gesprekke met huisbewoners aan te knoop.
6 Stel ’n entoesiastiese voorbeeld: Hoor jou kinders daagliks hoe jy van Jehovah praat en tot hom bid? Sien hulle hoe jy sy Woord bestudeer, vergaderinge bywoon, aan die veldbediening deelneem en behae daarin skep om God se wil te doen? (Ps. 40:8). Dit is noodsaaklik dat hulle dit hoor en sien en dat julle hierdie dinge saam doen. ’n Volwasse dogter het van haar ma, wat ses kinders grootgemaak het sodat hulle getroue Getuies geword het, gesê: “Wat ons die meeste beïndruk het, was my ma se eie voorbeeld—dit het groter gewig gedra as woorde.” ’n Ouer van vier het gesê: “‘Jehovah kom eerste’ was nie net ’n algemene uitdrukking nie, maar die manier waarop ons ons lewe gelei het.”
7 Ouers, begin vroeg om julle kinders op te lei, deur hulle die waarheid uit God se Woord te leer, progressiewe doelwitte te stel en die beste voorbeeld moontlik te voorsien. Julle sal bly wees julle het dit gedoen!