‘Doen goed aan almal’
1 ‘Verkondig die woord van God ten volle’ en ‘Wees ryk in goeie werke’ was die temas wat in die byvoegsels tot Ons Koninkryksbediening vir Februarie en Maart 2002 bespreek is (Kol. 1:25; 1 Tim. 6:18). In daardie artikels is ons aangemoedig om meer te doen om belangstellendes te help om die Gedenkmaal by te woon, om onbedrywiges te help om weer by die gemeente betrokke te raak en om ons kinders en Bybelstudente wat kwalifiseer, te help om verkondigers van die goeie nuus te word. Ons het ongetwyfeld ’n mate van sukses behaal as gevolg van ons ywerige pogings. Laat ons nou ‘solank ons die geleentheid het, aanhou om aan almal goed te doen’.—Gal. 6:10.
2 Nooi hulle om weer te kom: In die lande onder die Suid-Afrikaanse takkantoor is daar elke jaar meer as honderdduisend mense wat die Gedenkmaal bywoon maar nie verkondigers van die goeie nuus is nie. Aangesien hulle teenwoordigheid toon dat hulle in ’n mate belangstel, wat kan ons dan doen om diegene wat “die regte gesindheid vir die ewige lewe” het, te help om “gelowiges” te word? (Hand. 13:48). Moedig hulle aan om so gou as moontlik die gemeentelike vergaderinge te begin bywoon.
3 Ons kan gerus ’n belangstellende nooi om die Gemeentelike Boekstudie by te woon en ’n interessante bespreking van Jesaja se profesie te geniet. As hy een van jou familielede of kennisse is en jy binnekort ’n toespraak in die Teokratiese Bedieningskool gaan hou, kan jy hom nooi om daarna te kom luister. Hou hom op hoogte van die temas van die openbare toesprake wat in die volgende paar weke gehou gaan word. (Die jongste rooster behoort op die kennisgewingbord te wees.) Soek geleenthede om by hom ’n begeerte te wek om Jehovah te aanbid. En as hy nog nie die Bybel saam met iemand in die gemeente studeer nie, kan jy natuurlik vir hom ’n studie aanbied.
4 Hou aan om die onbedrywiges aan te moedig: ’n Hele paar van dié wat die Gedenkmaal bywoon, het hulle reeds aan Jehovah toegewy. Maar op een of ander stadium het hulle opgehou om die goeie nuus te verkondig. En tog het Paulus ons aangespoor om ‘goed te doen, veral aan dié wat in die geloof aan ons verwant is’ (Gal. 6:10). Gevolglik behoort die onbedrywiges vir ons van die grootste belang te wees.
5 Party het dalk reeds gereageer op die aanmoediging van die ouer manne en ander om weer aan die bediening te begin deelneem. As die ouer manne jou gevra het om saam met ’n verkondiger te werk wat onbedrywig was, moet jy besef dat jou liefde vir Jehovah en vir die veldbediening hom groter vertroue sal gee. Wys hom hoe jy aan die verskillende aspekte van die bediening deelneem sodat hy vreugde daaruit kan put, in die predikingswerk sal volhard en Jehovah se seëninge kan geniet.
6 Gee nuwe verkondigers ’n goeie begin: Toe ’n nuwe belangstellende besef het dat sy God se ware organisasie gevind het, wou sy onmiddellik begin velddiens doen. Nadat sy uitgevind het wat van haar verwag word, het sy gesê: “Kom ons begin sommer dadelik.” As iemand saam met wie jy die Bybel gestudeer het, nou goedgekeur is om te begin velddiens doen, moet jy hom help om te sien hoe belangrik dit is om ‘sommer dadelik te begin’. As jy dit doen, sal dit die nuwe verkondiger ’n goeie begin gee. Help hom om ’n roetine te ontwikkel om vir die veldbediening voor te berei en elke week gereeld daaraan deel te neem.
7 As dit jou kind is wat ’n nuwe ongedoopte verkondiger geword het, moet jy hom help om na gelang van sy ouderdom en vermoë vooruitgang te maak. Jy sal dalk verbaas wees as jy sien hoe goed hy, met net ’n bietjie hulp, gesprekke kan aanknoop, uit die Bybel kan lees en lektuur kan aanbied. Wanneer hy iemand vind wat belangstel, moet jy hom leer om ’n herbesoek te doen en die belangstelling verder te kweek.
8 Doen meer in jou eie bediening: Laat jou omstandighede jou toe om selfs ná die Gedenkmaalseisoen meer in die evangelisasiewerk te doen? Kan jy elke week ’n uur of twee meer as gewoonlik velddiens doen? Kyk jy op die kalender om te sien wanneer jy weer hulppionierdiens kan doen? Of kan jy jou lewe so reël dat jy die voltydse bediening kan betree? Ons inspanning in die bediening kan iemand help om die waarheid aan te neem! (Hand. 8:26-39). Laat ons in die dae wat voorlê, “altyd [nastreef] wat goed is teenoor mekaar en teenoor alle ander mense”.—1 Tess. 5:15.
[Venster op bladsy 3]
Hou aan om hulle te help:
□✔ Gedenkmaalbywoners
□✔ Verkondigers wat onbedrywig was
□✔ Nuwe ongedoopte verkondigers