Wil jy ander graag help?
1 Jesus het werklik vir mense omgegee. Toe ’n melaatse hom om hulp gesoebat het, het Jesus sy hand uitgesteek, die man aangeraak en gesê: “Ek wil. Word gereinig” (Mark. 1:40-42). Hoe kan ons Jesus se gewilligheid om ander te help, navolg?
2 Belangstellendes: Elke lid van die gemeente dra daartoe by om belangstellendes te help om aanbidders van Jehovah te word. Wanneer nuwelinge na die vergaderinge toe kom, moet ons ons aan hulle voorstel en hulle beter leer ken. Let op na maniere om hulle aan te moedig. Prys hulle wanneer hulle antwoord. Spreek waardering uit vir hulle pogings om Bybelbeginsels in hulle lewe toe te pas. Help hulle om te sien dat hulle ware vriende in die gemeente kan maak.
3 Medegelowiges: Veral “dié wat in die geloof aan ons verwant is”, verdien ons hulp op verskeie maniere (Gal. 6:10). Baie het gesondheidsprobleme. As jy ’n aanmoedigende besoek by sulke persone aflê, kry hulle geselskap wat hulle baie nodig het en kan jy hulle dalk ook op praktiese maniere help. Party het dalk ander probleme. Toon dat jy besorg is deur die tyd te neem om na hulle te luister en hulle op te bou (1 Tess. 5:14). Die ouer manne het ook ons samewerking nodig terwyl hulle hulle verantwoordelikhede nakom (Heb. 13:17). Deur gewillig en behulpsaam te wees, kan ons “’n versterkende hulp” vir ons medegelowiges word.—Kol. 4:11.
4 Gesinslede: Ons moet ook in ons gesin Jesus se besorgdheid vir mense probeer navolg. Diepe besorgdheid beweeg ouers om ‘aan te hou om hulle kinders in die dissipline en verstandsregulering van Jehovah op te voed’ (Ef. 6:4). Kinders kan hulle kant bring deur betyds gereed te wees vir die gesinstudie, gemeentelike vergaderinge of velddiens. Volwasse kinders kan soos Jesus medelye betoon deur hulle ouers op tere wyse te help om probleme wat deur die ouderdom veroorsaak word, die hoof te bied. Op hierdie en ander maniere kan ons almal ‘godvrugtige toegewydheid in ons eie huisgesin beoefen’.—1 Tim. 5:4.
5 Wanneer ons Jesus navolg deur ander te help, kan ons probleme verlig en in ons gesin en in die gemeente nader aan mekaar kom. Bowenal verheerlik ons Jehovah, “die Vader van tere barmhartighede”.—2 Kor. 1:3.