Ons moet Jehovah se gesag respekteer
Waarmee verbind jy die name Korag, Datan en Abiram van die ou tyd? Opstand! Waarteen? God se gesag. Die besonderhede van hulle tragiese weg is in Numeri hoofstuk 16 opgeteken, en ’n oorsig van die verhaal word gegee in die artikel “Onderwerp jou lojaal aan God se gesag” in Die Wagtoring van 1 Augustus 2002. Dit sal goed wees om hierdie inligting te lees en dan na die gedagteprikkelende uitbeelding daarvan in die video Respect Jehovah’s Authority te kyk. Jy sal sien watter konflik ontstaan het tussen die getroue seuns van Korag en hulle opstandige vader, wat op sy beurt op ’n botsing met die Soewerein van die heelal afgestuur het (Num. 26:9-11). Hierdie ware verhaal moet ons almal aanspoor om groter lojaliteit teenoor Jehovah te ontwikkel.
Terwyl jy na die video kyk, moet jy let op die bewyse dat Korag en dié wat saam met hom in opstand gekom het, op ses uiters belangrike gebiede nie lojaal gebly het nie: (1) Hoe het hulle God se gesag geminag? (2) Hoe het hulle toegelaat dat trots, eersug en jaloesie hulle beïnvloed? (3) Hoe het hulle te veel aandag gegee aan die onvolmaakthede van diegene wat deur Jehovah aangestel is? (4) Watter klaerige gesindheid het hulle aangekweek? (5) Waarom het hulle ontevrede geraak met hulle diensvoorregte? (6) Hoe het hulle hulle vriende en gesin belangriker geag as lojaliteit teenoor God?
Kyk hoe die lesse in hierdie Bybeldrama vandag op ons beskouing van God se gesag van toepassing is: (1) Hoe moet ons op die besluite van ouer manne in die gemeente reageer, en waarom? (2) Hoe kan ons enige verkeerde beweegredes in ons teëwerk? (3) Hoe moet ons reageer op die onvolmaakthede van diegene wat aangestel is om die leiding te neem? (4) Wat moet ons doen as ’n klaerige gesindheid in ons hart begin posvat? (5) Hoe moet ons voel oor enige voorregte wat ons ontvang het? (6) Wie moet ons nooit belangriker ag as ons lojaliteit teenoor God nie, en wanneer kan dit vir ons ’n moeilike toets word?
Nadat hierdie inligting in die gemeente bespreek is, kan jy gerus weer na die video kyk. Dit sal jou nog meer oortuig van die redes waarom ons altyd Jehovah se gesag moet respekteer!—Ps. 18:25; 37:28.