Hou aan om mekaar op te bou
1 Die apostel Paulus het alles in sy vermoë gedoen om medegelowiges te versterk (Hand. 14:19-22). Ons is eweneens besorg wanneer ons broers met moeilike situasies te kampe het, en ons wil hulle help. Die Bybel wys dat almal, nie net ouer manne nie, belangstelling in ander moet toon (Rom. 15:1, 2). Kom ons kyk na twee maniere waarop ons ag kan slaan op die liefdevolle vermaning: “Hou . . . aan om mekaar te vertroos en mekaar op te bou.”—1 Tess. 5:11.
2 Onderskei ander se behoeftes: God se Woord vertel dat Dorkas “oorvloedig [was] in goeie dade en barmhartigheidsgawes” (Hand. 9:36, 39). Sy het kennis geneem van diegene wat ’n behoefte gehad het en het alles in haar vermoë gedoen om hulle te help. Wat ’n goeie voorbeeld het sy tog vir ons gestel! Jy hoor dalk dat ’n ouer persoon ’n saamrygeleentheid na die vergadering nodig het. Of daar is dalk ’n pionier wat op ’n weeksmiddag niemand het om mee saam te werk nie. Stel jou voor hoe jy so iemand kan aanmoedig deur die behoefte te onderskei en praktiese hulp aan te bied!
3 Geestelike gesprekke: Ons kan ander ook deur ons woorde opbou (Ef. 4:29). ’n Ervare ouer man het gesê: “As jy aanmoedigend wil wees, praat oor geestelike dinge. Om ’n opbouende gesprek te begin, kan jy dalk ’n eenvoudige vraag vra soos: ‘Hoe het jy die waarheid geleer?’” Toon ’n opregte belangstelling in die jongmense in die gemeente. Wys dat jy besorg is oor diegene wat ontmoedig is en dié wat dalk skaam is (Spr. 12:25). Moenie toelaat dat gesprekke oor die wêreld se vermaak goeie geestelike gesprekke met medegelowiges verdring nie.—Rom. 1:11, 12.
4 Maar wat kan jy sê om ander op te bou? Het jy in jou persoonlike Bybellees of -studie op ’n beginsel afgekom wat jou groter waardering vir Jehovah gegee het? Is jy aangemoedig deur iets wat jy in ’n openbare toespraak of by ’n Wagtoring-studie gehoor het? Of is jou hart geroer deur ’n geloofversterkende ondervinding? As jy sulke geestelike juwele opgaar, sal jy altyd iets aanmoedigends hê om vir ander te vertel.—Spr. 2:1; Luk. 6:45.
5 Mag ons aanhou om mekaar op te bou deur praktiese hulp aan te bied en ons tong wyslik te gebruik.—Spr. 12:18.