’n Skool wat ons help om praktiese toepassing te maak
1 Wanneer ons die materiaal op die Rooster vir Teokratiese Bedieningskool vir 2006 bestudeer, probeer ons by die skriftuurlike leringe baat vind deur dit in ons heilige diens en daaglikse lewe toe te pas. Ons maak ’n punt daarvan om die dinge wat ons leer, te beoefen.—Joh. 13:17; Fil. 4:9.
2 Kommentaar: Op die rooster vir vanjaar is nog ’n minuut opsygesit vir gehoordeelname tydens die Bybelglanspunte. Dit beteken dat die broer wat die glanspunte aanbied, moet sorg dat hy sy deel afhandel binne vyf minute, nie ses nie. Diegene in die gehoor wat kommentaar lewer, moet ook let op die tyd. As die een wat kommentaar lewer, deeglik voorberei, kan hy binne 30 sekondes nuttige inligting verstrek. Ongeveer tien mense behoort betekenisvolle kommentaar te kan lewer gedurende die vyf minute wat vir gehoordeelname opsygesit is.
3 Toesprake wat onderrig: Die Bybelglanspunte en die Instruksietoespraak moet die aandag vestig op die waarde van die materiaal soos dit op ons bediening en ander aspekte van ons daaglikse lewe van toepassing is. ’n Spreker moet meer doen as om bloot by sy gehoor ’n begeerte te wek om op te tree. Hy moet meld wat gedoen moet word, toon hoe dit gedoen kan word en die aandag vestig op die voordele daarvan. Hy kan sê: “Dit is hoe hierdie teks vir ons leiding gee” of “Dit is hoe ons hierdie verse in die bediening kan gebruik.” Ouer manne en bedieningsknegte wat van plaaslike behoeftes bewus is, moet probeer om die praktiese toepassing van die materiaal so spesifiek moontlik te maak.
4 Bybelvoorbeelde kan besonder doeltreffend wees wanneer ’n praktiese toepassing gemaak word. Die spreker kan na ’n skriftuurlike voorbeeld verwys en dan sê: “Jy kan jou in ’n soortgelyke situasie bevind.” Hy moet seker maak dat enige toepassing van die Bybelvoorbeeld in ooreenstemming is met die konteks, met die Bybel as ’n geheel en met wat “die getroue en verstandige slaaf” gepubliseer het.—Matt. 24:45.
5 Wysheid is die vermoë om kennis en begrip toe te pas. “Wysheid kom eerste” (Spr. 4:7). Terwyl ons voortgaan om deur ons studies in die Teokratiese Bedieningskool praktiese wysheid te verkry, moet ons ook ons vermoë verbeter om dit aan ander oor te dra.