Hou progressiewe Bybelstudies by die deur en oor die telefoon
1. Wat is ons doel wanneer ons Bybelstudies hou?
1 Hoeveel vreugde verskaf dit ’n mens tog om ’n Bybelstudie te begin! Maar om iemand te vind wat daarin belangstel om die Bybel te bestudeer, is net die begin. Die doel van die studie is om die persoon te help om ’n ware dissipel van Christus te word (Matt. 28:19, 20). Wat kan ons help om hierdie doel te bereik?
2. Wat behels dit om ’n Bybelstudie by die deur of oor die telefoon te hou, en waarom is dit doeltreffend?
2 Besige mense: Mense se lewens raak vandag al hoe besiger. Op party plekke sal min mense aanvanklik bereid wees om ’n volle uur opsy te sit om die Bybel te bestudeer. Ons is dus aangespoor om Bybelstudies by die deur of oor die telefoon te begin en te hou om hierdie mense te help. Dié studies kan aan die begin betreklik kort wees en kan behels dat net ’n paar Bybeltekste met behulp van een of twee paragrawe in ’n publikasie, soos die Leer Bybel-boek, bespreek word. Dit is beslis prysenswaardig dat baie verkondigers nou sulke studies by die deur of oor die telefoon hou!
3. Waarom moet ons probeer om meer tyd by ’n studie te bestee wat ons by die deur hou?
3 Maar moet ons tevrede wees om vir ’n onbepaalde tyd ’n studie by die deur te hou? Nee. Hoewel dit verstandig is om nie te lank te bly wanneer ’n studie aanvanklik begin is nie, het Ons Koninkryksbediening vir Mei 1990, bladsy 4, gesê: “As die studie eers gevestig is en die huisbewoner se belangstelling gewek is, kan meer tyd aan die studie bestee word.” Dit is noodsaaklik. Ter toeligting: ’n Verhongerde kind word aan die begin moontlik klein hoeveelhede kos gegee totdat hy sy eetlus teruggekry het, maar ons kan nie verwag dat hy sy volle krag sal herwin en normaal sal groei as hy maande lank sulke klein porsies gegee word nie. Net so het ’n Bybelstudent ’n formeler en gereelder studie nodig om ’n ryp kneg van God te word.—Heb. 5:13, 14.
4. Watter voordele hou dit in om ’n Bybelstudie in die huis te hou?
4 Bybelstudies in die huis: Dit is verkieslik om ’n studie in ’n privaat plek—in ’n huis of op ’n ander geskikte plek—te hou. Dan sal dit vir die student makliker wees om te leer en om die sin van God se Woord te begryp (Matt. 13:23). Dit sal die onderrigter ook beter in staat stel om die studiemateriaal by die behoeftes van die student aan te pas. En as meer tyd aan die studie bestee word, sal dit moontlik wees om ’n deegliker, geloofversterkende bespreking van God se Woord te hê.—Rom. 10:17.
5. Hoe kan ons ’n studie wat by die deur gehou word, verander in ’n studie wat in die huis gehou word?
5 Hoe kan jy ’n studie wat by die deur gehou word, verander in ’n studie wat in die huis gehou word? Ná ’n hele paar kort studies kan jy eenvoudig aanbied om die studie tot ’n sekere tydperk te verleng. Of jy kan ’n indirekte benadering gebruik deur die persoon te vra: “Het jy vandag tyd om te sit en hierdie onderwerp te bespreek?” of “Hoeveel tyd wil jy vandag daaraan bestee om hierdie onderwerp te bespreek?” As dit nie werk nie, moet jy aanhou om kort studies by die deur te hou. Probeer weer op ’n gepaste tyd om dit te verander in ’n studie wat in die huis gehou word.
6. Met watter doel moet ons ons bediening uitvoer, en hoe kan die wenke in hierdie artikel ons help om hierdie doel te bereik?
6 Terwyl ons aanhou om na verdienstelikes te soek, moet ons nie uit die oog verloor waarom ons Bybelstudies begin en hou nie. Ons doel is om opregtes van hart te help om toegewyde en gedoopte knegte van Jehovah te word. Mag hy ons pogings seën terwyl ons ons bediening met hierdie doel voor oë uitvoer.—2 Tim. 4:5.