Toon persoonlike belangstelling—Deur bedagsaam te wees
1 Hoewel Jehovah die Universele Soewerein is, is hy goedhartig, bedagsaam en beleefd in sy handelinge met onvolmaakte mense (Gen. 13:14; 19:18-21, 29). Ons kan ons aanbieding van die goeie nuus aantrekliker maak deur ons bedagsame God na te volg (Kol. 4:6). Dit behels meer as om net beleefd en eerbiedig in ons spraak te wees.
2 Van deur tot deur: Sê nou ons besoek die huisbewoner op ’n ongeleë tyd of wanneer hy te besig is om met ons te praat? Dit sal goed wees as ons hierdie omstandighede in ag neem deur ons aanbieding baie kort te hou of aan te bied om op ’n ander tyd terug te kom. Ons dring nie daarop aan dat mense lektuur neem as hulle dit nie wil hê nie. Bedagsaamheid teenoor ander sal ons ook beweeg om hulle eiendom te respekteer, deur byvoorbeeld hekke en deure toe te maak en ons kinders te leer om dit ook te doen. Ons moet seker maak dat enige lektuur wat gelaat word waar mense nie tuis is nie, nie deur verbygangers gesien kan word nie. Ja, bedagsaamheid sal ons beweeg om ander te behandel soos ons wil hê dat hulle ons moet behandel.—Luk. 6:31.
3 In straatwerk: Terwyl ons straatwerk doen, kan ons bedagsaam wees deur nie die vloei van voetgangers te belemmer of voor sakeondernemings saam te drom nie. Ons sal ander se omstandighede in ag neem en met diegene probeer praat wat moontlik ’n paar minute het in plaas van met diegene wat ons kan sien haastig is. Soms sal ons dalk harder moet praat sodat ons ondanks die straatlawaai gehoor kan word. Maar ons moet dit met waardigheid doen sonder om onnodig aandag te trek.—Matt. 12:19.
4 Tydens telefoongetuieniswerk: Bedagsaamheid teenoor ander sal ons beweeg om telefoongetuieniswerk te doen op ’n plek waar agtergrondlawaai onder beheer gehou kan word. Ons toon dat ons goeie maniere het wanneer ons aan die begin van die gesprek sê wie ons is en die rede vir ons oproep verduidelik. Wanneer ons direk in die mondstuk en op ’n vriendelike toon bly praat, sal dit makliker wees om ander by ’n opbouende skriftuurlike gesprek te betrek (1 Kor. 14:8, 9). As ons op hierdie verskillende maniere goedhartig, bedagsaam en beleefd is, volg ons ons bedagsame God, Jehovah, na.