Volg ons “gelukkige God”, Jehovah, na
1 Jehovah wil waarlik hê dat mense gelukkig moet wees. Sy Woord laat ons uitsien na die wonderlike seëninge wat hy in die vooruitsig stel vir mense (Jes. 65:21-25). Dit behoort vir ander duidelik te wees dat ons genot daaruit put om hulle van “die glorieryke goeie nuus van die gelukkige God” te vertel (1 Tim. 1:11). Die manier waarop ons oor die Koninkryksboodskap praat, moet ons liefde vir die waarheid en ons opregte belangstelling in die mense met wie ons praat, weerspieël.—Rom. 1:14-16.
2 Dit kan wel soms ’n uitdaging wees om ’n vreugdevolle gesindheid te behou. In party gebiede vind ons min mense wat gunstig op die Koninkryksboodskap reageer. Party dae het ons met moeilike omstandighede in ons eie lewe te kampe. As ons ’n vreugdevolle gees wil behou, kan ons dink aan hoe belangrik dit is dat die mense in ons gebied die goeie nuus van die Koninkryk hoor en die sin daarvan begryp (Rom. 10:13, 14, 17). As ons hieroor peins, sal dit ons help om aan te hou om Jehovah se barmhartige voorsienings vir redding met blydskap bekend te maak.
3 Fokus op positiewe dinge: Ons moet ook aandag skenk aan wat ons sê. Hoewel ons ’n bespreking kan begin deur ’n probleem of nuusbrokkie te noem waaroor mense bekommerd is, moet ons nie onnodig lank oor negatiewe dinge praat nie. Ons opdrag is om “goeie nuus van iets beters” te bring (Jes. 52:7; Rom. 10:15). Hierdie goeie nuus is ’n boodskap wat gebaseer is op God se beloftes van ’n beter toekoms (2 Pet. 3:13). Met die oog hierop moet jy die Skrif gebruik om “die gebrokenes van hart te verbind” (Jes. 61:1, 2). Dit sal elkeen van ons help om ’n vreugdevolle, positiewe gesindheid te behou.
4 Mense sal ongetwyfeld ons vreugde raaksien terwyl ons aan die predikingswerk deelneem. Laat ons dus altyd die gesindheid van ons “gelukkige God”, Jehovah, weerspieël terwyl ons die goeie nuus van die Koninkryk aan die mense in ons gebied verkondig.