Volg die Christus deur waardigheid aan die dag te lê
1. Hoe hou vanjaar se byeenkomstema verband met waardigheid?
1 Die Bybel sê dat die Universele Soewerein, Jehovah, met waardigheid beklee is (Ps. 104:1). Jesus het sy Vader en sy Vader se voorsienings altyd deur sy woorde en dade verheerlik (Joh. 17:4). Elkeen van ons sal gedurende die komende “Volg die Christus!”-streekbyeenkoms die geleentheid hê om Jesus na te volg en Jehovah te verheerlik.
2. Hoe verheerlik dit Jehovah wanneer ons reël om elke sessie by te woon?
2 Waardige aanbidding: Ons kan Jehovah verheerlik deur te reël om teenwoordig te wees vir die geestelike fees wat hy vir ons voorberei het. Het jy al met jou werkgewer gepraat en jou sake gereël sodat jy elke dag van die streekbyeenkoms, insluitende Vrydag, kan bywoon? Het jy beplan om vroeg genoeg daar te wees sodat jy sitplek kan kry, die openingslied kan sing en na die gebed kan luister? Het jy jou middagetes so beplan dat jy saam met jou broers op die byeenkomsterrein kan eet? Wanneer die voorsitter ons voor die musiekopname aan die begin van elke sessie vriendelik nooi om ons sitplekke in te neem, moet ons ons gesprekke kortknip en gaan sit voordat die program begin.
3. Hoe dra ons tot die waardigheid van ons aanbidding by deur noukeurig aandag te skenk aan die program?
3 Ons verheerlik ook ons hemelse Vader wanneer ons noukeurig aandag skenk aan die program. Nadat ’n verslaggewer ’n streekbyeenkoms in sy omgewing waargeneem het, het hy geskryf dat mense beïndruk sal wees deur “die voorbeeldige gedrag van die byeenkomsgangers, wat in eerbiedige stilte en met merkbare liefde vir geestelike dinge luister na wat gesê word”. Hy het ook kommentaar gelewer oor “die buitengewone groot aantal kinders . . . , wat hulle almal, vreemd genoeg, goed gedra het of selfs verse in die Heilige Bybel opgesoek het”. Gedurende die program is dit nie die tyd om onnodig te praat, SMS’e te stuur, te eet of in die gange rond te loop nie. Jongmense moet saam met hulle ouers sit sodat hulle ouers hulle kan help om by die program baat te vind (Deut. 31:12; Spr. 29:15). Dit alles toon respek vir ander en waardering vir die noodsaaklike geestelike voedsel wat voorsien word.
4. Waarom moet ons ’n waardige voorkoms by die streekbyeenkoms hê?
4 Waardige voorkoms: Baie het waardering uitgespreek vir die herinneringe in verlede jaar se byeenkomstoespraak “Lê te alle tye Christelike waardigheid aan die dag”, wat beklemtoon het dat God se knegte daarna moet streef om Christelike waardigheid aan die dag te lê in hulle kleredrag en persoonsversorging. Vanjaar moet ons weer ernstig aandag skenk aan hierdie saak. Ons voorkoms weerspieël hoe ons voel oor Jehovah en die voorreg om sy Getuies te wees. Ons kleredrag moet altyd wees soos dié van mense wat “bely dat hulle God vereer”.—1 Tim. 2:9, 10.
5. Hoe kan ons ’n waardige voorkoms behou wanneer ons in die byeenkomsstad ontspan?
5 Moet ons slegs tydens die program ’n waardige voorkoms hê? Onthou dat baie mense sal sien dat ons ons byeenkomslapelkaarte dra terwyl ons in die byeenkomsstad is. Ons voorkoms behoort ons opvallend anders as mense oor die algemeen te maak. Daarom moet ons selfs wanneer ons ontspan, soos as ons ná die program gaan uiteet, klere dra wat gepas is vir bedienaars wat in die stad is om ’n Christelike byeenkoms by te woon, en ons moenie klere soos jeans, kortbroeke of T-hemde dra nie. Wat ’n getuienis sal dit tog vir die gemeenskap wees! Dit behaag Jehovah wanneer ons voorkoms by ons rol as bedienaars pas.
6. Watter goeie resultate word verkry wanneer ons Christelike waardigheid aan die dag lê?
6 Bevredigende resultate: Wanneer ons Christelike waardigheid by ons streekbyeenkomste aan die dag lê, skep dit geleenthede om informeel te getuig en maak dit ’n goeie indruk op waarnemers. ’n Amptenaar het aan die einde van ’n streekbyeenkoms gesê: “Ons het nog nooit mense gesien wat hulle so goed gedra nie. Julle is soos God wil hê ons moet wees.” Deur waardigheid aan die dag te lê, toon ons respek en liefde vir ander en verheerlik ons Jehovah (1 Pet. 2:12). Dit toon dat ons God vrees en die voorreg waardeer om deur ons Vader onderrig te word (Heb. 12:28). Mag ons daarna streef om waardigheid aan die dag te lê terwyl ons uitsien na vanjaar se “Volg die Christus!”-streekbyeenkoms.
[Venster op bladsy 5]
Streekbyeenkomsherinneringe
◼ Programtye: Die program sal al drie dae om 9:00 vm. begin. ’n Paar minute voordat die sessie begin, sal die voorsitter op die verhoog gaan sit terwyl inleidende Koninkryksmusiek gespeel word. Ons moet almal dan gaan sit sodat die program op ’n waardige wyse kan begin. Die program sal Vrydag en Saterdag om 4:15 nm. en Sondag om 3:20 nm. eindig.
◼ Parkering: By al die byeenkomsterreine waar ons die parkeerterreine mag gebruik, sal die parkering kosteloos op ’n “eerste kom, eerste bedien”-grondslag beskikbaar gestel word. Byeenkomslapelkaarte sal as identifikasie vir parkering dien. Aangesien parkeerplek gewoonlik beperk is, moet byeenkomsgangers motors sover moontlik vol maak en nie net een of twee in ’n motor ry nie.
◼ Die hou van sitplekke: Sitplekke mag net gehou word vir dié wat saam met jou in dieselfde voertuig ry of saam met jou in dieselfde huis woon.
◼ Middagete: Bring asseblief eerder middagete saam as om tydens die middagpouse die byeenkomsterrein te verlaat om iets te ete te kry. ’n Klein koelhouer wat onder ’n sitplek pas, kan gebruik word. Groot gesinsgrootte piekniekkoelhouers moet in ooreenstemming met die saalwagters se instruksies geberg word. Glashouers en alkohol word nie op die byeenkomsterrein toegelaat nie.
◼ Bydraes: Aansienlike onkoste word aangegaan om ’n streekbyeenkoms te reël. Ons kan ons waardering toon deur by ons Koninkryksaal of by die streekbyeenkoms vrywillige bydraes vir die wêreldwye werk te maak. As jy per tjek wil bydra, moet jy asseblief by die Byeenkomskomitee uitvind wat die naam van die rekening is.
◼ Ongelukke en noodgevalle: As ’n mediese noodgeval op die byeenkomsterrein ontstaan, moet jy asseblief met die naaste saalwagter praat, wat onmiddellik die Noodhulpafdeling in kennis sal stel sodat ons bekwame noodhulppersoneel op die terrein kan bepaal hoe ernstig die situasie is en hulp kan verleen.
◼ Opnames: Geen opneemtoestel mag aan die byeenkomsterrein se elektriese of klankstelsel gekoppel word nie, en die toestelle mag net gebruik word op ’n manier wat ander nie steur nie.
◼ Foto’s: As jy gedurende die sessies foto’s neem, moet jy asseblief nie ’n flits gebruik nie.
◼ Roepradio’s en selfone: Dit moet gestel word sodat dit ander nie steur nie.
◼ “Volg asseblief op”-vorms: ’n “Volg asseblief op”-vorm (S-43) moet gebruik word om inligting te voorsien aangaande enigeen wat belangstelling toon as gevolg van ons informele getuieniswerk gedurende die streekbyeenkoms. Verkondigers moet een of twee van hierdie vorms na die streekbyeenkoms bring. Die vorms sal ook by die boekekamer van die streekbyeenkoms beskikbaar wees. Voltooide vorms kan by die boekekamer ingedien word of kan aan jou gemeentelike sekretaris gegee word nadat jy van die streekbyeenkoms teruggekeer het.—Sien Ons Koninkryksbediening vir April 2005, bl. 5.
◼ Restaurante: In baie plekke is dit gebruiklik om na gelang van die diens ’n fooitjie van 10 tot 15 persent te gee.
◼ Liedere: Gemeentes sal dalk die byeenkomsliedere voor die tyd wil oefen.
Liedere vir Vrydag: 105, 91, 168, 205, 150 en 11.
Liedere vir Saterdag: 181, 31, 42, 191, 38 en 34.
Liedere vir Sondag: 160, 207, 200, 224, 209 en 4.