Prys Jehovah in die groot gemeente
1, 2. Watter geleentheid bied die streekbyeenkoms ons, en hoe kan ons dit doen?
1 Ons jaarlikse streekbyeenkomste bied ons ’n wonderlike geleentheid om Jehovah te verheerlik. Ons voel soos Dawid, wat gesing het: “Ek sal u in die groot gemeente prys; onder ’n talryke volk sal ek u loof” (Ps. 35:18). Hoe kan ons seker maak dat ons as ’n verenigde volk by die komende “Godvrugtige gehoorsaamheid”-streekbyeenkoms lof aan Jehovah bring?
2 Een manier waarop ons dit kan doen, is deur ons gedrag. Die bestuur van ’n byeenkomsfasiliteit het gesê: “Ons het na aanleiding van julle byeenkomste vir ander godsdiensgroepe wat die fasiliteit wou huur, gesê dat hulle moet kom kyk hoe Jehovah se Getuies ’n byeenkoms hou, want hulle het die ideale reëling.” Ons kan elkeen deur ons voorkoms, ons samewerking en ons gedrag bydra tot sulke voortreflike lofbetuigings wat ons God verdien.—1 Pet. 2:12.
3, 4. Hoe sal beskeidenheid ons help om by die byeenkoms sowel as ná die sessies aan te trek op ’n manier wat Christenbedienaars betaam?
3 Persoonlike voorkoms: Dit verg beskeidenheid om aan te trek en ons te versorg op ’n manier wat lof aan Jehovah bring (1 Tim. 2:9). Die Bedieningskool-boek sê op bladsy 132: “Iemand wat beskeie is, probeer ander nie onnodig aanstoot gee en te veel aandag op homself vestig nie.” Onbeskeie klere het in baie lande iets alledaags geword. Maar Jehovah waardeer die moeite wat ons doen om hom op gepaste wyse te verteenwoordig (Hand. 15:14). Hoewel die byeenkoms dalk in ’n sportsentrum of op ’n ontspanningsterrein gehou word, word die vergadering gedurende die drie dae van die byeenkoms ons “groot gemeente”. Gevolglik moet ons, wanneer ons voor Jehovah vergader, aantrek met die waardigheid wat die hoogste Persoon in die heelal toekom.—1 Kron. 29:11.
4 Ons moet ook ná die laaste sessie elke dag aan ons voorkoms aandag skenk. Hoewel ons moontlik gedurende ons vrye tyd of tydens ’n ete in ’n restaurant gemakliker klere wil dra, is dit belangrik dat ons kleredrag en persoonsversorging nog steeds diegene betaam “wat bely dat hulle God vereer” (1 Tim. 2:10). Aanvaarbare kleredrag word nie bepaal deur wat in die wêreld gewild is nie (1 Joh. 2:16, 17). Ons Christelike publikasies bevat nuttige prente van die beskeie, goed versorgde kleredrag van mans en vroue in verskillende omstandighede. As ons ons lapelkaarte dra terwyl ons in die byeenkomsstad is, sal dit ons daaraan herinner dat ons te alle tye Christenbedienaars is.—2 Kor. 6:3, 4.
5, 6. Hoe kan ons toon dat ons respek het vir Jehovah se geestelike tafel?
5 Respekteer Jehovah se tafel: Die Soewereine Heer van die heelal het vir ons ’n feesmaal berei (Jes. 25:6; 1 Kor. 10:21). As ons ons plek aan Jehovah se tafel as iets baie kosbaars beskou, sal dit ons doelwit wees om al drie dae van die byeenkoms by te woon. Het jy gereël vir huisvesting, vervoer en verlof van jou sekulêre werk? Het jy genoeg tyd toegelaat vir voorbereiding en om na die byeenkoms te reis sodat jy vroeg genoeg by die byeenkomsterrein kan aankom om sitplek te kry, met jou broers om te gaan en Jehovah in die openingslied en -gebed saam met hulle te loof?—Ps. 147:1.
6 Respek vir Jehovah se tafel sal ons beweeg om noukeurig aan die program aandag te skenk en om nie onnodig met ander te gesels, te eet of in die gange rond te loop nie. Deur “die getroue en verstandige slaaf”-klas voorsien Jehovah die geestelike voedsel wat ons nou nodig het (Matt. 24:45). Nie een van ons kan bekostig om enigiets daarvan mis te loop nie. Ouers moet saam met hulle kinders sit en hulle help om ten volle daarby baat te vind.—Deut. 31:12.
7. Wat word ons gevra om vir middagete te doen, en waarom?
7 Dit sal waardeer word as ons eerder middagete saambring as om gedurende die middagpouse die byeenkomsterrein te verlaat om iets te ete te kry. Dit is prysenswaardig dat die meeste byeenkomsgangers by verlede jaar se byeenkoms hierdie riglyn noukeurig gevolg het. Hoe goed sal dit tog wees as almal dit vanjaar doen! (Heb. 13:17). Hierdie reëling gee ons ’n goeie geleentheid om opbouende omgang met ons broers te geniet en dra by tot ’n atmosfeer van eenheid en vrede wat Jehovah tot eer strek.—Ps. 133:1.
8, 9. Watter ander geleentheid bied die byeenkoms ons om Jehovah te loof?
8 Getuig informeel: Ons het baie geleenthede om Jehovah met ons lippe te loof terwyl ons na en van die byeenkomsterrein reis (Heb. 13:15). Laat ons na maniere soek om ’n getuienis te gee, of ons nou in ’n restaurant eet of met hotelpersoneel praat. Ons verstand en hart sal vol geestelike skatte van die byeenkoms wees. Kom ons vertel hierdie goeie dinge vir diegene wat ons informeel ontmoet.—1 Pet. 3:15.
9 Ons sien met groot afwagting uit na hierdie geleentheid om Jehovah “onder die versamelde menigtes” te loof (Ps. 26:12). Mag ons Jehovah in eenheid prys by die “Godvrugtige gehoorsaamheid”-streekbyeenkoms.
[Venster op bladsy 4]
Streekbyeenkomsherinneringe
◼ Programtye: Die program sal al drie dae om 9:00 vm. begin. ’n Paar minute voordat die sessie begin, sal die voorsitter op die verhoog gaan sit terwyl inleidende Koninkryksmusiek gespeel word. Ons moet almal dan gaan sit sodat die program op ’n waardige wyse kan begin. Die program sal Vrydag en Saterdag om 4:15 nm. en Sondag om 3:20 nm. eindig.
◼ Parkering: By al die byeenkomsterreine waar ons die parkeerterreine mag gebruik, sal die parkering kosteloos op ’n “eerste hier, eerste bedien”-grondslag beskikbaar gestel word. Byeenkomslapelkaarte sal as identifikasie vir parkering dien. Aangesien parkeerplek gewoonlik beperk is, moet byeenkomsgangers motors sover moontlik vol maak en nie net een of twee in ’n motor ry nie.
◼ Die hou van sitplekke: Sitplekke mag net gehou word vir diegene wat saam met jou in dieselfde voertuig ry of saam met jou in dieselfde huis woon.
◼ Bydraes: Aansienlike onkoste word aangegaan om ’n streekbyeenkoms te reël. Ons kan ons waardering toon deur vrywillige bydraes vir die wêreldwye werk by die byeenkoms te maak. As jy met ’n tjek wil bydra, moet jy asseblief by die Byeenkomskomitee uitvind wat die naam van die rekening is.
◼ Middagete: Bring asseblief eerder middagete saam as om tydens die middagpouse die byeenkomsterrein te verlaat om iets te ete te kry. ’n Klein koelhouer wat onder ’n sitplek pas, kan gebruik word. Groot gesinsgrootte piekniekkoelhouers, glashouers en alkohol word nie op die byeenkomsterrein toegelaat nie.
◼ Opnames: Geen opneemtoestel mag aan die byeenkomsterrein se elektriese of klankstelsel gekoppel word nie, en die toestelle mag net gebruik word op ’n manier wat ander nie steur nie.
◼ Foto’s: As jy foto’s neem, mag jy nie gedurende die sessies ’n flits gebruik nie.
◼ Roepradio’s en selfone: Dit moet gestel word sodat dit ander nie steur nie.
◼ Ongelukke en noodgevalle: As ’n mediese noodgeval op die byeenkomsterrein ontstaan, moet jy asseblief met die naaste saalwagter praat, wat onmiddellik die Noodhulpafdeling in kennis sal stel sodat ons bekwame noodhulppersoneel op die terrein kan bepaal hoe ernstig die situasie is en hulp kan verleen.
◼ Restaurante: In baie plekke is dit gebruiklik om na gelang van die diens ’n fooitjie van 10 tot 15 persent te gee.
◼ Liedere: Gemeentes sal dalk die byeenkomsliedere voor die tyd wil oefen.
Liedere vir Vrydag: 139, 38, 205, 174, 170 en 4
Liedere vir Saterdag: 158, 40, 13, 69, 8 en 192
Liedere vir Sondag: 162, 123, 221, 207, 181 en 34