“Neem my juk op julle”
1 In ’n wêreld vol druk en bekommernisse het ons ware verligting verkry deur Jesus se hartlike uitnodiging te aanvaar om verkwikking onder sy juk te vind (Matt. 11:29, 30). Om die juk van dissipelskap te aanvaar, sluit in dat ons aan ’n werk deelneem wat nie net ’n uitdaging is nie, maar ook verkwikkend is. Dit behels dat ons die goeie nuus van die Koninkryk verkondig en ander help om saam met ons verkwikking onder Jesus se sagte juk te vind.—Matt. 24:14; 28:19, 20.
2 Verkwik deur die bediening: Jesus het sy volgelinge nie gevra om sy vrag en boonop nog hulle eie vrag te dra nie. Hy het hulle genooi om hulle swaar vrag te verruil vir sy ligte een. Ons is nie meer beswaar met die sorge en wanhoop van hierdie stelsel van dinge nie; ons swoeg ook nie vir onsekere rykdom nie (Luk. 21:34; 1 Tim. 6:17). Al is ons besig en moet ons werk om die daaglikse benodigdhede te verkry, maak ons die aanbidding van God die middelpunt van ons lewe (Matt. 6:33). As ons die regte beskouing behou van wat die belangrikste is, sal ons altyd vind dat die bediening verkwikkend is, nie ’n las nie.—Fil. 1:10.
3 Ons geniet dit natuurlik om te praat oor dinge wat vir ons belangrik is (Luk. 6:45). Jehovah en die Koninkrykseëninge wat hy belowe het, lê alle Christene na aan die hart. Hoe verkwikkend is dit dus om oor “goeie nuus van goeie dinge” te praat en van ons daaglikse sorge te vergeet terwyl ons aan die bediening deelneem! (Rom. 10:15). Hoe meer ons iets doen, hoe vaardiger word ons natuurlik daarin en hoe groter is die vreugde wat ons ervaar. As ons dus meer tyd in die bediening kan deurbring, bring dit groter verkwikking mee. En hoe aanmoedigend is dit tog wanneer mense gunstig op ons predikingswerk reageer! (Hand. 15:3). Selfs wanneer ons met onverskilligheid of teenstand te kampe het, sal die bediening ons geestelik verkwik as ons in gedagte hou dat ons pogings Jehovah behaag en dat alle positiewe resultate as gevolg van sy seën is.—Hand. 5:41; 1 Kor. 3:9.
4 Deur Jesus se uitnodiging te aanvaar, geniet ons die voorreg om saam met hom as Getuies van Jehovah te dien (Jes. 43:10; Op. 1:5). Niks kan meer verkwikkend wees nie!