Preek sonder ophou
1 Soms voel ons dalk dat ons gebied herhaaldelik en deeglik gedek is sonder dat mense veel belangstelling getoon het. Tog is daar dwingende redes waarom ons moet aanhou preek.—Matt. 28:19, 20.
2 As ’n getuienis: Jesus het voorspel dat die Koninkrykspredikingswerk ’n belangrike deel sou uitmaak van die saamgestelde teken van “die voleinding van die stelsel van dinge” en dat dit gedoen sou word “as ’n getuienis vir al die nasies” (Matt. 24:3, 14). Wanneer mense sien dat ons aan die verkondiging van die goeie nuus van die Koninkryk deelneem, word ’n kragtige getuienis gelewer. Nadat ons die gebied verlaat het, sal party dalk ure of dae lank oor ons besoek praat, al het hulle nie na die boodskap geluister nie. As ons besef waarom ons aan die bediening deelneem, sal dit ons help om te volhard. Ons maak Jehovah se hart bly as ons ’n deel het aan die vervulling van Bybelprofesieë deur ’n getuienis te gee en ’n waarskuwingsboodskap bekend te maak.—2 Tess. 1:6-9.
3 Volharding nodig: Omdat daar soveel afleidings is en soveel eise aan mense se tyd gestel word, het ons volharding nodig wanneer ons hulle belangstelling probeer kweek. Een vrou is ’n jaar lank elke week besoek voordat sy besluit het om die Getuies vir ’n Bybelbespreking in te nooi. Sy het soveel gehou van wat sy gehoor het dat sy ’n Bybelstudie aanvaar het, vergaderinge begin bywoon het en kort voor lank die begeerte uitgespreek het om gedoop te word.
4 Wêreldtoestande verander vinnig, en mense ook. Baie wat ons in die verlede weggewys het, neem dalk nou die verkwikkende hoop aan waarvan ons ander vertel. As selfs net een persoon gunstig op die Koninkryksboodskap reageer, sal ons volharding die moeite werd wees.
5 Wêreldwyd is daar al hoe meer mense wat “sug en steun oor al die verfoeilike dinge wat . . . gedoen word” (Eseg. 9:4). Koninkryksvrugte bewys dat diegene wat regverdiggesind is, gunstig op die Koninkryksboodskap reageer (Jes. 2:2, 3). Laat ons dus aanhou om sonder ophou te preek deur uit liefde te volhard om “goeie nuus van iets beters [te] bring”.—Jes. 52:7; Hand. 5:42.