Die predikingswerk hou ons geestelik sterk
1. Watter voordeel put ons uit die predikingswerk?
1 As ons ywerig aan die predikingswerk deelneem, kan dit ons geestelik versterk en ons gelukkiger maak. Ons neem natuurlik aan die bediening deel hoofsaaklik om Jehovah te behaag. Maar as ons die opdrag uitvoer om ‘die woord te verkondig’, ontvang ons seëninge van Jehovah en bevoordeel ons onsself ook op ander maniere (2 Tim. 4:2; Jes. 48:17, 18). Presies hoe kan die predikingswerk ons versterk en ons gelukkig maak?
2. Hoe versterk die bediening ons?
2 Ons word versterk en geseën: Die predikingswerk help ons om ons eerder op Koninkrykseëninge toe te spits as op die probleme van vandag (2 Kor. 4:18). Wanneer ons Bybelleringe verduidelik, versterk dit ons geloof in Jehovah se beloftes en bou dit ons waardering vir die waarheid op (Jes. 65:13, 14). Terwyl ons ander help om geestelik te groei sodat hulle “geen deel van die wêreld” sal wees nie, versterk ons ons eie vasbeslotenheid om afgeskeie van die wêreld te bly.—Joh. 17:14, 16; Rom. 12:2.
3. Hoe help ons bediening ons om Christelike eienskappe aan te kweek?
3 Wanneer ons aan die bediening deelneem, help dit ons om Christelike eienskappe aan te kweek. Ons strewe om “alles vir alle soorte mense” te word, help ons byvoorbeeld om nederiger te wees (1 Kor. 9:19-23). Wanneer ons met mense praat wat “gestroop en rondgegooi [is] soos skape sonder ’n herder”, is ons geneig om simpatie en empatie te leer (Matt. 9:36). Ons leer volharding wanneer ons ondanks onverskilligheid of teenstand met die werk volhou. Ons vreugde neem toe wanneer ons van onsself gee ten behoewe van ander.—Hand. 20:35.
4. Hoe voel jy oor jou bediening?
4 Wat ’n seën is dit tog om ’n bediening te hê wat lof bring aan die enigste Een wat ons aanbidding waardig is! Die bediening versterk ons. Dit bring oorvloedige seëninge mee vir diegene wat hulle daarop toelê om “deeglik van die goeie nuus . . . te getuig”.—Hand. 20:24.