Hoe om nuwelinge op te lei om te preek
1. Hoe het jy gevoel toe jy die eerste keer aan die bediening deelgeneem het?
1 Onthou jy die eerste keer dat jy aan die huis-tot-huis-bediening deelgeneem het? Jy was waarskynlik baie senuweeagtig. As jy saam met jou Bybelonderrigter of ’n ander verkondiger gewerk het, was jy ongetwyfeld bly oor sy hulp. Noudat jy as ’n bedienaar ondervinding opgedoen het, kan jy nuwer verkondigers oplei om te preek.
2. Wat moet nuwe verkondigers leer?
2 Nuwe verkondigers moet leer hoe om ’n gesprek met die huisbewoner te begin, die Bybel by die deur te gebruik, herbesoeke te doen en Bybelstudies te begin en te hou. Hulle moet ook leer hoe om aan verskillende aspekte van die bediening deel te neem, soos om straatgetuieniswerk te doen en in sakegebied te werk. Jy kan hulle deur jou voorbeeld sowel as jou wenke help om op hierdie gebiede te verbeter.
3. Hoe kan ons ander deur ons voorbeeld help?
3 Leer hulle deur jou voorbeeld: Jesus het aan sy dissipels gedemonstreer hoe om te preek (Luk. 8:1; 1 Pet. 2:21). Wanneer jy reël om saam met ’n nuwer verkondiger te werk, moet jy ’n eenvoudige aanbieding voorberei wat die verkondiger kan naboots, miskien deur ’n voorgestelde aanbieding in een van ons publikasies te gebruik. Bied dan aan om by die eerste een of twee deure te praat sodat die verkondiger kan hoor wat jy sê. Jy kan die verkondiger tussen deure vra waarom hy dink dat jou aanbieding doeltreffend was. Dit sal hom help om te besef hoe nuttig dit is om saam met ander in die bediening te werk en sal dit vir hom makliker maak om enige wenke te aanvaar wat jy gee nadat hy sy aanbieding gedoen het.
4. Hoe kan ons ’n nuwe verkondiger help nadat ons na sy aanbieding geluister het?
4 Gee wenke: Jesus het sy dissipels ook instruksies gegee oor hoe om te preek (Matt. 10:5-14). Jy kan ’n nuwe verkondiger op soortgelyke wyse help. Luister aandagtig wanneer dit sy beurt is om te praat. Prys hom dan vryelik nadat julle by die deur weg is en wees spesifiek en opreg wanneer jy dit doen, selfs al het jy gesien dat ’n sekere aspek van sy aanbieding verbeter moet word. Voordat jy ’n wenk gee, sal jy dalk besluit om te kyk of hy by die volgende deur in daardie aspek verbeter het. Miskien was hy net senuweeagtig. Hou ook in gedagte dat alle verkondigers nie dieselfde vermoëns het nie en dat daar dikwels meer as een regte manier is om iets te doen.—1 Kor. 12:4-7.
5. Wat kan ons sê wanneer ons die inisiatief neem om wenke te gee?
5 Soms sal ’n nuwe verkondiger jou vir wenke vra. Maar as hy dit nie doen nie, kan jy die inisiatief neem om hom te help. Hoe kan jy dit op ’n taktvolle manier doen? Party ervare verkondigers vra eenvoudig: “Mag ek jou ’n wenk gee?” of “Hoe dink jy het dit afgeloop?” Jy kan ook sê: “Toe ek ’n nuwe verkondiger was, was dit vir my ’n uitdaging om . . . , maar ek het dit nuttig gevind om . . . ” Soms is dit goed om saam in die Redenering-boek te kyk. Gee net wenke in verband met een aspek van sy aanbieding sodat jy hom nie oorweldig laat voel nie.
6. Hoe word ‘yster deur yster geslyp’ wanneer dit by die bediening kom?
6 Yster slyp yster: Timoteus, ’n ervare evangeliedienaar, is deur Paulus aangespoor om voort te gaan om hom daarop toe te lê om te onderrig en vooruitgang te maak (1 Tim. 4:13, 15). Hoewel baie jare dalk al verloop het sedert jy die eerste keer aan die bediening deelgeneem het, moet jy nooit ophou om jou vaardighede te probeer verbeter nie. Leer by die verkondigers saam met wie jy preek, selfs dié wat minder ondervinding in die bediening het, en wees daarop ingestel om ander, veral nuwelinge, vriendelik te help om vaardige bedienaars van die goeie nuus te word.—Spr. 27:17.