Ons tydskrifte—Saamgestel om by baie soorte mense byval te vind
1. Hoe volg die “getroue en verstandige slaaf”-klas die apostel Paulus na?
1 Net soos die apostel Paulus sy aanbieding van die goeie nuus aangepas het om “alle soorte mense” te wen, gebruik die “getroue en verstandige slaaf”-klas ons tydskrifte om mense van verskillende agtergronde en opvattings te bereik (1 Kor. 9:22, 23). Dit sal goed wees as ons die beoogde lesers van Die Wagtoring en Ontwaak! in gedagte hou sodat ons goed van hierdie tydskrifte gebruik kan maak.
2. Die Ontwaak! is saamgestel om by wie byval te vind?
2 Ontwaak!: Hierdie tydskrif is bedoel om dieselfde soort mense te bereik as dié met wie die apostel Paulus gepraat het toe hy die “manne van Atene” toegespreek het (Hand. 17:22). Hierdie manne het ’n nie-Christelike agtergrond gehad, en hulle het min begrip van die Skrif gehad. Net so het die lesers vir wie die Ontwaak! saamgestel is, min of geen kennis van die Bybel nie. Hulle weet dalk niks van Christelike leringe nie, is moontlik ietwat wantrouig teenoor godsdiens of is miskien nie bewus dat die Bybel praktiese waarde het nie. ’n Belangrike oogmerk van die Ontwaak! is om sy lesers te oortuig dat die ware God bestaan. Die doel van hierdie tydskrif is ook om geloof in die Bybel op te bou en om die leser te help verstaan dat Jehovah se Getuies van ander godsdiensgroepe verskil.
3. Wie is die beoogde lesers van die twee uitgawes van Die Wagtoring?
3 Die Wagtoring: Die beoogde lesers van die publieke uitgawe van hierdie tydskrif het ’n mate van respek vir God en vir die Skrif. Hulle het dalk Bybelkennis, maar het nie ’n juiste begrip van die leringe daarvan nie. Hulle is soos die gehoor van wie Paulus gesê het dat hulle “God vrees” (Hand. 13:14-16). Die studie-uitgawe van Die Wagtoring is hoofsaaklik vir Jehovah se Getuies geskryf. Paulus het aangeneem dat dié wat sy briewe gelees het, met die Skrif vertroud was en ’n juiste begrip van die waarheid gehad het (1 Kor. 1:1, 2). Net so is artikels in die studie-uitgawe geskryf vir diegene wat ons vergaderinge bywoon en vertroud is met die woordeskat en opvattings van die Getuies.
4. Waarom moet ons vertroud raak met elke nommer van die tydskrifte wat ons in die veld gebruik?
4 Hoewel ons gewoonlik die tydskrifte as ’n stel aanbied, sal ons oor die algemeen in ons aanbieding die aandag op net een daarvan vestig. Stel jou dit dus ten doel om met elke nommer vertroud te wees. Dan sal jy in die beste posisie wees om die aandag te vestig op wat byval sal vind by diegene wat jy ontmoet.