Hoe om by jou velddiensgroep baat te vind
1. Watter voordele van die Gemeentelike Boekstudiereëling kan ons nog steeds deur middel van ons velddiensgroep geniet?
1 Mis jy sekere aspekte van die Gemeentelike Boekstudie? Groepe was kleiner, en die atmosfeer was meer ontspanne. Dit het dit maklik gemaak om vriendskappe aan te knoop wat ’n bron van geestelike ondersteuning is (Spr. 18:24). Die boekstudieopsiener het ons unieke omstandighede leer ken en kon persoonlike aanmoediging voorsien (Spr. 27:23; 1 Pet. 5:2, 3). Ons kan nog steeds hierdie voordele geniet deur middel van ons velddiensgroep.
2. Hoe kan ons die inisiatief neem om in ons velddiensgroep vriendskappe aan te knoop wat ’n bron van geestelike ondersteuning is?
2 Neem die inisiatief: Velddiensgroepe is oor die algemeen dieselfde grootte as wat boekstudiegroepe was. Deur “sy aan sy” met ander in die bediening te werk, kan ons ’n hegte band met hulle vorm (Fil. 1:27). Saam met hoeveel persone in jou groep het jy al gewerk? Kan jy in hierdie opsig “verruim word”? (2 Kor. 6:13). Ons kan ook nou en dan iemand in ons groep nooi om tydens ons aand vir Gesinsaanbidding by ons aan te sluit of om by ons te kom eet. In party gemeentes maak velddiensgroepe beurte om gasvryheid aan die besoekende spreker te betoon. Gedurende hulle toegewese week kom die groep vir ’n maaltyd en wedersydse aanmoediging bymekaar ongeag of die spreker die geselligheid kan bywoon of nie.
3. Watter geleenthede is daar in ons velddiensgroep om deur die ouer manne aangemoedig te word?
3 Hoewel die gemeente nou net twee keer per week vergader, beteken dit nie dat ouer manne minder aandag aan verkondigers moet skenk nie. Groepopsieners is in elke groep aangestel om aan individue persoonlike aanmoediging en opleiding vir die bediening te gee. As jou groepopsiener nog nie ’n afspraak gemaak het om saam met jou in die bediening te werk nie, kan jy hom gerus vra of jy saam met hom kan werk. Die diensopsiener doen ook een naweek per maand velddiens saam met ’n ander groep. In kleiner gemeentes waar daar net ’n paar velddiensgroepe is, kan hy reël om elke groep twee keer per jaar te besoek. Maak jy reëlings om aan die bediening deel te neem wanneer hy jou groep besoek?
4. (a) Hoe word velddiensvergaderinge georganiseer? (b) Waarom moet ons dit oorweeg om ons huis vir velddiensvergaderinge beskikbaar te stel?
4 Dit is dikwels voordelig as elke groep oor naweke afsonderlik vir velddiens bymekaarkom. As daar verskeie plekke is waar verkondigers op ongeveer dieselfde tyd vir velddiens bymekaar kan kom, sal dit dalk vir hulle makliker wees om by die velddiensvergadering of selfs by die gebied uit te kom. Verkondigers kan vinnig georganiseer word en dadelik na die gebied vertrek. Dit is ook makliker vir die groepopsiener om noukeurig aandag te skenk aan diegene onder sy sorg. Maar weens omstandighede is dit dalk raadsaam vir twee of meer groepe om te kombineer. As die hele gemeente op die eerste Saterdag van die maand of ná die Wagtoring-studie vir velddiens bymekaarkom, is dit dikwels voordelig as elke groep bymekaarsit en die groepopsiener ’n paar minute gegee word om sy groep te organiseer voordat die velddiensvergadering met gebed afgesluit word.—Sien die venster “Kan julle julle huis beskikbaar stel?”
5. Waarvan kan ons seker wees, al het die Gemeentelike Boekstudiereëling geëindig?
5 Hoewel die Gemeentelike Boekstudiereëling geëindig het, voorsien Jehovah nog steeds alles wat ons nodig het om sy wil te doen (Heb. 13:20, 21). Onder Jehovah se sorg kom ons niks kort nie (Ps. 23:1). Ons kan baie seëninge deur middel van ons velddiensgroep ontvang. As ons die inisiatief neem en “oorvloedig saai”, sal ons “oorvloedig maai”.—2 Kor. 9:6.
[Venster op bladsy 6]
Kan julle julle huis beskikbaar stel?
Party gemeentes kombineer velddiensgroepe oor die naweek omdat daar nie genoeg huise is waar die verkondigers bymekaar kan kom nie. Velddiensvergaderinge is ’n uitbreiding van die gemeentereëling, en daarom is dit ’n groot voorreg om dit in ons huis te hê. Kan julle julle huis beskikbaar stel? Moenie huiwer omdat julle huis beskeie is nie. Die ouer manne sal die buurt waarin julle woon, in ag neem, asook ander faktore soos dié wat hulle oorweeg het toe hulle vir die boekstudie plekke gekies het. Stel gerus julle groepopsiener in kennis as julle graag julle huis beskikbaar wil stel.