Gebruik ons webwerf om jou kinders te leer
1. Wat is die doel van die deel van ons webwerf met die titel “Kinders”?
1 Ons webwerf, jw.org, is ontwerp om by mense van alle ouderdomme byval te vind. Die deel van die webwerf met die titel “Kinders” (gaan na Bybelleringe > Kinders) help jong kinders en hulle ouers om nader aan mekaar en aan Jehovah te kom (Deut. 6:6, 7). Hoe kan jy hierdie deel gebruik om jou kinders te leer?
2. Hoe kan jy studiemateriaal kies wat vir jou kinders se ouderdom gepas is?
2 Wees aanpasbaar: Elke kind het unieke behoeftes (1 Kor. 13:11). Hoe kan jy dan studiemateriaal kies wat vir jou kinders se ouderdom gepas is? Vra jou af: ‘Waarin sal my kinders belangstel? Hoeveel sal hulle verstaan? Hoe lank kan hulle konsentreer?’ Met kinders wat drie jaar of jonger is, kan jy die verhale onder “My Bybellesse” bespreek. Ander gesinne geniet die Bybelverhale in die deel “Leer jou kinders”. Kyk ook na die volgende opsies.
3. Hoe kan ouers die verhale en aktiwiteite onder “Projekte vir Gesinsaanbidding” doeltreffend gebruik?
3 Projekte vir Gesinsaanbidding: Hierdie projekte is hulpmiddele wat gesinshoofde kan gebruik om met hulle kinders te studeer. Klik op die “Laai af”-knoppie, en lees “’n Gids vir ouers” vir elke projek om uit te vind hoe om die verhale en aktiwiteite te gebruik. Gebruik “Pret met prente”, soos inkleurblaaie, om jonger kinders te leer. Help ouer kinders om die studie-aktiwiteite te voltooi. Al die aktiwiteite in elke projek hou verband met dieselfde Bybelverhaal of -les; dus kan kinders van alle ouderdomme aan dieselfde projek vir Gesinsaanbidding deelneem.
4. Wat kan in die deel “Word Jehovah se vriend” gevind word?
4 Word Jehovah se vriend: Die video’s, liedjies en aktiwiteite in hierdie deel van ons webwerf help ouers om God se Woord by hulle kindertjies in te skerp (Deut. 31:12). Elke kort geanimeerde video bevat ’n belangrike les. Aktiwiteite soos soek-en-vind-speletjies beklemtoon hierdie lesse. Aangesien kinders dikwels daarvan hou om te sing—en liedjies kinders help om te onthou wat hulle leer—word Koninkryksliedere en liedjies wat spesiaal vir kinders geskryf word, gereeld op die webwerf gesit.
5. Waarom moet ouers Jehovah vra om hulle te help om hulle kinders die waarheid te leer?
5 Ouers, Jehovah wil hê dat julle suksesvolle moeders en vaders moet wees. Vra hom dus om julle te help om julle kinders die waarheid te leer (Rigt. 13:8). Met Jehovah se ondersteuning kan julle julle kinders oplei sodat hulle “wys kan [word] tot redding deur die geloof in verband met Christus Jesus”.—2 Tim. 3:15; Spr. 4:1-4.