Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w22 Julie bl. 2-7
  • Die Koninkryk regeer nou!

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die Koninkryk regeer nou!
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2022
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • HOE OM TE WEET WANNEER DIE KONINKRYK BEGIN REGEER HET
  • HOE ONS WEET DAT CHRISTUS KONING VAN GOD SE KONINKRYK GEWORD HET
  • HOE VYANDE VAN GOD SE KONINKRYK VERNIETIG SAL WORD
  • GAAN DIE TOEKOMS MET VERTROUE BINNE
  • Leer uit Bybelprofesieë
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2023
  • Profesieë wat bewaarheid is
    Die Bybel—God se woord of die mens s’n?
  • Politieke onrus wat Bybelprofesieë vervul
    Nog onderwerpe
  • Die Bybel—’n Boek van akkurate profesie, Deel 7
    Ontwaak!—2012
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2022
w22 Julie bl. 2-7

STUDIEARTIKEL 28

Die Koninkryk regeer nou!

“Die koninkryk van die wêreld het die Koninkryk van ons Here en van sy Christus geword.” – OP. 11:15.

LIED 22 Die Koninkryk regeer — Laat dit kom!

IN HIERDIE ARTIKELa

1. Waarvan is ons seker, en hoekom?

VIND jy dit moeilik om positief te wees wanneer jy na wêreldtoestande kyk? Familiebande word al hoe swakker. Oor die algemeen word mense al hoe gewelddadiger, selfsugtiger en aggressiewer. Baie vind dit moeilik om mense in gesagsposisies te vertrou. Maar hierdie toestande kan jou oortuig dat dinge beter sal word. Hoekom? Omdat mense presies optree soos wat die Bybel in ’n belangrike profesie oor “die laaste dae” voorspel het (2 Tim. 3:1-5). Geen opregte persoon kan ontken dat hierdie profesie nou vervul word nie, en die vervulling daarvan bewys dat Christus Jesus Koning van God se Koninkryk geword het. Dit is maar net een van baie profesieë oor die Koninkryk. Dit sal ons geloof versterk om ander profesieë te bespreek wat in onlangse jare waar geword het.

Iemand sit die laaste stukkie van ’n legkaart in. Daar is ’n prentjie van ’n klip op wat ’n groot metaalbeeld tref. Daar is verskillende profesieë uit die Bybelboeke Daniël en Openbaring op die legkaart. 1. ’n Klip rol by ’n berg af en tref die voete van ’n groot metaalbeeld. 2. ’n Groot boom. 3. Vier perde en hulle ruiters. 4. ’n Prostituut sit op ’n skarlakenkleurige wilde dier.

Net soos die stukke van ’n legkaart bymekaar pas, pas profesieë uit die Bybelboeke Daniël en Openbaring bymekaar om vir ons ’n duidelike prentjie te gee van waar ons in Jehovah se tydlyn van gebeure is (Sien paragraaf 2)

2. Wat sal ons in hierdie artikel bespreek, en hoekom? (Beskryf die prent op die voorblad.)

2 In hierdie artikel sal ons die volgende dinge bespreek: (1) ’n profesie wat ons help om te verstaan wanneer die Koninkryk begin regeer het, (2) profesieë wat ons help om te sien dat Jesus Koning van God se Koninkryk in die hemel geword het en (3) profesieë wat wys hoe vyande van God se Koninkryk vernietig sal word. Ons sal sien dat hierdie profesieë bymekaar pas soos die stukke van ’n legkaart om vir ons ’n duidelike prentjie te gee van waar ons in Jehovah se tydlyn van gebeure is.

HOE OM TE WEET WANNEER DIE KONINKRYK BEGIN REGEER HET

3. Watter versekering gee die profesie in Daniël 7:13, 14 ons oor die Koning van God se Koninkryk?

3 Die profesie in Daniël 7:13, 14 verseker ons dat Christus Jesus die beste Heerser van God se Koninkryk sal wees. Mense uit elke nasie sal ‘hom dien’, en hy sal nooit as Heerser vervang word nie. Nog ’n profesie in die boek Daniël het voorspel dat Jesus in daardie Koninkryk sou begin regeer aan die einde van ’n tydperk wat die sewe tye genoem word. Is dit moontlik om te weet wanneer Jesus Koning geword het?

4. Verduidelik hoe Daniël 4:10-17 ons help om uit te vind in watter jaar Christus Koning sou word. (Sien ook voetnoot.)

4 Lees Daniël 4:10-17. Die “sewe tye” verteenwoordig ’n tydperk van 2 520 jaar. Daardie tydperk het in 607 VHJ begin toe die Babiloniërs die laaste koning van Jehovah se troon in Jerusalem verwyder het. Dit het in 1914 HJ geëindig toe Jehovah Jesus – “die een . . . wat die wetlike reg het” – as Koning van God se Koninkryk gekroon het.b – Eseg. 21:25-27.

5. Wat is een manier hoe die profesie oor die “sewe tye” ons kan help?

5 Hoe kan hierdie profesie ons help? As ons die profesie oor die “sewe tye” verstaan, gee dit ons die vertroue dat Jehovah sy beloftes op tyd vervul. Net soos hy ’n spesifieke tyd vasgestel het wanneer sy Koninkryk sou begin regeer, sal hy ook sorg dat al die ander profesieë volgens sy tydlyn waar word. Ja, Jehovah se dag “sal nie laat wees nie!” – Hab. 2:3.

HOE ONS WEET DAT CHRISTUS KONING VAN GOD SE KONINKRYK GEWORD HET

6. (a) Watter sigbare bewyse is daar dat Christus in die hemel regeer? (b) Hoe word hierdie bewyse bevestig deur die profesie in Openbaring 6:2-8?

6 Na aan die einde van sy aardse bediening het Jesus sekere wêreldgebeure voorspel wat sy volgelinge sou help om te weet dat hy in die hemel begin regeer het. Party van die dinge wat hy genoem het, was oorloë, hongersnode en aardbewings. Hy het ook voorspel dat daar vreeslike siektes “op die een plek ná die ander” sou wees – waarvan die onlangse COVID-19-pandemie ’n voorbeeld is. Hierdie dinge is deel van wat die Bybel “die teken” van Christus se teenwoordigheid noem (Matt. 24:3, 7; Luk. 21:7, 10, 11). Meer as 60 jaar nadat Jesus dood is en teruggegaan het hemel toe, het hy vir die apostel Johannes bevestiging gegee dat hierdie dinge sou gebeur. (Lees Openbaring 6:2-8.) Al hierdie dinge het gebeur vandat Jesus in 1914 Koning geword het.

7. Hoekom het so baie slegte dinge op die aarde gebeur vandat Jesus Koning geword het?

7 Hoekom het wêreldtoestande so sleg geword vandat Jesus Koning geword het? Openbaring 6:2 gee ’n belangrike detail. Jesus se eerste toewysing nadat hy Koning geword het, was om oorlog te voer. Teen wie? Teen die Duiwel en sy demone. Volgens Openbaring hoofstuk 12 het Satan die oorlog verloor, en hy en die demone is na die aarde toe neergegooi. Satan was baie woedend en het die mensdom begin aanval, en dit het daartoe gelei dat dit “sleg gaan met die aarde”. – Op. 12:7-12.

’n Paartjie kyk ’n verslag op die nuus oor burgerlike onrus. Hulle het ’n Bybel en ander publikasies op ’n tafel voor hulle.

Ons is nie bly wanneer slegte dinge gebeur nie, maar wanneer ons sien dat Bybelprofesieë vandag waar word, bewys dit dat God se Koninkryk nou regeer (Sien paragraaf 8)

8. Hoe kan dit ons help wanneer ons sien hoe profesieë oor die Koninkryk waar word?

8 Hoe kan hierdie profesieë ons help? Wêreldgebeure en die duidelike verandering in mense se gesindheid sou ons help om te sien dat Jesus Koning geword het. So wanneer ons sien hoe selfsugtig en wreed mense is, word ons nie kwaad nie, maar ons onthou eerder dat hulle dade Bybelprofesieë vervul. Die Koninkryk regeer nou! (Ps. 37:1). En ons sal al hoe meer probleme in die wêreld sien soos wat Armageddon nader kom (Mark. 13:8; 2 Tim. 3:13). Ons is baie dankbaar dat ons liefdevolle hemelse Vader ons help om te verstaan hoekom daar so baie probleme in hierdie wêreld is.

HOE VYANDE VAN GOD SE KONINKRYK VERNIETIG SAL WORD

9. Hoe beskryf die profesie in Daniël 2:28, 31-35 die laaste wêreldmag, en wanneer het dit begin bestaan?

9 Lees Daniël 2:28, 31-35. Ons sien ook hoe hierdie profesie vandag besig is om waar te word. Nebukadnesar se droom het gewys wat “aan die einde van die dae” sou gebeur wanneer Christus begin regeer. Jesus se aardse vyande sou die laaste wêreldmag insluit wat in die Bybel voorspel word, die een wat deur die “voete van yster en van klei” verteenwoordig word. Hierdie wêreldmag het reeds begin regeer. Dit het gedurende die Eerste Wêreldoorlog begin regeer toe Brittanje en die Verenigde State begin saamwerk het en die Anglo-Amerikaanse Wêreldmag geword het. Die beeld in Nebukadnesar se droom het ook ten minste twee dinge oor hierdie wêreldmag voorspel wat dit van die vorige koninkryke sou onderskei.

10. (a) Wat het Daniël se profesie voorspel wat ons vandag in die Anglo-Amerikaanse Wêreldmag sien? (b) Watter gevaar moet ons vermy? (Sien die venster “Pasop vir die klei!”)

10 Eerstens, anders as die vorige wêreldmagte wat in die visioen genoem word, word die Anglo-Amerikaanse Wêreldmag nie deur ’n soliede metaal, soos goud of silwer, voorgestel nie, maar deur ’n mengsel van yster en klei. Die klei stel “die gewone mense” voor (Dan. 2:43). Vandag kan ons duidelik sien dat mense se invloed in verkiesings, veldtogte vir burgerlike regte, massabetogings en vakbonde dit moeilik maak vir hierdie wêreldmag om sy gesag uit te oefen.

Pasop vir die klei!

Die voete van yster en klei uit Daniël se visioen van die groot beeld. Tussen die voete is daar mense wat betoog, wagte met skilde, wêreldleiers wat bymekaarkom en lede van die Verenigde Nasies by ’n byeenkoms.

In Daniël se profesie simboliseer die klei in die voete van die groot beeld die gewone mense. Hulle het die mag om die politieke leiers en die manier hoe hulle regeer, te beïnvloed (Dan. 2:41-43). Kan dit vir ons gevaarlik wees? Ja! As ons nie ons hart beskerm nie, kan ons ophou om neutraal te wees. Byvoorbeeld, ons kan in die versoeking kom om die opinies te ondersteun van dié wat ’n verandering probeer maak deur optogte of deur politieke bewegings (Spr. 4:23; 24:21, vtn.). Hoe kan ons daardie gevaar vermy? Ons moet onthou dat Satan oor die wêreld regeer (1 Joh. 5:19). En God se Koninkryk is ons enigste hoop. – Ps. 146:3-5.

11. Hoe versterk die heerskappy van die Anglo-Amerikaanse Wêreldmag ons vertroue dat ons in die tyd van die einde lewe?

11 Tweedens, Anglo-Amerika, wat verteenwoordig word deur die voete van die groot beeld, is die laaste wêreldmag wat in die Bybel voorspel word. Daar sal nie enige ander menseregering daarna regeer nie. Hierdie wêreldmag sal eerder deur God se Koninkryk by Armageddon vernietig word, saam met alle ander menseregerings.c – Op. 16:13, 14, 16; 19:19, 20.

12. Watter bewyse gee Daniël se profesie nog wat ons vertroos en hoop gee?

12 Hoe kan hierdie profesie ons help? Daniël se profesie gee nog bewyse dat ons in die tyd van die einde lewe. Meer as 2 500 jaar gelede het Daniël voorspel dat vier ander wêreldmagte ná Babilon oor God se volk sou regeer. En hy het gesê dat die Anglo-Amerikaanse Wêreldmag die laaste een sou wees. Dit vertroos ons en gee ons hoop dat God se Koninkryk binnekort alle menseregerings sal vernietig en oor die hele aarde sal regeer. – Dan. 2:44.

13. Wat stel die “agtste koning” en die “tien konings” voor wat in Openbaring 17:9-12 genoem word, en hoe het hierdie profesie waar geword?

13 Lees Openbaring 17:9-12. Omdat die Eerste Wêreldoorlog so baie vernietiging veroorsaak het, het iets gebeur wat nog ’n Bybelprofesie oor die laaste dae laat waar word het. Wêreldleiers wou wêreldvrede verseker. Daarom het hulle in Januarie 1920 die Volkebond gestig, wat in Oktober 1945 deur die Verenigde Nasies vervang is. Hierdie organisasie word “’n agtste koning” genoem. Maar dit is nie ’n wêreldmag nie. Dit het net mag as gevolg van die regerings wat dit ondersteun. Die Bybel verwys in ’n simboliese sin na daardie regerings as “tien konings”.

14-15. (a) Wat openbaar Openbaring 17:3-5 oor “Babilon die Grote”? (b) Wat gebeur nou met valse godsdiens se ondersteuners?

14 Lees Openbaring 17:3-5. Onder God se inspirasie het die apostel Johannes in ’n visioen ’n prostituut, “Babilon die Grote,” gesien wat die wêreldryk van valse godsdiens voorstel. Wat openbaar hierdie visioen? Valse godsdiensorganisasies het vir ’n lang tyd met die wêreld se politieke magte saamgewerk en hulle ondersteun. Maar binnekort sal Jehovah dit in die harte van die politieke magte sit “om sy gedagte uit te voer”. Wat sal die gevolg wees? Daardie politieke magte, die “tien konings”, sal teen valse godsdiensorganisasies draai en hulle vernietig. – Op. 17:1, 2, 16, 17.

15 Hoe weet ons dat die einde van Babilon die Grote naby is? Om daardie vraag te beantwoord, sal dit goed wees om te onthou dat die eertydse stad Babilon gedeeltelik beskerm was deur die water van die magtige Eufraatrivier. Die boek Openbaring vergelyk die miljoene ondersteuners van Babilon die Grote met beskermende “waters” (Op. 17:15). Maar dit wys ook dat die waters sou ‘opdroog’, wat aandui dat die wêreldryk van valse godsdiens baie van sy ondersteuners sou verloor (Op. 16:12). Vandag word hierdie profesie waar, want baie mense het valse godsdiens verlaat en op ander plekke na antwoorde begin soek.

16. Hoe kan dit ons help as ons die profesieë verstaan oor wanneer die Verenigde Nasies gevorm is en die einde van Babilon die Grote?

16 Hoe kan hierdie profesieë ons help? Die feit dat die Verenigde Nasies gevorm is en die feit dat baie mense hulle rug op valse godsdiens draai, bewys dat ons in die laaste dae lewe. Alhoewel Babilon se simboliese waters van ondersteuning besig is om op te droog, is dit nie wat valse godsdiensorganisasies sal vernietig nie. Soos ons vroeër genoem het, sal Jehovah dit in die harte sit van die “tien konings” – die politieke magte wat die Verenigde Nasies ondersteun – “om sy gedagte uit te voer”. Daardie nasies sal Babilon die Grote skielik vernietig, en dit sal die wêreld onkant vang (Op. 18:8-10).d Die vernietiging van Babilon die Grote sal die hele wêreld skok en sal dalk probleme veroorsaak, maar God se volk sal ten minste twee redes hê om vreugdevol te wees. Valse godsdiens, wat al lank ’n vyand van Jehovah God is, sal nie meer bestaan nie, en ons sal kort daarna verlos word van hierdie goddelose wêreld! – Luk. 21:28.

GAAN DIE TOEKOMS MET VERTROUE BINNE

17-18. (a) Hoe kan ons aanhou om ons geloof te versterk? (b) Wat sal ons in die volgende artikel bespreek?

17 Daniël het voorspel dat “ware kennis . . . oorvloedig [sou] word”. En dit het beslis! Ons verstaan nou die profesieë oor ons tyd (Dan. 12:4, 9, 10). Die akkuraatheid van hierdie profesieë gee ons meer respek vir Jehovah en sy geïnspireerde Woord (Jes. 46:10; 55:11). So hou aan om jou geloof te versterk deur die Bybel ywerig te studeer en deur ander te help om ’n goedgekeurde verhouding met Jehovah op te bou. Hy sal almal beskerm wat heeltemal op hom vertrou, en hy sal hulle “blywende vrede” gee. – Jes. 26:3.

18 In die volgende artikel sal ons profesieë bespreek oor die Christengemeente in die tyd van die einde. Soos ons sal leer, bewys hierdie profesieë ook dat ons in die laaste dae lewe. Ons sal nog bewyse sien dat Jesus, wat nou as ons Koning regeer, sy lojale volgelinge lei.

HOE WYS HIERDIE PROFESIEË DAT GOD SE KONINKRYK NOU REGEER?

  • Daniël 4:10-17

  • Openbaring 6:2-8

  • Daniël 2:28, 31-35; Openbaring 17:3-5, 9-12

LIED 61 Voorwaarts, Getuies!

a Ons lewe in een van die opwindendste tye in die geskiedenis! God se Koninkryk het begin regeer, net soos voorspel was in ’n aantal Bybelprofesieë. Hierdie artikel sal party van daardie profesieë ondersoek met die doel om ons geloof in Jehovah te versterk en ons te help om kalm te bly en op hom te vertrou, nou en in die dae wat voorlê.

b Sien les 32 punt 4 in die Geniet die lewe vir ewig!-boek, en kyk die video God se Koninkryk het in 1914 begin regeer op jw.org.

c Sien Die Wagtoring van 15 Junie 2012, bl. 14-19, vir meer inligting oor Daniël se profesie.

d Vir meer inligting oor wat die toekoms inhou, sien hoofstuk 21 van die boek God se Koninkryk regeer!

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel