Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w23 Februarie bl. 26-30
  • Ek het gesien hoe getroues floreer

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ek het gesien hoe getroues floreer
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2023
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • NOORD-IERLAND – “DIE LAND VAN BOMME EN KOEËLS”
  • SIERRA LEONE – GELOOF TEN SPYTE VAN ARMOEDE
  • NIGERIË – ONS LEER KEN ’N NUWE KULTUUR
  • KENIA – DIE BROERS WAS GEDULDIG MET MY
  • VERENIGDE STATE – GELOOF TEN SPYTE VAN VOORSPOED
  • Jehovah het my opgerig
    2014 Jaarboek van Jehovah se Getuies
  • Van die laagste vlak tot groot hoogtes
    Lewensverhale van Jehovah se Getuies
  • Koninkryksverkondigers berig
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
  • “Dié wat na jou luister”, sal gered word
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2019
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2023
w23 Februarie bl. 26-30
Robert Landis.

LEWENSVERHAAL

Ek het gesien hoe getroues floreer

SOOS VERTEL DEUR ROBERT LANDIS

JY KAN seker gesprekke onthou wat jy al gehad het wat vir jou veral belangrik is. Vir my was daar een wat omtrent 50 jaar gelede plaasgevind het terwyl ek en ’n vriend langs ’n kampvuur in Kenia gesit het. Bruingebrand nadat ons maande lank rondgereis het, het ons gesit en praat oor ’n film met ’n godsdienstige tema toe my vriend gesê het: “Dit stem nie ooreen met wat die Bybel sê nie.”

Ek het gelag – ek het nie gedink dat my vriend ’n godsdienstige persoon was nie. Ek het gevra: “Wat weet jy van die Bybel?” Hy het my nie dadelik geantwoord nie. Later het hy vir my gesê dat sy ma een van Jehovah se Getuies was en dat hy ’n paar dinge by haar geleer het. Ek was nuuskierig en het hom gevra om my meer te vertel.

Ons het tot diep in die nag daaroor gesels. My vriend het my vertel dat die Bybel sê dat Satan die heerser van die wêreld is (Joh. 14:30). Dalk is dit iets wat jy jou hele lewe lank al weet, maar vir my was dit iets nuuts en interessants. Ek het altyd gehoor dat ’n liefdevolle en regverdige God in beheer van die wêreld was. Maar dit het nie vir my sin gemaak nie as gevolg van die dinge wat ek al in my lewe gesien het. Al was ek maar net 26 jaar oud, het ek al baie dinge gesien wat my ontstel het.

My pa was ’n vlieënier in die Amerikaanse Lugmag. Toe ek ’n kind was, was ek baie bewus van die feit dat daar enige oomblik ’n kernoorlog kon wees; die weermag het sy vinger op die sneller gehad. Die oorlog in Viëtnam het plaasgevind toe ek op kollege in Kalifornië was. Ek het by studente-protesoptogte aangesluit. Die polisie het ons met knuppels gejaag, en terwyl ons weggehardloop het, het ons verstik, en ons kon nie mooi sien nie as gevolg van die traangas. Dit was ’n tyd van onrus en opstand. Politieke leiers is vermoor, en mense het protesoptogte gehou. Almal het verskillende opinies gehad oor wat gedoen moes word. Ek het nie verstaan wat aan die gang was nie.

Robert staan by sy motorfiets en wys ’n kaart van sy reise.

Van Londen na Sentraal-Afrika

In 1970 het ek werk gekry aan die noordelike kus van Alaska en baie geld gemaak. Toe het ek Londen toe gevlieg, ’n motorfiets gekoop en suid gery sonder ’n spesifieke plek in gedagte. Maande later het ek in Afrika aangekom. Terwyl ek gereis het, het ek mense ontmoet wat ook gewens het dat hulle net kon wegkom – op die een of ander manier kon weghardloop van al hulle probleme.

So as gevolg van alles wat ek gesien en gehoor het, het die Bybel se lering dat ’n goddelose geesskepsel oor die aarde regeer, vir my sin gemaak. Maar wat was God dan besig om te doen as hy nie oor die aarde regeer het nie? Dis wat ek wou weet.

In die maande daarna het ek die antwoord gekry. En later het ek ook baie mans en vrouens leer ken en liefgekry wat gewys het dat hulle, onder alle soorte omstandighede, getrou bly aan die enigste ware God.

NOORD-IERLAND – “DIE LAND VAN BOMME EN KOEËLS”

Toe ek teruggegaan het Londen toe, het ek my vriend se ma gekontak, en sy het vir my ’n Bybel gegee. Later toe ek na Amsterdam in Nederland gegaan het, het ’n Getuie my gesien terwyl ek die Bybel onder ’n straatlig gelees het, en hy het my gehelp om meer te leer. Daarna is ek na Dublin, Ierland, en ek het die takkantoor van Jehovah se Getuies gevind. Ek het aan die voordeur geklop. Dit is waar ek Arthur Matthews, ’n wyse, ervare broer, ontmoet het. Ek het vir ’n Bybelstudie gevra, en hy het ingestem om met my te studeer.

Ek was baie ywerig toe ek begin studeer, en ek was gretig om die boeke en tydskrifte te lees wat die Getuies gepubliseer het. En natuurlik het ek ook die Bybel gelees. Dit was so opwindend! By gemeentelike vergaderinge het ek gesien dat selfs die kinders die antwoorde geken het op vrae waaroor geleerde mense al honderde jare lank wonder: ‘Hoekom gebeur daar slegte dinge? Wie is God? Wat gebeur met ons wanneer ons sterf?’ Ek het net met die Getuies geassosieer. Dit was maklik omdat ek niemand anders in die hele land geken het nie. Hulle het my gehelp om Jehovah lief te kry en om aan hom gehoorsaam te wil wees.

Nigel, Denis en ek

Ek is in 1972 gedoop. ’n Jaar later het ek begin pionier en by ’n baie klein gemeente in Newry, Noord-Ierland, aangesluit. Ek het ’n afgeleë kliphuisie teen ’n berg gehuur. Daar was koeie in die veld daar naby, en ek het my toesprake voor hulle geoefen. Dit het gelyk asof hulle mooi luister terwyl hulle gestaan en herkou het. Hulle kon nie vir my raad gee nie, maar hulle het my gehelp om te leer hoe om oogkontak met die gehoor te behou. In 1974 is ek as ’n spesiale pionier aangestel. Nigel Pitt het saam met my begin pionier, en hy het ’n lewenslange vriend geword.

Op daardie stadium was daar baie geweld in Noord-Ierland. Daarom het party Noord-Ierland “die land van bomme en koeëls” genoem. Dit was algemeen om te sien hoe mense in die strate veg, hoe mense geskiet word en hoe karre ontplof. Politieke en godsdiensprobleme het dikwels hand aan hand gegaan. Maar Protestante en Katolieke het erken dat die Getuies nie kant kies in die politiek nie, so ons kon vryelik en veilig preek. Huisbewoners het baie keer geweet wanneer en waar daar geweld sou wees, en hulle het ons gewaarsku sodat ons die gevaar kon vermy.

Maar daar was nog steeds gevaarlike situasies. Eendag het ek en Denis Carrigan, ’n ander pionier, in ’n dorp daar naby gepreek waar daar geen Getuies was nie en waar ons nog net een keer voorheen was. ’n Vrou het ons daarvan beskuldig dat ons geheime Britse soldate is, dalk omdat nie een van ons met ’n Ierse aksent gepraat het nie. Die beskuldiging het ons bang gemaak. As jy selfs net vriendelik was met die soldate kon jy doodgeskiet word of in die knie geskiet word. Terwyl ons buite in die koue en alleen vir die bus gewag het, het ons ’n kar gesien stilhou voor die winkel waar die vrou ons beskuldig het. Sy het uitgekom en met die twee mans in die kar gepraat en opgewonde met haar vinger in ons rigting gewys. Die mans het toe stadig na ons toe gery en ons ’n paar vrae oor die busrooster gevra. Toe die bus daar aangekom het, het hulle met die bestuurder gepraat. Ons kon nie hoor wat hulle gesê het nie. Daar was nie ander passasiers nie, so ons was oortuig dat hulle beplan het om ons buite die dorp seer te maak. Maar dit het nie gebeur nie. Toe ek van die bus afklim, het ek vir die bestuurder gevra: “Het daardie mans jou uitgevra oor ons?” Hy het gesê: “Ek weet wie julle is, en ek het vir hulle gesê. Moenie bekommerd wees nie. Julle is veilig.”

Robert en Pauline op hulle troudag.

Op ons troudag, Maart 1977

In 1976 by ’n streekbyeenkoms in Dublin het ek Pauline Lomax ontmoet, ’n spesiale pionier wat uit Engeland gekuier het. Sy was ’n geestelike, nederige en lieflike suster. Sy en haar broer, Ray, is in die waarheid gebore. ’n Jaar later is ek en Pauline getroud, en ons het aangehou om as spesiale pioniers te dien in Ballymena, Noord-Ierland.

Ons was vir ’n rukkie op die kring en het ons broers in Belfast, Londonderry, en ander gevaarlike gebiede gedien. Ons was aangemoedig deur die geloof van ons broers en susters wat diepgewortelde godsdiensoortuigings, diskriminasie en haat agtergelaat het om Jehovah te dien. Hy het hulle beslis geseën en beskerm!

Ek het tien jaar in Ierland gebly. Toe in 1981 is ons genooi om die 72ste Gileadklas by te woon. Nadat ons gegradueer het, is ons na Sierra Leone in Wes-Afrika gestuur.

SIERRA LEONE – GELOOF TEN SPYTE VAN ARMOEDE

Ons het in ’n sendinghuis saam met 11 wonderlike mense gebly. Ons het een kombuis, drie toilette, twee storte, een telefoon, een wasmasjien en een droër gedeel. Daar was gereeld kragonderbrekings, en dit was onvoorspelbaar. Daar was rotte in die dak en kobras in die kelder.

Robert en ander met hulle motorfietse besig om ’n rivier op ’n houtboot oor te steek.

Ons steek ’n rivier oor om na ’n streekbyeenkoms in Guinee te gaan

Al was die omstandighede waar ons gebly het, nie die beste nie, het ons die bediening baie geniet. Mense het die Bybel gerespekteer en mooi geluister. Baie het gestudeer en die waarheid aanvaar. Die plaaslike mense het my “meneer Robert” genoem. Pauline was “mevrou Robert”. Maar na ’n rukkie het my werk by die takkantoor meer van my tyd opgeneem, en ek was minder in die veldbediening, en daarom het mense Pauline “mevrou Pauline” begin noem. Ek het “meneer Pauline” geword. Pauline het daarvan gehou!

Robert en Pauline met hulle voertuig.

Op ’n predikingskampanje in Sierra Leone

Baie van die broers was arm, maar Jehovah het altyd vir hulle gesorg, soms op wonderlike maniere (Matt. 6:33). Ek onthou dat daar een suster was wat net genoeg geld gehad het om vir haar en haar kinders kos te koop vir daardie dag, maar toe het sy alles vir ’n siek broer gegee wat nie geld gehad het om medikasie vir malaria te koop nie. Later daardie dag het ’n vrou onverwags na die suster toe gekom en haar betaal om haar hare te doen. Sulke dinge het baie gebeur.

NIGERIË – ONS LEER KEN ’N NUWE KULTUUR

Ons was nege jaar lank in Sierra Leone. Toe is ons na Bethel in Nigerië gestuur. Ons was nou in ’n groot takkantoor. Ek het dieselfde soort kantoorwerk gedoen wat ek in Sierra Leone gedoen het, maar vir Pauline was dit ’n groot en ’n moeilike verandering. Sy het elke maand 130 uur in die bediening spandeer, en sy het produktiewe Bybelstudies gehad. Nou het sy in die naaldwerkkamer gewerk, waar sy elke dag stukkende klere reggemaak het. Dit het ’n rukkie geneem om aan te pas, maar sy het besef dat ander haar werk baie waardeer, en sy het daarop gefokus om ander Betheliete aan te moedig.

Die kultuur in Nigerië was nuut vir ons, en ons het baie gehad om te leer. Eenkeer het ’n broer na my kantoor toe gekom om ’n suster aan my voor te stel wat nou net by Bethel aanvaar was. Toe ek my hand uitgesteek het om haar te groet, het sy voor my voete neergebuig. Ek was geskok! Ek het dadelik aan twee tekste gedink: Handelinge 10:25, 26 en Openbaring 19:10. Ek het gewonder: ‘Moet ek vir haar sê om dit nie te doen nie?’ Maar ek het besef dat sy by Bethel aanvaar was; sy het geweet wat die Bybel leer.

Vir die res van die gesprek het ek baie ongemaklik gevoel, maar daarna het ek ’n bietjie navorsing gedoen. Ek het uitgevind dat die suster ’n tradisionele gebruik gevolg het wat op daardie stadium nog steeds in party dele van die land gevolg was. Mans het dit ook gedoen, en dit was ’n manier om respek te wys. Dit was nie aanbidding nie; daar is ook sulke voorbeelde in die Bybel (1 Sam. 24:8). Ek was bly dat ek, voordat ek dit geweet het, niks gesê het wat my suster dalk in die verleentheid sou stel nie.

Ons het baie Nigeriërs ontmoet wat oor die jare baie getrou was. Isaiah Adagbona was ’n voorbeeld hiervan.a Hy het die waarheid as ’n jong man geleer, maar toe is hy met melaatsheid gediagnoseer. Hy is na ’n plek vir melaatses gestuur, en hy was die enigste Getuie daar. Al was hy teëgestaan, het hy meer as 30 melaatses gehelp om die waarheid te aanvaar, en hy het ’n gemeente by daardie plek begin.

KENIA – DIE BROERS WAS GEDULDIG MET MY

Ons ontmoet ’n renoster in Kenia

In 1996 is ons na die takkantoor in Kenia gestuur. Dit was my eerste keer terug in die land ná my besoek wat ek aan die begin genoem het. Ons het in Bethel gebly. Daar was baie blouapies op die eiendom. Hulle het die susters wat vrugte gedra het, “beroof”. Eendag het ’n suster by Bethel haar venster oopgelos. Toe sy in haar kamer kom, was daar ’n klomp apies wat besig was om die kos te eet. Sy het gegil en uitgehardloop. Die apies het geskree en by die venster uitgespring.

Ek en Pauline het by ’n Swahili-gemeente aangesluit. Ná ’n kort rukkie was ek gevra om die Gemeentelike Boekstudie te hou (wat nou die Gemeentelike Bybelstudie genoem word). Maar ek kon nie die taal baie goed praat nie. Ek het die inligting voor die tyd gestudeer, so ek kon die vrae lees. As die kommentare van die gehoor net ’n bietjie anders was as wat geskryf was, het ek dit nie verstaan nie. Dit was so ongemaklik! Ek het die broers en susters jammer gekry. Ek was beïndruk omdat hulle altyd geduldig en nederig geluister het terwyl ek my deel gedoen het.

VERENIGDE STATE – GELOOF TEN SPYTE VAN VOORSPOED

Ons was vir minder as ’n jaar in Kenia. Toe is ons in 1997 genooi na Bethel in Brooklyn, New York. Nou was ons in ’n land waar mense baie materiële dinge gehad het – iets wat sy eie probleme kan bring (Spr. 30:8, 9). Maar selfs in so ’n land wys ons broers en susters sterk geloof. Ons broers gebruik hulle tyd en besittings, nie om hulleself ryk te maak nie, maar om die goeie werk van Jehovah se organisasie te ondersteun.

Oor die jare het ons die geloof van ons broers en susters in verskillende omstandighede gesien. In Ierland was daar geloof ten spyte van burgerlike onrus. In Afrika was daar geloof ten spyte van armoede en afsondering. In die Verenigde State was daar geloof ten spyte van voorspoed. Jehovah is beslis baie gelukkig wanneer hy afkyk en mense sien wat hulle liefde vir hom in alle soorte situasies wys!

Met Pauline by Warwick-Bethel

Die jare het verbygevlieg – “vinniger . . . as wat ’n spoel in ’n weefraam beweeg” (Job 7:6). Ons werk nou saam met ander by die wêreldhoofkwartier in Warwick, New York, en ons geniet dit om nog steeds te dien saam met mense wat regtig lief is vir mekaar. Ons is baie gelukkig en tevrede om te doen wat ons kan om ons Koning, Christus Jesus, te ondersteun, wat binnekort al sy getroues sal beloon. – Matt. 25:34.

a Die lewensverhaal van Isaiah Adagbona is in Die Wagtoring van 1 April 1998, bl. 22-27. Hy het in 2010 gesterf.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel