Hoe oorlog en gewelddadige konflik ons almal raak
“Die wêreld staar die hoogste getal gewelddadige konflikte vanaf die Tweede Wêreldoorlog in die gesig, en een uit elke vier mense op aarde bly in plekke wat deur sulke konflikte geraak word.”
Die adjunk-sekretaris-generaal van die Verenigde Nasies, Amina J. Mohammed, 26 Januarie 2023.
Oorlog en gewelddadige konflik kan uitbreek op plekke wat op die oomblik vrede ervaar. Selfs mense wat nie in die plek bly waar die oorlog plaasvind nie, kan daardeur geraak word. En nadat die gevegte ophou, kan die slegte gevolge nog lank aanhou. Kyk na ’n paar voorbeelde:
Voedseltekorte. Volgens die Wêreldvoedselprogram is “konflik nog steeds die grootste oorsaak van hongerte. Sewentig persent van die wêreld se mense wat honger ly, bly in gebiede wat deur oorlog en geweld geraak word.”
Fisiese en verstandelike gesondheidsprobleme. Wanneer dit lyk asof oorlog in ’n gebied kan uitbreek, kan die mense in daardie gebied erge stres en angstigheid ervaar. Die mense wat in konflikgebiede bly, loop nie net die gevaar om fisies beseer te word nie, maar ook om verstandelike gesondheidsprobleme te ontwikkel. En ongelukkig kan hulle dikwels nie die mediese hulp kry wat hulle nodig het nie.
Gedwing om te vlug. Vanaf September 2023 is meer as 114 miljoen mense wêreldwyd gedwing om hulle huise te verlaat, volgens die Verenigde Nasies se Hoë Kommissaris vir Vlugtelinge. Een van die hoofoorsake vir hierdie krisis is oorlog en gewelddadige konflik.
Ekonomiese probleme. Mense ondervind dikwels ekonomiese probleme wat deur oorlog veroorsaak word, soos inflasie. Hulle kan swaarkry omdat die regering baie geld aan die weermag spandeer in plaas daarvan om dit aan gesondheidsorg en opvoeding te spandeer. En na die oorlog is dit baie duur om die skade te herstel.
Omgewingsprobleme. Mense kry swaar wanneer die natuurlike hulpbronne waarop hulle staatmaak opsetlik vernietig word. Besoedelde water, lug en grond kan langtermyn gesondheidsprobleme veroorsaak, en versteekte landmyne bly ’n gevaar lank nadat die gevegte opgehou het.
Oorlog is sonder twyfel verwoestend sowel as baie duur.