STUDIEWENK
Gebruik die Bybel soos ’n spieël
Die dissipel Jakobus het die Bybel vergelyk met ’n spieël wat ons help om te sien wie ons regtig is (Jak. 1:22-25). Hoe kan ons die Bybel as ’n spieël gebruik?
Lees dit deeglik. As ons net vinnig na onsself in ’n spieël kyk, sien ons dalk nie ’n groot probleem raak nie. Net so, as ons die Bybel net vinnig lees, sal ons nie sien wat ons dalk moet verander nie. Om dit te doen, moet ons die Bybel deeglik lees.
Kyk meer na jouself as na ander. Partykeer wanneer ons in ’n spieël kyk, sien ons ook die weerspieëling van ander mense in die spieël, en ons fokus dalk op wat fout is met hoe hulle lyk. Net so kan ons die Bybel gebruik om iemand anders se foute te identifiseer. Maar dit sal ons nie noodwendig help om ons eie foute reg te stel nie.
Wees redelik. As ons in ’n spieël kyk en net sien waarvan ons nie hou nie, kan ons mismoedig word. Ons moet redelik wees wanneer ons God se Woord lees deur nie meer van onsself te verwag as wat Jehovah van ons verwag nie. – Jak. 3:17.