Wat sien Jehovah wanneer hy na my kyk?
1. In watter opsig is die Bybel soos ’n spieël?
1 Hoe dikwels kyk jy in die spieël? Die meeste van ons doen dit elke dag omdat dit ons help om te sien hoe ons ons voorkoms kan verbeter. Die Bybel is al met ’n spieël vergelyk. As ons God se Woord lees, stel dit ons in staat om te sien wie ons innerlik is, die persoon wat Jehovah sien (1 Sam. 16:7; Jak. 1:22-24). God se Woord kan “gedagtes en bedoelings van die hart onderskei” (Heb. 4:12). Hoe kan daaglikse Bybellees en bepeinsing ons help om te sien op watter gebiede ons moet verbeter sodat ons suksesvoller predikers kan wees?—Ps. 1:1-3.
2. Hoe kan die Bybel ons help om onsself te ondersoek?
2 Gebruik die Bybel as ’n spieël: Bybelverslae oor getroue knegte van Jehovah leer ons watter eienskappe vir hom mooi is. Byvoorbeeld, Dawid het ywer vir God se naam getoon (1 Sam. 17:45, 46). Jesaja het moedig aangebied om in ’n moeilike gebied te preek (Jes. 6:8, 9). Weens Jesus se innige liefde vir sy hemelse Vader het hy die bediening as ’n bron van verkwikking en bevrediging beskou, nie as ’n onaangename las nie (Joh. 4:34). Die eerste-eeuse Christene het met ywer gepreek, het op Jehovah vertrou en was vasbeslote om nie moed op te gee nie (Hand. 5:41, 42; 2 Kor. 4:1; 2 Tim. 4:17). Wanneer ons oor sulke voorbeelde nadink, help dit ons om onsself te ondersoek met die doel om die gehalte van ons heilige diens te verbeter.
3. Waarom moet ons nie sloer om die nodige veranderinge aan te bring nie?
3 Maak die nodige aanpassings: Ons vind natuurlik glad nie daarby baat as ons in ’n spieël kyk en nie die nodige veranderinge aanbring nie. Ons kan Jehovah vra om ons te help om ’n objektiewe beskouing van onsself te kry en om dan die nodige aanpassings te maak (Ps. 139:23, 24; Luk. 11:13). Omdat die oorblywende tyd kort is en lewens op die spel is, moet ons nie sloer om dit te doen nie.—1 Kor. 7:29; 1 Tim. 4:16.
4. Wat gebeur met iemand wat diep in God se Woord kyk en dan optree volgens wat hy sien?
4 ’n Persoon se innerlike—waarop Jehovah let—is baie belangriker as sy uiterlike (1 Pet. 3:3, 4). Wat gebeur met iemand wat diep in God se Woord kyk en dan optree volgens wat hy sien? “Omdat hy nie ’n vergeetagtige hoorder nie maar ’n dader van die werk geword het, [sal hy] gelukkig wees deurdat hy dit doen” (Jak. 1:25). Ja, ons sal gelukkige en doeltreffende predikers wees omdat ons “die heerlikheid van Jehovah soos spieëls weerkaats”.—2 Kor. 3:18.