STUDIEARTIKEL 33
LIED 4 “Jehovah is my Herder”
Aanvaar Jehovah se liefde
“Ek [het] jou met lojale liefde na my toe getrek.” – JER. 31:3.
FOKUS
Hoekom ons moet aanvaar dat Jehovah ons liefhet en hoe ons ons oortuiging dat hy ons liefhet, kan versterk.
1. Hoekom het jy jou aan Jehovah toegewy? (Sien ook prent.)
KAN jy onthou toe jy jou aan Jehovah toegewy het? Jy het daardie besluit gemaak omdat jy hom leer ken en liefgekry het. Jy het hom belowe dat jy sy wil eerste in jou lewe sal stel en dat jy sal aanhou om hom lief te hê met jou hele hart, siel, verstand en krag (Mark. 12:30). Van toe af het jou liefde vir hom net sterker en sterker geword. So, hoe sou jy antwoord as iemand jou vra: “Is jy seker dat jy lief is vir Jehovah?” Jy sou sonder huiwering sê: “Ek is liewer vir hom as vir enige iemand of enige iets anders!”
Onthou jy die liefde wat jy vir Jehovah gevoel het toe jy jou aan hom toegewy het en jou laat doop het? (Sien paragraaf 1)
2-3. Wat wil Jehovah hê moet ons aanvaar, en wat sal ons in hierdie artikel bespreek? (Jeremia 31:3)
2 Maar wat sou jy sê as iemand jou vra: “Is jy seker dat Jehovah lief is vir jou?” Sou jy huiwer om te antwoord omdat jy dalk dink dat jy nie Jehovah se liefde verdien nie? ’n Suster wat ’n moeilike kinderlewe gehad het, het gesê: “Ek weet dat ek lief is vir Jehovah. Ek twyfel glad nie daaraan nie. Iets waaroor ek wel baie keer twyfel is of Jehovah lief is vir my.” Maar hoe voel Jehovah regtig oor jou?
3 Jehovah wil hê dat jy daarvan oortuig moet wees dat hy jou liefhet. (Lees Jeremia 31:3.) Die waarheid is dat Jehovah jou na hom toe getrek het. En toe jy jou aan hom toegewy het en jou laat doop het, het jy iets ontvang wat regtig kosbaar is – sy lojale liefde. Dit beteken dat hy jou baie liefhet en jou nooit sal verlaat nie. Dit beweeg hom om sy getroue aanbidders – insluitende jou – as sy “kosbare besitting” te beskou (Mal. 3:17, vtn.). Jehovah wil hê dat jy so seker moet wees van sy liefde vir jou soos wat die apostel Paulus was van Jehovah se liefde vir hom. Paulus kon vol vertroue skryf: “Ek is daarvan oortuig dat nie die dood of die lewe of engele of regerings of dinge wat nou gebeur of dinge wat nog gaan gebeur of magte of hoogte of diepte of enige ander skepping ons sal kan skei van God se liefde . . . nie” (Rom. 8:38, 39). In hierdie artikel sal ons bespreek hoekom ons ons oortuiging dat Jehovah vir ons lief is, moet versterk en wat ons kan help om dit te doen.
HOEKOM ONS JEHOVAH SE LIEFDE MOET AANVAAR
4. Hoe kan ons teen een van Satan se slinkste planne veg?
4 As ons Jehovah se liefde aanvaar, kan ons teen een van Satan se “slinkse planne” veg (Ef. 6:11). Satan sal enige iets doen wat hy kan om te keer dat ons Jehovah dien. Een van Satan se slinkste planne is om die leuen te bevorder dat Jehovah ons nie liefhet nie. Moet nooit vergeet dat Satan ’n opportunis is nie. Hy val ons dikwels aan wanneer ons swak is – dalk wanneer ons emosioneel sukkel as gevolg van vorige ondervindinge, huidige uitdagings of onsekerhede oor die toekoms (Spr. 24:10). Satan is soos ’n leeu wat sy weerlose prooi wil uitbuit. So hy probeer ons swak emosionele toestand uitbuit om ons te kry om op te gee. Maar as ons aanhou om ons oortuiging te versterk dat Jehovah ons liefhet, sal ons beter toegerus wees om Satan en sy slinkse planne en taktieke te “weerstaan”. – 1 Pet. 5:8, 9; Jak. 4:7.
5. Hoekom moet ons voel dat Jehovah ons liefhet en waardeer?
5 As ons Jehovah se liefde aanvaar, kan ons nader aan hom kom. Kyk hoekom ons so kan sê. Jehovah het mense geskep met die behoefte om liefde aan ander te betoon en om te voel dat hulle ons liefhet. Ons natuurlike reaksie op liefde is om liefde te betoon. So hoe meer ons voel dat Jehovah ons liefhet en waardeer, hoe liewer word ons vir hom (1 Joh. 4:19). En wanneer ons liefde vir hom sterker word, word sy liefde vir ons sterker. Die Bybel sê duidelik vir ons: “Kom nader aan God, en hy sal nader aan julle kom” (Jak. 4:8). Maar hoe kan ons ons oortuiging dat Jehovah ons liefhet, versterk?
WAT KAN ONS HELP OM JEHOVAH SE LIEFDE TE AANVAAR?
6. Om Jehovah se liefde te aanvaar, waarvoor kan ons bid?
6 Hou vol met gebed en wees spesifiek (Luk. 18:1; Rom. 12:12). Vra Jehovah – baie keer elke dag as dit nodig is – om jou te help om jouself te sien soos hy jou sien. Ja, dit is dalk nie maklik om ’n hart wat jou veroordeel, te oortuig nie. Maar onthou dat Jehovah groter is as jou hart (1 Joh. 3:19, 20). Hy ken jou beter as wat jy jouself ken; hy sien wat jy dalk nie kan sien nie (1 Sam. 16:7; 2 Kron. 6:30). So moenie huiwer om jou hart voor hom ‘uit te stort’ en sy hulp te vra om sy liefde te aanvaar nie (Ps. 62:8). Werk dan in ooreenstemming met jou gebede deur die volgende wenke toe te pas.
7-8. Hoe verseker die boek Psalms ons van Jehovah se liefde vir ons?
7 Glo wat Jehovah sê. Hy het Bybelskrywers geïnspireer om te beskryf watter soort persoon hy werklik is. Kyk na die pragtige manier waarop die psalmis Dawid Jehovah beskryf het: “Jehovah is naby dié wie se hart gebreek is. Hy red dié wat mismoedig is” (Ps. 34:18). Wanneer jy mismoedig is, voel jy dalk dat jy stoksielalleen is. Maar Jehovah belowe dat hy op sulke tye naby jou is omdat hy sien dat jy hom meer as ooit nodig het. In ’n ander psalm het Dawid geskryf: “Bewaar tog my trane in u leersak” (Ps. 56:8). Jehovah sien wanneer jy deur ’n moeilike tyd gaan. Hy gee baie vir jou om en oor wat jy deurmaak. In ’n sekere sin bewaar hy jou trane, en hy koester hulle asof hulle die kosbare water in ’n reisiger se leersak is. In Psalm 139:3 lees ons: “U [Jehovah] is bekend met al my weë.” Jehovah sien al jou weë, maar hy fokus op die goeie dinge wat jy doen (Heb. 6:10). Hoekom? Omdat hy alles wat jy doen om hom gelukkig te probeer maak, baie waardeer.a
8 Deur middel van sulke vertroostende tekste in sy geïnspireerde Woord sê Jehovah in werklikheid: “Ek wil hê dat jy moet weet hoe baie ek jou liefhet en vir jou omgee.” Maar soos ons vroeër geleer het, bevorder Satan die leuen dat Jehovah jou nie liefhet nie. So as jy soms twyfel oor Jehovah se liefde vir jou, pouseer en vra jouself: ‘Wie sal ek glo – “die vader van die leuen” of “die God van waarheid”?’ – Joh. 8:44; Ps. 31:5.
9. Watter versekering gee Jehovah aan dié wat hom liefhet? (Eksodus 20:5, 6)
9 Dink na oor hoe Jehovah op liefde reageer. Dink aan wat Jehovah vir Moses en vir die Israeliete gesê het. (Lees Eksodus 20:5, 6.) Jehovah belowe dat hy sal aanhou om lojale liefde te betoon aan dié wat hom liefhet. Daardie woorde verseker ons daarvan dat ons lojale God nooit liefde van sy aanbidders sal ontvang en op sy beurt nie liefde aan hulle sal betoon nie (Neh. 1:5). So as jy soms versekering nodig het dat Jehovah jou liefhet, stop en vra jouself: ‘Is ek lief vir Jehovah?’ Dink dan hieroor na: As jy hom liefhet en jou bes probeer om hom gelukkig te maak, het jy sy versekering dat hy jou baie liefhet (Dan. 9:4; 1 Kor. 8:3). Met ander woorde, as jy nie twyfel dat jy Jehovah liefhet nie, hoekom twyfel jy oor sy liefde vir jou? Jy kan heeltemal seker wees van sy liefde en lojaliteit.
10-11. Hoe wil Jehovah hê moet jy die losprys beskou? (Galasiërs 2:20)
10 Dink na oor die losprys. Die losprysoffer van Jesus Christus is Jehovah se grootste geskenk aan die mensdom (Joh. 3:16). Maar is dit ’n persoonlike geskenk aan jou? Ja! Dink aan die ondervinding van die apostel Paulus. Onthou dat hy ’n paar ernstige sondes gepleeg het voordat hy ’n Christen geword het en dat hy moes aanhou veg teen sy eie onvolmaakthede (Rom. 7:24, 25; 1 Tim. 1:12-14). Maar hy het die losprys begin beskou as ’n persoonlike geskenk van Jehovah. (Lees Galasiërs 2:20.) Onthou dat Jehovah Paulus geïnspireer het om daardie woorde neer te skryf. En alles in die Bybel is geskryf sodat ons daaruit kan leer (Rom. 15:4). Paulus se woorde wys hoe Jehovah wil hê jy die losprys moet beskou – as ’n persoonlike geskenk van Hom aan jou. Wanneer jy die losprys op hierdie manier begin beskou, versterk jy jou oortuiging dat Jehovah jou as ’n individu liefhet.
11 Ons dank Jehovah omdat hy Jesus na die aarde gestuur het om vir ons te sterf. Maar nog ’n rede hoekom Jesus aarde toe gekom het, was om ander die waarheid omtrent God te vertel (Joh. 18:37). Daardie waarheid sluit die manier in hoe Jehovah oor sy kinders voel.
HOE JESUS ONS HELP OM JEHOVAH SE LIEFDE TE AANVAAR
12. Hoekom kan ons vertroue hê in die manier waarop Jesus Jehovah beskryf het?
12 Toe Jesus op die aarde was, het hy ywerig geopenbaar watter soort persoon Jehovah is (Luk. 10:22). Ons het alle rede om vertroue te hê in die manier waarop Jesus Jehovah beskryf het. Dit is omdat Jesus miljarde jare saam met Jehovah in die hemel gelewe het voordat hy aarde toe gekom het (Kol. 1:15). Jesus het eerstehands ondervind en gesien hoe baie Jehovah Sy getroue seuns en dogters liefhet. Hoe help Jesus ander om God se liefde te aanvaar?
13. Hoe wil Jesus hê moet ons Jehovah sien?
13 Jesus wil hê dat ons Jehovah moet sien soos hy hom sien. In die Evangelieverslae het Jesus meer as 160 keer na Jehovah as “Vader” verwys. En toe hy met sy volgelinge gepraat het, het hy uitdrukkings gebruik soos “julle Vader” of “julle hemelse Vader” (Matt. 5:16; 6:26). Die studienota vir Matteus 5:16 sê: “Vroeë knegte van God het baie verhewe titels gebruik om Jehovah te beskryf en aan te spreek, insluitende die ‘Almagtige’, ‘die Allerhoogste’ en die ‘Groot Skepper’, maar die feit dat Jesus gereeld die eenvoudige, algemene woord ‘Vader’ gebruik het, beklemtoon God se hegte verhouding met sy aanbidders.” Dit is duidelik dat Jesus wil hê dat ons Jehovah moet sien soos hy hom sien – as ons liefdevolle Vader, wat baie lief is vir Sy kinders. Kom ons ondersoek twee voorbeelde waar Jesus die woord “Vader” gebruik het.
14. Hoe het Jesus gewys dat elkeen van ons kosbaar is in ons hemelse Vader se oë? (Matteus 10:29-31) (Sien ook prent.)
14 Kyk eerstens na Jesus se woorde in Matteus 10:29-31. (Lees.) Mossies is klein voëltjies wat Jehovah nooit sal liefhê of sal aanbid nie. Maar elke mossie is so kosbaar vir ons Vader dat hy weet wanneer dit op die grond val. Hoeveel te meer waardeer en gee hy nie vir elke getroue aanbidder om wat hom uit liefde dien nie! In verband met die woorde “selfs die hare op julle kop is almal getel” sê die studienota vir vers 30: “Jehovah se intieme kennis van sulke klein besonderhede gee ons die versekering dat hy baie belangstel in elke volgeling van Christus.” Jesus wil beslis hê dat ons moet aanvaar dat elkeen van ons kosbaar is in ons hemelse Vader se oë.
’n Enkele mossie is vir Jehovah so kosbaar dat hy weet wanneer dit op die grond val. Hoeveel te meer waardeer hy nie jou nie – ’n getroue aanbidder wat hom liefhet! (Sien paragraaf 14)
15. Wat sê Jesus se woorde in Johannes 6:44 vir jou omtrent jou hemelse Vader?
15 Kyk na ’n tweede voorbeeld waar Jesus die woord “Vader” gebruik het. (Lees Johannes 6:44.) Jou hemelse Vader het jou persoonlik na die waarheid getrek. Hoekom het hy jou getrek? Omdat hy in jou ’n hart met die regte gesindheid gesien het (Hand. 13:48). Die studienota vir Johannes 6:44 sê dat Jesus dalk verwys het na Jeremia se woorde in ons temateks: “Ek [het] jou met lojale liefde na my toe getrek [of aangehou om lojale liefde aan jou te betoon].” (Jer. 31:3; vtn.; vergelyk Hosea 11:4.) Dink aan wat dit beteken. Ons hemelse Vader hou aan om die goeie in jou te sien wat jy dalk nie in jouself sien nie.
16. (a) Wat sê Jesus in werklikheid vir ons, en hoekom moet ons hom glo? (b) Hoe kan jy jou oortuiging versterk dat Jehovah die Vader is wat jy nodig het? (Sien die venster “Die Vader wat ons almal nodig het”.)
16 Deur Jehovah as ons Vader te beskryf, sê Jesus in ’n sekere sin vir ons: “Jehovah is nie net my Vader nie; hy is ook jou Vader. En ek verseker jou daarvan dat hy jou liefhet en baie vir jou omgee as ’n individu.” So as jy soms onseker voel oor Jehovah se liefde vir jou, stop en vra jouself: ‘Behoort ek nie die woorde te vertrou van die Seun wat ons Vader die beste ken en wat altyd die waarheid praat nie?’ – 1 Pet. 2:22.
HOU AAN OM JOU OORTUIGING TE VERSTERK
17. Hoekom moet ons aanhou om ons oortuiging dat Jehovah ons liefhet, te versterk?
17 Ons moet aanhou om ons oortuiging dat Jehovah ons liefhet, te versterk. Soos ons vroeër geleer het, sal ons slinkse vyand, Satan, alles doen wat hy kan om ons te kry om op te hou om Jehovah te dien. Omdat hy ons vasbeslotenheid wil verswak, sal Satan aanhou probeer om ons vertroue in God se liefde vir ons af te breek. Ons moenie toelaat dat Satan wen nie! – Job 27:5.
18. Hoe kan jy jou vertroue in Jehovah se liefde versterk?
18 Om jou vertroue in Jehovah se liefde te versterk, moet jy aanhou bid vir sy hulp om jouself te sien soos hy jou sien. Peins oor hoe geïnspireerde Bybelskrywers sy diep liefde beskryf het. Dink na oor hoe hy op liefde reageer; hy sal dit nooit ontvang en dit op sy beurt nie aan ander betoon nie. Peins oor hoekom jy die losprys as ’n persoonlike geskenk aan jou kan beskou. En vertrou Jesus se versekering dat Jehovah jou hemelse Vader is. As enige iemand dan vra: “Is jy seker dat Jehovah jou liefhet?” sal jy vol vertroue antwoord: “Ja, hy is lief vir my! En ek doen elke dag my bes om vir hom te wys dat ek hom liefhet!”
LIED 154 Liefde faal nooit
a Vir nog vertroostende tekste wat ons van Jehovah se liefde verseker, sien die onderwerp “Twyfelgedagtes” in die publikasie Bybeltekste vir ons Christelike lewenswyse.