Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w25 Junie bl. 14-19
  • Aanvaar beskeie wat jy nie weet nie

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Aanvaar beskeie wat jy nie weet nie
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2025
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ONS WEET NIE WANNEER DIE EINDE SAL KOM NIE
  • ONS WEET NIE HOE JEHOVAH DALK SAL OPTREE NIE
  • ONS WEET NIE WAT MÔRE SAL GEBEUR NIE
  • ONS KAN NIE TEN VOLLE VERSTAAN HOE GOED JEHOVAH ONS KEN NIE
  • Besluite wat wys dat ons op Jehovah vertrou
    Ons Christelike lewe en bediening – Vergaderingwerkboek – 2023
  • Onthou dat Jehovah “die lewende God” is
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2024
  • Wat weet ons omtrent Jehovah se toekomstige oordele?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2024
  • Leer uit die laaste woorde van getroue mans
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2024
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2025
w25 Junie bl. 14-19

STUDIEARTIKEL 26

LIED 123 Lojaal onderdanig aan teokratiese orde

Aanvaar beskeie wat jy nie weet nie

“Om die Almagtige te verstaan, is buite ons bereik.” – JOB 37:23.

FOKUS

Hoe om onsekerheid te hanteer wanneer ons beskeie aanvaar wat ons nie weet nie, fokus op wat ons wel weet en ons vertroue in Jehovah stel.

1. Watter vermoë het Jehovah ons gegee, en hoekom?

JEHOVAH het ons geskep met die vermoë om te dink, om nuwe dinge te leer en te verstaan en om dit toe te pas. Hoekom het hy ons so gemaak? Hy wil hê dat ons hom moet “leer ken” en hom met ons denkvermoë moet dien. – Spr. 2:​1-5; Rom. 12:1.

2. (a) Watter beperkings het ons? (Job 37:​23, 24) (Sien ook prent.) (b) Hoe help dit ons wanneer ons ons beperkings beskeie aanvaar?

2 Al het ons die vermoë om te leer, het ons beperkings wanneer dit kom by wat ons wel weet. (Lees Job 37:​23, 24.) Dink aan Job se voorbeeld. Jehovah het Job baie vrae gevra wat Job gehelp het om te verstaan dat daar baie is wat hy nie weet nie. Daardie gesprek met Jehovah het Job gehelp om te besef dat hy nederig moet wees en sy denkwyse moet verander (Job 42:​3-6). Dit help ons ook wanneer ons beskeie besef dat ons nie alles weet nie. Sulke beskeidenheid beweeg ons om te vertrou dat Jehovah aan ons sal openbaar wat ons regtig moet weet sodat ons wyse besluite kan maak. – Spr. 2:6.

Lig skyn deur die wolke op Job terwyl Jehovah met hom praat. Elihu en die drie valse vertroosters staan daar naby.

Dit kan ons help as ons erken dat daar dinge is wat ons nie weet nie, net soos dit Job gehelp het (Sien paragraaf 2)


3. Wat sal ons in hierdie artikel bespreek?

3 In hierdie artikel sal ons ’n paar dinge bespreek wat ons nie weet nie en die uitdagings wat ons dalk as gevolg daarvan ondervind. Ons sal ook bespreek hoekom dit goed is dat ons sekere dinge nie weet nie. Wat ons sal leer, sal ons vertroue versterk dat Jehovah, “die Een wat volmaakte kennis het”, vir ons sê wat ons regtig moet weet. – Job 37:16.

ONS WEET NIE WANNEER DIE EINDE SAL KOM NIE

4. Volgens Matteus 24:​36, wat is een feit wat ons nie weet nie?

4 Lees Matteus 24:36. Ons weet nie wanneer die einde van hierdie wêreld sal kom nie. Selfs Jesus, toe hy op die aarde was, het nie geweet wanneer daardie “dag en uur” sal kom nie.a Hy het later vir die apostels gesê dat Jehovah, wat die Groot Tydhouer is, die een is wat die gesag het om vas te stel wanneer sekere gebeure sal plaasvind (Hand. 1:​6, 7). Jehovah het die tyd vasgestel vir die einde van hierdie wêreld, maar ons kan nie bepaal presies wanneer dit sal wees nie.

5. Hoe word ons dalk geaffekteer omdat ons nie weet wanneer die einde sal kom nie?

5 In die lig van wat Jesus gesê het, weet ons nie hoe lank ons sal moet wag totdat die einde kom nie. As gevolg daarvan word ons dalk ongeduldig of mismoedig, veral as ons al ’n ruk lank vir Jehovah se dag wag. Of ons vind dit dalk moeilik om dit te verduur wanneer familielede of ander ons spot (2 Pet. 3:​3, 4). Ons voel dalk dat ons geduldiger sal wees en dat ons bespotting makliker sal kan verduur as ons presies geweet het op watter dag die einde sal kom.

6. Hoekom is dit goed dat ons nie weet wanneer die einde sal kom nie?

6 Die feit dat Jehovah nie vir ons sê wanneer die einde sal kom nie, gee ons eintlik die geleentheid om te wys dat ons hom dien omdat ons vir hom lief is en op hom vertrou. Ons dien Jehovah nie met ’n sperdatum in gedagte asof ons geloof in hom ’n vervaldatum het nie. Eerder as om hoofsaaklik te fokus op wanneer “die dag van Jehovah” sal kom, is dit goed om te fokus op wat daardie dag sal bereik. Wanneer ons dit doen, hou ons aan om ons toegewydheid aan God te versterk en om alles te doen wat ons kan om hom bly te maak. – 2 Pet. 3:​11, 12.

7. Wat weet ons?

7 Dit is goed vir ons om te fokus op wat ons wel weet – dat die laaste dae in 1914 begin het. Jehovah het Bybelprofesieë voorsien wat bewys dat die jaar 1914 die begin van die laaste dae sou wees. Hy het ons ook baie besonderhede gegee oor hoe die wêreld ná daardie jaar sou wees. As gevolg daarvan is ons oortuig dat “die groot dag van Jehovah [naby] is” (Sef. 1:14). Ons weet ook watter werk Jehovah wil hê ons moet doen, naamlik om vir soveel as moontlik te vertel van die “goeie nuus van die Koninkryk” (Matt. 24:14). Hierdie boodskap word in omtrent 240 lande en in meer as 1 000 tale verkondig. Ons hoef nie te weet wanneer die “dag en uur” sal kom om ’n ywerige deelname aan hierdie baie belangrike werk te hê nie.

ONS WEET NIE HOE JEHOVAH DALK SAL OPTREE NIE

8. Waarna verwys “die werk van die ware God”? (Prediker 11:5)

8 Ons ken nie altyd “die werk van die ware God” nie. (Lees Prediker 11:5.) Daardie uitdrukking verwys na wat Jehovah laat gebeur of wat hy toelaat om te gebeur om sy wil uit te voer. Ons weet nie presies hoekom Jehovah dalk toelaat dat iets gebeur nie of presies hoe hy ons sal help nie (Ps. 37:5). Sulke kennis is vir ons net so onverstaanbaar soos die ontwikkeling van ’n kind in ’n swanger vrou se baarmoeder, iets wat wetenskaplikes nog steeds nie ten volle verstaan nie.

9. Watter uitdagings het ons dalk omdat ons nie weet hoe Jehovah sal optree nie?

9 Wanneer ons nie presies weet hoe Jehovah ons sal help nie, huiwer ons dalk om sekere besluite te maak. Ons huiwer dalk om opofferings te maak om meer in ons bediening te doen, soos om ons lewe te vereenvoudig of om na ’n gebied te trek waar daar meer Koninkryksverkondigers nodig is. Of ons wonder dalk of ons God se goedkeuring het as ons nie ons teokratiese doelwitte bereik nie, as ons nie baie goeie resultate vir ons harde werk in die bediening sien nie of as ons struikelblokke het wanneer ons besig is met ’n teokratiese projek.

10. Watter baie belangrike eienskappe word ons gehelp om te ontwikkel omdat ons nie weet hoe Jehovah sal optree nie?

10 Die feit dat ons nie weet hoe Jehovah sal optree nie, help ons eintlik om baie belangrike eienskappe soos nederigheid en beskeidenheid te ontwikkel. Dit help ons om te besef dat Jehovah se gedagtes en weë hoër is as ons s’n (Jes. 55:​8, 9). Ons leer ook om ten volle te vertrou dat Jehovah dinge op die beste manier sal hanteer. Wanneer ons goeie resultate in die bediening of tydens ’n teokratiese projek het, gee ons Jehovah die eer wat hy verdien (Ps. 127:1; 1 Kor. 3:7). As sake nie uitdraai soos wat ons verwag het nie, moet ons onthou dat Jehovah nog steeds heeltemal in beheer is (Jes. 26:12). Ons doen ons deel, en ons hou aan om te vertrou dat Jehovah sy deel sal doen. Ons is oortuig dat hy ons die nodige leiding sal gee, selfs al is dit nie op dieselfde wonderdadige manier as wat hy soms in die verlede gedoen het nie. – Hand. 16:​6-10.

11. Wat weet ons wat ons kan help?

11 Dink na oor die feit dat ons weet dat Jehovah altyd liefdevol, regverdig en wys is. Ons weet dat hy dit wat ons vir hom en vir ons medegelowiges doen, baie waardeer. En ons weet dat Jehovah altyd dié beloon wat lojaal is aan hom. – Heb. 11:6.

ONS WEET NIE WAT MÔRE SAL GEBEUR NIE

12. Volgens Jakobus 4:​13, 14, waarvan is ons onseker?

12 Lees Jakobus 4:​13, 14. ’n Grondwaarheid is dat ons nie weet hoe ons lewe môre sal wees nie. In hierdie wêreld tref “tyd en onverwagse gebeure” ons almal (Pred. 9:11). As gevolg daarvan weet ons nie of ons planne suksesvol sal wees of selfs of ons lewendig sal wees om ons planne uit te voer nie.

13. Hoe affekteer onsekerhede oor die toekoms ons dalk?

13 Die onsekerhede van die lewe kan ’n moeilike uitdaging wees. Hoe so? Ons is dalk bekommerd oor wat kan gebeur, en dit kan veroorsaak dat ons ons vreugde verloor. Skielike tragedies en onverwagse gebeure kan ons hartseer en ontsteld laat voel. En wanneer dinge nie gebeur soos ons verwag het dit sou nie, kan ons teleurgesteld en mismoedig begin voel. – Spr. 13:12.

14. Wat moet ons doen en weet om werklik gelukkig te wees? (Sien ook prente.)

14 Wanneer ons moeilike tye verduur, kan ons bewys dat ons ons hemelse Vader uit liefde en nie uit selfsug dien nie, maak nie saak wat gebeur nie. Bybelverslae wys dat ons nie moet verwag dat Jehovah ons teen alle moeilike tye sal beskerm nie en dat hy nie vooraf bepaal wat in ons lewe sal gebeur nie. Hy weet dat ons geluk nie daarvan afhang dat ons weet wat die toekoms vir ons inhou nie. Dit hang eerder daarvan af dat ons sy leiding soek en hom gehoorsaam (Jer. 10:23). As ons op hom vertrou wanneer ons besluite maak, sê ons in werklikheid: “As Jehovah wil, sal ons lewe en dit of dat doen.” – Jak. 4:15.

Collage: 1. ’n Pa en sy seun pak ’n grypsak. Hulle sit ’n Bybel in die sak sowel as noodvoorraad. 2. Die pa, ma en seun skuil in ’n tent terwyl dit hard reën. Hulle gebruik die voorraad van hulle grypsak gedurende hierdie noodgeval.

Dit beskerm ons wanneer ons Jehovah se leiding soek en hom gehoorsaam (Sien paragraaf 14-15)b


15. Wat weet ons omtrent die toekoms?

15 Al weet ons nie wat elke nuwe dag sal bring nie, weet ons dat Jehovah ons die ewige lewe belowe het – of dit nou in die hemel of op die aarde is. Ons weet dat hy nie kan lieg nie en dat niks kan keer dat hy al sy beloftes nakom nie (Tit. 1:2). Net Jehovah kan “die uiteinde [voorspel] en van die verre verlede af . . . die dinge wat nog nie gedoen is nie”. Dit was waar van gebeure in die verlede, en dit sal waar wees van toekomstige gebeure (Jes. 46:10). Ons weet beslis dat niks kan keer dat Jehovah ons liefhet nie (Rom. 8:​35-39). Hy sal ons die wysheid, vertroosting en krag gee wat ons nodig het om enige iets te verduur wat op ons pad kom. Ons kan seker wees dat Jehovah ons sal help en sal seën. – Jer. 17:​7, 8.

ONS KAN NIE TEN VOLLE VERSTAAN HOE GOED JEHOVAH ONS KEN NIE

16. Volgens Psalm 139:​1-6, watter kennis het Jehovah wat ons nie ten volle kan verstaan nie?

16 Lees Psalm 139:​1-6. Ons Skepper weet hoe ons gemaak is en wat ons fisies, emosioneel en verstandelik gevorm het. Hy stel altyd in ons belang. Hy weet wat ons sê en wat ons bedoel om te sê, wat ons doen en hoekom ons dit doen. Koning Dawid het gesê dat Jehovah altyd gereed en in staat is om ons te help. Dit is so ongelooflik dat die Soewereine Heer van die heelal, die almagtige Skepper van die hemel en aarde, so baie in ons belangstel! Dawid het gesê: “Sulke kennis is vir my te wonderlik. Dit is te veel vir my om te begryp.” – Ps. 139:​6, vtn.

17. Hoekom vind ons dit dalk moeilik om te aanvaar dat Jehovah ons so goed ken?

17 As gevolg van ons gesinsagtergrond, ons kultuur of ons vorige oortuigings is dit dalk vir ons moeilik om Jehovah te sien as ’n liefdevolle Vader wat in ons belangstel. Of ons voel dalk dat ons foute van die verlede so sleg is dat Jehovah ons nooit sal wil ken nie en dat hy ver van ons af is. Selfs Dawid het partykeer soortgelyke gevoelens gehad (Ps. 38:​18, 21). Of ’n persoon wat opreg probeer om sy lewenswyse te verander en volgens God se regverdige standaarde te lewe, wonder dalk: ‘As God my regtig verstaan het, hoekom sou hy verwag dat ek ’n lewenswyse moet verwerp wat vir my so natuurlik voel?’

18. Hoe vind ons daarby baat wanneer ons aanvaar dat Jehovah ons beter ken as wat ons onsself ken? (Sien ook prente.)

18 Ons kan leer om te aanvaar dat Jehovah ons beter ken as wat ons onsself ken en dat hy die goeie in ons kan sien wat ons nie kan sien nie. Maar al sien hy ons swakhede en verstaan hy hoekom ons voel soos ons voel en doen wat ons doen, het hy ons lief (Rom. 7:15). Wanneer ons besef dat Jehovah ons potensiaal sien, sal dit ons die krag gee wat ons nodig het om hom getrou te dien en vreugdevol te wees.

Collage: 1. ’n Mismoedige broer staar by die venster uit op ’n donker, reënerige dag. 2. In die Paradys stap die broer saam met sy vriende terwyl hy die pragtige natuurskoon geniet.

Jehovah help ons om die onsekerhede van die lewe in hierdie wêreld te hanteer deur ons vertroue te versterk in die vreugdevolle tyd wat vir ons in die nuwe wêreld voorlê (Sien paragraaf 18-19)c


19. Wat weet ons met sekerheid omtrent Jehovah?

19 Ons weet dat Jehovah liefde is. Ons twyfel glad nie daaroor nie (1 Joh. 4:8). Ons weet dat sy regverdige standaarde sy liefde vir ons weerspieël en dat hy altyd ons beste belange op die hart dra. Ons weet dat Jehovah wil hê dat ons die ewige lewe moet kry. Hy het die losprys voorsien om dit moontlik te maak. Die geskenk van die losprys verseker ons dat ons suksesvol kan wees ten spyte van ons onvolmaakthede (Rom. 7:​24, 25). En ons weet dat “God . . . groter [is] as ons hart en [alles] weet” (1 Joh. 3:​19, 20). Jehovah sien alles omtrent ons, en hy het die vertroue dat ons aan hom gehoorsaam kan wees.

20. Wat sal ons help om onnodige angstigheid te vermy?

20 Jehovah het nie enige inligting van ons teruggehou wat ons regtig moet weet nie. Wanneer ons daardie feit beskeie aanvaar, vermy ons onnodige angstigheid oor dinge wat ons nie kan beheer nie en kan ons fokus op wat regtig saak maak. Wanneer ons dit doen, wys ons dat ons volle vertroue het in Jehovah, die Een “wat volmaakte kennis het” (Job 36:4). Al is ons begrip van sekere sake nou beperk, sien ons uit na die tyd wanneer ons ’n ewigheid sal hê om nuwe dinge by en oor ons Groot God te leer. – Pred. 3:11.

HOE VIND ONS DAARBY BAAT WANNEER ONS BESKEIE AANVAAR DAT ONS NIE WEET . . .

  • wanneer die einde sal kom nie?

  • wat môre sal gebeur nie?

  • hoe goed Jehovah ons ken nie?

LIED 104 God se gawe van heilige gees

a Jesus sal die leiding neem in die oorlog teen Satan se goddelose wêreld, so dit is redelik om tot die gevolgtrekking te kom dat hy nou weet wat die datum is vir Armageddon en vir wanneer hy sy “oorwinning [sal] voltooi”. – Op. 6:2; 19:​11-16.

b BESKRYWING VAN PRENT: ’n Pa en sy seun pak ’n grypsak sodat die familie gereed is vir wanneer daar ’n noodgeval is.

c BESKRYWING VAN PRENT: ’n Broer wat deur moeilike tye gaan, sien uit na die vreugdevolle tyd wat in die nuwe wêreld vir hom voorlê.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel