STUDIEARTIKEL 34
LIED 3 U gee ons hoop en krag
Aanvaar Jehovah se vergifnis
“U het die oortreding van my sondes vergewe.” – PS. 32:5.
FOKUS
Hoekom ons Jehovah se vergifnis moet aanvaar en hoe die Bybel ons verseker dat hy berouvolle sondaars vergewe.
1-2. Watter verligting kan berouvolle sondaars ondervind? (Sien ook prent.)
KONING Dawid het geweet hoe dit is om skuldig te voel oor vorige sondes (Ps. 40:12; 51:3; opskrif). Hy het ’n paar ernstige foute in sy lewe gemaak. Maar hy het opregte berou getoon, en Jehovah het hom vergewe (2 Sam. 12:13). As gevolg daarvan het Dawid ook verstaan hoe verlig ’n persoon voel wanneer Jehovah hom vergewe. – Ps. 32:1.
2 Soos Dawid kan ons verlig voel wanneer Jehovah genadig teenoor ons is. Dit is so vertroostend om te weet dat Jehovah gewillig is om ons sondes – selfs ernstige sondes – te vergewe as ons opreg berou toon, ons sondes bely en ons bes doen om nie ons foute te herhaal nie! (Spr. 28:13; Hand. 26:20; 1 Joh. 1:9). En ons is so bly dat Jehovah ons nooit weer sal beskuldig of sal straf vir ’n sonde waarvoor hy ons vergewe het nie! – Eseg. 33:16.
Koning Dawid het baie psalms geskryf wat Jehovah se vergifnis beskryf (Sien paragraaf 1-2)
3-4. Hoe het ’n suster gevoel nadat sy gedoop is, en wat sal ons in hierdie artikel bespreek?
3 Maar soms vind party dit dalk moeilik om Jehovah se vergifnis te aanvaar. Kyk na die ondervinding van Jennifer, wat in die waarheid grootgemaak is. As ’n tiener het sy by verkeerde gedrag betrokke geraak en ’n dubbele lewe gelei. Jare later het sy na Jehovah teruggekeer en uiteindelik gekwalifiseer om gedoop te word. Sy sê: “My vorige lewe was vol materialisme, seksuele onsedelikheid, strawwe drinkery en intense woede. Ek het geweet dat die Bybel sê dat Jehovah ons sondes kan vergewe op grond van Christus se offerande. Maar al het ek berou getoon en Jehovah gevra om my te vergewe, was ek nie in my hart oortuig dat ek vergewe is nie.”
4 Vind jy dit soms moeilik om jou hart te oortuig dat Jehovah jou vergewe het vir vorige foute? Jehovah wil hê dat ons soos Dawid daarvan oortuig moet wees dat Jehovah ons vergewe omdat hy genadig is. In hierdie artikel sal ons bespreek hoekom ons Jehovah se vergifnis moet aanvaar en wat ons kan help om dit te doen.
HOEKOM MOET ONS JEHOVAH SE VERGIFNIS AANVAAR?
5. Wat wil Satan hê moet ons glo? Gee ’n voorbeeld.
5 Wanneer ons Jehovah se vergifnis aanvaar, kan ons dit vermy om in een van Satan se strikke te trap. Onthou dat Satan enige iets sal doen wat hy kan om te keer dat ons Jehovah dien. Om sy doelwit te bereik, probeer Satan ons dalk kry om te glo dat Jehovah nooit ons sondes kan vergewe nie. Dink aan die voorbeeld van die man in Korinte wat seksuele onsedelikheid gepleeg het en uit die gemeente verwyder is (1 Kor. 5:1, 5, 13). Toe hy later berou toon, wou Satan hê dat dié in die gemeente nie vergewensgesind moes wees nie – so ongevoelig dat hulle die man nie sou terugverwelkom nie. Op dieselfde tyd wou Satan hê dat die berouvolle man moes voel dat hy nie vergewe kon word nie – so “hartseer . . . dat dit hom oorweldig” en sou veroorsaak dat hy ophou om Jehovah te dien. Satan het nie sy doelwit of sy taktieke verander nie. Maar “ons ken sy planne”. – 2 Kor. 2:5-11.
6. Hoe kan ons verligting vind van die las van skuldgevoelens?
6 Wanneer ons Jehovah se vergifnis aanvaar, kan ons verligting vind van die las van skuldgevoelens. Wanneer ons sondig, is dit natuurlik om skuldig te voel (Ps. 51:17). Dit is ’n goeie ding. Ons gewete kan ons beweeg om veranderinge te maak en te doen wat reg is (2 Kor. 7:10, 11). Maar as ons aan skuldgevoelens vashou lank nadat ons oor ’n sonde berou getoon het, sal ons dalk in die versoeking kom om op te gee. Wanneer ons Jehovah se vergifnis aanvaar, kan ons die skuldgevoelens sit waar dit behoort – agter ons. Dan kan ons Jehovah dien soos hy wil hê ons hom moet dien – met ’n skoon gewete en groot vreugde (Kol. 1:10, 11; 2 Tim. 1:3). Maar hoe kan ons ons hart oortuig om God se vergifnis te aanvaar?
WAT KAN ONS HELP OM JEHOVAH SE VERGIFNIS TE AANVAAR?
7-8. Hoe het Jehovah homself aan Moses beskryf, en watter vertroue gee dit ons? (Eksodus 34:6, 7)
7 Dink na oor hoe Jehovah homself beskryf het. Kyk byvoorbeeld na wat Jehovah vir Moses op die berg Sinai gesê het.a (Lees Eksodus 34:6, 7.) Van al die dinge wat Jehovah oor sy eienskappe en weë kon sê, het hy gedink dat dit gepas is om homself uit te beeld as “’n God wat genadig is en medelye betoon”. Sou so ’n God vergifnis terughou van ’n aanbidder wat werklik berou getoon het oor sy sonde? Nooit nie! Dit sou genadeloos en hardvogtig wees – gesindhede wat Jehovah nie in staat is om te openbaar nie.
8 Ons kan die vertroue hê dat Jehovah nooit leuens oor homself sal vertel nie, want hy is ’n God van waarheid (Ps. 31:5). So ons kan glo wat hy sê. As jy dit moeilik vind om op te hou om skuldig te voel oor vorige sondes, vra jou af: ‘Glo ek dat Jehovah werklik genadig is en medelye betoon en nooit vergifnis sal terughou van enige berouvolle sondaar nie? Moet ek dan nie aanvaar dat Jehovah my vergewe het nie?’
9. Wat leer Psalm 32:5 ons oor die manier hoe Jehovah ons sondes vergewe?
9 Dink na oor wat Jehovah Bybelskrywers geïnspireer het om oor sy vergifnis te sê. Kyk byvoorbeeld na hoe die Bybelskrywer Dawid Jehovah se vergifnis beskryf het. (Lees Psalm 32:5.) “U het die oortreding van my sondes vergewe,” het Dawid gesê. Die Hebreeuse woord wat in hierdie vers met “vergewe” vertaal word, beteken ook om “op te lig” of om “te dra”. Toe Jehovah Dawid vergewe, het hy, in ’n sekere sin, sy sondes opgelig en dit weggedra. Dawid het toe verligting gevind van die swaar las van skuldgevoelens wat hy gedra het (Ps. 32:2-4). Ons kan soortgelyke verligting ondervind. Wanneer ons opreg berou toon oor ons foute, hoef ons nie aan te hou om die las van skuldgevoelens te dra vir sondes wat Jehovah opgelig het en van ons af weggedra het nie.
10-11. Wat leer die woorde “vergewe vryelik” ons oor Jehovah? (Psalm 86:5)
10 Lees Psalm 86:5. Dawid sê dat Jehovah vryelik vergewe. Dit beteken dat Jehovah nie vinnig kwaad word wanneer ons foute maak nie en dat hy altyd graag dié wil vergewe wat berouvol is. Hoekom is Jehovah altyd vergewensgesind? Die volgende deel van die vers verduidelik: “U is vol lojale liefde vir almal wat u aanroep.” In die vorige artikel het ons geleer dat Jehovah belowe om lojale liefde te betoon aan dié wat hom liefhet en om hulle nooit te verlaat nie. As gevolg van sy lojale liefde sal hy alle berouvolle sondaars “vryelik vergewe” (Jes. 55:7, vtn.). As jy dit moeilik vind om te glo dat God jou vergewe het vir iets wat jy in die verlede gedoen het, kan jy jou afvra: ‘Glo ek dat Jehovah almal wat berou toon en wat tot hom vir genade bid, vryelik vergewe? Moet ek dan nie aanvaar dat hy my vergewe het toe ek hom gesmeek het om genade aan my te betoon nie?’
11 Dit vertroos ons om te weet dat Jehovah ons sondige toestand heeltemal verstaan (Ps. 139:1, 2). Dit kan duidelik gesien word uit nog een van Dawid se psalms, wat ons ook kan help om Jehovah se vergifnis te aanvaar.
MOENIE VERGEET WAT JEHOVAH ONTHOU NIE
12-13. Volgens Psalm 103:14, wat onthou Jehovah omtrent ons, en wat beweeg dit hom om te doen?
12 Lees Psalm 103:14. Dawid sê dat Jehovah “in gedagte [hou] dat ons stof is”. Met daardie woorde verduidelik Dawid een van die redes hoekom Jehovah berouvolle aanbidders vryelik vergewe: Hy is altyd bewus van ons sondige toestand. Om dit beter te verstaan, kom ons ondersoek Dawid se woorde.
13 Dawid sê dat Jehovah “goed [weet] hoe ons gevorm is”. Hy het Adam “uit die stof van die aarde” gemaak en weet goed dat volmaakte mense natuurlike beperkings het – byvoorbeeld, die behoefte om te eet, te slaap en asem te haal (Gen. 2:7). Maar toe Adam en Eva sondig, het die feit dat mense stof is, groter betekenis aangeneem. As hulle nageslag het ons ’n sondige toestand geërf wat veroorsaak dat ons geneig is om verkeerde dinge te doen. Jehovah is nie net bewus van ons sondige toestand nie; Dawid sê dat hy dit “in gedagte [hou]”. Die Hebreeuse woord wat hier gebruik word, kan beteken om positief op te tree. Ons kan die betekenis van Dawid se woorde op hierdie manier opsom: Jehovah verstaan dat ons soms tekort sal skiet; wanneer dit gebeur, word hy beweeg om op ons opregte berou te reageer deur genade aan ons te betoon en ons te vergewe. – Ps. 78:38, 39.
14. (a) Hoe verduidelik Dawid Jehovah se verreikende vergifnis? (Psalm 103:12) (b) Wat kan ons leer uit die manier hoe Jehovah Dawid vergewe het? (Sien die venster “Hoe Jehovah vergewe en vergeet”.)
14 Hoe verreikend is Jehovah se vergifnis? (Lees Psalm 103:12.) Dawid sê dat Jehovah, wanneer Hy ons vergewe, ons sondes “so ver as wat die sonsopkoms [oos] van die sonsondergang [wes] is,” van ons verwyder. In ’n sekere sin is die ooste altyd die verste afstand denkbaar van die weste; die twee punte kan nooit bymekaar uitkom nie. Wat sê dit vir ons oor die sondes wat Jehovah vergewe? ’n Naslaanwerk illustreer dit op hierdie manier: “As die sonde so ver verwyder is, kan ons daarvan seker wees dat die reuk, die sweempie daarvan, die einste herinnering daaraan heeltemal weg moet wees.” Dink net – ’n reuk kan jou iets skielik laat onthou. Maar wanneer Jehovah vergewe, is dit asof daar nie eens ’n reukie oorbly wat hom dalk aan daardie sonde kan laat dink en kan veroorsaak dat hy dit teen ons hou nie. – Eseg. 18:21, 22; Hand. 3:19.
15. Wat kan ons doen as ons die heeltyd skuldig voel oor vorige foute?
15 Hoe kan Dawid se woorde in Psalm 103 ons help om Jehovah se vergifnis te aanvaar? As ons die heeltyd skuldig voel oor vorige sondes, kan ons ons afvra: ‘Vergeet ek wat Jehovah onthou – dit wil sê, vergeet ek dat hy bewus is van my sondige toestand en ’n berouvolle sondaar soos ek sal vergewe? Onthou ek ook wat Jehovah kies om te vergeet – dit wil sê, onthou ek die sondes wat hy vergewe het en nooit teen my sal hou nie?’ Jehovah fokus nie op ons vorige sondes nie. Ons moet ook nie (Ps. 130:3). Wanneer ons Jehovah se vergifnis aanvaar, sal ons onsself vir vorige foute kan vergewe en kan aanbeweeg.
16. Illustreer hoe gevaarlik dit is om aan skuldgevoelens oor vorige sondes vas te hou. (Sien ook prent.)
16 Kyk na ’n illustrasie. Om aan skuldgevoelens oor vorige sondes vas te hou, is soos om te probeer om met ’n kar vorentoe te ry terwyl jy die hele tyd in die truspieëltjie kyk. Dit is goed om elke nou en dan in die spieëltjie te kyk; jy kan op potensiële gevare agter jou reageer. Maar om veilig vorentoe te beweeg, moet jy fokus op die pad voor jou. Net so kan dit ons help as ons elke nou en dan terugkyk op ons vorige foute; ons kan daaruit leer en ons vasbeslotenheid versterk om dit nie weer te herhaal nie. Maar as ons bly fokus op vorige foute, sal die skuldgevoelens wat ons dra, dalk beperk wat ons nou in ons diens aan God kan doen. Laat ons eerder gefokus bly op die pad voor ons. Ons is op die pad wat na die lewe lei in God se beloofde nuwe wêreld, waar daar nie aan slegte herinneringe “gedink [sal] word nie”. – Jes. 65:17; Spr. 4:25.
Net soos ’n bestuurder meer moet fokus op die pad voor hom as op die truspieëltjie, moet ons meer fokus op toekomstige seëninge as op vorige foute (Sien paragraaf 16)
HOU AAN OM JOU HART TE OORTUIG
17. Hoekom moet ons aanhou om ons hart te oortuig van Jehovah se liefde en vergifnis?
17 Ons moet aanhou om ons hart te oortuig van Jehovah se liefde en vergifnis (1 Joh. 3:19, vtn.). Hoekom? Omdat Satan nie sal ophou om ons te probeer oortuig dat Jehovah ons nie kan liefhê nie en ons nooit sal vergewe nie. In albei gevalle is sy doelwit dieselfde – om ons te kry om op te hou om Jehovah te dien. Ons kan verwag dat Satan harder sal probeer om dit te doen omdat hy weet dat sy tyd kort is (Op. 12:12). Ons moenie toelaat dat hy wen nie!
18. Wat kan jy doen om jou hart te oortuig van Jehovah se liefde en vergifnis?
18 Om jou vertroue in Jehovah se liefde te versterk, pas die voorstelle toe wat in die vorige artikel bespreek is. Om jou hart te oortuig van Jehovah se vergifnis, dink na oor hoe Jehovah homself beskryf het. Dink na oor wat hy Bybelskrywers geïnspireer het om oor sy vergifnis te sê. Moenie vergeet dat hy altyd bewus is van jou sondige toestand en genadig teenoor jou sal wees nie. En onthou dat hy ons nooit weer sal beskuldig of ons sal straf vir ’n sonde waarvoor hy ons vergewe het nie. Dan kan jy met dieselfde soort vertroue as wat Dawid in Jehovah se genade gehad het, sê: “Dankie, Jehovah, dat u ‘die oortreding van my sondes’ vergewe het!” – Ps. 32:5.
LIED 1 Jehovah se eienskappe
a Sien die artikel “Kom nader aan God—Toe Jehovah homself beskryf het” in Die Wagtoring van 1 Mei 2009.