Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w25 Augustus bl. 26-30
  • Al was ek baie skaam, het ek ’n sendeling geword

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Al was ek baie skaam, het ek ’n sendeling geword
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2025
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • EK BEGIN MET DIE VOLTYDSE DIENS
  • SENDINGWERK AS ’N DOELWIT
  • ONS DIEN IN ’N OORLOGGETEISTERDE LAND
  • NUWE UITDAGINGS
  • ONS ONDERVIND BAIE MOEILIKE TYE
  • DANKBAAR VIR JEHOVAH SE ONDERSTEUNING
  • Iets kosbaarder as ons teenswoordige lewe
    Ontwaak!—2011
  • Spesiale kampanje in Bulgarye behaal sukses
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2010
  • ’n Hoop wat my onderskraag
    Ontwaak!—2000
  • Sien jy net die uiterlike?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2025
w25 Augustus bl. 26-30
Marianne Wertholz.

LEWENSVERHAAL

Al was ek baie skaam, het ek ’n sendeling geword

SOOS VERTEL DEUR MARIANNE WERTHOLZ

AS ’N kind was ek skaam en bang vir mense. Maar met verloop van tyd het Jehovah my gehelp om ’n mensgeoriënteerde sendeling te word. Hoe? Aanvanklik was dit deur middel van my pa se leiding. Daarna was dit deur middel van die uitstekende voorbeeld van ’n tienersuster. En uiteindelik was dit deur middel van die liefdevolle en wyse woorde van my man. Kom ek vertel julle ’n bietjie meer omtrent my lewe.

Ek is in 1951 in Wene, Oostenryk, gebore. My ouers was Katolieke. Ek was skaam, maar ek het in God geglo en dikwels gebid. Toe ek nege was, het my pa saam met Jehovah se Getuies begin studeer; my ma het ’n bietjie later by hom aangesluit.

Saam met my suster, Elisabeth (aan die linkerkant)

Ons het kort daarna deel van die Döbling-gemeente in Wene geword. As ’n gesin het ons baie dinge saam gedoen. Ons het die Bybel gelees en gestudeer, gemeentelike vergaderinge bygewoon en as vrywilligers by byeenkomste gedien. Vroeg in my kinderjare het my pa ’n diep liefde vir Jehovah by my ingeskerp. Om die waarheid te sê, my pa het altyd gebid dat ek en my suster pioniers word. Maar op daardie stadium was dit nie my doelwit nie.

EK BEGIN MET DIE VOLTYDSE DIENS

Ek het my in 1965 laat doop toe ek 14 was. Maar ek het dit moeilik gevind om vir vreemdelinge in die bediening te preek. Ek het ook gesukkel met gevoelens van minderwaardigheid en wou baie graag hê dat ander jongmense my moet aanvaar. So nie lank nadat ek my laat doop het nie, het ek begin assosieer met mense wat Jehovah nie dien nie. Al het ek van hulle geselskap gehou, het my gewete my gepla omdat ek so baie tyd met nie-Getuies spandeer het. Maar ek het nie die krag gehad om te verander nie. Wat het my gehelp?

Marianne en Dorothée.

Ek het so baie geleer by Dorothée (aan die linkerkant)

Om en by daardie tyd het ’n 16-jarige meisie met die naam Dorothée by ons gemeente aangesluit. Haar ywer vir die huis-tot-huis-werk het my beïndruk. Ek was ’n bietjie ouer as wat sy was, maar ek was nie baie aktief in die bediening nie. Ek het gedink: ‘My ouers is Getuies, maar Dorothée het geen familie in die waarheid nie. Sy bly by haar siek ma, en tog is sy altyd uit in die bediening!’ Haar voorbeeld het my gemotiveer om meer vir Jehovah te doen. Kort daarna het ek en Dorothée pioniermaats geword. Ons was eers hulppioniers, wat toe vakansie-pioniers genoem is, en later het ons saam as gewone pioniers gedien. Dorothée se entoesiasme was aansteeklik. Sy het my gehelp om my eerste Bybelstudie te begin. Met verloop van tyd het dit vir my makliker geword om by die deur, op die straat en in ander situasies met mense te praat.

Gedurende my eerste jaar as ’n gewone pionier het ’n Oostenrykse broer met die naam Heinz na ons gemeente toe gekom. Hy het die waarheid in Kanada geleer terwyl hy sy broer besoek het, wat ’n Getuie was. Heinz is na ons gemeente in Wene gestuur as ’n spesiale pionier. Ek het van die begin af van hom gehou. Maar hy wou ’n sendeling word, en ek wou glad nie as ’n sendeling dien nie. So aan die begin het ek my gevoelens vir hom weggesteek. Maar later het ek en Heinz begin uitgaan, getrou en saam in Oostenryk begin pionier.

SENDINGWERK AS ’N DOELWIT

Heinz het dikwels met my gepraat oor sy begeerte om ’n sendeling te word. Al het hy nooit druk op my geplaas nie, het hy motiverende vrae gevra, soos: “Kan ons meer in Jehovah se diens doen, aangesien ons nie kinders het nie?” As gevolg van my skaam persoonlikheid was ek bang om ’n sendeling te wees. Ja, ek het pionier, maar die idee om ’n sendeling te word, het vir my oorweldigend gelyk. Maar Heinz het geduldig met my oor die doelwit bly praat. Hy het my ook aangemoedig om meer daarop te fokus om vir mense te sorg as om my oor myself te bekommer. Sy raad het my regtig gehelp.

Heinz hou die Wagtoring-studie in ’n klein Joego-Slawiese gemeente in Salzburg, Oostenryk, 1974

Ek het geleidelik die begeerte ontwikkel om ’n sendeling te word, en daarom het ons vir Gileadskool aansoek gedoen. Maar die takkneg het voorgestel dat ek eers my Engels verbeter. Nadat ek drie jaar lank probeer het om my Engels te verbeter, is ons verras toe ons na ’n Joego-Slawiese gemeente in Salzburg, Oostenryk, gestuur is. Ons het vir die volgende sewe jaar in daardie veld gedien, insluitende een jaar in die kringwerk. Die Serwo-Kroatiese taal was baie moeilik, maar ons het baie Bybelstudies gehad.

Toe in 1979 is ons gevra om met “vakansie” na Bulgarye te gaan. Die predikingswerk was daar verbied. So ons het nie enige velddiens gedoen op daardie “vakansie” nie. Maar ons het miniatuur-lektuur in die land ingesmokkel vir die vyf susters wat in Sofia, die hoofstad, gebly het. Ek was doodbang, maar Jehovah het my gehelp met daardie opwindende toewysing. Die moed van daardie susters en die vreugde wat hulle gehad het ten spyte van die feit dat hulle in die tronk gegooi kon word, het my die moed gegee om enige iets te doen wat Jehovah se organisasie wou hê ek moes doen.

Intussen het ons weer vir Gilead aansoek gedoen, en hierdie keer is ons aanvaar. Ons het gedink dat ons die skool in Engels in die Verenigde State sou bywoon. Maar in November 1981 het die Gileaduitbreidingskool by die takkantoor in Wiesbaden, Duitsland, begin. So ons kon die kursus in Duits bywoon, wat vir my makliker was om te verstaan. Waarheen sou ons gestuur word?

ONS DIEN IN ’N OORLOGGETEISTERDE LAND

Ons is na Kenia gestuur! Maar die takkantoor in Kenia het ons gevra of ons gewillig sou wees om in die naburige land Uganda te dien. Meer as tien jaar vroeër het ’n militêre generaal met die naam Idi Amin beheer geneem oor die regering in Uganda. Gedurende die tyd dat hy regeer het, het hy duisende mense laat doodmaak en het miljoene mense ’n baie moeilike lewe gehad. Toe in 1979 het party van Idi Amin se teenstanders ’n einde aan sy regering gemaak. Ek het natuurlik ’n bietjie onseker daaroor gevoel om na ’n oorloggeteisterde land te trek. Maar Gilead het ons voorberei om op Jehovah te vertrou. So ons het ja gesê.

Die situasie in Uganda was chaoties. Heinz het dit op hierdie manier in die Jaarboek vir 2010 beskryf: “Baie dienste . . . soos watervoorsiening en kommunikasie, het feitlik nie meer bestaan nie. . . . Skietery en rowery was algemeen, veral snags. . . . Almal het tuis gebly en gehoop—en dikwels gebid—dat die nag sonder ongenooide gaste sou verbygaan.” Ten spyte van hierdie uitdagings het die plaaslike broers geestelik floreer!

Ons berei ’n maaltyd voor by die Waiswa-familie se huis

In 1982 het ek en Heinz in Kampala, Uganda se hoofstad, aangekom. Gedurende die eerste vyf maande het ons in die huis gebly van Sam en Christina Waiswa saam met hulle vyf kinders en vier familielede. Broer en suster Waiswa en hulle familie het dikwels net een maaltyd ’n dag gehad, wat hulle gasvryheid werklik merkwaardig gemaak het. Gedurende ons tyd met die Waiswa’s het ek en Heinz baie praktiese lesse geleer wat ons met ons sendinglewe gehelp het. Byvoorbeeld, ons het geleer hoe om water te bespaar deur onsself met net ’n paar liter water te was en die afspoelwater te gebruik om die toilette mee te spoel. In 1983 het ek en Heinz ons eie huis gevind in ’n redelik veilige gebied in Kampala.

Ons het werklik die bediening geniet. Ek onthou dat ons in een maand meer as 4 000 tydskrifte versprei het! Maar die mense was die kersie op die koek. Hulle het God gerespekteer en wou oor die Bybel praat. Ek en Heinz het gewoonlik tussen 10 en 15 Bybelstudies elk gehad. En ons het baie by ons studente geleer. Byvoorbeeld, ons het hulle positiewe gesindheid waardeer terwyl hulle elke week heen en weer vergaderinge toe geloop het, en hulle het nooit gekla nie en altyd geglimlag.

In 1985 en 1986 was daar nog twee militêre konflikte in Uganda. Ons het dikwels kindersoldate gesien wat gewapen was met aanvalsgewere en kontrolepunte beman het. Gedurende daardie tyd het ons vir goeie oordeel en ’n kalm hart gebid terwyl ons na belangstellendes in die bediening gesoek het. En Jehovah het ons gebede beantwoord. Ons het dikwels van ons vrese vergeet sodra ons iemand ontmoet het wat positief op die Koninkryksboodskap gereageer het.

Ek en Heinz saam met Tatjana (in die middel)

Ons het dit ook geniet om vir uitlanders te preek. Byvoorbeeld, ons het Moerat en Dilbar Ibatoellin, ’n getroude paartjie van Tatarstan (Sentraal-Rusland), ontmoet en met hulle gestudeer. Moerat was ’n dokter. Die paartjie het in die waarheid gekom en dien Jehovah nog steeds getrou. Later het ek Tatjana Vileiska ontmoet, ’n vrou van Oekraïne wat selfmoord wou pleeg. Nadat Tatjana haar laat doop het, het sy teruggetrek na Oekraïne en later as ’n vertaler van ons publikasies gedien.a

NUWE UITDAGINGS

In 1991 terwyl ek en Heinz met vakansie in Oostenryk was, het die plaaslike takkantoor ons gekontak en ingelig oor ’n nuwe toewysing: Bulgarye. Ná die val van kommunisme in Oos-Europa is die werk van Jehovah se Getuies in Bulgarye wettig gemaak. Soos ek vroeër genoem het, het ek en Heinz voorheen literatuur in die land ingesmokkel terwyl die werk verbied was. Maar nou is ons soontoe gestuur om te preek.

Daar is vir ons gesê dat ons nie na Uganda moet teruggaan nie. So sonder om na ons sendinghuis terug te keer om ons dinge te pak of om vir ons vriende totsiens te sê, het ons na die Bethel in Duitsland gegaan, ’n kar gekry en na Bulgarye gereis. Ons is na ’n groep van omtrent 20 verkondigers in Sofia gestuur.

Ons het verskeie nuwe uitdagings in Bulgarye ondervind. Eerstens, ons het nie die taal geken nie. En die enigste twee publikasies wat in Bulgaars beskikbaar was, was Die waarheid wat lei tot die ewige lewe en My boek met Bybelverhale. Ons het dit ook moeilik gevind om Bybelstudies te begin. Ten spyte van hierdie uitdagings het ons klein maar ywerige groep Getuies vordering gemaak. Die Ortodokse Kerk het dit opgelet, en dit is toe dat die regte probleme begin het.

In 1994 het die regering nie meer Jehovah se Getuies as ’n godsdiens erken nie en ons soos ’n verbode sekte behandel. Party broers is gearresteer. Die media het verskriklike leuens oor ons versprei en te kenne gegee dat Jehovah se Getuies nie net kinders doodgemaak het nie, maar ook ander Getuies oortuig het om selfmoord te pleeg. Ek en Heinz het dit moeilik gevind om te preek. Ons het dikwels aggressiewe mense teëgekom wat op ons geskree het, die polisie gebel het en ons selfs met dinge gegooi het. Dit was nie moontlik om lektuur in die land in te kry nie, en om sale vir vergaderinge te huur, was baie moeilik. Die polisie het selfs een van ons byeenkomste onderbreek en gestop. Ek en Heinz was nie gewoond aan sulke haat nie. Dit was baie anders as die produktiewe, vriendelike veld waaraan ons gewoond was in Uganda! Wat het ons gehelp om die verandering te hanteer?

Ons het dit geniet om met die plaaslike broers en susters te assosieer. Hulle was bly dat hulle die waarheid gevind het en het die ondersteuning wat ons hulle gegee het, waardeer. Ons het almal na aan mekaar gebly en mekaar ondersteun. Ons het uit daardie ondervindinge geleer dat ons gelukkig kan wees in enige toewysing as ons aanhou om mense lief te hê.

Marianne en Heinz Wertholz.

By die takkantoor in Bulgarye, 2007

Maar met verloop van tyd het dinge verbeter. In 1998 het die regering die Getuies weer as ’n godsdiens erken, en baie publikasies het kort daarna in Bulgaars beskikbaar geword. Toe in 2004 is ’n nuwe takkantoorgebou toegewy. Vandag is daar 57 gemeentes in Bulgarye met 2 953 verkondigers. Gedurende die afgelope diensjaar het daar altesaam 6 475 die Gedenkmaal bygewoon. Al was daar op een stadium net vyf susters in Sofia, het ons nou nege gemeentes! Ons het werklik gesien hoe “die kleine . . . ’n duisend word”. – Jes. 60:22.

ONS ONDERVIND BAIE MOEILIKE TYE

Gedurende my lewe het ek baie gesondheidsprobleme gehad. Oor die jare het ek verskeie gewasse gehad, insluitende een in my kop. Ek het bestralingsterapie ontvang en ’n 12 uur lange operasie in Indië ondergaan om die grootste deel daarvan te verwyder. Nadat ek by die takkantoor in Indië herstel het, het ons teruggekeer na ons toewysing in Bulgarye.

Heinz het intussen begin ly aan ’n seldsame oorerflike siekte wat Huntington-chorea genoem word. Hy het gesukkel om te loop, om te praat en om sy bewegings te beheer. Soos die siekte erger geword het, het hy al hoe meer afhanklik van my geword. Ek het soms oorweldig gevoel en was bekommerd oor hoe dinge sou uitdraai. Maar ’n jong broer met die naam Bobi het Heinz gereeld genooi om saam met hom te preek. Heinz se spraak en sy onbeheerste bewegings het Bobi nie skaam laat voel nie. Ek kon altyd op Bobi staatmaak wanneer ek Heinz nie kon help nie. Al het ek en Heinz besluit om nie in hierdie wêreld kinders te hê nie, het ons gevoel dat Jehovah Bobi vir ons as ’n seun gegee het! – Mark. 10:​29, 30.

Heinz het ook kanker gehad. Ongelukkig het my dierbare man in 2015 gesterf. Ek het so onseker gevoel nadat Heinz gesterf het; ek kon nie glo dat hy nie meer daar is nie. Maar in my geheue lewe hy nog! (Luk. 20:38). Gedurende die loop van die dag kan ek dikwels sy liefdevolle woorde en goeie raad duidelik onthou. Ek is baie dankbaar dat ons Jehovah jare lank saam kon dien.

DANKBAAR VIR JEHOVAH SE ONDERSTEUNING

Jehovah het my beslis gedurende al my moeilike tye ondersteun. Hy het my ook gehelp om nie meer so skaam te wees nie en om ’n mensgeoriënteerde sendeling te word (2 Tim. 1:7). Danksy Jehovah is ek en my jonger suster nou albei in die voltydse diens. Vandag dien sy en haar man op ’n Serwiese kring in Europa. My pa se gebede van jare gelede is beantwoord!

My studie van die Bybel gee my innerlike vrede. In moeilike tye het ek geleer om, soos Jesus, “ernstiger” te bid (Luk. 22:44). Een manier hoe my gebede beantwoord is, is deur middel van die liefde en die goedhartigheid van die broers en susters in my gemeente in Nadezjda, Sofia. Hulle nooi my dikwels om tyd saam met hulle te spandeer, en hulle sê dikwels vir my dat hulle my liefhet. Dit alles maak my baie gelukkig.

Ek dink dikwels na oor die opstanding. In my verbeelding sien ek my ouers voor ons huis; hulle lyk so pragtig soos wat hulle gelyk het toe hulle getrou het. Ek sien hoe my suster ’n maaltyd voorberei. Ek sien Heinz wat langs sy perd staan. Sulke beelde laat my van negatiewe gevoelens vergeet en vul my hart met dankbaarheid teenoor Jehovah.

Wanneer ek oor my lewe en die toekoms dink, stem ek heelhartig saam met Dawid se woorde in Psalm 27:​13, 14: “Waar sou ek wees as ek nie geloof gehad het dat ek Jehovah se goedheid in die land van die lewendes sal sien nie? Hoop op Jehovah. Wees moedig en sterk van hart. Ja, hoop op Jehovah.”

a Sien Tatjana Vileiska se lewensverhaal in die Ontwaak! van 22 Desember 2000, bl. 20-24.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel