LEWENSVERHAAL
Jehovah het ons gehelp om te ‘blom waar ons geplant is’
“BLOM waar jy geplant word” lyk dalk soos vreemde raad. Maar ’n Sweedse paartjie, Mats en Ann-Catrin, is baie keer “geplant”. Hoe so, en hoe het daardie raad hulle gehelp?
Die Kassholms het in 1979 Gileadskool bygewoon en is oor die jare “geplant”, of aangewys, om in Iran, Mauritius, Mianmar, Tanzanië Uganda en Zaïre te dien Dit was by Gilead dat hulle gehoor het hoe ’n instrukteur, Jack Redford, die raad gee wat hulle gehelp het terwyl hulle baie keer “geplant”, “ontwortel” en “oorgeplant” is. Laat hulle verduidelik.
Mats, vertel ons asseblief eers hoe jy die waarheid gevind het.
Mats: My pa het in Pole gebly gedurende die Tweede Wêreldoorlog, en hy het baie skynheiligheid in die Katolieke Kerk gesien. Maar hy het dikwels gesê: “Die waarheid moet iewers daar buite wees!” Met verloop van tyd kon ek bevestig dat dit wel so was. Ek het baie tweedehandse boeke gekoop. Een daarvan was ’n blou boek met die titel Die waarheid wat lei tot die ewige lewe. Daardie titel het regtig my aandag getrek, en ek het die hele boek deurgelees die aand dat ek dit gekry het. Teen die oggend het ek geweet dat ek die waarheid gevind het!
Vanaf April 1972 het ek baie ander publikasies van Jehovah se Getuies gelees en antwoorde op my Bybelvrae gevind. Ek het gevoel soos die handelaar in Jesus se illustrasie wat, nadat hy een pêrel van groot waarde gevind het, alles wat hy gehad het, verkoop het om dit te koop. Ek het my planne om universiteit toe te gaan en om ’n dokter te word, “verkoop” – alles om die “pêrel” van waarheid wat ek gevind het, te koop (Matt. 13:45, 46). Ek is op 10 Desember 1972 gedoop.
Binne ’n jaar het my ouers en jonger broer ook die waarheid aanvaar en hulle laat doop. In Julie 1973 het ek met voltydse diens begin. Onder die ywerige pioniers in ons gemeente was ’n aantreklike, geestelikgesinde suster met die naam Ann-Catrin. Ons het verlief geraak en in 1975 getrou, en ons het die volgende vier jaar in die dorp Strömsund gebly, ’n pragtige, vrugbare gebied in Swede.
Ann-Catrin: My pa het die waarheid geleer teen die einde van sy studies op universiteit in Stockholm. Op daardie stadium was ek net drie maande oud, maar hy het my saamgeneem na die vergaderinge en wanneer hy gaan velddiens doen het. Ma het nie hiervan gehou nie en het die Getuies verkeerd probeer bewys. Maar sy kon nie, so met verloop van tyd is sy ook gedoop. Toe ek 13 was, is ek gedoop, en toe ek 16 was, het ek begin pionier. Nadat ek gedien het in Umeå, waar daar ’n groot behoefte aan Koninkryksverkondigers was, het ek ’n spesiale pionier geword.
Nadat ek en Mats getrou het, het ons die vreugde gehad om verskeie mense te help om die waarheid te leer. Onder hulle was Maivor, ’n tienermeisie wat ’n loopbaan in sport opgegee het en my jonger suster se pioniermaat geword het. Hulle het in 1984 Gilead bygewoon en dien as sendelinge in Ecuador.
In julle baie sendingaanwysings, hoe het julle die raad gevolg om te “blom waar julle geplant word”?
Mats: Ons is dikwels “oorgeplant” in nuwe aanwysings. Maar ons het probeer om in Jesus “gewortel” te bly deur ons bes te doen om hom na te volg, veral sy nederigheid (Kol. 2:6, 7). Byvoorbeeld, in plaas daarvan om te verwag dat die plaaslike Getuies by ons aanpas, het ons probeer leer hoekom hulle dinge op ’n sekere manier gedoen het. Ons wou hulle denke en kultuur verstaan. Hoe meer ons Jesus nagevolg het, hoe meer het ons gevoel dat ons “by waterstrome geplant is” om te blom waar ook al ons aangewys is. – Ps. 1:2, 3.
Ons het baie gereis om gemeentes te besoek
Ann-Catrin: Vir ’n boom om te groei nadat dit oorgeplant is, het dit ook warm sonlig nodig. Jehovah was nog altyd “’n son” vir ons (Ps. 84:11). Hy het ons ’n liefdevolle broederskap van geestelike broers en susters gegee. Byvoorbeeld, in ons klein gemeente in Teheran, Iran, het ons gasvryheid ondervind wat algemeen was in Bybeltye. Ons sou graag in Iran wou bly, maar in Julie 1980 is Jehovah se Getuies amptelik daar verban en moes ons die land binne 48 uur verlaat. Ons is gestuur na Zaïre (nou bekend as Kongo) in Afrika.
Gelukkige herinneringe van ons aanwysing in Zaïre, 1982
Toe ek eers hoor dat ons na Afrika gestuur is, het ek gehuil. Wat ek gehoor het oor slange en siektes in Afrika het my bang gemaak. Maar twee goeie vriende wat lank daar gedien het, het vir ons gesê: “Julle was nog nie daar nie! Gee dit ’n kans, en julle sal sien – julle sal lief word vir Afrika.” En hulle was reg! Die broers en susters is baie liefdevol. Om die waarheid te sê, toe ons Zaïre ses jaar later moes verlaat as gevolg van ’n verbod, het ek geglimlag omdat ek besef het dat ek nou besig is om Jehovah vra: “Laat ons asseblief in Afrika bly.”
Watter vreugdes het julle oor die jare ondervind?
Ons “slaapkamer” in Tanzanië, 1988
Mats: Ek moet die goeie vriendskappe noem wat ons opgebou het met sendelinge van verskillende nasionaliteite en agtergronde. Ons het ook in party aanwysings die uitsonderlike vreugde ondervind wat ’n mens kry wanneer jy baie Bybelstudies hou – soms omtrent 20 elk! Die liefde en gasvryheid van die broers en susters in Afrika staan ook vir my uit. Wanneer ons ons “slaapkamer” – ’n Volkswagen Kombi – by hulle huise geparkeer het gedurende ons besoeke aan die gemeentes in Tanzanië, het die broers en susters seker gemaak dat ons alles het wat ons nodig het, selfs al was hulle baie arm (2 Kor. 8:3). Iets baie spesiaals vir ons is iets wat ons storietyd genoem het. Dit was wanneer ek en Ann-Catrin aan die einde van elke dag gaan sit het om oor die dag se gebeure te praat en Jehovah te dank dat hy met ons is.
Ann-Catrin: Ek het dit baie geniet om die broers en susters van regoor die wêreld te leer ken. Ons het nuwe tale geleer – insluitende Farsi, Frans, Luganda en Swahili – terwyl ons ’n verskeidenheid interessante kulture ervaar het. Ons het nuwe dissipels gehelp, ware vriende gemaak en “skouer aan skouer” saam met hulle in Jehovah se diens gewerk. – Sef. 3:9.
Ons het ook ’n ongelooflike verskeidenheid in Jehovah se pragtige skepping gesien. Elke keer dat ons ’n nuwe aanwysing in Jehovah se diens aanvaar het, het ons gevoel asof ons op ’n reis gaan met Jehovah as ons Gids. Hy het ons ondervindinge gegee wat ons nooit op ons eie sou kon hê nie.
Ons preek in die uiteenlopende gebied van Tanzanië
Watter uitdagings het julle deurgemaak, en hoe het julle dit hanteer?
Mats: Ons het oor die jare verskeie tropiese siektes gekry, insluitende malaria. En Ann-Catrin het ’n paar noodoperasies gehad. Ons was ook bekommerd oor ons ouers wat ouer word, en daarom is ons dankbaar teenoor ons familie wat vir hulle gesorg het terwyl ons in ons aanwysings was. Hulle het daardie rol getrou met geduld, vreugde en liefde uitgevoer (1 Tim. 5:4). Maar soms het ons met negatiewe emosies gesukkel en gewens dat ons meer vir ons ouers kon doen as om hulle net van ’n afstand af te ondersteun.
Ann-Catrin: In 1983, terwyl ons in Zaïre gedien het, het ek cholera gekry en was ek baie siek. Die dokter het vir Mats gesê: “Neem haar vandag uit hierdie land uit!” Die volgende dag was ons op ’n vragvliegtuig – die enigste vlug beskikbaar – op pad na Swede.
Mats: Ons het gedog dat ons sendingdiens tot ’n einde gekom het, en daarom het ons bitterlik gehuil. Maar in teenstelling met die dokter se voorspelling het Ann-Catrin herstel. En ’n jaar later kon ons terugkeer na Zaïre, hierdie keer na ’n klein Swahili-gemeente in Lubumbashi.
Ann-Catrin: Gedurende ons tyd in Lubumbashi het ek ’n miskraam gehad. Al het ons nie beplan om ’n gesin te begin nie, was die verlies van ons baba verskriklik moeilik vir my om te hanteer. Maar gedurende daardie tyd van hartseer het ons ’n onverwagse geskenk van Jehovah gekry. Ons het meer Bybelstudies as ooit tevore begin. In minder as ’n jaar het die gemeente van 35 tot 70 verkondigers gegroei en die vergaderingbywoning het van 40 tot 220 vermeerder. Ons was baie besig in die bediening, en Jehovah se seën het my baie vertroos. Maar ons dink en praat dikwels oor ons dierbare kleintjie. Ons kan nie wag om te sien presies hoe Jehovah ons harte heeltemal sal genees nie.
Mats: Op een stadium het Ann-Catrin baie swak en moeg begin voel. Ek is met fase 4-kolonkanker gediagnoseer en het ’n groot operasie nodig gehad. Maar vandag gaan dit goed met my, en Ann-Catrin doen haar bes in Jehovah se diens.
Ons het besef dat ons nie die enigstes is wat deur moeilike tye gaan nie. Ná die volksmoord in 1994 in Rwanda het ons baie broers en susters in vlugtelingkampe besoek. Om hulle geloof, volharding en gasvryheid te sien, het ons geleer dat Jehovah die krag het om sy volk deur enige moeilike tyd te ondersteun. – Ps. 55:22.
Ann-Catrin: Ons het nog ’n uitdaging gehad toe ons in 2007 die toewyding van die takkantoor in Uganda bygewoon het. Ná die program het ons saam met ’n groep van omtrent 25 sendelinge en Betheliete na Nairobi, Kenia, gereis. Voordat ons die grens van Kenia bereik het, het ’n aankomende vragmotor skielik voor ons ingedraai en ons bus getref. Die bestuurder en vyf van ons broers en susters is op slag dood; een suster het later in die hospitaal gesterf. Ons sien so uit daarna om ons vriende weer te sien! – Job 14:13-15.
Ek het uiteindelik van my fisiese beserings herstel. Maar ek en Mats en ’n paar ander het aan posttraumatiese stresversteuring gely. In my geval het die angsaanvalle in die aand gekom en my wakker gemaak met simptome soortgelyk aan dié van ’n hartaanval. Dit was skrikwekkend. Maar ernstige gebed tot Jehovah sowel as die vertroosting uit ’n paar van ons gunstelingtekste het ons gehelp om dit te hanteer. Ons het ook professionele hulp ontvang, wat ons baie gehelp het. Nou is ons nie meer so angstig nie, en ons vra Jehovah om ons te help om ander te vertroos wat ook met verskriklike angstigheid sukkel.
Toe julle beskryf het hoe julle moeilike situasies kon hanteer, het julle gesê dat Jehovah julle “soos rou eiers” gedra het. Wat het julle bedoel?
Mats: Daardie uitdrukking kom van die gesegde in Swahili “Tumebebwa kama mayai mabichi”, of “Ons is soos rou eiers gedra”. Net soos ’n persoon rou eiers versigtig dra om te keer dat dit breek, het Jehovah ons liefdevol ondersteun in elkeen van ons aanwysings. Ons het altyd gehad wat ons nodig gehad het, selfs meer as wat ons nodig gehad het. Een manier hoe ons Jehovah se liefde en ondersteuning gevoel het, is deur die empatie wat die Bestuursliggaam aan ons betoon het.
Ann-Catrin: Ek wil graag ’n voorbeeld noem van Jehovah se liefdevolle ondersteuning. Eendag het ek ’n oproep ontvang om my te laat weet dat my pa, in Swede, in intensiewe sorg is. Mats was nog steeds swak omdat hy malaria gehad het. Ons kon dit nie bekostig om kaartjies te koop om huis toe te vlieg nie, en daarom het ons besluit dat ons ons kar moet verkoop. Toe het ons nog twee oproepe ontvang; een was van ’n paartjie wat van ons situasie gehoor het en vir een kaartjie wou betaal. Die ander oproep was van ’n ouer suster wat ’n bietjie geld gespaar het in ’n boksie waarop sy “Vir iemand in nood” geskryf het. Binne minute het Jehovah tot ons redding gekom! – Heb. 13:6.
Wanneer julle terugkyk op julle 50 jaar van voltydse diens, wat het julle geleer?
In ons nuwe aanwysing in Mianmar
Ann-Catrin: Ek het geleer dat ons krag “daarin lê dat [ons] kalm bly en vertroue het”. Wanneer ons op Jehovah vertrou, maak hy in ’n sekere sin ons geveg sy geveg (Jes. 30:15; 2 Kron. 20:15, 17). Omdat ons Jehovah na die beste van ons vermoë in elke aanwysing gedien het, het ons meer seëninge ontvang as wat ons op enige ander manier kon ontvang.
Mats: Die hoofles wat ek geleer het, is om in elke situasie op Jehovah te vertrou en om te sien hoe hy vir my sal optree (Ps. 37:5). Hy het my altyd gehelp net soos hy belowe het. Ons sien nog steeds hoe Jehovah ons help in ons huidige Bethelaanwysing in Mianmar.
Ons hoop dat baie jongmense wat hulle bediening wil uitbrei, dieselfde lojale liefde sal ondervind wat Jehovah aan ons betoon het. Ons is oortuig dat dit sal gebeur as hulle toelaat dat Jehovah hulle heeltemal laat blom waar ook al hulle geplant word.