STUDIEARTIKEL 44
LIED 138 Grysheid is ’n kroon
Behou jou vreugde wanneer jy oud is
“Wanneer hulle oud is, sal hulle . . . floreer.” – PS. 92:14.
FOKUS
Hoekom dit vir ouer persone belangrik is om hulle vreugde te behou en hoe hulle dit kan doen.
1-2. Hoe beskou Jehovah getroue ouer persone? (Psalm 92:12-14; sien ook prent.)
MENSE regoor die wêreld reageer anders wanneer hulle oud word. Byvoorbeeld, dink aan hierdie scenario: Onthou jy toe jy jou eerste gryshaar gesien het? Dalk wou jy dit uittrek voordat enige iemand dit sien. Maar jy het besef dat dit nie sal keer dat meer grys hare verskyn wanneer jy dit uittrek nie. Hierdie voorbeeld illustreer hoe hard baie individue daarteen stry om oud te word.
2 Maar ons hemelse Vader het ’n ander beskouing van sy knegte wat oud word (Spr. 16:31). Hy vergelyk hulle met florerende bome. (Lees Psalm 92:12-14.) Hoekom is daardie vergelyking gepas? Bome wat vol blare en mooi blommetjies is, is dikwels baie dekades oud. Een van die treffendste bome is die Japannese blomkersieboom. Party van die mooistes is meer as ’n duisend jaar oud. Net soos hierdie volwasse bome is getroues wat gevorderd in jare is, pragtig, veral in God se oë. Jehovah sien die persoon agter die grys hare. En Hy waardeer die pragtige eienskappe van ouer persone – hulle volharding en lojaliteit – sowel as hulle baie jare van getroue diens aan Hom.
Net soos volwasse bome wat pragtig is en aanhou floreer, is getroue ouer persone pragtig en hou hulle aan floreer (Sien paragraaf 2)
3. Gee ’n voorbeeld van hoe Jehovah ouer persone gebruik het om belangrike of wonderlike dinge te doen.
3 ’n Persoon se gevorderde ouderdom maak hom nie minder kosbaar vir Jehovah nie.a Om die waarheid te sê, Jehovah gebruik dikwels ouer persone om belangrike of wonderlike dinge te doen. Byvoorbeeld, Sara was gevorderd in jare toe Jehovah aangekondig het dat sy die ma van ’n magtige nasie en ’n voorouer van die Messias sou word (Gen. 17:15-19). Moses was ook oud toe Jehovah hom die opdrag gegee het om die Israeliete uit Egipte te lei (Eks. 7:6, 7). En die apostel Johannes was bejaard toe Jehovah hom geïnspireer het om vyf Bybelboeke te skryf.
4. Wat kan ouer persone help om die uitdagings wat hulle ondervind, te verduur volgens Spreuke 15:15? (Sien ook prent.)
4 Ouer persone ondervind baie uitdagings wat met bejaardheid gepaardgaan. Een suster het grappig gesê: “Om oud te word, is nie vir sissies nie.” Maar om vreugdeb te hê, kan ouer persone help om die moeilike tye te verduur wat ’n mens ondervind wanneer jy oud word. (Lees Spreuke 15:15.) In hierdie artikel sal ons praktiese dinge bespreek wat ouer persone kan doen om vreugdevol te bly. Ons sal ook kyk wat ander kan doen om ouer broers en susters in hulle gemeente te help. Eerstens, kom ons bespreek hoekom dit ’n uitdaging kan wees om ons vreugde te behou soos ons ouer word.
’n Vreugdevolle gesindheid kan ouer persone help om die moeilike tye te verduur wat met bejaardheid gepaardgaan (Sien paragraaf 4)
HOE BEJAARDHEID JOU VREUGDE KAN AFFEKTEER
5. Wat kan veroorsaak dat party ouer persone mismoedig word?
5 Wat kan veroorsaak dat jy mismoedig word? Dalk voel jy hartseer omdat jy nie kan doen wat jy voorheen gedoen het nie. Jy verlang dalk na die dae toe jy jonger en gesonder was (Pred. 7:10). Byvoorbeeld, ’n suster met die naam Ruby sê: “Ek sukkel om klere aan te trek as gevolg van my pyne en kwale en omdat ek nie maklik kan beweeg nie. Iets so eenvoudigs soos om my voete op te lig om sokkies aan te trek, is moeilik. My hande is seer en vol artritis, wat dit vir my moeilik maak om selfs klein takies te doen.” En Harold, wat by Bethel gedien het, sê: “Ek herken nie die man wat ek geword het nie, en ek word soms gefrustreerd. Ek was voorheen baie atleties. Om bofbal te speel, was my gunstelingstokperdjie. Ander sou sê: ‘Gee die bal vir Harold, want hy mis nooit nie.’ Maar nou dink ek dat ek nie eers die bal kan gooi nie.”
6. (a) Watter ander redes kan veroorsaak dat party ouer persone mismoedig voel? (b) Wat kan ouer persone help om te bepaal of hulle moet ophou bestuur of nie? (Sien die artikel met die titel “Moet ek ophou bestuur?” in hierdie Wagtoring.)
6 Jy voel dalk mismoedig omdat jy besig is om ’n mate van jou onafhanklikheid te verloor. Dit is veral waar as jy die hulp van ’n versorger nodig het of as jy by een van jou kinders moet intrek. Of dalk is jy diep teleurgesteld omdat jou gesondheid of jou sig so verswak het dat jy nie meer alleen na plekke kan gaan of kan bestuur nie. Dit is ontstellend! Maar dit help dalk om te onthou dat ons waarde vir Jehovah en ander nie daarvan afhang of ons vir onsself kan sorg, alleen kan bly of ’n kar kan bestuur nie. En ons kan seker wees dat Jehovah ons gevoelens verstaan. Wat vir hom saak maak, is wie ons van binne is – iemand wie se hart vol liefde en waardering vir hom en vir mede-aanbidders is. – 1 Sam. 16:7.
7. Wat kan dié help wat hartseer is oor die moontlikheid dat die einde van hierdie wêreld nie in hulle leeftyd sal kom nie?
7 Dalk is jy hartseer oor die moontlikheid dat die einde van hierdie wêreld nie in jou leeftyd sal kom nie. Wat kan jou help as jy so voel? Probeer onthou dat Jehovah geduldig wag om ’n einde aan hierdie goddelose wêreld te bring (Jes. 30:18). Maar sy geduld is nie sonder ’n doel nie. Sy geduld gee miljoene mense die tyd en die geleentheid om hom te leer ken en hom te dien (2 Pet. 3:9). So wanneer jy mismoedig voel, probeer dink aan hoe baie mense by Jehovah se geduld sal baat vind voordat die einde kom. Sal party van hulle dalk lede van jou eie gesin wees?
8. Hoe kan die uitdagings van bejaardheid ouer persone affekteer?
8 Ongeag hoe oud ons is, wanneer ons nie goed voel nie, is ons meer geneig om dinge te sê of te doen waaroor ons spyt is (Pred. 7:7; Jak. 3:2). Byvoorbeeld, toe die getroue man Job gely het, het sy woorde “wilde praatjies” geword (Job 6:1-3). En ’n mediese toestand kan veroorsaak dat ouer persone dinge sê of doen wat hulle nie gewoonlik sou sê of doen nie. Nie een van ons sal natuurlik ons ouderdom of ons gesondheid aspris as ’n verskoning gebruik om nie liefdevol of veeleisend te wees nie. En as ons besef dat ons iets gesê het wat iemand seergemaak het, moet ons nie huiwer om om verskoning te vra nie. – Matt. 5:23, 24.
HOE OM VREUGDEVOL TE BLY
Hoe kan jy vreugdevol bly ten spyte van die uitdagings van bejaardheid? (Sien paragraaf 9-13)
9. Hoekom moet jy hulp van ander aanvaar? (Sien ook prente.)
9 Aanvaar hulp van ander (Gal. 6:2). Aan die begin sal jy dit dalk moeilik vind. ’n Suster met die naam Gretl sê: “Ek sukkel soms om hulp te aanvaar omdat ek voel dat ek ’n las sal wees. Dit het tyd geneem vir my om my denke te verander en nederig te erken dat ek hulp nodig het.” Wanneer jy hulp van ander aanvaar, laat jy hulle toe om die vreugde te ondervind wat ’n mens kry wanneer jy gee (Hand. 20:35). En jy sal beslis bly wees om te sien hoe baie ander jou liefhet en vir jou omgee.
(Sien paragraaf 9)
10. Hoekom moet jy onthou om te wys dat jy dankbaar is? (Sien ook prente.)
10 Wys dat jy dankbaar is (Kol. 3:15; 1 Tess. 5:18). Wanneer ander goeie dinge vir ons doen, voel ons dankbaar, en tog vergeet ons dalk om dit te wys. Maar as ons glimlag en dankie sê, laat ons ons vriende voel dat hulle vir ons kosbaar is en dat ons hulle waardeer. Leah, wat ’n versorger vir ouer persone by Bethel is, sê: “Een van die susters vir wie ek sorg, los vir my klein dankiesêbriefies. Dit is nie lang boodskappies nie, maar dit is baie liefdevol. Ek geniet dit regtig baie om dit te kry, en dit maak my bly om te weet dat sy my hulp waardeer.”
(Sien paragraaf 10)
11. Hoe kan jy ander help? (Sien ook prente.)
11 Probeer om ander te help. Wanneer jy jou tyd en energie op ander fokus, sal jy minder geneig wees om op jou eie probleme te fokus. ’n Gesegde in Afrika vergelyk ouer persone met ’n biblioteek vol boeke wat ’n magdom wysheid bevat. Maar boeke wat op die rak bly, leer nie mense of vertel nie stories nie. So as ’n “lewende biblioteek”, neem die inisiatief om jou kennis en ondervinding met jonger persone te deel. Vra hulle vrae, en luister dan. Leer hulle hoekom dit altyd beter is en dit hulle gelukkig sal maak om volgens Jehovah se standaarde te lewe. Jy sal beslis vreugdevol wees wanneer jy jou jonger vriende vertroos en versterk. – Ps. 71:18.
(Sien paragraaf 11)
12. Wat belowe Jehovah om vir ouer persone te doen volgens Jesaja 46:4? (Sien ook prente.)
12 Bid tot Jehovah vir krag. Al voel jy dalk fisies of emosioneel uitgeput, “raak [Jehovah] nooit moeg of uitgeput nie” (Jes. 40:28). Hoe gebruik Jehovah sy onbeperkte energie? Een manier is deur getroue ouer persone te versterk (Jes. 40:29-31). Om die waarheid te sê, hy belowe om hulle te help. (Lees Jesaja 46:4.) En Jehovah hou altyd sy beloftes (Jos. 23:14; Jes. 55:10, 11). Wanneer jy bid en dan Jehovah se liefde en ondersteuning vir jou persoonlik voel, kan jy nie anders as om vreugdevol te voel nie.
(Sien paragraaf 12)
13. Wat moet ons onthou volgens 2 Korintiërs 4:16-18? (Sien ook prente.)
13 Herinner jouself daaraan dat jou situasie tydelik is. Wanneer ons onthou dat ’n moeilike situasie tydelik is, kan ons dit makliker verduur. En die Bybel verseker ons dat bejaardheid en swak gesondheid tydelik is (Job 33:25; Jes. 33:24). So dit kan jou gelukkig maak om te weet dat jou beste dae voor jou lê, nie agter jou nie. (Lees 2 Korintiërs 4:16-18.) Maar wat kan ander doen om te help?
(Sien paragraaf 13)
HOE ANDER KAN HELP
14. Hoekom is dit belangrik om ouer persone te besoek en te bel?
14 Besoek en bel ouer broers en susters gereeld (Heb. 13:16). Ouer persone kan alleen voel. ’n Broer met die naam Camille wat nie sy huis kan verlaat nie, sê: “Ek moet van die oggend tot die aand binne bly. So ek raak baie verveeld. Soms voel ek soos ’n ou leeu in ’n hok. Ek raak senuweeagtig en gefrustreerd.” Wanneer ons ouer persone besoek, verseker ons hulle daarvan dat hulle belangrik is vir ons en dat ons hulle liefhet. Ons kan almal heel moontlik ’n tyd onthou toe ons beplan het om ’n ouer persoon in ons gemeente te bel of te gaan besoek, maar dit dan nie gedoen het nie. Ons is almal besig. So, wat kan ons help om “seker [te] maak van die belangriker dinge”, insluitende om ouer persone te besoek? (Fil. 1:10). Dit sal jou dalk help om notas op jou kalender te maak om jou daaraan te herinner om ’n teksboodskap vir ouer persone in jou gemeente te stuur of om hulle te bel. Jy kan ook tyd opsysit om hulle te besoek; moet dit nie aan die toeval oorlaat nie.
15. Wat kan jonger persone en ouer persone saam doen?
15 As jy ’n jonger persoon is, wonder jy dalk waaroor jy met ouer persone kan praat of watter dinge jy saam met hulle kan doen. Maar moet jou nie te veel daaroor bekommer nie. Wees net ’n goeie vriend (Spr. 17:17). Maak tyd om voor en ná gemeentelike vergaderinge met ouer persone te praat. Dalk kan jy hulle vra om hulle gunstelingteks met jou te deel, of ’n snaakse herinnering uit hulle kinderjare. Jy kan hulle ook nooi om ’n JW Broadcasting®-program saam met jou te kyk. Jy kan ook ouer persone op praktiese maniere help. Byvoorbeeld, jy kan hulle help om hulle toestelle op datum te hou of om die nuutste studiepublikasies af te laai. ’n Suster met die naam Carol sê: “Bied aan om die dinge wat jy geniet, saam met ouer persone te doen. Al is ek ouer, wil ek nog steeds die lewe geniet. Ek geniet dit om inkopies te doen, uit te eet en om buite in die natuur te wees.” En ’n suster met die naam Maira sê: “Een van my vriende is 90 jaar oud. Ons het ’n ouderdomsverskil van 57 jaar. Maar ek vergeet dikwels daarvan omdat ons saam lag en saam films kyk. En wanneer ons probleme ondervind, vra ons mekaar vir raad.”
16. Hoekom is dit dalk goed om saam met ouer persone na mediese afsprake te gaan?
16 Gaan saam met hulle na mediese afsprake. Behalwe om ouer persone na mediese afsprake te neem, kan jy dalk seker maak dat die mediese personeel hulle goed behandel en hulle die aandag gee wat hulle nodig het (Jes. 1:17). Jy kan die ouer persoon dalk help deur notas te neem van wat die dokter sê. ’n Ouer suster met die naam Ruth sê: “Baie keer, wanneer ek alleen na ’n mediese afspraak gaan, neem die dokter my nie ernstig op nie. Dokters sê dalk dinge soos: ‘Jy het ’n sielkundige probleem; dis in jou kop.’ Maar wanneer iemand saam met my gaan, maak dit die wêreld se verskil in hoe die dokter my behandel. Ek is dankbaar teenoor my broers en susters wat tyd maak om saam met my te gaan.”
17. Watter aspekte van die bediening kan jy saam met ouer persone geniet?
17 Werk saam met hulle in die bediening. Party ouer persone het dalk nie die fisiese krag om van deur tot deur te preek nie. Kan jy byvoorbeeld ’n ouer suster nooi om saam met jou trollie-getuieniswerk te doen? Jy kan dalk selfs ’n stoel vir haar bring sodat sy naby die trollie kan sit. Of kan jy aanbied om ’n ouer broer op ’n Bybelstudie te neem, dalk selfs om die studie by sy huis te doen? Ouermanne kan dit oorweeg om velddiensreëlings by die huis van ouer persone te hou sodat dit vir hulle makliker is om velddiens te doen. Enige iets wat ons doen om ouer persone te eer, is die moeite werd. – Spr. 3:27; Rom. 12:10.
18. Wat sal ons in die volgende studieartikel bespreek?
18 Ons is daaraan herinner dat Jehovah ouer persone liefhet en waardeer. En die res van ons in die gemeente voel dieselfde! Om oud te word, is moeilik, maar met Jehovah se hulp kan jy jou vreugde behou (Ps. 37:25). Dit is aanmoedigend om te weet dat jou beste dae voor jou lê, nie agter jou nie! Wat van dié van ons wat ’n ouer familielid, ’n kind of ’n vriend wat siek is, versorg? Hoe kan jy jou vreugde behou? Ons sal die antwoord op daardie vraag in die volgende studieartikel bespreek.
LIED 30 My Vader, my God en Vriend
a Sien op jw.org en in JW Library® die video met die titel Bejaardes—Julle speel ’n belangrike rol.