Die bedrywighede van Jehovah se Getuies in hedendaagse tye
Rusland
Die verhaal van Jehovah se Getuies in Rusland is een van geloof en moed, ’n verhaal van onwrikbare lojaliteit aan God ondanks wrede en meedoënlose teenstand. Verbanning, gevangenskap, dwangarbeid—niks kon die Getuies stilmaak of hulle gees blus nie.
Dit is nie ’n sombere geskiedenis nie. Diegene wat hulle geloof in Jehovah gestel het, het vervolging verwag. Hulle het hulleself nie bejammer nie, maar het die ontberinge beskou as ’n geleentheid om hulle lojaliteit aan God te bewys. “Toe ons vonnisse uitgespreek is”, het ’n broer gesê, “het nie een van my Bybelstudente paniekbevange geraak nie. Ek was baie bly hieroor! Hulle is al vier tot 25 jaar in die kampe gevonnis. Ek is ’n strawwer vonnis opgelê . . . Ons [het] stilgestaan om Jehovah te dank dat hy ons onderskraag het. Die wagte was verstom en het gewonder waaroor ons bly is.”
Lees van die meisie wat die waarheid gevind het deur middel van briewe wat aan klippe vasgebind en oor ’n tronkheining gegooi is. Vind uit hoe gevangenes hulleself geestelik sterk gehou het. Kyk wat gebeur het toe Getuie-ouers valslik daarvan beskuldig is dat hulle hulle dogter se oor afgeskeur het.
Die dekades waartydens daar ’n verbod op die werk was, is net deel van die verhaal. In die afgelope 20 jaar het die aantal Getuies regoor hierdie uitgestrekte land dramaties toegeneem. Kyk hoe die broers die nuwe uitdagings wat met ontsaglike groei gepaardgaan, die hoof gebied het. Dit is ons genoeë om vir die eerste keer sedert 1975 die hele geskiedkundige gedeelte van die Jaarboek aan net een land te wy—Rusland.