OLEH RADZIMINSKI | LEWENSVERHAAL
Om agter tralies te wees, kon my nie van Jehovah skei nie
Ek is in 1964 in Siberië gebore nadat my ouers uit Oekraïne gedeporteer is. Vir so lank as wat ek kan onthou, het my ouers en oumas en oupas heeltemal op Jehovah vertrou – selfs toe hulle in die tronk was. My oupa het ’n tronkvonnis van sewe jaar uitgedien as gevolg van sy bedrywighede as ’n kringopsiener. Later moes ek ook tronk toe gaan en ek het baie geleenthede gehad om te bewys dat ek op Jehovah vertrou.
Ons het in 1966 na Oekraïne teruggetrek. Een van die eerste dinge wat ek kan onthou, was toe ek vier jaar oud was en vir my oupa in die tronk gaan kuier het. Ek en my ma het ’n lang treinrit van Kriwji Rih, Oekraïne, na die Mordowiese strafkolonie in Sentraal-Rusland geneem. Ons kon net twee ure saam met my oupa onder die toesig van wagte spandeer, maar hulle het hom toegelaat om my op sy skoot vas te hou.
Ek behou my vertroue in Jehovah terwyl ek op skool is
Saam met my broer Michailo (regs)
As ’n kind wat in Oekraïne grootgeword het, is my vertroue in Jehovah baie keer getoets. Byvoorbeeld, wanneer kinders met skool begin het, moes hulle ’n vyfpuntige ster met ’n beeld van jong Lenin op hulle skooluniform dra.a ’n Paar jaar later moes die kinders ’n rooi serp om hulle nek dra om te wys dat hulle Lenin se idees ondersteun. Ek het geweier om hierdie politieke simbole te dra omdat ek geweet het dat Jehovah ons volle toegewydheid verdien.
My ouers het my gehelp om die waarheid my eie te maak deur geduldig te verduidelik en met my te redeneer oor kwessies soos politieke neutraliteit. Hulle het my ook aangemoedig om ’n hardwerkende student op skool te wees, want dit sou Jehovah verheerlik.
Eendag het ’n joernalis van die tydskrif Nauka i religiia (Wetenskap en godsdiens), ’n nasionale tydskrif wat ateïstiese propaganda bevorder het, na ons skool toe gekom. My onderwysers het my in die voorste ry laat sit terwyl die joernalis sy toespraak gegee het. Die doel van sy toespraak was om die studente te oortuig dat God nie bestaan nie.
Ná die toespraak het hulle my na die joernalis geneem en vir hom gevra om met my te praat. Hy het my gevra aan watter godsdiens ek behoort, en sonder om te huiwer het ek geantwoord: “Ek is een van Jehovah se Getuies.” Hy het niks gehad om te sê nie, behalwe om my te bedank dat ek so mooi na die toespraak geluister het. Dit het my onderwysers baie ontstel!
Ons behou ons vertroue in Jehovah as ’n gesin
Ons hele gesin het op Jehovah vertrou om ons te help om Bybellektuur in ons huis te druk en dit dan uit te gee. My pa het ook as ’n kringopsiener in Sentraal-Oekraïne gedien en gemeentes en groepe besoek.
Een middag in Februarie 1978 – net twee dae voor my jongste broer, Pawlik, gebore is – het ek van die skool af by die huis aangekom en gesien dat ons besittings oral in die huis rondlê. Die polisie het ons huis deursoek en al ons lektuur afgevat.
Die dag nadat ons huis deursoek is, het ek dit snaaks gevind om te sien hoe my onderwysers na my en my jonger broer Michailo gestaar het omdat hulle gedink het dat ons die kinders van Amerikaanse spioene is. Later het baie onderwysers besef dat dit nie waar is nie. Party van my klasmaats het later selfs Getuies geword!
In 1981 is ons huis weer deursoek. Al was ek nog nie 18 jaar oud nie, is ek saam met my pa en oupa na die aanklaer se kantoor opgeroep. Die hoofspeurder het my probeer intimideer deur my met tronkstraf te dreig. Op dieselfde tyd het ’n man in gewone klere my ’n blink toekoms belowe as ek my samewerking gee. Die een het my met ’n straf gedreig, terwyl die ander my ’n beloning aangebied het. Om my te probeer oorreed, het hulle my herinner aan die kere wat my pa, oupa en ooms in die tronk was. Die polisie het nie geweet dat hierdie herinneringe my net oortuig het dat ek ook met Jehovah se hulp tronkstraf kon verduur nie. – Filippense 4:13.
Van links na regs: My pa, ek, Pawlik, my ma, en Michailo, kort voordat ek in hegtenis geneem is
Ek behou my vertroue in Jehovah terwyl ek in die tronk is
Die dag nadat ek 18 geword het, is ek opgeroep vir militêre diens. Omdat ek geweier het om by die weermag aan te sluit, is ek in aanhouding voor my verhoor geplaas. Ek is in ’n groot sel met omtrent 85 mans opgesluit. Daar was net 34 beddens en ons moes beurte maak om daarop te slaap. Ons mag net een keer ’n week gestort het.
Toe ek die sel binnegegaan het, het die deur toegeslaan en almal het na my gestaar. Die mans in een hoek van die sel het my onmiddellik begin vra hoekom ek in die tronk is. Al was ek senuweeagtig, het ek die Bybelverslag van Daniël onthou, wat niks oorgekom het in die leeukuil nie. Hierdie verslag het my gehelp om ten volle op Jehovah te vertrou en om kalm te bly. – Jesaja 30:15; Daniël 6:21, 22.
Ná aandete het een van die gevangenes in die sel my baie vrae oor my geloof begin vra. Die sel het geleidelik stil geword terwyl die ander gevangenes na ons gesprek begin luister het. Ek het vier of vyf ure lank met hulle oor my oortuigings gepraat. Ek was baie dankbaar teenoor Jehovah dat hy my gehelp het om dit te doen!
Voor my verhoor het ek Jehovah gesmeek om my die wysheid en moed te gee om my godsdiensoortuigings te verdedig. Die aanklaer het probeer bewys dat ek net gesê het dat ek in God glo sodat ek militêre diens kon vryspring. Ek het die hof probeer oortuig dat ek die kragtigste Persoon in die heelal ongelukkig sou maak as ek in die weermag dien. Ten spyte hiervan het die hof my in 1982 skuldig bevind en my tot twee jaar in ’n strafkolonie gevonnis.
Ek was dankbaar dat daar vyf ander Getuies saam met my in die strafkolonie was. Al kon ons net vir ’n kort rukkie gesels – partykeer net vir ’n paar minute – het ons altyd ’n vers uit die Bybel bespreek. Nie een van ons het ’n Bybel gehad nie, maar familie en vriende het dikwels tekste in hulle briewe ingesluit – partykeer het ons selfs tekste in sekulêre publikasies gevind!
Ek behou my vertroue in Jehovah gedurende ’n mediese noodgeval
In 1983, terwyl ek in die tronk se werkswinkel was, het ’n hyskraan per ongeluk ’n stapel metaalplate wat omtrent twee ton weeg, laat val. Die stapel het my van agter getref, my omgestamp en my linkerbeen vergruis.
Ek het tot Jehovah vir die krag gebid om die intense pyn te verduur. Die tronk se verpleegster het voorgestel dat ek hardop moet vloek om die pyn te verlig, maar ek het liewers Koninkryksliedjies gesing.
Om by die hospitaal uit te kom, moes ek per trok, motorboot en ambulans reis. Die reis was ses ure lank, en ek het gedurende die reis baie bloed verloor. Ek was seker dat ek ’n operasie nodig sou hê, so ek het gebid dat die dokters wysheid sou hê en dat hulle my Bybelse standpunt sou respekteer wanneer dit by bloedoortappings kom. Toe ek my oortuigings aan die dokter verduidelik, wou hy nie luister nie, maar ek het hom gesmeek om my besluit te respekteer. Ek het vir hom gesê dat ek bereid was om verantwoordelikheid te aanvaar vir wat ook al sou gebeur omdat ek nie ’n bloedoortapping aanvaar nie. Ek was baie verlig toe hy uiteindelik ingestem het om sonder bloed te opereer. Maar ’n gedeelte van my linkerbeen moes geamputeer word.
Ná die operasie was ek verskriklik swak. Die dokters het ’n hele paar weke lank gedink dat ek op enige oomblik sou sterf. Een middag het ’n verpleegster vir my gesê dat ek kos sal kry wat meer voedsaam is as die kos wat ons in die tronk geëet het om my te help herstel. Die verpleegster het hierdie kos in ’n yskas daar naby gehou. Elke dag het ek ’n lepel heuning, ’n vars eier en bietjie botter gekry. My ouers het gereël om hierdie dinge vir my te kry nadat hulle van die ongeluk uitgevind het. Maar die sersant wat in beheer was van aflewerings het net een keer toegelaat dat hierdie dinge afgelewer word.
Jehovah se hand is nie kort nie (Jesaja 59:1). Nadat die verpleegsters my verbande omgeruil het, het hulle hulle eie kos met my gedeel. Hulle het ook die spesiale kos in die yskas weer aangevul. Dit het my herinner aan die Bybelverslag van die weduwee wie se kruik olie nie leeggeraak het nie. – 1 Konings 17:14-16.
Ek het geleidelik begin om te herstel. Ek het baie vertroosting en aanmoediging gekry uit die 107 briewe wat ek van my familie en vriende ontvang het, en ek het vir hulle almal teruggeskryf. Ek het selfs ’n pakkie van my broers in ’n ander strafkolonie ontvang!
Ná twee lang maande kon ek uiteindelik stort! En ek het daarna begin uitsien om terug te gaan na die strafkolonie sodat ek weer met die broers daar kon assosieer.
Terwyl een van die dokters die papierwerk voorberei het om my uit die hospitaal te ontslaan, het hy my in sy kantoor ingeroep en baie vrae oor my geloof gevra. Ná ons gesprek het hy vir my gesê dat hy gehoop het dat ek sterk genoeg sou wees om getrou aan my oortuigings te bly. Dit was verbasend om hierdie woorde by iemand in ’n militêre uniform te hoor!
In April 1984 het ek na my paroolverhoor gegaan, en hulle het my gevra of ek by die weermag sou aansluit. Ek het gesê dat die antwoord nie regtig saak maak nie omdat ek krukke gebruik om te staan en net een been het. Uiteindelik het hulle gevra: “Wat sou jy doen as jy twee bene gehad het?” Ek het gesê dat ek sou weier om by die weermag aan te sluit en dat ek vasbeslote is om lojaal aan my God te bly. Hulle het gesê dat hulle seker sou maak dat ek my volle vonnis uitdien. Maar ek was toegelaat om die tronk te verlaat 2 maande en 12 dae voordat ek veronderstel was om vrygelaat te word.
Saam met Michailo (regs), nadat ek uit die strafkolonie vrygelaat is
Ek behou my vertroue in Jehovah nadat ek uit die tronk vrygelaat is
’n Jaar nadat ek uit die tronk vrygelaat is, het ek ’n kunsbeen gekry. Dit neem elke oggend ’n uur om dit aan te sit. In die winter is dit veral moeilik om ’n kunsbeen te dra en slegte bloedsirkulasie maak dit moeilik vir die oorblywende deel van my been om warm te word. Dit is my droom om in die nuwe wêreld te hardloop aangesien ek vanaf die ouderdom van 19 nie meer kon hardloop nie. – Jesaja 35:6.
Ons troudag
Ek het gesukkel om ’n werk te kry, want baie werkgewers wou nie gehad het dat ’n gestremde persoon vir hulle moet werk nie. Maar ten spyte van my kunsbeen het ek nooit ’n werk gehad waar ek heeldag moes sit nie. Ek het ’n rukkie lank as ’n werktuigkundige gewerk en verskillende soorte voertuie reggemaak. Later het ek konstruksiewerk gedoen.
In 1986 het ek met ’n oulike suster, Switlana, getrou. Switlana se oumas en oupas was ook Getuies, nes myne. Sy het dikwels gesê dat sy so bly is dat ons, toe ons begin uitgaan het, saamgestem het dat ons diens aan Jehovah die belangrikste ding in ons huwelik sou wees.
Ons kinders Olia en Wolodia het konstruksievaardighede aangeleer terwyl hulle my gehelp het om die ou huis waarin ons gebly het, te herstel. Soos hulle ouer geword het, het hulle dit natuurlik geniet om met Koninkryksaalbouprojekte te help. Hulle het ook met gewone pionierdiens begin. Olia dien nou as ’n konstruksiekneg, en Wolodia is ’n ouerman.
Ons skoonseun, Oleg; ons dogter, Olia; Switlana; ek; ons skoondogter, Anna; en ons seun, Wolodia
Switlana het my nog altyd baie ondersteun, wat my gehelp het om na my verantwoordelikhede in die gemeente om te sien. In die 1990’s het baie gemeentes in Oekraïne meer as 200 verkondigers gehad en net een of twee ouermanne. En ek het een naweek per maand lektuur na die gemeentes in Sentraal-Oekraïne geneem.
Ek behou my vertroue in Jehovah in onlangse jare
Ek en Switlana het in 2022 besluit om ons huis in Kriwji Rih te verlaat. Ons dien nou in ’n gemeente in Oostenryk.
Ek het vanaf ’n jong ouderdom uit die voorbeeld van my Getuiefamilielede geleer, wat tevrede was ten spyte van die moeilike tye wat hulle ervaar het. Die Bybel help ons om ons Skepper beter te verstaan en om ’n hegte verhouding met hom te hê (Jakobus 4:8). Hierdie verhouding gee die lewe ’n doel. Ek is dankbaar dat ek deur al die moeilike tye wat ek ervaar het vir Jehovah die eer kon gee wat hy verdien.
Saam met Switlana in Oostenryk
a Wladimir Lenin was die stigter van die Russiese Kommunistiese Party en die eerste leier van die Sowjetunie.