Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w05 9/1 bl. 8-12
  • Volharding as ’n soldaat van Christus

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Volharding as ’n soldaat van Christus
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2005
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • In afgeleë tronke
  • Geestelike voedsel bereik ons afgesonderde kamp
  • Ek preek sonder ophou
  • Aanmoediging uit ’n onwaarskynlike oord
  • Terug in die tronk, terug in die predikingswerk
  • ’n Soldaat van Christus
  • Van politieke aktivis tot neutrale Christen
    Ontwaak!—2002
  • Om agter tralies te wees, kon my nie van Jehovah skei nie
    Lewensverhale van Jehovah se Getuies
  • ’n Belofte wat ek beslis gaan hou
    Ontwaak!—1998
  • Meer as 50 jaar van ‘oorkom en help’
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2005
w05 9/1 bl. 8-12

Lewensverhaal

Volharding as ’n soldaat van Christus

SOOS VERTEL DEUR JOERI KAPTOLA

“Nou is ek oortuig dat jy werklik geloof het!” Daardie woorde het uit ’n onwaarskynlike oord gekom—’n offisier in die Sowjetleër—en dit het my op net die regte tyd aangemoedig. ’n Lang tronkstraf het op my gewag, en ek het vurig tot Jehovah gebid om my te onderskraag. ’n Lang stryd het vir my voorgelê, wat volharding en vasbeslotenheid sou vereis.

EK IS op 19 Oktober 1962 gebore en het in die weste van die Oekraïne grootgeword. Daardie selfde jaar het my pa, wie se naam ook Joeri was, Jehovah se Getuies ontmoet. Kort voor lank het hy die eerste aanbidder van Jehovah in ons dorp geword. Sy bedrywighede het nie onopgemerk verbygegaan by amptenare wat Jehovah se Getuies teëgestaan het nie.

Die meeste van ons bure het my ouers egter gerespekteer vir hulle Christelike eienskappe en besorgdheid oor ander. My ouers het van elke geleentheid gebruik gemaak om my en my drie susters van kleins af te leer om God lief te hê, en dit het my gehelp om baie uitdagings by die skool die hoof te bied. Een van hierdie uitdagings was toe daar van elke leerling verwag is om ’n kenteken te dra wat hom as een van Lenin se Oktoberkinders sou identifiseer. Weens my Christelike neutraliteit het ek nie die kenteken gedra nie en was ek dus opvallend anders.—Johannes 6:15; 17:16.

Toe ek later in graad drie was, moes alle leerlinge by ’n Kommunistiese jeugorganisasie aansluit wat die Jong Pioniers genoem is. Eendag is ons klas na die skoolgrond uitgeneem vir die inskrywingseremonie. Ek was doodbang, want ek het verwag dat ek bespot en geskel sou word. Almal, behalwe ek, het hulle nuwe rooi Pionier-serp van die huis af gebring, en die leerlinge het in ’n lang ry voor die skoolhoof, die onderwysers en die seniorleerlinge gestaan. Toe die seniorleerlinge aangesê is om die serpe om ons nekke te bind, het ek my kop laat sak en afgekyk met die hoop dat niemand my sou opmerk nie.

In afgeleë tronke

Toe ek 18 was, is ek tot drie jaar tronkstraf gevonnis omdat ek my Christelike neutraliteit gehandhaaf het (Jesaja 2:4). My eerste jaar het ek uitgedien in die dorp Troedowoje, in die Winnitskaja-streek van die Oekraïne. Ek het omtrent 30 ander Getuies van Jehovah ontmoet terwyl ek daar was. Ons is twee-twee in verskillende werksafdelings toegewys, aangesien die owerheid wou verhoed dat ons met mekaar assosieer.

In Augustus 1982 is ek en Eduard—nog ’n Getuie—saam met ’n groep ander gevangenes per trein in gevangeniswaens na die noordelike Oeralgebergte gestuur. Agt dae lank het ons snikhete en beknopte toestande verduur totdat ons by die Solikamsk-gevangenis, in die Permskaja-streek, aangekom het. Ek en Eduard is in verskillende selle gesit. Twee weke later is ek verder noord geneem na Wels in die Krasnowisjerski-gebied.

Ons vervoer het in die middel van die nag daar aangekom, en dit was stikdonker. Ondanks die donkerte het ’n offisier ons groep beveel om ’n rivier per boot oor te steek. Ons kon nie die rivier of die boot sien nie! Ons het nietemin rondgetas totdat ons op ’n boot afgekom het, en hoewel ons bang was, het ons daarin geslaag om die rivier oor te steek. Toe ons by die ander oewer aankom, het ons koers gevat na ’n lig wat op ’n heuwel daar naby sigbaar was, waar ons ’n paar tente gevind het. Dit sou ons nuwe tuiste wees. Ek het in ’n betreklike groot tent gebly saam met omtrent 30 ander gevangenes. In die winter het ons temperature verduur wat soms tot minus 40 grade Celsius gedaal het, en die tent het min beskerming gebied. Die gevangenes se werk was hoofsaaklik om bome af te kap, maar my werk was om hutte vir die gevangenes te help bou.

Geestelike voedsel bereik ons afgesonderde kamp

Ek was die enigste Getuie in daardie kamp; maar Jehovah het my nie verlaat nie. Eendag het ’n ek ’n pakkie ontvang van my ma, wat nog in die weste van die Oekraïne gebly het. Toe ’n wag die pakkie oopmaak, was die eerste ding wat hy gesien het, ’n klein Bybeltjie. Hy het dit opgetel en begin deurblaai. Ek het probeer dink aan iets om te sê om te verhoed dat hierdie geestelike skat gekonfiskeer word. “Wat is dit?” het die wag kortaf gevra. Voordat ek aan ’n antwoord kon dink, het ’n inspekteur wat daar naby gestaan het, gesê: “O! Dis ’n woordeboek.” Ek het niks gesê nie (Prediker 3:7). Die inspekteur het die res van die pakkie deurgesoek en dit toe vir my gegee, tesame met die kosbare Bybel. Ek was so bly dat ek vir hom van die neute in my pakkie aangebied het. Toe ek hierdie pakkie ontvang het, het ek geweet dat Jehovah my nie vergeet het nie. Hy het liefdevol die inisiatief geneem en na my geestelike behoeftes omgesien.—Hebreërs 13:5.

Ek preek sonder ophou

’n Paar maande later was ek verbaas om ’n brief te ontvang van ’n Christenbroer wat in ’n tronk ongeveer 400 kilometer van my af was. Hy het my gevra om ’n man te probeer opspoor wat belangstelling getoon het en moontlik nou in my kamp was. Dit was onverstandig om so ’n openlike brief te skryf, want ons briewe is gesensor. Dit is dan geen wonder dat een van die offisiere my na sy kantoor geroep het en my ernstig gewaarsku het om nie te preek nie. Toe het hy my beveel om ’n dokument te teken wat sê dat ek sal ophou om ander van my oortuigings te vertel. Ek het geantwoord dat ek nie verstaan waarom ek so ’n verklaring moet teken nie, aangesien almal reeds weet dat ek een van Jehovah se Getuies is. Ek het genoem dat ander gevangenes wou weet waarom ek in die tronk is. Wat moes ek vir hulle sê? (Handelinge 4:20). Die offisier het besef dat hy my nie kan intimideer nie en het dus besluit om van my ontslae te raak. Ek is na ’n ander kamp gestuur.

Ek is oorgeplaas na die dorp Waja, wat 200 kilometer daarvandaan was. Daar het die bewaarders my Christelike standpunt gerespekteer en my niemilitêre werk gegee om te doen—eers as ’n timmerman en toe as ’n elektrisiën. Maar hierdie werkstoewysings het hulle eie uitdagings gebied. By een geleentheid is ek aangesê om my gereedskap te neem en na die dorp se klub te gaan. Toe ek daar aankom, was die soldate in die klub bly om my te sien. Hulle het gesukkel om die ligte wat verskeie militêre embleme versier het, te laat werk. Hulle wou hê dat ek hulle moet help om dit reg te maak, want hulle was besig met voorbereidings vir die jaarlikse viering van Rooi Leër-dag. Nadat ek biddend oorweeg het wat om te doen, het ek vir hulle gesê dat ek nie daardie soort werk kan doen nie. Ek het hulle my gereedskap gegee en vertrek. Ek is by die adjunk-direkteur gerapporteer, en tot my verbasing het hy na die klagtes teen my geluister en geantwoord: “Ek respekteer hom daarvoor. Hy is ’n beginselvaste man.”

Aanmoediging uit ’n onwaarskynlike oord

Ek is op 8 Junie 1984 vrygelaat, ná presies drie jaar gevangenisstraf. Toe ek na die Oekraïne terugkeer, moes ek by die militêre polisie as ’n voormalige gevangene registreer. Die amptenare het vir my gesê dat ek oor ses maande weer verhoor sou word en dat dit vir my beter sou wees om heeltemal pad te gee uit die streek. Ek het die Oekraïne dus verlaat en uiteindelik in Letland werk gevind. Ek kon ’n ruk lank die predikingswerk doen en assosieer met die klein groepie Getuies wat in en om Riga, die hoofstad, gebly het. Maar ná net een jaar is ek weer vir militêre diens opgeroep. By die werwingskantoor het ek vir die offisier gesê dat ek voorheen geweier het om militêre diens te doen. In antwoord hierop het hy geskreeu: “Weet jy werklik wat jy doen? Kom ons kyk wat jy vir die luitenant-kolonel gaan sê!”

Hy het my na ’n vertrek op die tweede vloer geneem waar die luitenant-kolonel agter ’n lang tafel gesit het. Hy het aandagtig na my geluister terwyl ek my standpunt verduidelik het en toe vir my gesê dat ek nog tyd het om my besluit te heroorweeg voordat ek voor die werwingskomitee verskyn. Terwyl ons by die luitenant-kolonel se kantoor uitgestap het, het die offisier wat aanvanklik op my geskreeu het, erken: “Nou is ek oortuig dat jy werklik geloof het!” Toe ek voor ’n militêre komitee verskyn het, het ek weer my neutrale standpunt verduidelik, en hulle het my vir eers laat gaan.

Gedurende daardie tyd het ek in ’n koshuis gewoon. Een aand was daar ’n sagte klop aan die deur. Toe ek dit oopmaak, het ’n man in ’n pak, met ’n aktetas in sy hand, voor die deur gestaan. Hy het hom voorgestel en gesê: “Ek is van die Staatsveiligheidsdiens. Ek weet dat jy probleme ondervind en dat jy in die hof verhoor gaan word.” “Ja, dis reg”, het ek geantwoord. Die man het voortgegaan: “Ons kan jou help as jy instem om vir ons te werk.” “Nee, dit is nie moontlik nie”, het ek gesê. “Ek sal lojaal bly aan my Christelike oortuigings.” Sonder om my verder te probeer oortuig, is hy daar weg.

Terug in die tronk, terug in die predikingswerk

Op 26 Augustus 1986 het die Nasionale Hof van Riga my tot vier jaar dwangarbeid gevonnis, en ek is na die Riga- Sentrale Gevangenis geneem. Hulle het my in ’n groot sel gesit saam met 40 ander gevangenes, en ek het vir elke gevangene in daardie sel probeer getuig. Sommige het beweer dat hulle aan God glo; ander het net gelag. Ek het opgelet dat die mans in groepe bymekaarkom, en twee weke later het die leiers van hierdie groepe vir my gesê dat ek nie mag preek nie omdat ek nie hulle ongeskrewe reëls nakom nie. Ek het verduidelik dat ek juis om daardie rede in die tronk is—ek lewe volgens ander wette.

Ek het voortgegaan om oordeelkundig te preek, en toe ek ’n paar persone gevind het wat geestelikgesind was, kon ek die Bybel met vier van hulle studeer. Gedurende ons besprekings het hulle basiese Bybelleerstellings in ’n aantekeningboek neergeskryf. ’n Paar maande later is ek na ’n hoësekuriteitskamp in Valmiera gestuur, waar ek as ’n elektrisiën gewerk het. Daar kon ek die Bybel met ’n ander elektrisiën studeer, wat vier jaar later een van Jehovah se Getuies geword het.

Op 24 Maart 1988 is ek van die hoësekuriteitskamp na ’n ander kamp daar naby verskuif. Dit was ’n groot seën, aangesien dit my meer vryheid gegee het. Ek is toegewys om op verskeie bouterreine te werk, en ek het heeltyd gesoek na geleenthede om te getuig. Ek was dikwels weg van die kamp af en het tot laat in die aand die predikingswerk gedoen, maar ek het nooit probleme ondervind wanneer ek na die kamp teruggekeer het nie.

Jehovah het my pogings geseën. ’n Paar Getuies het in die gebied gewoon, maar op die dorp self was daar net een, Wilma Kroemina—’n bejaarde suster. Ek en suster Kroemina het baie Bybelstudies met jongmense begin hou. Broers en susters het van tyd tot tyd van Riga af gekom om aan die bediening deel te neem, en ’n paar gewone pioniers het selfs van Leningrad (nou St. Petersburg) gekom. Met Jehovah se hulp het ons etlike Bybelstudies begin, en ek het kort voor lank die pionierdiens betree en 90 uur per maand aan die predikingswerk bestee.

Op 7 April 1990 is my saak by die Volkshof in Valmiera in hersiening geneem. Toe die verhoor begin, het ek die aanklaer herken. Hy was ’n jong man met wie ek tevore die Bybel bespreek het! Hy het my herken en geglimlag, maar niks gesê nie. Ek onthou nog wat die regter daardie dag by die verhoor vir my gesê het: “Joeri, die besluit vier jaar gelede om jou tronk toe te stuur, was onwettig. Hulle moes jou nie skuldig bevind het nie.” Skielik was ek vry!

’n Soldaat van Christus

In Junie 1990 moes ek weer eens by die werwingskantoor registreer om ’n verblyfpermit in Riga te kry. Ek het dieselfde kantoor met dieselfde lang tafel binnegegaan waar ek vier jaar tevore vir die luitenant-kolonel gesê het dat ek nie in die leër sou dien nie. Hierdie keer het hy opgestaan om my te groet, my hand geskud en gesê: “Dis vreeslik dat jy dit alles moes deurmaak. Ek is jammer dat dit so afgeloop het.”

Ek het geantwoord: “Ek is ’n soldaat van Christus, en ek moet my opdrag vervul. Die Bybel kan u ook help om te geniet wat Christus sy volgelinge belowe het—’n gelukkige lewe en ’n ewige toekoms” (2 Timoteus 2:3, 4). Die kolonel het geantwoord: “Ek het ’n rukkie gelede ’n Bybel gekoop, en ek lees dit nou.” Ek het die boek Jy kan vir ewig in die Paradys op aarde lewea by my gehad. Ek het dit oopgemaak by die hoofstuk wat die tekens van die laaste dae bespreek en vir hom getoon hoe Bybelprofesieë met ons tyd verband hou. Met innige waardering het die kolonel my hand weer geskud en my alle sukses in my werk toegewens.

Teen hierdie tyd was die lande werklik wit vir die oes in Letland (Johannes 4:35). In 1991 het ek as ’n gemeentelike ouer man begin dien. Daar was net twee aangestelde ouer manne in die hele land! ’n Jaar later is die enigste gemeente in Letland in twee verdeel—die een het Letties en die ander Russies gepraat. Ek het die voorreg gehad om in die Russiese gemeente te dien. Ons gemeente het so vinnig gegroei dat dit die volgende jaar in drie verdeel is! Wanneer ek terugkyk, is dit duidelik dat Jehovah sy skape na sy organisasie gerig het.

Ek is in 1998 aangestel om as ’n spesiale pionier te dien in Jelgawa, ’n dorp 40 kilometer suidwes van Riga. Daardie selfde jaar was ek een van die eerstes uit Letland wat genooi is om die Bedieningsopleidingskool in Russies in Solnetsjnoje, naby St. Petersburg, Rusland, by te woon. By die skool het ek besef hoe belangrik dit is om ’n liefdevolle gesindheid teenoor mense te hê as jy suksesvol in die bediening wil wees. Wat my veral beïndruk het, bo en behalwe die dinge wat ons tydens die skool geleer is, was die liefde en aandag wat ons van die Bethelgesin en skoolinstrukteurs ontvang het.

In 2001 het ek nog ’n mylpaal in my lewe bereik toe ek met Karina, ’n lieflike Christenvrou, getrou het. Karina het by my aangesluit in die spesiale voltydse diens, en dit is elke dag vir my aanmoedigend wanneer ek sien dat my vrou so gelukkig lyk wanneer sy van velddiens terugkeer. Dit verskaf inderdaad groot vreugde om Jehovah te dien. Die moeilike ondervindinge onder die Kommunistiese regime het my geleer om ten volle op hom te vertrou. Geen opoffering is te groot vir iemand wat Jehovah se vriendskap wil behou en sy soewereiniteit wil ondersteun nie. Om ander te help om van Jehovah te leer, het my lewe sinvol gemaak. Dit was vir my ’n wonderlike eer om Jehovah te dien “as ’n goeie soldaat van Christus”.—2 Timoteus 2:3.

[Voetnoot]

a Uitgegee deur Jehovah se Getuies, maar nou uit druk.

[Prent op bladsy 10]

Ek is tot vier jaar dwangarbeid gevonnis en in die Riga- Sentrale Gevangenis opgesluit

[Prent op bladsy 12]

Saam met Karina in die bediening

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel