Saterdag 25 Oktober
Safan het vir die koning daaruit begin lees. – 2 Kron. 34:18.
As ’n volwassene het koning Josia begin om die tempel te laat herstel. Gedurende daardie projek is “die boek van Jehovah se Wet gevind wat deur middel van Moses gegee is”. Toe die koning hoor wat dit sê, het hy onmiddellik veranderinge gemaak om gehoorsaam te wees aan wat daarin geskryf is (2 Kron. 34:14, 19-21). Wil jy graag die Bybel gereeld lees? As jy probeer om dit te doen, hoe vorder jy? Hou jy ’n rekord van verse wat jou persoonlik kan help? Toe Josia omtrent 39 jaar oud was, het hy ’n fout gemaak wat sy lewe gekos het. Hy het op homself vertrou eerder as om Jehovah te vra vir leiding (2 Kron. 35:20-25). Ons kan ’n les hieruit leer. Dit maak nie saak hoe oud ons is of hoe lank ons al die Bybel studeer nie, ons moet aanhou om nader aan Jehovah te kom. Dit sluit in dat ons gereeld moet bid vir sy leiding, sy Woord moet studeer en moet luister na die raad van volwasse Christene. Die kans dat ons groot foute sal maak, sal dan kleiner wees en die kans dat ons gelukkig sal wees, sal groter wees. – Jak. 1:25. w23.09 12 ¶15-16
Sondag 26 Oktober
God staan die hoogmoediges teë, maar hy gee onverdiende goedheid aan die nederiges. – Jak. 4:6.
Die Bybel noem baie goeie vrouens wat lief was vir Jehovah en hom gedien het. Hulle was “matig in gewoontes” en “getrou in alles” (1 Tim. 3:11). En susters kan in hulle eie gemeente voorbeelde van volwasse Christenvrouens vind wat hulle kan navolg. Jong susters, ken julle enige susters wat ’n goeie voorbeeld stel wat julle kan navolg? Skenk aandag aan hulle goeie eienskappe, en kyk dan hoe jy daardie selfde eienskappe kan openbaar. ’n Belangrike eienskap wat volwasse Christene moet hê, is nederigheid. As ’n vrou nederig is, sal sy ’n goeie verhouding met Jehovah en met ander geniet. Byvoorbeeld, ’n vrou wat lief is vir Jehovah, kies nederig om die hoofskapreëling wat haar hemelse Vader ingestel het, te ondersteun (1 Kor. 11:3). Daardie beginsel het spesifieke toepassings in die gemeente en in die gesinsreëling. w23.12 18-19 ¶3-5
Maandag 27 Oktober
Mans [moet] hulle vrouens liefhê soos hulle eie liggame. – Ef. 5:28.
Jehovah verwag dat ’n man sy vrou moet liefhê en na haar fisiese, emosionele en geestelike behoeftes moet omsien. As jy leer om jou denkvermoë te ontwikkel, vrouens te respekteer en betroubaar te wees, sal dit jou help as ’n huweliksmaat. Nadat jy getrou het, sal jy dalk ’n pa word. Wat kan jy by Jehovah leer oor hoe om ’n goeie pa te wees? (Ef. 6:4). Jehovah het openlik vir sy Seun, Jesus, gesê dat hy hom liefhet en dat hy hom goedgekeur het (Matt. 3:17). As jy ’n pa word, maak seker dat jy jou kinders gereeld verseker dat jy hulle liefhet. Prys hulle dikwels vir die goeie dinge wat hulle doen. Pa’s wat Jehovah se voorbeeld navolg, help hulle kinders om volwasse Christenmans en -vrouens te word. Jy kan nou vir hierdie rol voorberei deur liefdevol te sorg vir ander in jou gesin en in die gemeente en deur te leer om vir hulle te sê dat jy hulle liefhet en waardeer. – Joh. 15:9. w23.12 28-29 ¶17-18