My gesin se liefde vir God ondanks gevangenskap en die dood
Soos vertel deur Magdalena Kusserow Reuter
MY BROER Wilhelm sou die volgende oggend deur die Nazi’s tereggestel word. Sy misdaad? Gewetensbeswaar teen diens in die Duitse leër. Hy was 25 jaar oud en ten volle bewus van sy naderende teregstelling deur ’n vuurpeloton. Gedurende daardie aand van 26 April 1940 het hy die volgende afskeidsbrief aan ons geskryf en toe het hy ’n goeie nagrus geniet.
“Liewe ouers, broers en susters,
Julle weet almal hoeveel julle vir my beteken, en ek word elke keer daaraan herinner wanneer ek na ons gesinsfoto kyk. Hoe vredig was dinge tog altyd tuis. Nietemin moet ons God bo alles liefhê, soos ons Leier [Führer] Jesus Christus beveel het. As ons aan hom getrou bly, sal hy ons beloon.”
Op sy laaste nag het ons liewe Wilhelm aan ons gedink—sy Christenouers en sy vyf broers en vyf susters, ’n buitengewoon groot en hegte gesin. Deur die beroeringe van die tyd heen het ons as ’n gesin gesorg dat ons liefde vir God altyd eerste kom.
Ons “Goue eeu”-tuiste
My ouers, Franz en Hilda Kusserow, was vanaf hulle doop in 1924, die jaar toe ek as hulle sewende kind gebore is, ywerige Bybelstudente, of Bibelforscher (Jehovah se Getuies). Die kinderjare wat ons 11 saam met ons ouers deurgebring het, was ’n wonderlike tyd. Aangesien my vader vroeg afgetree het, kon hy baie tyd aan ons wy. Hy het dit in ooreenstemming met Bybelbeginsels gedoen. Daar het nie ’n dag verbygegaan dat ons nie Bybelse raad en onderrig ontvang het nie. Ons ouers het besef dat kinders nie outomaties lowers van Jehovah sal word bloot omdat hulle ouers Jehovah loof nie.
Vader het in 1931 die Wagtoringgenootskap se uitnodiging aanvaar om met sy groot gesin na ’n gebied te verhuis waar daar toe geen plaaslike gemeente was nie. In Paderborn en omgewing—wat ongeveer 200 dorpe en gehuggies ingesluit het—was daar vir ons baie werk in die verkondiging van die Koninkryksboodskap. My oudste suster, Annemarie, het as ’n spesiale pionier gedien, en Vader en my vyftienjarige broer, Siegfried, as gewone pioniers.
Selfs van ver af kon mense twee groot tekens sien wat op albei kante van ons huis in Bad Lippspringe geverf is. Daar het Vader in Duits geskryf: LESEN SIE ‘DAS GOLDENE ZEITALTER’ (LEES ‘DIE GOUE EEU’, die vorige naam van Ontwaak!). Die huis was geleë langs ’n tremspoor tussen Paderborn en Detmold. Wanneer die trem voor die huis stilgehou het, het die bestuurder uitgeroep: “Tremhalte, GOUE EEU!” En ons huis, wat op sowat een hektaar grond geleë was en deur ’n pragtige tuin met struike en bome omring is, het inderdaad vir ons ’n sentrum van opvoeding en bedrywigheid geword wat alles om die goue eeu van God se komende Koninkryk gedraai het.—Mattheüs 6:9, 10.
Almal eensgesind
’n Gesin wat met so baie kinders geseën is, het organisasie geverg. Daar was dikwels groente en vrugte om te oes. Die hoenders en die eende moes versorg word, en die gesin se lam moes sy bottel kry. Die worshond “Fiffi” en die kat “Pussi”, ook geliefde “lede” van die gesin, moes versorg word. Vader het dus ’n rooster opgestel vir die huiswerk, tuinwerk en versorging van die huisdiere. Elke kind moes verskillende takies verrig, wat die seuns en die meisies al om die week gedoen het.
Vader het ook tyd vir vermaak afgesonder, onder meer vir musiek, skilder en ’n aantal ander dinge. Moeder, ’n onderwyseres, het altyd daaroor toesig gehou. Ons het vyf viole, ’n klavier, ’n tongpyporreltjie, twee trekklaviere, ’n ghitaar en ’n paar fluite gehad. Ja, ons ouers het nie net oor ons huiswerk toesig gehou nie, maar ook musiek en sang by ons opvoedingsprogram ingesluit.
Wat ek vandag as die belangrikste beskou, is dat daar nooit ’n dag verbygegaan het sonder dat ons geestelike onderrig ontvang het nie, hetsy dit antwoorde op ons vrae aan tafel was of verskillende Bybeltekste wat ons uit die hoof geleer het. Vader het ook daarop aangedring dat ons leer om onsself reg uit te druk. Met ander woorde, ons het ’n ideale gesinslewe geniet, beter as in enige verhaal. Ons het natuurlik ook ons swakhede gehad, en Vader het ons dikwels gedissiplineer met woorde wat seerder gemaak het as enige lyfstraf. Hy het ons altyd geleer om verskoning te vra vir ons foute en ander te vergewe. Ons het toe nie besef hoe belangrik al hierdie opleiding sou wees nie.
Die jongste lid van die gesin, klein Paul-Gerhard, is in 1931 gebore. Hy is verwelkom deur sy broers Wilhelm, Karl-Heinz, Wolfgang, Siegfried en Hans-Werner asook deur my en my susters Annemarie, Waltraud, Hildegard en Elisabeth.
Die verdrukking begin
Omstreeks hierdie tyd het Adolf Hitler in Duitsland aan die bewind gekom. Vader het skynbaar geweet dat daar probleme sou wees, en hy het ons al hoe meer voorberei vir die moeilike jare wat sou kom. Hy het vir ons in die Bybel gewys dat sommige getroue Getuies vervolg, in die tronk gegooi, en selfs doodgemaak sou word (Mattheüs 16:25; 2 Timotheüs 3:12; Openbaring 2:10). Ek onthou dat ek gedink het dat dit nie noodwendig met ons gesin sou gebeur nie. Min het ek geweet wat die toekoms vir ons ingehou het.
Die eerste slag was die dood van my broer Siegfried wat op die ouderdom van 20 verdrink het. Toe, in die lente van 1933, het die Nasionaal-Sosialiste, wat nou algemeen as die Nazi’s bekendstaan, ons begin dophou. Die geheime polisie het beveel dat die tekens op ons huis toegeverf moet word. Maar die verf was in daardie dae so sleg dat “GOUE EEU” nog steeds sigbaar was! En die trembestuurder het nog steeds uitgeroep: “Tremhalte GOUE EEU!”
Die druk het geleidelik toegeneem. Mede-Getuies, wat wreed deur die Gestapo mishandel is, het in ons huis skuiling gesoek. Vader se pensioen is gekanselleer omdat hy geweier het om te sê: “Heil Hitler”. Tussen 1933 en 1945 het die Gestapo ons huis sowat 18 keer deurgesoek. Maar het al hierdie dinge ons as kinders geïntimideer? My suster Waltraud sê: “Selfs tydens hewige vervolging is ons versterk deur ons ouers, wat die Bybel gereeld met ons bestudeer het. Ons het nog steeds by Vader se rooster gehou.”
Die jongste kinders onder druk
Die jongstes van ons het elke dag baie senuweeagtig skool toe gegaan. Die onderwysers het daarop aangedring dat ons die vlag salueer, Nazi-liedere sing, en ons arms oplig en “Heil Hitler” sê. Omdat ons geweier het, is ons gespot. Maar wat het ons gehelp om standvastig te bly? Ons is dit almal eens dat die geheim was dat Vader en Moeder elke dag ons individuele probleme met ons bespreek het sodra hulle ontstaan het (Efesiërs 6:4). Hulle het vir ons gewys wat om te doen en hoe om ons met die Bybel te verdedig (1 Petrus 3:15). Ons het dikwels oefensessies gehou waartydens ons vrae gevra en beantwoord het.
My suster Elisabeth onthou ’n moeilike toets wat sy ondervind het: “’n Baie moeilike en onvergeetlike oomblik vir ons was toe die skoolhoof ons in die lente van 1939 daarvan beskuldig het dat ons geestelik en moreel verwaarloos word en deur die hof gereël het dat ons van die skool af na ’n onbekende plek ontvoer word. Ek was 13, Hans-Werner 9, en klein Paul-Gerhard net 7 jaar oud.”
Paul-Gerhard het onlangs, meer as 40 jaar later, ’n brief ontvang van ’n beampte wie se gewete hom steeds pla. Hy het geskryf: “Ek was die polisieman wat jou en jou broer en suster na die verbeterskool geneem het. Ek het julle daardie selfde aand daar gelaat.” Stel jou voor, daardie drie weerlose kinders is uit die skool ontvoer sonder dat ons ouers in kennis gestel is!
Moeder het probeer uitvind waarheen hulle geneem is. Na ’n paar weke het sy hulle uiteindelik in ’n verbeterskool in Dorsten opgespoor. Die direkteur het gou besef dat die kinders goed gemanierd was en dat hulle nie daar hoort nie, en hulle is na ’n paar maande vrygelaat. Maar hulle het nie huis toe gekom nie. Wat het gebeur?
My broers en suster is deur die Gestapo onderskep en van Dorsten na Nettelstadt naby Minden geneem en in ’n Nazi-opleidingskool geplaas. Besoeke deur familielede was natuurlik verbode, maar moeder het op elke moontlike manier probeer om haar kinders te versterk, en het onder meer versteekte briewe gestuur. Sy het hulle selfs eenkeer in die geheim ontmoet en met hulle gepraat. Die kinders is later van mekaar geskei en na verskillende plekke geneem. Maar hulle het hulle onkreukbaarheid gehandhaaf en geweier om die vlag te salueer of “Heil Hitler” te sê. Hulle het gewys op Handelinge 4:12 waar daar van Jesus gesê word: “Die saligheid [Heil, in Duits] is in niemand anders nie.”
Die hele gesin word beproef
Intussen het vader twee vonnisse in die tronk uitgedien. Hy is op 16 Augustus 1940 vrygelaat, maar is agt maande later vir sy derde vonnis na die strafgevangenis in Kassel-Wehlheiden gestuur. Hy was egter verheug om gedurende hierdie kort tydperk van vryheid drie van ons te doop—ek, toe 16 jaar oud, die negentienjarige Hildegard en agttienjarige Wolfgang.
Vader is weer opgesluit dieselfde tyd wat Moeder en Hildegard gevange geneem is. Ek is ook verhoor, en op sewentienjarige ouderdom tot eensame opsluiting in die jeuggevangenis in Vechta gevonnis. Daar het ek byna niks gehad om te doen nie. Dit was nie maklik om vroeg op te staan en dan die hele dag net na wit mure te sit en kyk nie. Ek het probeer om so veel moontlik te onthou van wat ek geleer het, en ek was verstom oor die geestelike rykdom wat ek gevind het. Ek het volledige Koninkryksliedere onthou en Bybeltemas uitgewerk. Hoe dankbaar was ek tog vir my ouers se sorgvuldige opleiding!
Kort voordat my eerste ses maande in die tronk verstryk het, het die gevangenisdirektrise my na haar kantoor ontbied en verduidelik dat ek vrygelaat sou word as ek ’n verklaring teken dat ek my oortuiginge as ’n valse leer verloën. Weer het ek die geleentheid gehad om my geloof te verdedig. Sy het nie geantwoord nie. Toe het sy met ’n droewige stem gesê dat sy my weer aan die Gestapo sou moes oorlewer. Vier maande later is ek na die Ravensbrück-konsentrasiekamp geneem.
My moeder en Hildegard was nog in ’n ander tronk. Ek het hulle later raakgeloop toe hulle na Ravensbrück gestuur is. Van toe af was ek en Moeder tot aan die einde van die oorlog saam. Annemarie en Waltraud was ook in die tronk. Elke lid van die gesin was toe al òf opgesluit òf ontvoer. Die groot huis in Bad Lippspringe, wat eens gevul was met die gelag en sang van sorgvrye kinders, was nou leeg. Die tekens op albei kante van die huis is herhaaldelik toegeverf. Die GOUE EEU het verdwyn.
Ravensbrück—vriende en vyande
Toe ek by Ravensbrück aangekom het, het ek ten spyte van my vrees daarna uitgesien om ander Getuies te ontmoet. Maar hoe sou ek hulle tussen al daardie duisende gevangenes vind? ’n Deel van die ontvangsprosedure was ontluising. Die gevangene wat my kop ondersoek het, het saggies gevra: “Waarom is jy hier?” “Ek is ’n Bibelforscher”, het ek geantwoord. Sy het bly geantwoord: “Welkom, my liewe suster!” Ek is toe na die Bibelforscher-afdeling geneem waar suster Gertrud Poetzinger my onder haar vlerke geneem het.
Die volgende dag is ek na die kampkommandant se kantoor ontbied. Op sy lessenaar was ’n groot Bybel, by Romeine hoofstuk 13 oopgeslaan. Hy het my beveel om die eerste vers te lees, wat lui: “Laat elke mens hom onderwerp aan die magte wat oor hom gestel is.” Nadat ek dit gelees het, het hy gesê: “En nou sal jy aan my verduidelik waarom jy nie die magte wat oor jou gestel is, wil gehoorsaam nie.” Ek het geantwoord: “Om dit te verduidelik, sal ek die hele hoofstuk moet lees.” Hy het die Bybel skielik toegeslaan en gesê ek moet gaan. My drie en ’n half jaar in Ravensbruck het begin.
Afgesien van die wreedheid van die SS-wagte, was die ergste deel van daardie ondervinding seker die winters. Ons het elke oggend in die ysige koue vir die amptelike telling op parade gestaan. Dit het om 4 vm. begin en kon van twee tot vyf uur duur! Ons is verbied om ons hande in ons sakke te steek, en ek het winterhande en -voete gekry waarvoor ek mediese behandeling moes ontvang.
Maar ons het ook daardie verkwiste ure op parade gebruik om mekaar geestelik op te bou. Wanneer die SS-wagte buite hoorafstand was, het ons almal ’n teks van persoon tot persoon herhaal en sodoende ons gedagtes op God se Woord gevestig. By een geleentheid het ons almal Psalm 83 geleer deur dit een na die ander te herhaal, terwyl ons versigtig was dat ’n wag ons nie vang nie. Hierdie geestelike hulp het ons gehelp om te volhard. Maar laat ons terugkeer na die lente van 1940.
Die eerste martelaar
My ouer broer Wilhelm is ter dood veroordeel en in die openbaar in die hospitaaltuin in Münster tereggestel. Hy was die gesin se eerste martelaar. Ek en Moeder het hom kort voor sy dood besoek. Sy onverskrokke kalmte het ons beïndruk. Hy wou hê dat Moeder sy jas moes neem en het gesê: “Ek het dit nou nie nodig nie.”
Hitler het Wilhelm se derde appèl teen die doodvonnis afgewys en het persoonlik die bevel vir sy teregstelling geteken. Maar selfs terwyl Wilhelm geblinddoek is, is hy ’n laaste kans gebied om sy geloof te loën. Hy het geweier. Sy laaste wens? Dat hulle raak moet skiet. Sy advokaat wat deur die hof aangestel is, het later aan die gesin geskryf: “Hy het onmiddellik gesterf, en het sy dood kersregop tegemoetgegaan. Sy gesindheid het die hof en ons almal diep beïndruk. Hy het ooreenkomstig sy oortuiginge gesterf.”
Moeder het onmiddellik na Münster gegaan om die lyk te eis. Sy was vasbeslote om hom in Bad Lippspringe te begrawe. Soos sy gesê het: “Ons sal ’n groot getuienis gee aan die mense wat hom geken het.” Sy het bygevoeg: “Ek sal Satan laat boet omdat hy my Wilhelm doodgemaak het.” Sy het aansoek gedoen vir Vader om vier dae verlof van die tronk te kry om die begrafnis by te woon, en tot ons verbasing is dit toegestaan!
Vader het die gebed by die begrafnis gedoen, en Karl-Heinz, die naasoudste seun, het trooswoorde uit die Bybel gerig aan ’n groot groep rouklaers wat by Wilhelm se graf bymekaar was. Karl-Heinz is ook ’n paar weke later, sonder ’n verhoor, na ’n konsentrasiekamp gestuur, eers na Sachsenhausen en later na Dachau.
’n Tweede martelaar
My ander ouer broer, Wolfgang, het ’n standpunt vir die ware God ingeneem toe hy gedoop is, al het hy geweet dat dit ook tot sy dood kon lei. Maar hy kon nie die goeie voorbeelde van standvastigheid wat sy vader en broers, trouens, die hele gesin, gestel het, vergeet nie. Op 27 Maart 1942, ’n jaar en ’n half na sy doop, het hy self in ’n sel in Berlyn gesit en die volgende afskeidsbrief geskryf:
“Nou moet ek, as julle derde seun en broer, julle môre-oggend verlaat. Moenie hartseer wees nie, want die tyd sal kom wanneer ons weer almal saam sal wees. . . . Hoe groot sal ons vreugde dan wees, wanneer ons herenig word! . . . Nou is ons van mekaar geskei, en ons moet elkeen die toets deurstaan; dan sal ons beloon word.”
Hitler het besluit dat die dood deur middel van ’n vuurpeloton te goed is vir gewetensbeswaardes. Hy het onthoofding deur die valbyl beveel. Wolfgang is as ons gesin se tweede martelaar in die Brandenburg-strafgevangenis onthoof. Hy was net 20 jaar oud.
Liefde vir God kom steeds eerste
Wat het geword van die gesinslede wat die Nazi-tydperk oorleef het? Waltraud en Hans-Werner was die eerstes wat aan die einde van die Tweede Wêreldoorlog in Bad Lippspringe aangekom het. Hildegard, Elisabeth en Paul-Gerhard was volgende. Vader het met ’n gebreekte been tussen skape op ’n veewa huis toe gekom.
“Ons was so bly dat vader vry en weer by ons was”, sê Waltraud. “Maar hy was baie siek. In Junie 1945 het ’n verpleegster ons broer Karl-Heinz, wat ernstig siek was, van Dachau-konsentrasiekamp af gebring. In Julie 1945 het Annemarie met ’n omweg teruggekeer van die strafgevangenis in Hamburg-Fuhlsbüttel. Die laaste lede van die gesin, Moeder en Magdalena, het na baie ontberinge in September 945 van Ravensbrück af teruggekeer. Hoe baie het ons tog gehad om oor te gesels!”
Het hierdie tydperk van vervolging en gesinsverlies ons liefde vir God laat kwyn? Glad nie! Hoewel vader siek was, het hy nie gerus totdat hy die werk, met inbegrip van die predikingswerk van huis tot huis, herorganiseer het en gereël het dat vergaderinge gehou word nie. Ons het ’n gesinsrooster opgestel waarvolgens ons na die siekes kon omsien en ’n bestaan kon maak, maar ons het nie vergeet dat ons liefde vir God eerste moet kom nie. Ons het die moontlikheid van voltydse diens oorweeg. Ek en Elisabeth het dus in 1946 spesiale pioniers geword, terwyl Annemarie en Paul-Gerhard as gewone pioniers gedien het.
Die nadraai
Die uitwerking van die vervolging op ons gesondheid het gou geblyk. In Oktober 1946 het Karl-Heinz op die ouderdom van 28 aan tuberkulose gesterf. In Julie 1950 het my geliefde vader sy aardse loopbaan voltooi met die oortuiging dat sy werke hom sal volg. My moeder, wat ook ’n hemelse hoop gekoester het, het in 1979 gesterf. (Kyk Openbaring 14:13.) Elisabeth moes haar voltydse diens prysgee, maar het tot met haar dood in 1980 getrou volhard. In 1951 het Moeder die pionierdiens betree en, hoewel sy ouer as 60 was, het sy drie en ’n half jaar daarmee volgehou. En watter groot vreugde was dit vir haar om voor haar dood te sien hoe die meeste van haar kleinkinders die voltydse bediening betree.
My jongste broer, Paul-Gerhard, het in die drukkery by die Duitse Bethel gewerk totdat hy genooi is om die Gilead-sendingskool by te woon. Hy het in 1952 saam met die 19de klas gegradueer. Na nog ’n paar jaar in die voltydse diens was hy verplig om op te hou toe sy vrou ernstig siek geword het. Hoewel sy steeds bedlêend is, dien hy as ’n ouere man en dien hulle dogter Brigitte nou as ’n spesiale pionier. Hulle seun Detlef pionier reeds 14 jaar lank. Elisabeth se twee kinders, Jethro en Wolfgang, is ook al baie jare in die voltydse diens.
Ek het ook in 1948 in die Wiesbaden-Bethel gaan dien. In die Bethelgesin het ek veilig gevoel, net soos by die huis. Ons het hard gewerk en dikwels tot snags laat groot besendings boeke van die hoofkwartier in Brooklyn afgelaai. In 1950 het ek met George Reuter, ’n mede-Bethelwerker, getrou. ’n Nuwe tydperk het toe vir my begin met wonderlike ondervindinge saam met my man in kring-, Streek- en sendingwerk in Togo, Afrika, Luxemburg, en nou in suidelike Spanje.
En die res van die gesin? In 1960 het Annemarie, Waltraud en Hildegard, saam met Moeder, na ’n groot Duitse stad verhuis, waar hulle saam met Engels- en Italiaanssprekende gemeentes kon werk. Hildegard, wat byna vyf jaar in tronke en die konsentrasiekamp oorleef het, het in 1970 gesterf. Annemarie en Waltraud gaan voort met hulle selfopofferende gesindheid en toegewyde werk.
Ons gesin, wie se liefde vir God eerste gekom het, het inderdaad die vervulling van Jesus se woorde beleef dat ‘die duiwel sommige in die gevangenis gaan werp’, en die getrouheid van God se knegte “tot die dood toe” gaan toets. Maar ons het nooit vergeet wat Jesus ook gesê het nie: “Die wat oorwin, sal deur die tweede dood geen skade lei nie.”—Openbaring 2:10, 11.
Ons het derhalwe goeie rede om daarna uit te sien om verenig te wees in die komende “GOUE EEU”—wat nie meer net teen ’n muur geverf is nie. Onder God se Koninkryk sal dit ’n werklikheid wees!—Openbaring 20:11-21:7.
[Prent op bladsy 11]
Die laaste foto wat ooit van die hele gesin geneem is. Van links na regs, agter: Siegfried, Karl-Heinz, Wolfgang, Vader, Moeder, Annemarie, Waltraud, Wilhelm, Hildegard. Onder: Paul-Gerhard, Magdalena, Hans-Werner en Elisabeth
[Prent op bladsy 12]
Die gesin se huis by die tremhalte “GOUE EEU”