Aanhangsel
Vrae wat ouers vra
“Wat kan ek doen om my kind te kry om met my te praat?”
“Moet ek ’n inkomtyd vasstel?”
“Hoe kan ek my dogter help om ’n gebalanseerde beskouing van diëte te verkry?”
Dit is ’n paar van die 17 vrae wat in hierdie Aanhangsel beantwoord word. Die inligting is in ses dele verdeel en kruisverwysings na die gepaste hoofstukke in Deel 1 sowel as Deel 2 van Vrae wat jongmense vra—Antwoorde wat werk word aangegee.
Lees die inligting. Bespreek dit met jou huweliksmaat indien moontlik. Gebruik dan die raad om jou kinders te help. Die antwoorde wat jy hier sal vind, is betroubaar. Dit is nie op onvolmaakte menslike wysheid gebaseer nie, maar op God se Woord, die Bybel.—2 Timoteus 3:16, 17.
290 Kommunikasie
297 Reëls
302 Onafhanklikheid
307 Seks en afsprake
315 Geestelikheid
KOMMUNIKASIE
Kan dit enige kwaad doen as ek dikwels met my huweliksmaat of my kinders stry?
Meningsverskille in die huwelik is onvermydelik. Maar jy kan besluit hoe om dit te hanteer. Jongmense word diep geraak deur hulle ouers se rusies. Dit is ’n ernstige saak, want julle huwelik dien in werklikheid vir julle kinders as ’n voorbeeld wat hulle waarskynlik sal volg as hulle trou. Gebruik meningsverskille dus eerder as ’n geleentheid om te wys hoe ’n mens geskille doeltreffend kan uitstryk. Probeer die volgende:
Luister. Die Bybel sê dat ons “gou [moet] wees om te hoor, stadig om te praat, stadig om toornig te word” (Jakobus 1:19). Moenie olie op die vuur gooi deur “kwaad vir kwaad [te] vergeld” nie (Romeine 12:17). Al lyk dit vir jou of jou huweliksmaat nie bereid is om te luister nie, kan jy kies om te luister.
Probeer om te verduidelik en nie te kritiseer nie. Sê vir jou huweliksmaat op ’n kalm manier watter uitwerking sy of haar gedrag op jou het. (“Ek voel seergemaak wanneer jy . . . ”) Weerstaan die drang om te beskuldig en te kritiseer. (“Jy gee nie vir my om nie.” “Jy luister nooit nie.”)
Beëindig vir eers die gesprek. Soms is dit die beste om die saak te los en die bespreking te hervat wanneer julle afgekoel het. Die Bybel sê: “Die begin van twis is soos iemand wat waters loslaat; gaan dus weg voordat die rusie uitgebreek het.”—Spreuke 17:14.
Vra mekaar—en indien gepas ook jou kinders—om verskoning. Brianne, 14, sê: “Soms sal my ouers nadat hulle gestry het, vir my en my ouer broer om verskoning vra omdat hulle weet hoe dit ons laat voel.” Een van die waardevolste lesse wat julle julle kinders kan leer, is hoe om nederig te sê: “Ek is jammer.”
Maar sê nou die probleem is dat jy en jou kinders stry? Probeer sien of jy onwetend olie op die vuur gooi. Kyk byvoorbeeld na die scenario aan die begin van Hoofstuk 2 op bladsy 15 van hierdie boek. Kan jy van die dinge identifiseer wat Rachel se ma gedoen het wat tot die stryery bygedra het? Hoe kan jy voorkom dat jy en jou tiener stry? Probeer die volgende:
● Vermy veralgemenings, soos “Jy is altyd . . . ” of “Jy is nooit . . . ” Sulke stellings lok net ’n verdedigende reaksie uit. Wat meer is, dit is waarskynlik oordrywings, en jou kind weet dit. Jou kind weet dalk ook dat veralgemenings eerder te doen het met jou woede as met sy of haar onverantwoordelikheid.
● Moenie taktlose stellings maak wat met die woord “jy” begin nie, maar sê eerder hoe jou kind se gedrag jou laat voel. Byvoorbeeld: “Ek voel . . . wanneer jy . . . ” Hetsy jy dit glo of nie, diep in jou tiener se hart is jou gevoelens vir hom of haar belangrik. As jy vir jou tiener sê hoe iets jou raak, sal jy baie makliker sy of haar samewerking kry.a
● Ongeag hoe moeilik dit is, beheers jouself totdat jy afgekoel het (Spreuke 29:22). As die stryery oor takies by die huis gaan, bespreek dit met jou kind. Skryf neer presies wat jy van hom of haar verwag, en sit duidelik uiteen, indien nodig, wat die gevolge sal wees as hy of sy dit nie doen nie. Luister geduldig na jou kind se beskouing, al voel jy dat hy of sy verkeerd is. Die meeste tieners reageer beter op ’n horende oor as op ’n preek.
● Moenie oorhaastig tot die slotsom kom dat ’n opstandige gees in jou tiener posgevat het nie; besef eerder dat baie van wat jy in jou kind sien, deel is van sy of haar natuurlike ontwikkeling. Jou kind sal dalk oor ’n punt stry net om te bewys dat hy of sy grootword. Weerstaan die drang om in ’n stryery gewikkel te raak. Onthou dat die manier waarop jy reageer wanneer jy uitgelok word, vir jou tiener ’n les leer. As jy ’n goeie voorbeeld stel wat geduld en lankmoedigheid betref, sal jou seun of dogter jou waarskynlik navolg.—Galasiërs 5:22, 23.
SIEN DEEL 1, HOOFSTUK 2, EN DEEL 2, HOOFSTUK 24
Hoeveel moet my kinders van my verlede weet?
Stel jou voor jy geniet ’n ete saam met jou man, jou dogter en ’n paar vriende van die gesin. Gedurende die gesprek noem jou vriendin iemand met wie jy ’n verhouding gehad het—en dit toe verbreek het—voordat jy jou man ontmoet het. Jou dogter laat amper haar vurk val. “Het Ma met iemand anders uitgegaan?” sê sy verbaas. Jy het jou dogter nog nooit hiervan vertel nie. Nou wil sy meer weet. Wat gaan jy doen?
Dit is gewoonlik die beste om jou kind se vrae te verwelkom. Wanneer hy of sy vrae vra en na jou antwoorde luister, kommunikeer julle immers—iets wat die meeste ouers graag wil doen.
Hoeveel moet jy jou seun of jou dogter van jou verlede vertel? Dit is te verstane dat jy liewer nie oor inligting sal wil praat waaroor jy verleë voel nie. Maar jou kinders kan daarby baat vind as jy hulle, wanneer gepas, vertel van probleme waarmee jy te kampe gehad het. Hoe so?
Kyk na ’n voorbeeld. Die apostel Paulus het eenkeer oor homself erken: “Wanneer ek wil doen wat reg is, is die slegte by my aanwesig. . . . Ellendige mens wat ek is!” (Romeine 7:21-24). Jehovah God het hierdie woorde geïnspireer, in die Bybel laat opteken en behoue laat bly om ons te bevoordeel. En ons vind beslis hierby baat, want wie van ons kan ons nie met Paulus se eerlike woorde vereenselwig nie?
Dit kan jou kinders eweneens help om beter met jou te identifiseer as hulle van jou goeie keuses en jou foute hoor. Jy het wel in ’n ander tyd grootgeword. Maar hoewel tye verander het, het die menslike natuur nie verander nie; en skriftuurlike beginsels het ook nie (Psalm 119:144). As jy die uitdagings waarvoor jy te staan gekom het—en hoe jy dit oorkom het—met jou tieners bespreek, kan dit hulle help wanneer hulle hulle probleme probeer oplos. “Wanneer jy besef dat jou ouers voor dieselfde soort uitdagings as jy te staan gekom het, laat dit hulle baie mensliker lyk”, sê ’n jong man met die naam Cameron. Hy voeg by: “Wanneer jy weer met ’n probleem worstel, wonder jy of jou ouers dalk ook hiermee gesukkel het.”
’n Woordjie van waarskuwing: Nie alle ondervindinge hoef noodwendig met raad af te sluit nie. Jy is dalk wel bekommerd dat jou tiener die verkeerde gevolgtrekking sal maak of selfs geregverdig sal voel om soortgelyke foute te maak. Maar pleks van ’n opsomming te gee van wat jy wil hê jou kind uit die bespreking moet leer (“Dis waarom jy nooit moet . . . ”), kan jy kortliks sê hoe jy voel. (“As ek nou terugdink, wens ek dat ek nie dit of dat gedoen het nie, want . . . ”) Sodoende kan jou seun of dogter ’n waardevolle les uit jou ondervinding leer sonder om te voel dat daar vir hom of haar gepreek is.—Efesiërs 6:4.
SIEN DEEL 1, HOOFSTUK 1
Wat kan ek doen om my kind te kry om met my te praat?
Toe jou kinders klein was, het hulle waarskynlik met jou oor alles gepraat. Wanneer jy hulle ’n vraag gevra het, het hulle geantwoord sonder om te huiwer. Trouens, dikwels was dit nie eers vir jou nodig om vrae te vra nie; inligting het net vanself uitgeborrel. Maar om jou tieners te kry om met jou te praat, lyk dalk vir jou net so onmoontlik soos om water uit ’n droë put te probeer skep. ‘Hulle praat met hulle vriende’, sê jy vir jouself. ‘Waarom praat hulle nie met my nie?’
Die feit dat jou tieners nie geredelik met jou praat nie, moet jou nie tot die slotsom laat kom dat hulle jou verwerp het of nie wil hê dat jy by hulle lewe betrokke moet wees nie. Om die waarheid te sê, hulle het jou nou meer as ooit tevore nodig. En die goeie nuus is: Navorsing toon dat die meeste tieners hulle ouers se raad nog steeds waardeer—selfs meer as die raad van hulle portuurs of die media.
Waarom huiwer tieners dan om met hulle ouers te praat? Kyk na wat party jongmense hieroor sê. Vra jou dan die bygaande vrae af en slaan die teksverwysings na.
“Dis vir my moeilik om met my pa te praat omdat hy so besig is, by die werk sowel as in die gemeente. Dis asof daar nooit regtig ’n goeie tyd is om met hom te praat nie.”—Andrew.
‘Stuur ek onwetend die boodskap uit dat ek te besig is om met my tieners te praat? Indien wel, hoe kan ek dit vir hulle makliker maak om my te nader? Wanneer kan ek tyd opsysit sodat ek gereeld met my kinders kan praat?’—Deuteronomium 6:7.
“Ek is in trane na my ma toe omdat ek met iemand by die skool gestry het. Ek wou hê dat sy my moet troos, maar in plaas daarvan het sy met my geraas. Van toe af het ek nooit weer oor enigiets belangriks met haar gaan praat nie.”—Kenji.
‘Hoe reageer ek wanneer my kinders met ’n probleem na my toe kom? Kan ek, selfs as teregwysing nodig is, leer om eers met empatie te luister voordat ek raad gee?’—Jakobus 1:19.
“Dit lyk asof ouers elke keer wanneer hulle sê dat ons maar kan praat en dat hulle nie kwaad sal word nie, nogtans ontsteld raak. Dan voel ’n tiener verraai.”—Rachel.
‘Hoe kan ek my eerste reaksie beheer as my kind my iets ontstellends vertel?’—Spreuke 10:19.
“Wanneer ek my ma dinge vertel het wat baie privaat is, het sy dit dikwels vir haar vriendinne gaan vertel. Ek het haar baie lank nie vertrou nie.”—Chantelle.
‘Respekteer ek my kind se gevoelens deur nie private sake waarvan hy of sy my vertel het, met ander te bespreek nie?’—Spreuke 25:9.
“Daar is baie dinge waaroor ek met my ouers wil praat. Ek het net hulle hulp nodig om die gesprek te begin.”—Courtney.
‘Kan ek die inisiatief neem om met my tiener te praat? Watter tye is die beste om te gesels?’—Prediker 3:7.
As jy goeie kommunikasie tussen jou en jou kind probeer bevorder, sal dit jou grootliks help om ’n suksesvolle ouer te wees. Kyk na die ondervinding van die 17-jarige Joenko in Japan. “Eenkeer”, sê sy, “het ek teenoor my ma erken dat ek meer op my gemak voel by my skoolmaats as by mede-Christene. Die volgende dag was daar ’n brief van my ma op my lessenaar. In die brief het sy my vertel hoe sy ook gesukkel het om vriende onder medegelowiges te vind. Sy het my herinner aan persone in die Bybel wat God gedien het selfs toe hulle niemand gehad het om hulle aan te moedig nie. Sy het my ook geprys vir die poging wat ek aangewend het om heilsame vriende te vind. Ek was verbaas om uit te vind dat ek nie die enigste een was wat hierdie probleem gehad het nie. My ma het dieselfde probleem gehad, en ek was so bly om dit te hoor dat ek gehuil het. Wat my ma my vertel het, het my baie aangemoedig en my die krag gegee om te doen wat reg is.”
Soos Joenko se ma uitgevind het, sal tieners gewoonlik openlik met hulle ouers praat as hulle seker is dat hulle ouers nie met hulle gedagtes en gevoelens sal spot of dit sal kritiseer nie. Maar wat kan jy doen as dit lyk of jou tiener geïrriteerd of selfs kwaad is wanneer hy of sy met jou praat? Weerstaan die drang om op dieselfde manier te reageer (Romeine 12:21; 1 Petrus 2:23). Ongeag hoe moeilik dit is, wys jou tiener eerder deur jou voorbeeld watter soort spraak en gedrag jy van hom of haar verwag.
Onthou: Tieners is in ’n oorgangstadium terwyl hulle tot volwassenheid groei. Deskundiges het gevind dat adolessente gewoonlik wispelturig is wanneer hulle in hierdie stadium is—soms tree hulle meer soos volwassenes op en soms tree hulle meer soos kinders op. Wat kan jy doen as jy hierdie wispelturigheid in jou tiener sien—veral wanneer hy of sy soos ’n jonger kind optree?
Weerstaan die drang om jou tiener skerp te kritiseer of om by ’n kinderagtige argument betrokke te raak. Probeer eerder met jou tiener redeneer asof hy of sy ’n “leerlingvolwassene” is (1 Korintiërs 13:11). As jou tiener se kinderagtige sy byvoorbeeld na vore kom en hy of sy vra: “Hoekom karring julle heeltyd aan my?” sal jy dalk in die versoeking kom om in woede te reageer. Maar as jy dit doen, sal jy nie in beheer van die gesprek bly nie, en jy sal waarskynlik by ’n stryery betrokke raak. Dalk kan jy net sê: “Dit klink asof jy regtig kwaad is. Miskien kan ons later hieroor praat, wanneer jy nie so ontsteld is nie.” Op hierdie manier bly jy in beheer en skep jy ’n atmosfeer wat ’n gesprek eerder as ’n argument bevorder.
SIEN DEEL 1, HOOFSTUKKE 1 EN 2
REËLS
Moet ek vir my kind ’n inkomtyd vasstel?
Om jou te help om hierdie vraag te beantwoord, kan jy jou in die volgende situasie voorstel: Dit is ’n halfuur ná jou seun se inkomtyd, en jy hoor hoe die voordeur saggies oopgemaak word. ‘Hy hoop ek het al gaan slaap’, dink jy. Natuurlik het jy nie. Trouens, jy sit al naby die deur vandat jou seun veronderstel was om huis toe te kom. Die deur is nou heeltemal oop, en jou seun sien jou. Wat gaan jy sê? Wat gaan jy doen?
Jy het ’n keuse. Jy kan die saak ligtelik opneem. ‘’n Seun bly maar ’n seun’, sê jy dalk vir jouself. Of jy kan na die ander uiterste toe oorgaan en sê: “Jy is vir die res van jou lewe gehok!” Voordat jy impulsief optree, moet jy eers luister, ingeval daar ’n geldige rede is waarom hy laat is. Dan kan jy die situasie as ’n kragtige onderrigmiddel gebruik. Hoe?
Wenk: Sê vir jou kind dat julle die volgende dag oor die saak sal praat. Dan moet julle die saak op ’n gepaste tyd verder bespreek. Party ouers het die volgende probeer: As hulle seun of dogter ná die vasgestelde tyd by die huis kom, sal die inkomtyd die volgende keer ’n halfuur vroeër wees. Maar as die seun of dogter gereeld betyds by die huis kom en ’n rekord van betroubare gedrag opgebou het, kan jy dit oorweeg om hom of haar, binne die perke van redelikheid, meer vryheid te gee—dalk selfs deur die inkomtyd nou en dan later te maak. Dit is belangrik dat jou kind duidelik verstaan hoe laat hy of sy by die huis moet wees en wat die straf sal wees as die inkomtyd verontagsaam word. As die reël dan oortree word, moet jy die straf toepas.
Maar let op dat die Bybel sê: “Laat julle redelikheid . . . bekend word” (Filippense 4:5). Voordat jy ’n inkomtyd vasstel, kan jy die saak dus met jou kind bespreek en hom of haar vra om ’n tyd voor te stel en redes vir hierdie voorkeur te gee. Wees bereid om hierdie voorstel te oorweeg. As jou kind getoon het dat hy of sy verantwoordelik is, sal jy dalk die voorstel kan aanvaar as dit redelik is.
Stiptelikheid is deel van die lewe. Die doel van ’n inkomtyd is dus nie net om jou kind van die straat af te hou nie. Die doel is om jou kind ’n vaardigheid te leer wat hom of haar tot voordeel sal strek lank nadat hy of sy die huis verlaat het.—Spreuke 22:6.
SIEN DEEL 1, HOOFSTUK 3, EN DEEL 2, HOOFSTUK 22
Hoe kan ek konflik oor kleredrag met my kinders hanteer?
Kyk na die scenario op bladsy 77 van hierdie boek. Stel jou voor dat Heather jou dogter is. Jy kan nie anders as om haar skrapse klere op te merk nie—’n bietjie te kaal, na jou mening. Jy reageer onmiddellik. “Gaan terug kamer toe en trek iets anders aan, juffroutjie, of jy gaan nêrens nie!” So ’n reaksie sal heel moontlik resultate oplewer. Jou dogter het immers geen ander keuse as om te luister nie. Maar hoe leer jy haar om nie net ander klere aan te trek nie, maar ook haar denkwyse te verander?
● Eerstens moet jy onthou: Die gevolge van onbeskeidenheid moet net so belangrik of selfs belangriker wees vir jou tiener as vir jou. In haar hart wil jou tiener nie belaglik lyk of ongewenste aandag trek nie. Verduidelik geduldig waarom onbeskeie style in werklikheid nie vleiend is nie.b Stel alternatiewe voor.
● Tweedens moet jy redelik wees. Vra jou af: ‘Is die styl van hierdie kledingstuk in stryd met ’n Bybelbeginsel of is dit net ’n kwessie van persoonlike smaak?’ (2 Korintiërs 1:24; 1 Timoteus 2:9, 10). Kan jy ’n toegewing maak as dit net ’n kwessie van smaak is?
● Derdens moet jy nie net vir jou tiener sê watter style nie aanvaarbaar is nie. Help hom of haar om klere te vind wat wel gepas is. Gebruik gerus die werkblaaie op bladsye 82 en 83 van hierdie boek om jou te help om met jou kind te redeneer. Dit sal beslis die tyd en die moeite werd wees!
SIEN DEEL 1, HOOFSTUK 11
Moet ek my kind toelaat om elektroniese speletjies te speel?
Elektroniese speletjies het ’n lang pad gekom sedert jy ’n tiener was. Hoe kan jy as ’n ouer jou kind help om die moontlike gevare raak te sien en dit te vermy?
Jy sal nie veel bereik as jy die hele bedryf veroordeel of dogmaties sê dat elektroniese speletjies ’n absolute mors van tyd is nie. Onthou, nie alle speletjies is sleg nie. Maar dit kan verslawend wees. Kyk dus hoeveel tyd jou kind aan hierdie speletjies bestee. Kyk ook na die soort speletjies waarin jou kind belangstel. Jy kan selfs vir jou kind vrae soos die volgende vra:
● Watter speletjie is die gewildste onder jou klasmaats?
● Wat gebeur in die speletjie?
● Hoekom dink jy is die speletjie so gewild?
Jy sal moontlik vind dat jou kind meer omtrent elektroniese speletjies weet as wat jy gedink het! Dalk het hy of sy selfs al speletjies gespeel wat na jou mening onaanvaarbaar is. As dit die geval is, moenie oorreageer nie. Jy kan van die geleentheid gebruik maak om jou kind te help om waarnemingsvermoëns te ontwikkel.—Hebreërs 5:14.
Vra vrae wat jou kind sal help om te bepaal waarom hy of sy deur sulke onaanvaarbare speletjies aangetrek word. Jy kan byvoorbeeld die volgende vraag vra:
● Voel jy uitgesluit omdat jy nie daardie spesifieke speletjie mag speel nie?
Party jongmense speel dalk ’n sekere speletjie sodat hulle iets sal hê waaroor hulle met hulle skoolmaats kan praat. As dit met jou kind die geval is, sal jy die situasie waarskynlik anders hanteer as wat jy sou as jou kind aangetrek word deur speletjies wat gruwelike geweld bevat of ’n seksuele ondertoon het.—Kolossense 4:6.
Maar sê nou jou kind is wel aangetrokke tot die negatiewe elemente van ’n speletjie? Sommige jongmense sê dalk gou dat gewelddadige rekenaarspeletjies geen uitwerking op hulle het nie. ‘Net omdat ek dit op die rekenaar doen, beteken nie dat ek dit in die werklike lewe sal doen nie’, redeneer hulle. As jou kind so voel, moet jy sy of haar aandag vestig op Psalm 11:5. Soos die bewoording van die teks duidelik toon, keur God dit nie net af as iemand gewelddadig is nie, maar ook as hy geweld liefhet. Dieselfde beginsel is van toepassing op onsedelikheid of enige ander euwel wat deur God se Woord veroordeel word.—Psalm 97:10.
As elektroniese speletjies vir jou kind ’n probleem is, kan jy die volgende probeer:
● Moenie toelaat dat elektroniese speletjies in ’n afgesonderde plek, soos ’n slaapkamer, gespeel word nie.
● Lê basiese reëls neer—byvoorbeeld, geen speletjies voordat hy sy huiswerk gedoen het of aandete geëet het of die een of ander noodsaaklike aktiwiteit afgehandel het nie.
● Beklemtoon die waarde van bedrywighede wat fisiese inspanning verg.
● Kyk hoe jou kinders elektroniese speletjies speel—of, nog beter, speel soms saam met hulle.
Om vir jou kinders leiding te voorsien in verband met vermaak, moet jy natuurlik vrymoedigheid van spraak hê. Vra jou dus af: ‘Na watter soort TV-programme en rolprente kyk ek?’ Wees verseker—as jy ’n dubbele standaard het, sal jou kinders dit weet!
SIEN DEEL 2, HOOFSTUK 30
Sê nou my kind is verslaaf aan sy selfoon, die rekenaar of aan ander elektroniese toestelle?
Bestee jou tiener te veel tyd op die Internet, stuur en ontvang hy te veel SMS’e of het hy ’n beter verhouding met sy MP3-speler as met jou? Wat kan jy doen as dit die geval is?
Jy kan die toestel eenvoudig van jou kind wegneem. Maar moenie alle elektroniese toestelle as sleg beskou nie. Onthou, jy gebruik waarskynlik die een of ander elektroniese toestel wat jou ouers nie gehad het nie. Pleks van jou tiener se toestel net weg te neem—tensy daar goeie rede is om dit te doen—kan jy die geleentheid dalk eerder gebruik om jou seun of dogter op te lei om elektroniese toestelle op ’n verstandige en gebalanseerde wyse te gebruik. Hoe kan jy dit doen?
Gaan sit en bespreek die saak met jou tiener. Sê waaroor jy besorg is. Luister dan na jou tiener se mening (Spreuke 18:13). Werk daarna praktiese oplossings uit. Moenie bang wees om besliste beperkings te stel nie, maar wees redelik. “Toe ek behep geraak het met SMS’e”, sê ’n tiener met die naam Ellen, “het my ouers nie my selfoon weggeneem nie, maar hulle het wel riglyne neergelê. Die manier waarop hulle dit hanteer het, het my gehelp om gebalanseerd te wees wat SMS’e betref, selfs wanneer my ouers nie daar is om my te monitor nie.”
Sê nou jou seun of dogter het ’n verdedigende houding? Moenie tot die slotsom kom dat jou raad op dowe ore geval het nie. Wees eerder geduldig en gee jou tiener tyd om oor die saak na te dink. Hy of sy stem heel waarskynlik reeds met jou saam en sal die nodige veranderinge maak. Baie jongmense reageer dalk soos ’n tiener met die naam Hailey, wat sê: “Ek was eers kwaad toe my ouers vir my gesê het dat ek aan my rekenaar verslaaf is. Maar hoe meer ek later daaroor nagedink het, hoe meer het ek besef dat hulle reg is.”
SIEN DEEL 1, HOOFSTUK 36
ONAFHANKLIKHEID
Hoeveel onafhanklikheid moet ek my kind gee?
Dit is ’n saak wat blykbaar al hoe ingewikkelder word wanneer jy die kwessie van privaatheid moet oorweeg. Byvoorbeeld, sê nou jou seun is in sy kamer en die deur is toe? Moet jy inbars sonder om te klop? Of sê nou jou dogter het haar selfoon by die huis gelos in haar haas om by die skool te kom? Moet jy skelmpies na haar SMS’e kyk?
Dit is nie maklike vrae om te beantwoord nie. Aan die een kant het jy as ’n ouer die reg om te weet wat in jou adolessent se lewe aangaan en ’n verpligting om hom of haar te beskerm. Aan die ander kant kan jy nie vir ewig ’n ‘helikopter-ouer’ wees, wat agterdogtig oor jou kind hang en elke beweging monitor nie. Hoe kan jy ’n balans handhaaf?
Eerstens moet jy besef dat ’n adolessent se begeerte na privaatheid nie altyd moeilikheid beteken nie. Dit is dikwels ’n normale deel van grootword. Privaatheid help adolessente ‘om hulle vlerke te toets’ wanneer hulle hulle eie vriendskappe smee en hulle “denkvermoë” gebruik om hulle probleme te probeer oplos (Romeine 12:1, 2). Privaatheid help adolessente om onderskeidingsvermoë te ontwikkel—’n noodsaaklike eienskap om later verantwoordelike volwassenes te wees. Dit gee hulle ook die geleentheid om na te dink voordat hulle besluite maak of moeilike vrae beantwoord.—Spreuke 15:28.
Tweedens moet jy besef dat dit tot gegriefdheid en opstandigheid kan lei as jy jou adolessent se lewe probeer mikrobestuur (Efesiërs 6:4; Kolossense 3:21). Beteken dit dat jy hom of haar heeltemal moet uitlos? Nee, want jy is nog steeds die ouer. Die doel is egter om jou kind te help om ’n opgeleide gewete te verkry (Deuteronomium 6:6, 7; Spreuke 22:6). Op die ou end is dit doeltreffender om leiding te voorsien as om jou kind gedurig dop te hou.
Derdens moet jy die saak met jou adolessent bespreek. Luister na wat hy of sy op die hart het. Is daar dalk tye wanneer jy toegeeflik kan wees? Sê vir jou adolessent dat jy hom of haar ’n mate van privaatheid sal gee, solank hy of sy nie jou vertroue skend nie. Sit die gevolge van ongehoorsaamheid uiteen, en pas die dissipline toe indien nodig. Wees verseker dat jy jou adolessent ’n bietjie privaatheid kan gee sonder om jou rol as ’n liefdevolle ouer prys te gee.
SIEN DEEL 1, HOOFSTUKKE 3 EN 15
Wanneer moet my kind skool verlaat?
“My onderwysers is vervelig!” “Ek kry te veel huiswerk!” “Dis ’n stryd net om deur te kom—waarom probeer ek nog?” Sulke frustrasies bring party jongmense in die versoeking om skool te verlaat voordat hulle die nodige vaardighede ontwikkel het om ’n bestaan te maak. Wat kan jy doen as jou seun of dogter skool wil verlaat? Probeer die volgende:
● Ondersoek jou eie gesindheid teenoor opvoeding. Het jy skoolgaan as ’n mors van tyd beskou—’n ‘tronkstraf’ wat jy moes uitdien tot die dag dat jy belangriker doelwitte kon nastreef? Indien wel, het jou gesindheid teenoor leerwerk dalk jou kinders beïnvloed. Die feit is dat ’n afgeronde opvoeding hulle sal help om “praktiese wysheid en denkvermoë” te ontwikkel—eienskappe wat hulle nodig het om hulle doelwitte te bereik.—Spreuke 3:21.
● Voorsien die hulpmiddele. Party kinders wat beter punte kan kry, weet eenvoudig nie hoe om te studeer nie—of hulle het nie die regte omgewing daarvoor nie. ’n Goeie studieplek kan dinge soos ’n netjiese lessenaar met genoeg lig en navorsingshulpe insluit. Jy kan jou kind help om vooruitgang te maak—hetsy sekulêr of geestelik—deur die regte omgewing te voorsien waarin hy oor nuwe gedagtes en idees kan nadink.—Vergelyk 1 Timoteus 4:15.
● Raak betrokke. Beskou onderwysers en voorligters as jou bondgenote, nie jou vyande nie. Ontmoet hulle. Leer hulle name ken. Praat met hulle oor jou kind se doelwitte en die uitdagings waarvoor hy te staan kom. As jou kind sukkel om goeie punte te behaal, moet jy probeer vasstel wat die oorsaak is. Byvoorbeeld, voel jou kind dat ander hom sal afknou as hy goed vaar op skool? Is daar ’n probleem met ’n onderwyser? Wat van die vakke? Die leerplan moet vir jou kind ’n uitdaging wees, maar dit moet hom nie oorweldig nie. ’n Ander moontlikheid: Is daar miskien ’n onderliggende fisiese probleem, soos swak sig of ’n leergestremdheid?
Hoe meer jy by jou kind se opvoeding betrokke is, sekulêr sowel as geestelik, hoe groter is die kans dat jou kind suksesvol sal wees.—Psalm 127:4, 5.
SIEN DEEL 1, HOOFSTUK 19
Hoe sal ek weet wanneer my kind gereed is om die huis te verlaat?
Serena, wat in Hoofstuk 7 van hierdie boek aangehaal is, is bang om die huis te verlaat. Wat is een rede hiervoor? Sy sê: “Selfs wanneer ek iets met my eie geld wil koop, laat my pa my nie toe nie. Hy sê dat dit sy plig is. Daarom maak die idee dat ek my eie rekeninge moet betaal, my bang.” Serena se pa het ongetwyfeld goeie bedoelings, maar dink jy dat hy sy dogter voorberei om haar eie huishouding te behartig?—Spreuke 31:10, 18, 27.
Is jou kinders oorbeskerm en dus swak voorberei om op hulle eie te bly? Hoe kan jy uitvind? Kyk na die volgende vier vaardighede, wat ook in Hoofstuk 7 gemeld word onder die onderhofie “Is ek gereed daarvoor?”—maar beskou dit nou vanuit ’n ouer se perspektief.
Geldsake. Weet jou ouer kinders hoe om ’n belastingopgawe in te vul of wat hulle moet doen om plaaslike belastingwette na te kom? (Romeine 13:7). Weet hulle hoe om krediet op verantwoordelike wyse te gebruik? (Spreuke 22:7). Kan hulle ’n begroting opstel en dan binne hulle vermoë lewe? (Lukas 14:28-30). Het hulle al die vreugde gesmaak om iets te koop met geld wat hulle verdien het? Het hulle al die selfs groter vreugde gesmaak om van hulle tyd en middele te gee om ander te help?—Handelinge 20:35.
Huishoudelike vaardighede. Weet jou dogters en seuns hoe om kos te kook? Het jy hulle geleer hoe om klere te was en te stryk? Kan jou kinders, as hulle ’n motor bestuur, eenvoudige instandhouding doen, soos om ’n smeltdraadjie, die olie of ’n pap wiel te vervang?
Sosiale vaardighede. Tree jy altyd as die skeidsregter op wanneer jou ouer kinders meningsverskille het en besluit jy wat die finale oplossing vir die probleem sal wees? Of het jy jou kinders geleer om ’n vreedsame oplossing vir die probleem te vind en dan vir jou te kom sê wat dit is?—Matteus 5:23-25.
’n Persoonlike geestelike roetine. Sê jy vir jou kinders wat hulle moet glo, of oortuig jy hulle? (2 Timoteus 3:14, 15). Beantwoord jy altyd hulle vrae oor godsdiens- en sedelike kwessies, of leer jy hulle eerder om “denkvermoë” te ontwikkel? (Spreuke 1:4). Sal jy wil hê dat hulle jou voorbeeld moet volg wanneer dit kom by persoonlike Bybelstudie, of sal jy wil hê dat hulle dit beter moet doen?c
Om jou kinders in die bogenoemde vaardighede op te lei, sal ongetwyfeld tyd en heelwat inspanning verg. Maar die belonings sal beslis die moeite werd wees wanneer die bittersoet dag aanbreek om totsiens te sê.
SIEN DEEL 1, HOOFSTUK 7
SEKS EN AFSPRAKE
Moet ek met my kind oor seks praat?
Kinders word deesdae op ’n baie vroeë ouderdom aan die onderwerp van seks blootgestel. Die Bybel het lank gelede voorspel dat “die laaste dae” gekenmerk sou word deur “kritieke tye . . . wat moeilik is om deur te kom”, waarin mense “sonder selfbeheersing” en “liefhebbers van genot eerder as liefhebbers van God” sou wees (2 Timoteus 3:1, 3, 4). Die tendens om los seks te hê, is een van baie aanduidings dat hierdie profesie bewaarheid word.
Die wêreld van vandag is heeltemal anders as die een waarin jy grootgeword het. Maar in sekere opsigte is die probleme dieselfde. Moet dus nie oorweldig of geïntimideer voel deur die slegte invloede waaraan jou kinders blootgestel word nie. Wees eerder vasbeslote om hulle te help om te doen wat die apostel Paulus Christene ongeveer 2 000 jaar gelede aangespoor het om te doen: “Trek die volle wapenrusting van God aan, sodat julle kan vasstaan teen die sette van die Duiwel” (Efesiërs 6:11). Die feit is dat baie jong Christene ’n prysenswaardige stryd voer om te doen wat reg is, ondanks die negatiewe invloede om hulle. Hoe kan jy jou kinders help om dit ook te doen?
Een manier is om ’n bespreking met jou seun of dogter te begin met behulp van party van die hoofstukke in deel 4 van hierdie boek en dele 1 en 7 in Vrae wat jongmense vra—Antwoorde wat werk, Deel 2. Die hoofstukke bevat gedagteprikkelende tekste. Party bespreek werklike voorbeelde van mense wat standpunt ingeneem het vir wat reg is en seëninge ontvang het en van dié wat God se wette geïgnoreer het en die gevolge daarvan gedra het. Ander tekste bevat beginsels wat jou kinders kan help om te besef wat ’n groot voorreg hulle—en jy—het om volgens God se wette te lewe. Beplan gerus om hierdie materiaal binnekort saam met hulle deur te gaan.
SIEN DEEL 1, HOOFSTUKKE 23, 25 EN 32, EN DEEL 2, HOOFSTUKKE 4-6, 28 EN 29
Moet ek my kind toelaat om met iemand uit te gaan?
Julle kinders sal beslis vroeër of later onder druk geplaas word om ’n kêrel of ’n meisie te hê. “Ek hoef nie eens iets te doen nie!” sê Phillip. “Meisies vra my om uit te gaan, en dan dink ek: ‘Wat gaan ek nou doen?’ Dis moeilik om nee te sê, want party van hulle is baie mooi!”
Die beste ding wat julle as ouers kan doen, is om met julle tiener oor verhoudings te gesels. Julle kan Hoofstuk 1 in Deel 2 as die grondslag vir die bespreking gebruik. Vind uit hoe jou seun of dogter voel oor die uitdagings waarvoor hy of sy by die skool en selfs in die Christengemeente te staan kom. Soms kan sulke gesprekke tydens informele geleenthede plaasvind, soos “wanneer jy in jou huis sit en wanneer jy op die pad loop” (Deuteronomium 6:6, 7). Wat die geval ook al is, onthou om “gou [te] wees om te hoor, stadig om te praat”.—Jakobus 1:19.
As julle seun of dogter te kenne gee dat hy of sy in iemand van die teenoorgestelde geslag belangstel, moet julle nie oorreageer nie. “Toe my pa uitvind dat ek ’n kêrel het, was hy baie ontsteld!” sê een tienermeisie. “Hy het my probeer bangpraat deur my allerhande vrae oor die huwelik te vra, soos of ek reg is om te trou—wat ’n mens, as jy jonk is, kan laat voel dat jy juis die verhouding wil voortsit om jou ouers verkeerd te bewys!”
As julle tiener weet dat die onderwerp taboe is, kan iets tragies gebeur—hy of sy kan die verhouding in die geheim voortsit. “Wanneer ouers oorreageer”, sê een meisie, “veroorsaak dit net dat kinders die verhouding nog meer wil wegsteek. Hulle beëindig dit nie. Hulle raak net skelmer.”
Julle sal baie beter resultate verkry deur openlik daaroor te gesels. Brittany, 20, sê: “My ouers het nog altyd baie openlik met my gesels oor verhoudings. Dit is vir hulle belangrik om te weet in wie ek belangstel, en ek dink dis goed! My pa sal met die persoon gesels. As daar iets is waaroor my ouers besorg is, sê hulle vir my. Gewoonlik besluit ek nog voordat ons begin uitgaan dat ek nie belangstel nie.”
Maar nadat jy Hoofstuk 2 in Deel 2 gelees het, wonder jy dalk: ‘Sal my seun of dogter agter my rug met iemand uitgaan?’ Let op wat ’n aantal jongmense gesê het oor waarom party in die versoeking kom om in die geheim met iemand uit te gaan, en dink dan na oor die bygaande vrae.
“Sommige kinders kry min aandag by die huis, en daarom soek hulle die ondersteuning van ’n kêrel of ’n meisie.”—Wendy.
Hoe kan jy as ’n ouer seker maak dat die emosionele behoeftes van jou kinders bevredig word? Kan jy in dié verband verbeter? Indien wel, in watter opsigte?
“Toe ek 14 was, het ’n uitruilstudent my gevra om sy meisie te wees. Ek het ingestem. Ek het gedink dit sou lekker wees as ’n ou sy arms om my sit.”—Diane.
Hoe sou jy hierdie situasie hanteer het as Diane jou dogter was?
“Selfone maak dit maklik om ’n geheime verhouding te hê. Ouers het geen idee wat aangaan nie!”—Annette.
Watter voorsorgmaatreëls kan jy tref wanneer dit kom by jou kinders se gebruik van selfone?
“As ouers nie mooi let op wat hulle kinders doen en saam met wie hulle dit doen nie, is dit baie maklik om in die geheim met iemand uit te gaan.”—Thomas.
Is daar maniere waarop jy in groter mate deel van jou tiener se lewe kan wees, terwyl jy hom of haar nog steeds gepaste vryhede gun?
“Ouers is dikwels nie by die huis wanneer hulle kinders daar is nie. Of hulle is te goedgelowig wanneer hulle hulle kinders toelaat om saam met ander mense uit te gaan.”—Nicholas.
Dink aan jou kind se beste vriend. Weet jy werklik wat hulle doen wanneer hulle saam is?
“As ouers te streng is, sal hulle kinders moontlik in die geheim met iemand uitgaan.”—Paul.
Hoe kan jy ‘jou redelikheid bekend laat word’ sonder om Bybelwette en -beginsels prys te gee?—Filippense 4:5.
“In my vroeë tienerjare het ek ’n swak selfbeeld gehad en na aandag gesmag. Ek het e-posse begin stuur aan ’n seun in ’n nabygeleë gemeente en het verlief geraak. Hy het my spesiaal laat voel.”—Linda.
Kan jy aan heilsamer maniere dink waarop daar by die huis in Linda se behoeftes voorsien kon word?
Gebruik gerus Hoofstuk 2 in Deel 2 sowel as hierdie gedeelte van die Aanhangsel as ’n grondslag vir ’n bespreking met jou seun of dogter. Die beste manier om geheimsinnigheid teë te werk, is hartlike en eerlike kommunikasie.—Spreuke 20:5.
EMOSIONELE KWESSIES
Hoe moet ek reageer as my kind oor selfmoord praat?
In sommige wêrelddele is selfmoord onder jongmense ontstellend algemeen. In die Verenigde State is selfmoord byvoorbeeld die derde grootste doodsoorsaak onder jongmense tussen die ouderdomme van 15 en 25, en gedurende die afgelope twee dekades het die selfmoordsyfer onder dié tussen die ouderdomme van 10 en 14 verdubbel. Diegene wat in die grootste gevaar verkeer, is onder meer jongmense wat aan ’n geestesiekte ly, dié wat ’n familiegeskiedenis van selfmoord het en dié wat al in die verlede selfmoord probeer pleeg het. Waarskuwingstekens dat ’n jongmens dit moontlik oorweeg om sy lewe te neem, sluit die volgende in:
● Hy onttrek hom van sy familie en vriende
● Sy eet- en slaapgewoontes verander
● Hy verloor belangstelling in aktiwiteite wat hy voorheen geniet het
● Hy ondergaan ’n opvallende persoonlikheidsverandering
● Hy misbruik dwelms of alkohol
● Hy gee kosbare besittings weg
● Hy praat oor die dood of is behep met onderwerpe wat daarmee verband hou
Een van die grootste foute wat ’n ouer kan maak, is om sulke waarskuwingstekens te ignoreer. Neem alle gevaartekens ernstig op. Moenie oorhaastig tot die slotsom kom dat jou kind net deur ’n stadium gaan nie.
Jy moet ook nie skaam voel om hulp te kry vir jou seun of dogter as hy of sy aan ernstige depressie of ’n ander geestesiekte ly nie. En as jy vermoed dat jou tiener daaraan dink om ’n einde aan alles te maak, vra hom of haar daaroor uit. Die idee dat dit ’n tiener sal aanmoedig om selfmoord te pleeg as julle bloot daaroor praat, is onwaar. Baie jongmense is verlig wanneer hulle ouers die onderwerp aanroer. As jou tiener dus erken dat hy selfmoordgedagtes het, moet jy uitvind of hy al ’n selfmoordplan uitgewerk het en, indien wel, hoe gedetailleerd die plan is. Hoe meer gedetailleerd die plan is, hoe dringender is dit dat jy ingryp.
Moenie aanneem dat die depressie vanself sal weggaan nie. En as dit lyk asof dit wel weggaan, moet jy nie dink dat die probleem opgelos is nie. Sommige deskundiges sê dat dit die gevaarlikste tyd kan wees. Waarom? Omdat ’n tiener wat ernstige depressie het, dalk nie die energie het om sy selfmoordplan deur te voer nie. Maar wanneer die tiener nie meer so depressief is nie, het hy dalk genoeg energie om dit te doen.
Dit is inderdaad tragies dat sommige jongmense so wanhopig voel dat hulle dit oorweeg om ’n einde aan alles te maak. Deur te let op die tekens en daarop te reageer, kan ouers en ander besorgde volwassenes “vertroostend met die terneergedrukte siele [praat]” en as ’t ware ’n skuilplek vir jongmense wees.—1 Tessalonisense 5:14.
SIEN DEEL 1, HOOFSTUKKE 13 EN 14, EN DEEL 2, HOOFSTUK 26
Moet ek my droefheid vir my kinders wegsteek?
Die verlies van ’n huweliksmaat is ’n pynlike ondervinding. Maar gestel dit het gebeur op ’n tyd dat jou tiener jou hulp nodig het. Hoe kan jy hom help om sy droefheid te verwerk sonder om jou eie te ignoreer?d Probeer die volgende:
● Weerstaan die neiging om jou gevoelens weg te steek. Jou kind het baie van sy waardevolste lesse in die lewe geleer deur te kyk na wat jy doen. Dit is ook hoe hy sal leer hoe om droefheid te verwerk. Moet dus nie voel dat jy vir jou kind sterk moet wees deur al jou droefheid vir hom weg te steek nie. Dit sal jou kind dalk net leer om dieselfde te doen. As jy egter aan jou emosionele pyn uiting gee, leer hy dat dit dikwels beter is om gevoelens uit te druk as om dit te onderdruk en dat dit normaal is as hy hartseer, gefrustreerd of selfs kwaad voel.
● Moedig jou tiener aan om te praat. Sonder om druk op jou tiener te plaas, moet jy hom aanmoedig om te praat oor wat in sy hart is. As dit lyk of hy huiwerig is, kan julle dalk Hoofstuk 16 in hierdie boek saam bespreek. Praat ook oor al die goeie herinneringe wat jy van jou oorlede maat het. Erken hoe moeilik dit vir jou sal wees om met jou lewe voort te gaan. As jou tiener hoor hoe jy jou gevoelens uitdruk, sal dit hom help om te leer hoe hy dit ook kan doen.
● Erken jou beperkings. Dit is te verstane dat jy jou tiener tydens hierdie moeilike tyd volgehoue ondersteuning wil gee. Maar onthou, die verlies van jou geliefde maat het jou lewe heeltemal omvergewerp. Daarom sal jy moontlik ’n tyd lank minder emosionele, verstandelike en fisiese stamina hê (Spreuke 24:10). Gevolglik sal jy dalk ander volwasse familielede en geestelik ryp vriende vir ondersteuning moet vra. Om hulp te vra, is ’n teken van volwassenheid. Spreuke 11:2 sê: “Wysheid is by die beskeidenes.”
Die beste ondersteuning wat jy kan kry, kom van Jehovah God self, wat sy aanbidders belowe: “Ek, Jehovah jou God, gryp jou regterhand vas, ek wat vir jou sê: ‘Moenie bang wees nie. Ek sal jou help.’”—Jesaja 41:13.
SIEN DEEL 1, HOOFSTUK 16
Hoe kan ek my dogter help om ’n gebalanseerde beskouing van diëte te verkry?
Wat kan jy doen as jou dogter aan ’n eetversteuring ly?e Probeer eers verstaan waarom sy hierdie gedrag openbaar.
Daar is bevind dat baie mense met eetversteurings ’n swak selfbeeld het en tot perfeksionisme geneig is, en daarom stel hulle onredelik hoë verwagtinge vir hulleself. Maak seker dat jy nie hiertoe bydra nie. Bou jou dogter op.—1 Tessalonisense 5:11.
Neem jou eie gesindheid teenoor kos en gewig ook goed in oënskou. Het jy dalk onwetend, deur wat jy sê of wat jy doen, te veel klem daarop geplaas? Onthou dat jongmense baie gesteld is op hulle voorkoms. Selfs as iemand net spot oor “babavet” of die feit dat ’n tiener so vinnig opgeskiet het, kan dit skadelike idees in die verstand van ’n beïnvloedbare jongmens saai.
Nadat jy biddend oor die saak nagedink het, moet jy openhartig met jou dogter daaroor gesels. Om jou te help, kan jy die volgende wenke probeer:
● Dink goed na oor wat om te sê en wanneer om dit te sê.
● Spreek jou besorgdheid en jou begeerte om te help, duidelik uit.
● Moenie verbaas wees as haar eerste reaksie verdedigend is nie.
● Luister geduldig.
Bowenal moet jy jou dogter se pogings om te herstel, heelhartig ondersteun. Werk as ’n gesin saam om haar te help herstel!
SIEN DEEL 1, HOOFSTUK 10, EN DEEL 2, HOOFSTUK 7
GEESTELIKHEID
Hoe kan ek voortgaan om my kinders geestelike waardes te leer wanneer hulle adolessensie bereik?
Die Bybel sê dat Timoteus “van kleintyd af” geestelike opleiding ontvang het. As ’n ouer het jy jou kinders waarskynlik dieselfde opleiding gegee (2 Timoteus 3:15). Maar wanneer jou kinders adolessente word, sal jy jou opleidingsmetodes dalk by die nuwe omstandighede moet aanpas. Jou groeiende kinders begin nou komplekse, abstrakte idees verstaan wat hulle nie ten volle kon verstaan toe hulle jonger was nie. Jy sal nou meer as ooit tevore ’n beroep op hulle “denkvermoë” moet doen.—Romeine 12:1.
Toe die apostel Paulus aan Timoteus geskryf het, het hy gepraat van die dinge wat Timoteus “geleer het en oortuig is om te glo” (2 Timoteus 3:14). Jou adolessente sal dalk nou “oortuig” moet word om die Bybelwaarhede te glo wat hulle van kleintyd af geken het. Om hulle hart te bereik, sal jy meer moet doen as om net vir hulle te sê wat om te doen of wat om te glo. Hulle moet hierdie dinge self leer. Hoe kan jy help? Jy kan begin deur hulle baie geleenthede te gee om te redeneer en te praat oor vrae soos die volgende:
● Wat oortuig my dat God bestaan?—Romeine 1:20.
● Hoe weet ek dat die dinge wat my ouers my uit die Bybel leer, die waarheid is?—Handelinge 17:11.
● Wat oortuig my dat dit tot my voordeel is om volgens Bybelstandaarde te lewe?—Jesaja 48:17, 18.
● Hoe weet ek dat Bybelprofesieë vervul sal word?—Josua 23:14.
● Wat oortuig my dat niks in hierdie wêreld kan vergelyk met “die oortreffende waarde van die kennis van Christus Jesus” nie?—Filippense 3:8.
● Wat beteken Christus se losprysoffer vir my?—2 Korintiërs 5:14, 15; Galasiërs 2:20.
Jy huiwer dalk om hierdie vrae met jou adolessente te bespreek omdat jy bang is dat hulle dit nie sal kan beantwoord nie. Maar dit is soos om te huiwer om na jou motor se brandstofmeter te kyk omdat jy bang is jy gaan sien dat die tenk leeg is. As dit wel leeg is, is dit beter dat jy uitvind terwyl jy nog iets daaromtrent kan doen! Net so moet jy jou adolessente nou help—terwyl hulle nog in die huis is—om sake wat met hulle geloof verband hou, te ondersoek sodat hulle “oortuig” kan wees dat wat hulle leer, die waarheid is.f
Onthou dat daar niks daarmee verkeerd is as jou seun of dogter vra: “Waarom glo ek?” nie. Diane, 22, vertel dat sy dit as ’n tiener gedoen het. “Ek wou nie onseker wees oor wat ek glo nie”, sê sy. “Toe ek self duidelike, oortuigende antwoorde gevind het, het ek besef dat ek daarvan hou om een van Jehovah se Getuies te wees! Wanneer iemand my uitgevra het oor iets wat ek geweier het om te doen, het ek nie gesê: ‘Dis teen my godsdiens’ nie, maar eerder gesê: ‘Ek dink nie dis reg nie.’ Met ander woorde, ek het die Bybel se beskouing my beskouing gemaak.”
Wenk: Wanneer ’n probleem opduik, kan jy jou adolessent die rol van ’n ouer laat speel sodat hy of sy kan leer om denkvermoë te gebruik om Bybelstandaarde toe te pas. Byvoorbeeld, sê nou jou dogter vra toestemming om na ’n partytjie te gaan, maar jy (en sy waarskynlik ook) weet dat dit nie raadsaam sal wees nie. Pleks van net nee te sê, kan jy iets sê soos: ‘Ek wil graag hê dat jy jou in my plek moet stel. Dink aan die partytjie waarnatoe jy wil gaan en doen ’n bietjie navorsing (gebruik dalk Hoofstuk 37 van hierdie boek en Hoofstuk 32 van Deel 2). Dan kan ons môre weer daaroor praat. Ek sal jou rol speel en vra om na die partytjie te gaan, en jy kan die rol van die ouer speel en vir my sê of dit ’n goeie idee is of nie.’
SIEN DEEL 1, HOOFSTUK 38, EN DEEL 2, HOOFSTUKKE 34-36
Ons tiener het belangstelling verloor in geestelike dinge. Wat kan ons doen?
In die eerste plek moet jy nie te gou tot die gevolgtrekking kom dat jou tiener jou geloof verwerp het nie. In baie gevalle is daar ’n onderliggende probleem. Byvoorbeeld, jou tiener
● Ondervind dalk portuurdruk en is bang om anders te wees omdat hy of sy Bybelbeginsels volg
● Sien moontlik hoe ander jongmense (selfs sy of haar broers of susters) in Christelike bedrywighede uitblink en voel dat hy of sy dit nooit sal kan doen nie
● Smag miskien na vriendskap, maar voel eensaam of dat hy of sy nie by medegelowiges inpas nie
● Sien dalk hoe ander jong “Christene” ’n dubbele lewe lei
● Probeer moontlik om sy of haar eie identiteit te vorm en voel dus dat hy of sy die waardes moet bevraagteken wat vir jou kosbaar is
● Sien dalk hoe klasmaats openlik verkeerde dinge doen en skynbaar geen slegte gevolge ondervind nie
● Probeer miskien om die goedkeuring van ’n ongelowige ouer te verkry
Let daarop dat hierdie dinge min te doen het met jou geloofsoortuigings. Dit het eerder te doen met omstandighede wat dit—ten minste nou—vir jou kind moeilik maak om sy geloof na te leef. Wat kan jy dus doen om jou tiener aan te moedig?
Wees tegemoetkomend—maar moenie jou beginsels prysgee nie. Probeer uitvind wat jou tiener ontmoedig het, en maak dan aanpassings om ’n beter milieu te skep waarin jou kind geestelik sal kan floreer (Spreuke 16:20). Byvoorbeeld, die “Portuurdrukplan” op bladsye 132 en 133 van Deel 2 kan jou kind die nodige vertroue gee sodat hy of sy portuurdruk by die skool makliker sal kan weerstaan. Of as jou tiener eensaam is, sal jy dalk iets daadwerkliks moet doen om hom of haar te help om goeie vriende te vind.
Kry ’n mentor. Soms help dit jongmense wanneer ’n volwassene buite die gesin hulle aanmoedig. Ken jy iemand met ’n geestelike uitkyk wat vir jou tiener ’n aansporing sal wees? Reël gerus dat hy of sy tyd deurbring saam met jou seun of dogter. Dit beteken nie dat jy jou verantwoordelikheid probeer ontduik nie. Dink ’n bietjie aan Timoteus. Hy het baie by die apostel Paulus se voorbeeld baat gevind, en Paulus het weer baie daarby baat gevind om Timoteus as ’n metgesel te hê.—Filippense 2:20, 22.
Solank jou tiener onder jou dak is, het jy die reg om te verwag dat hy of sy ’n geestelike roetine volg. Maar jou einddoel is om liefde vir God in jou tiener te kweek—sodat hy of sy God uit die hart sal dien, en nie net werktuiglik nie. Om jou tiener te help om die ware godsdiens aan te neem, moet jy ’n navolgenswaardige voorbeeld stel. Wees redelik in wat jy verwag. Kry ’n mentor en voorsien opbouende assosiasie. Miskien sal jou tiener eendag soos die psalmis kan sê: “Jehovah is my groot rots en my vesting en die Een wat aan my ontkoming verskaf.”—Psalm 18:2.
SIEN DEEL 1, HOOFSTUK 39, EN DEEL 2, HOOFSTUKKE 37 EN 38
[Voetnote]
a Moet egter nie skuldgevoelens gebruik om jou tiener te kry om iets te doen nie.
b Jou tiener is waarskynlik baie liggaamsbewus, en daarom moet jy versigtig wees dat jy nie impliseer dat daar iets fout is met sy of haar liggaam nie.
c Sien bladsye 315-318.
d Eenvoudigheidshalwe verwys ons na die kind as ’n seun. Die beginsels wat bespreek word, geld egter vir albei geslagte.
e Eenvoudigheidshalwe verwys ons na die kind as ’n meisie. Die beginsels wat bespreek word, geld egter vir albei geslagte.
f Hoofstuk 36 van Deel 2 kan adolessente help om hulle denkvermoë te gebruik om hulleself te oortuig dat God bestaan.