Hoofstuk 30
‘Die verdediging en wetlike bevestiging van die goeie nuus’
DIE hewige vervolging wat oor Jehovah se Getuies gebring is, het tot gevolg gehad dat hulle in baie wêrelddele voor polisiebeamptes, regters en heersers gesleep is. Daar was derduisende regsake waarby die Getuies betrokke was, en daar is in honderde van hulle na hoër howe appèl aangeteken. Dit het ’n wesenlike uitwerking op die wet self gehad en het dikwels die wetlike waarborge van basiese vryheid vir die mens oor die algemeen bevestig. Maar dit was nie die vernaamste oogmerk van Jehovah se Getuies nie.
Hulle grootste begeerte is om die goeie nuus van die Koninkryk van God te verkondig. Wanneer hulle regstappe doen, is dit nie omdat hulle maatskaplike opstokers of hervormers van die wet is nie. Hulle doel is om ‘die goeie nuus te verdedig en wetlik te bevestig’, net soos die apostel Paulus dit gedoen het (Filip. 1:7, NW). Verhore voor regeringsamptenare, op versoek van die Getuies of omdat hulle weens hulle Christelike bedrywighede in hegtenis geneem is, word ook beskou as ’n geleentheid om ’n getuienis te gee. Jesus Christus het vir sy volgelinge gesê: “[Julle sal] voor goewerneurs en konings . . . gebring word om My ontwil tot ’n getuienis vir hulle en vir die heidene.”—Matt. 10:18.
’n Internasionale vloed van regstappe
Lank voor die Eerste Wêreldoorlog het die geestelikes probeer verhinder dat die Bybelstudente lektuur in hulle gebiede versprei deur druk op die plaaslike amptenare uit te oefen. Ná die Eerste Wêreldoorlog het die teëstand egter toegeneem. In die een land na die ander is elke denkbare wetlike struikelblok voor diegene gestel wat probeer het om gehoorsaam te wees aan Christus se profetiese bevel om die goeie nuus van God se Koninkryk te verkondig met die doel om ’n getuienis te lewer.—Matt. 24:14.
Aangespoor deur die bewys dat Bybelprofesieë vervul word, het die Bybelstudente in 1922 van hulle byeenkoms in Cedar Point, Ohio, weggegaan, vasbeslote om die wêreld in kennis te stel dat die Heidense Tye verstryk en dat die Here sy groot mag aangeneem en as Koning uit die hemel regeer het. Hulle leuse was: “Adverteer, adverteer, adverteer die Koning en sy koninkryk.” In daardie selfde jaar het die geestelikes in Duitsland die polisie aangehits om party van die Bybelstudente in hegtenis te neem wanneer hulle hulle Bybellektuur versprei. Dit was nie ’n geïsoleerde geval nie. Teen 1926 was daar 897 van hierdie sake hangende in die Duitse howe. Daar was soveel hofsake dat die Wagtoringgenootskap in 1926 ’n regsafdeling in hulle takkantoor in Maagdenburg moes stig. Gedurende 1928 was daar in Duitsland alleen 1 660 aksies teen die Bybelstudente ingestel, en die druk het jaar na jaar toegeneem. Die geestelikes was vasbeslote om die werk van die Bybelstudente stop te sit, en hulle het hulle daarin verheug as enige hofbeslissing getoon het dat hulle ’n mate van sukses behaal het.
In die Verenigde State is Bybelstudente in 1928 in South Amboy, New Jersey, in hegtenis geneem omdat hulle van huis tot huis gepreek het. Binne ’n dekade was daar in die Verenigde State jaarliks meer as 500 inhegtenisnemings in verband met hulle bediening. Gedurende 1936 het dit skerp gestyg—tot 1 149. Om die nodige regshulp te gee, was dit nodig om ook by die Genootskap se hoofkwartier ’n regsafdeling te hê.
Intensiewe predikingsbedrywighede in Roemenië is insgelyks kwaai teëgestaan deur die owerhede wat destyds aan bewind was. Jehovah se Getuies wat Bybellektuur versprei het, is dikwels in hegtenis geneem en wreed geslaan. Van 1933 tot 1939 was die Getuies in daardie land by 530 hofsake betrokke. Die landswet het egter vryheid gewaarborg, en appèlsake in die Roemeense Hoër Hof het talle gunstige beslissings tot gevolg gehad. Toe die polisie dit begin besef, het hulle lektuur gekonfiskeer en die Getuies mishandel, maar hofsake probeer vermy. Ná die Genootskap uiteindelik in Roemenië toegelaat is om as ’n korporasie te registreer, het teenstanders die doel van hierdie wetlike registrasie probeer verydel deur ’n hofbevel te kry wat die verspreiding van Wagtoringlektuur verbied het. Hierdie beslissing is deur ’n hoër hof kragteloos gemaak, maar daarna het die geestelikes die Minister van Godsdiens oorreed om stappe te doen sodat daardie besluit teëgewerk kon word.
In Italië en Hongarye, soos in Roemenië, het die polisie onder die destydse regerings die Bybellektuur gekonfiskeer wat die Getuies gebruik het. Dieselfde het in Japan, Korea en die Goudkus (nou Ghana) plaasgevind. Jehovah se Getuies wat uit die buiteland gekom het, is beveel om Frankryk te verlaat. Baie jare lank is Jehovah se Getuies glad nie toegelaat om die Sowjetunie binne te gaan om oor God se Koninkryk te preek nie.
Namate die gees van nasionalisme van 1933 tot in die veertigerjare vinnig oor die wêreld posgevat het, het regerings die werk van Jehovah se Getuies in die een land na die ander verbied. Duisende van die Getuies is gedurende hierdie tydperk voor die howe gedaag omdat hulle gewetenshalwe geweier het om die vlag te salueer en hulle op hulle Christelike neutraliteit aangedring het. In 1950 is daar berig dat daar gedurende die vorige 15 jaar in die Verenigde State alleen meer as 10 000 inhegtenisnemings van Jehovah se Getuies was.
Toe meer as 400 Getuies binne ’n kort tydjie gedurende 1946 voor die howe van Griekeland gedaag is, was dit nie die begin van sulke optrede in daardie land nie. Dit het jare lank reeds so aangegaan. Benewens tronkstraf is die broers swaar boetes opgelê wat hulle finansieel uitgeput het. Maar met die oog op hulle omstandighede het hulle gesê: “Die Here het die weg gebaan vir die getuieniswerk om die amptenare van Griekeland te bereik sodat hulle van die oprigting van die koninkryk van geregtigheid kan hoor; ook die regters in die howe het dieselfde geleentheid gehad.” Dit was duidelik dat Jehovah se Getuies die saak beskou het soos Jesus gesê het sy volgelinge dit moet beskou.—Luk. 21:12, 13.
’n Skynbaar onmoontlike stryd
Gedurende die veertiger- en vyftigerjare het die Kanadese provinsie Quebec as ’t ware ’n strydtoneel geword. Mense is daar reeds sedert 1924 in hegtenis geneem omdat hulle die goeie nuus verkondig het. Teen die winter van 1931 is party van die Getuies elke dag, soms twee keer per dag, deur die polisie in hegtenis geneem. Dit het groot regskoste vir die Getuies in Kanada tot gevolg gehad. Vroeg in 1947 het die totale aantal hangende sake in die howe van Quebec waarby die Getuies betrokke was tot 1 300 gestyg; en tog was daar net ’n klein groepie van Jehovah se Getuies daar.
Dit was ’n tydperk toe die Rooms-Katolieke Kerk ’n kragtige invloed was waarmee elke politikus en elke regter in die provinsie moes rekening hou. Die geestelikes in Quebec het gewoonlik hoë aansien geniet, en mense het nie geaarsel om die bevele van die plaaslike priester te gehoorsaam nie. Soos die boek State and Salvation (1989) die situasie beskryf het: “Die kardinaal van Quebec het ’n troon in die Wetgewende Vergadering gehad wat reg langs dié van die luitenant-goewerneur gestaan het. Op die een of ander manier was die grootste deel van Quebec onder direkte kerkbeheer . . . Die doel van die kerk was eintlik om Quebec se politieke lewe in ooreenstemming te bring met die Rooms-Katolieke konsep waarin die waarheid Katolisisme is, dwaling enigiets is wat nie Katoliek is nie en vryheid die reg is om die Rooms-Katolieke waarheid te spreek en uit te lewe.”
Menslik gesproke het teëstand teen die Getuies, nie net in Quebec nie, maar oor die hele wêreld, oorweldigend gelyk.
Elke denkbare soort aanklag
Teenstanders van die Getuies het die wetboeke gefynkam om enige moontlike verskoning te vind om hulle bedrywighede te beëindig. Hulle het die Getuies dikwels aangekla weens smousery sonder ’n lisensie, aangesien hulle beweer het dat die werk handeldrywery was. Aan die ander kant is party pioniers aangekla weens rondlopery omdat daar aangevoer is dat hulle nie in besoldigde diens was nie.
Amptenare in party kantons van Switserland het dekades lank voortdurend probeer om die verspreiding van Bybellektuur deur Jehovah se Getuies as smousery te klassifiseer. Veral die staatsaanklaer in die Franssprekende kanton Vaud was vasbeslote om nie enige besluite ten gunste van die Getuies deur die laer howe van krag te laat bly nie.
In die een plek na die ander is daar vir Jehovah se Getuies gesê dat hulle permitte moes hê om hulle lektuur te versprei of hulle Bybelvergaderinge te hou. Maar was ’n permit werklik nodig? Die Getuies het “Nee!” geantwoord. Op grond waarvan?
Hulle het verduidelik: ‘Jehovah God beveel sy getuies om die evangelie van sy koninkryk te verkondig, en God se bevele is die belangrikste en moet deur sy getuies gehoorsaam word. Geen liggaam op aarde wat wette maak of toepas, kan na regte met Jehovah se wette inmeng nie. Aangesien geen wêreldse regeringsmag die verkondiging van die evangelie tereg kan verbied nie, kan geen wêreldse gesag of mag ’n permit uitreik dat die evangelie verkondig mag word nie. Wêreldse magte het hoegenaamd geen gesag in die saak nie. Om mense toestemming te vra om iets te doen wat God beveel het, sal vir God ’n belediging wees.’
Die aanklagte wat teen die Getuies ingedien is, was dikwels baie duidelik as gevolg van godsdiensvyandigheid. Toe die boekies Hou rekening met die feite en Cure versprei is, is die Genootskap se takopsiener in Nederland in 1939 gedagvaar om in die hof in Haarlem te verskyn op die aanklag dat ’n groep van die Nederlandse bevolking beledig is. Die aanklaer het byvoorbeeld aangevoer dat die Wagtoringlektuur gesê het dat die Rooms-Katolieke hiërargie onder valse voorwendsels geld van die mense gekry het deur te beweer dat die dooies bevry kan word uit ’n plek waar hulle nie is nie—uit die vaevuur, waarvan die bestaan, het die lektuur gesê, nie deur die Kerk bewys kan word nie.
In die getuiebank het die hiërargie se hoofgetuie, “vader” Henri de Greeve, gekla: “My grootste beswaar is dat ’n buitestander die indruk kan kry dat ons, die priesters, net ’n klomp skurke en skelms is.” Toe die Genootskap se takopsiener gevra is om te getuig, het hy die Katolieke Bybel oopgemaak en vir die hof gewys dat wat die boekie oor die Katolieke leringe sê in ooreenstemming met hulle eie Bybel is. Toe die Genootskap se regsverteenwoordiger mnr. De Greeve daarna gevra het of hy die leerstellings oor die helse vuur en die vaevuur kon bewys, het hy geantwoord: “Ek kan dit nie bewys nie; ek glo dit eenvoudig.” Die regter het gou besef dat dit presies is wat die boekie beweer het. Die saak is afgewys, en die priester het woedend uit die hofgebou gestorm!
Ontsteld oor die toenemende bedrywighede van Jehovah se Getuies in die oostelike deel van wat toe Tsjeggo-Slowakye was, het die geestelikes die Getuies wat daar gewoon het van spioenasie aangekla. Die situasie was soortgelyk aan dié wat die apostel Paulus ervaar het toe eerste-eeuse Joodse geestelikes hom van opruiing beskuldig het (Hand. 24:5). Honderde sake is in 1933-34 in die hof verhoor totdat die regering daarvan oortuig was dat daar geen geldige grond vir die beskuldiging was nie. In die dertiger- en veertigerjare is die Getuies in die Kanadese provinsie Quebec ook verhoor op die aanklag van oproerige sameswering. Die geestelikes self—Katolieke sowel as Protestante, maar veral die Rooms-Katolieke—het selfs in die hof teen hulle getuig. Wat het Jehovah se Getuies gedoen? Die geestelikes het aangevoer dat hulle die nasionale eenheid bedreig het deur dinge te publiseer wat afbreuk kan doen aan die beeld van die Rooms-Katolieke Kerk. Die Getuies het egter geantwoord dat hulle in werklikheid lektuur versprei het wat aan nederige mense vertroosting uit God se Woord bring, maar dat dit die geestelikes woedend gemaak het omdat onskriftuurlike leringe en gewoontes aan die kaak gestel is.
Hoe was dit vir Jehovah se Getuies moontlik om voort te gaan ten spyte van sulke voortdurende teëstand? Dit was hulle geloof in God en sy geïnspireerde Woord, hulle onselfsugtige toegewydheid aan Jehovah en sy Koninkryk en die krag wat uit die werking van God se gees voortspruit. Soos die Skrif sê, is “die krag wat bo die normale [is] God s’n en nie uit onsself nie”.—2 Kor. 4:7, NW.
Jehovah se Getuies gaan in die regsarena tot die aanval oor
Dekades voor die Eerste Wêreldoorlog het die Bybelstudente reeds aan ’n omvattende gratis verspreiding van Bybellektuur in strate naby die kerke en van huis tot huis deelgeneem. Maar toe het baie dorpe en stede in die Verenigde State ordonnansies uitgevaardig wat sulke “vrywillige werk” in groot mate beperk het. Wat kon hulle doen?
Die Wagtoring (Engelse uitgawe) van 15 Desember 1919 het verduidelik: “Ons glo dat dit ons plig is om alles in ons vermoë te doen om van die Here se koninkryk te getuig en nie ons hand te verslap omdat ons die deur sien toegaan nie, en met die oog op die feit dat daar so ’n stelselmatige poging teen die vrywillige werk was, is reëlings getref om ’n tydskrif te gebruik, . . . THE GOLDEN AGE.”a
Namate die getuieniswerk van huis tot huis toegeneem het, is pogings egter verskerp om wette toe te pas sodat dit beperk of verbied kon word. Nie alle lande het regsvoorsienings wat dit moontlik maak om die vryheid van minderheidsgroepe ondanks amptelike teëstand te verseker nie. Maar Jehovah se Getuies het geweet dat die Amerikaanse Grondwet godsdiensvryheid, vryheid van spraak en persvryheid waarborg. Wanneer regters dus plaaslike ordonnansies só vertolk het dat die verkondiging van God se Woord daardeur beperk is, het die Getuies geappelleer en hulle sake na hoër howe geneem.b
Hayden C. Covington, wat ’n vername rol in die regsake van die Wagtoringgenootskap gespeel het, het vertel wat destyds gebeur het en gesê: “As daar nie appèl aangeteken is teen die duisende veroordelings wat deur die landdroste, polisiehowe en ander laer howe aangeteken is nie, sou dit ’n berg presedente geskep het wat ’n reusagtige struikelblok op godsdiensgebied sou gewees het. Deur te appelleer, het ons gekeer dat so ’n struikelblok ontstaan. Ons manier van aanbidding is in die landswette van die Verenigde State en ander lande opgeteken omdat ons teen ongunstige besluite geappelleer het.” In die Verenigde State het baie sake tot in die Appèlhof gegaan.
Die waarborge van vryheid word versterk
Een van die eerste sake wat met die bediening van Jehovah se Getuies verband gehou het en wat tot in die Appèlhof van die Verenigde State gegaan het, het in Georgia ontstaan en is op 4 Februarie 1938 in die Hof beredeneer. Alma Lovell is in die landdroshof van Griffin, Georgia, skuldig bevind aan die oortreding van ’n ordonnansie wat die verspreiding van enige soort lektuur sonder ’n permit van die burgemeester verbied het. Suster Lovell het onder andere The Golden Age by mense aangebied. Op 28 Maart 1938 het die Appèlhof van die Verenigde State beslis dat die ordonnansie ongeldig was omdat dit vryheid van spraak aan lisensie en sensuur onderwerp het.c
Die volgende jaar het J. F. Rutherford, as regsverteenwoordiger van die petisionaris, die saak Clara Schneider v. State of New Jerseyd in die Appèlhof bepleit. Dit is in 1940 gevolg deur Cantwell v. State of Connecticute waarvoor J. F. Rutherford die regsopdrag opgestel en Hayden Covington die pleidooi voor die Hof gelewer het. Die positiewe resultate van hierdie sake het die grondwetlike waarborge van godsdiensvryheid, vryheid van spraak en persvryheid gesteun. Maar daar was terugslae.
Ernstige terugslae in die hof
Die vlagsalueringskwessie waarby skoolkinders van Jehovah se Getuies betrokke was, is vir die eerste keer in 1935 na die Amerikaanse howe geneem in die saak Carlton B. Nicholls v. Mayor and School Committee of Lynn (Massachusetts).f Die saak is na die Hoër Regshof van Massachusetts verwys. Die hof het in 1937 beslis dat ongeag wat Carleton Nichols jr. en sy ouers gesê het hulle glo, dit nie nodig is om enige toegewing vir godsdiensoortuigings te doen nie, want volgens die uitspraak “hou die vlagsaluering en eed van trou wat hier ter sprake is op geen gegronde manier met godsdiens verband nie. . . . Dit het geen betrekking op enigiemand se siening van sy Skepper nie. Dit beïnvloed nie sy verhouding met sy Maker nie.” Toe die kwessie van verpligte vlagsaluering in 1937 in die saak Leoles v. Landersg en weer in 1938 in Hering v. State Board of Educationh na die Amerikaanse Appèlhof verwys is, het die Hof hierdie sake afgewys omdat daar, na hulle mening, geen belangrike federale vraagstuk was wat in aanmerking geneem moes word nie. In 1939 het die Hof weer eens ’n appèlsaak oor dieselfde kwessie afgewys, in die saak Gabrielli v. Knickerbocker.i Daardie selfde dag het hulle, sonder om die pleidooi aan te hoor, die ongunstige beslissing van die laer hof in die saak Johnson v. Town of Deerfieldj bevestig.
In 1940 het die Hof uiteindelik die saak met die titel Minersville School District v. Gobitisk volledig aangehoor. ’n Aantal bekende regsverteenwoordigers het regsopdragte aan albei kante van die saak gelewer. J. F. Rutherford het die pleidooi ten behoewe van Walter Gobitas en sy kinders gelewer. ’n Lid van die Harvard-universiteit se regsfakulteit het die Amerikaanse Balievereniging en die Unie vir Burgerlike Vryhede verteenwoordig om te betoog dat verpligte vlagsaluering afgeskaf word. Maar hulle argumente is verwerp, en met net een teenstem het die Appèlhof op 3 Junie beslis dat kinders wat nie die vlag salueer nie uit die openbare skole gesit kan word.
Gedurende die volgende drie jaar het die Appèlhof in 19 sake beslissings teen die Getuies van Jehovah gelewer. Die ongunstige beslissings in 1942 in die saak Jones v. City of Opelikal was sekerlik die merkwaardigste. Rosco Jones is skuldig bevind omdat hy lektuur op straat in Opelika, Alabama, versprei het sonder om lisensiegeld te betaal. Die Appèlhof het die uitspraak gehandhaaf en gesê dat regerings die reg het om redelike bedrae te hef as iemand werwingswerk doen en dat sulke wette nie betwis kan word nie al trek plaaslike owerhede die lisensie na willekeur terug. Dit was ’n ernstige terugslag, want nou kon geestelikes of enigiemand anders wat die Getuies teëgestaan het ’n gemeenskap aanhits om die Getuies wetlik te verbied, en sodoende kon teenstanders dink dat hulle die predikingswerk van Jehovah se Getuies kon stopsit. Maar iets vreemds het gebeur.
Die bordjies word verhang
In Jones v. Opelika, die einste beslissing wat só ’n terugslag vir die openbare bediening van Jehovah se Getuies was, het drie van die regters gesê dat hulle nie net in hierdie saak dit nie met die meerderheid in die Hof eens was nie, maar dat hulle ook van mening was dat hulle in die Gobitis-saak daartoe bygedra het om die grondslag vir hierdie beslissing te lê. “Aangesien ons met die uitspraak in die Gobitis-saak saamgestem het”, het hulle bygevoeg, “dink ons dit is ’n gepaste geleentheid om te sê dat ons nou meen dat dit ook verkeerdelik beslis is.” Jehovah se Getuies het dit as ’n teken beskou om die geskille opnuut in die Hof voor te lê.
’n Mosie van Herbeoordeling is in die saak Jones v. Opelika ingedien. In daardie mosie is kragtige wetlike argumente aangevoer. Dit het ook duidelik verklaar: “Hierdie Hof moet rekening hou met die allerbelangrikste feit in hierdie saak: dat hy geregtelik optree teenoor knegte van die almagtige God.” Bybelse voorbeelde wat die implikasies hiervan toon, is bespreek. Die aandag is gevestig op die raad wat die leraar in die wet, Gamaliël, aan die eerste-eeuse Joodse hooggeregshof gegee het, naamlik: “Bly af van hierdie manne en laat hulle staan; . . . dat dit nie miskien bevind word dat julle selfs teen God stry nie.”—Hand. 5:34-39.
Op 3 Mei 1943, in die keerpuntsaak Murdock v. Commonwealth of Pennsylvania,a het die Appèlhof sy vroeëre uitspraak in Jones v. Opelika ter syde gestel. Die Hof het verklaar dat dit ongrondwetlik is om lisensiegeld te vereis voordat ’n mens jou godsdiensvryheid kan uitoefen deur godsdienslektuur te versprei. Hierdie saak het deure in die Verenigde State weer vir Jehovah se Getuies laat oopgaan, en sedertdien het dit in honderde sake as gesag gedien. Vir Jehovah se Getuies was 3 Mei 1943 inderdaad ’n onvergeetlike dag wat sake voor die Appèlhof van die Verenigde State betref. Op daardie dag het die Hof in 12 van die 13 sake (wat vir verhoor en oordeel in vier beslissings saamgevat is) in hulle guns beslis.b
Ongeveer ’n maand later—op 14 Junie, die volk se jaarlikse Vlagdag—het die Appèlhof weer sy uitspraak ter syde gestel, dié keer met betrekking tot die Gobitis-saak, en dit is gedoen in die saak met die titel West Virginia State Board of Education v. Barnette.c Die Hof het beslis dat “geen amptenaar, hoog of ondergeskik, kan voorskrywe wat ortodoks moet wees in die politiek, nasionalisme, godsdiens of ander sake van mening of burgers kan dwing om deur woord of daad hulle geloof daarin te bely nie”. Baie van die argumente wat in daardie beslissing uiteengesit is, is daarna in Kanada deur die Appèlhof in Ontario gebruik in Donald v. Hamilton Board of Education, ’n beslissing wat die Kanadese Hooggeregshof geweier het om ter syde te stel.
In ooreenstemming met sy beslissing in die Barnette-saak het die Appèlhof van die Verenigde State op dieselfde dag in Taylor v. State of Mississippid beslis dat Jehovah se Getuies nie tereg van opruiing aangekla kan word wanneer hulle verduidelik waarom hulle weier om die vlag te salueer en waarom hulle verkondig dat al die nasies aan die verloorkant is omdat hulle God se Koninkryk teëstaan nie. Hierdie beslissings het ook die weg gebaan vir latere gunstige beslissings in ander howe in sake waarby Getuie-ouers betrokke was wie se kinders geweier het om die vlag in die skool te salueer, sowel as in sake wat sekulêre werk en toesig en beheer oor kinders insluit. Die bordjies is beslis verhang.e
’n Nuwe era van vryheid word in Quebec begin
Jehovah se Getuies het ook in Kanada op godsdiensvryheid aangedring. Van 1944 tot 1946 is honderde Getuies in Quebec in hegtenis geneem wanneer hulle aan hulle openbare bediening deelgeneem het. Die Kanadese wet het vryheid van aanbidding toegelaat, maar oproeriges het vergaderinge ontwrig waar die Bybel bespreek is. Die polisie het voldoen aan die eise van die Katolieke geestelikes dat Jehovah se Getuies gekeer moet word. Landdroste in die plaaslike howe het die Getuies beledig, hoewel geen stappe teen die oproeriges gedoen is nie. Wat kon gedoen word?
Die Genootskap het ’n spesiale byeenkoms op 2 en 3 November 1946 in Montreal gereël. Sprekers het die standpunt van Jehovah se Getuies skriftuurlik en uit die oogpunt van die landswet hersien. Toe is reëlings aangekondig vir ’n veldtog—wat 16 dae sou duur en van kus tot kus sou strek—om die traktaat Quebec’s Burning Hate for God and Christ and Freedom Is the Shame of All Canada in Engels, Frans en Oekraïns te versprei. Dit het ’n volledige verslag bevat van die gepeupelgeweld en ander wandade wat teen Jehovah se Getuies in Quebec gepleeg is. Dit is opgevolg deur ’n tweede traktaat, Quebec, You Have Failed Your People!
Inhegtenisnemings in Quebec het die hoogte ingeskiet. Weens hierdie situasie het die Wagtoringgenootskap se takkantoor in Kanada ’n regsafdeling begin wat verteenwoordigers in Toronto sowel as in Montreal gehad het. Toe die pers gehoor het dat Maurice Duplessis, die premier van Quebec, die restaurant van Frank Roncarelli, een van Jehovah se Getuies, opsetlik in duie laat stort het net omdat hy mede-Getuies van borggeld voorsien het, het die Kanadese publiek luidkeels geprotesteer. Op 2 Maart 1947 het Jehovah se Getuies ’n landwye kampanje van stapel gestuur wat die mense van Kanada genooi het om ’n petisie tot die regering te rig waarin ’n Verklaring van Regte gevra word. Meer as 500 000 handtekeninge is verkry—die grootste petisie wat tot op daardie tyd tot die Kanadese Parlement gerig is! Dit is die volgende jaar opgevolg deur ’n selfs groter petisie om meer krag aan die eerste te verleen.
Intussen het die Genootskap twee toetssake gekies waarin hulle na die Kanadese Hooggeregshof wou appelleer. Die een saak, Aimé Boucher v. His Majesty The King, het gehandel oor die aanklag van opruiing wat herhaaldelik teen die Getuies ingedien is.
Die Boucher-saak het gedraai om die aandeel wat Aimé Boucher, ’n saggeaarde boer, in die verspreiding van die traktaat Quebec’s Burning Hate gehad het. Was hy skuldig aan opruiing omdat hy die gepeupelgeweld teen die Getuies in Quebec, die verontagsaming van die wet deur die amptenare wat met hulle gewerk het en bewyse dat die Katolieke biskop en ander Katolieke geestelikes die aanstigters daarvan was, bekend gemaak het?
Na ’n ontleding van die traktaat wat versprei is, het een van die regters van die Hooggeregshof gesê: “Die dokument se titel was ‘Quebec’s Burning Hate for God and Christ and Freedom Is the Shame of All Canada’; dit het eerstens bestaan uit ’n beroep op mense om die sake ter ondersteuning van die opskrif kalm en redelik te beoordeel; daarna uit algemene verwysings na wraaksugtige vervolging wat in Quebec oor die Getuies as broeders van Christus gekom het; ’n breedvoerige verslag van spesifieke voorvalle van vervolging en ten slotte, ’n versoek aan die mense van die provinsie, in protes teen oorheersing deur die gepeupel en die gestapo-taktieke, om deur ’n studie van God se Woord en in gehoorsaamheid aan sy gebooie ’n ‘oorvloedige oes van die goeie vrugte van liefde vir Hom en Christus en mensevryheid’ teweeg te bring.”
Die beslissing van die Hof het die skuldigbevinding van Aimé Boucher nietig verklaar, maar drie van die vyf regters het bloot ’n nuwe verhoor beveel. Sou dit ’n onpartydige beslissing in die laer howe tot gevolg hê? Die advokaat vir Jehovah se Getuies het aansoek gedoen dat die Hooggeregshof self die saak herverhoor. Dit is verbasend genoeg toegestaan. Terwyl die aansoek hangende was, is die aantal regters in die Hof vermeerder, en een van die oorspronklike regters het van mening verander. Gevolglik is daar in Desember 1950 met 5 stemme teen 4 besluit om broer Boucher heeltemal vry te spreek.
Aanvanklik het die sollisiteur-generaal en die premier (wat ook prokureur-generaal was) van die provinsie Quebec die beslissing teëgestaan, maar die howe het dit stelselmatig begin toepas. Sodoende is die aanklag weens opruiing wat herhaaldelik teen Jehovah se Getuies in Kanada ingedien is met welslae uit die weg geruim.
Daar is in nog ’n toetssaak na die Kanadese Hooggeregshof geappelleer—Laurier Saumur v. The City of Quebec. Hierdie saak het betrekking gehad op die munisipale lisensieregulasies wat tot baie veroordelings in die laer howe gelei het. In die Saumur-saak het die Genootskap ’n permanente interdik teen die stad Quebec probeer verkry om te verhoed dat die owerhede in die verspreiding van godsdienslektuur deur Jehovah se Getuies inmeng. Op 6 Oktober 1953 het die Hooggeregshof sy uitspraak gelewer. Die antwoord was “Ja” vir Jehovah se Getuies, “Nee” vir die provinsie Quebec. Daardie beslissing het ook tot oorwinnings in duisend ander sake gelei waar dieselfde beginsel van godsdiensvryheid die bepalende faktor was. Dit het ’n nuwe era vir die werk van Jehovah se Getuies in Quebec ingelui.
Onderrigting in wetlike regte en regsprosedure
Namate die aantal hofsake in die laat twintigerjare en daarna toegeneem het, het die behoefte ontstaan dat Jehovah se Getuies in regsprosedures opgelei word. Aangesien J. F. Rutherford ’n regsverteenwoordiger was en self by geleentheid as ’n regter gedien het, het hy besef hoe nodig dit is dat die Getuies leiding in hierdie sake moes kry. Veral sedert 1926 het die Getuies die predikingswerk van huis tot huis op Sondae beklemtoon deur boeke te gebruik wat die Bybel verduidelik. Weens die teëstand teen die verspreiding van Bybellektuur op Sondae het broer Rutherford die pamflet Liberty to Preach voorberei om diegene in die Verenigde State te help sodat hulle hulle regte onder die wet sou verstaan. Hy kon egter nie al die regskwessies self behartig nie, en daarom het hy gereël dat ander regsgeleerdes as deel van die Genootskap se hoofkwartierpersoneel dien. Daarbenewens was daar ander, wat regoor die land versprei was, wat hulle noue samewerking gegee het.
Die regsgeleerdes kon nie altyd persoonlik teenwoordig wees as een van die duisende sake oor die predikingswerk van Jehovah se Getuies in die hof verskyn het nie, maar hulle kon waardevolle raad gee. Met dié doel is reëlings getref om al Jehovah se Getuies in basiese regsprosedure op te lei. Dit is in 1932 by spesiale byeenkomste in die Verenigde State gedoen en later op die gereelde Diensvergaderingprogram in die gemeentes. ’n Breedvoerige “Prosedure van verhoor” is in die 1933 Year Book van Jehovah se Getuies (later op ’n aparte vel) gepubliseer. Hierdie riglyne is na gelang van omstandighede aangepas. In die Vertroosting (Engelse uitgawe) van 3 November 1937 is verdere regsadvies gegee oor spesifieke situasies wat ondervind is.
Die Getuies het hierdie inligting gebruik en het gewoonlik hulle eie verdediging in die plaaslike howe behartig, pleks van ’n regsverteenwoordiger te kry. Hulle het gevind dat hulle op dié manier dikwels vir die hof kon getuig en die kwessies ronduit aan die regter kon stel, in plaas dat hulle sake bloot op tegniese punte van die wet beslis word. Wanneer enige saak ongunstig beslis is, is daar gewoonlik geappelleer, hoewel party Getuies eerder tronk toe is as om ’n advokaat te huur wie se diens in ’n appèlhof nodig sou wees.
Namate nuwe situasies ontstaan het en presedente deur beslissings in die howe gestel is, is meer inligting verskaf om die Getuies op hoogte te hou. Daarom is die boekie Advice for Kingdom Publishers in 1939 gedruk om die broers met hofsake te help. Twee jaar later is ’n breedvoeriger bespreking in die boekie Jehovah’s Servants Defended uiteengesit. Dit het 50 verskillende Amerikaanse hofbeslissings waarby Jehovah se Getuies betrokke was, asook talle ander sake, aangehaal of bespreek en verduidelik hoe hierdie regspresedente tot hulle voordeel gebruik kon word. Daarna, in 1943, is ’n eksemplaar van Freedom of Worship aan elke Getuie beskikbaar gestel, en dit is ywerig by die Diensvergadering in die gemeentes bestudeer. Hierdie boekie was nie net ’n waardevolle versameling regsake nie, maar dit het ook in besonderhede die skriftuurlike redes uiteengesit waarom dinge op sekere maniere behartig word. Dit is in 1950 gevolg deur die bygewerkte boekie Defending and Legally Establishing the Good News.
Dit alles was progressiewe regsonderrigting. Die doel was egter nie om regsverteenwoordigers van die Getuies te maak nie, maar om hulle die vryheid te gee om die goeie nuus van God se Koninkryk in die openbaar en van huis tot huis te verkondig.
Soos ’n swerm sprinkane
Wanneer amptenare hulleself as bo die wet verhewe beskou het, het hulle die Getuies soms wreed behandel. Maar ongeag wat hulle teenstanders gedoen het, Jehovah se Getuies het geweet dat God se Woord hulle vermaan: “Moenie julle wreek nie, geliefdes, maar gee plek vir die toorn; want daar is geskrywe: Aan My kom die wraak toe, Ek sal vergeld, spreek die Here” (Rom. 12:19). Hulle het nietemin gevoel dat hulle verplig was om te getuig. Hoe het hulle dit gedoen wanneer hulle voor amptelike teëstand te staan gekom het?
Hoewel die afsonderlike gemeentes van Jehovah se Getuies in die dertigerjare gewoonlik taamlik klein was, was daar ’n sterk band tussen hulle. Wanneer daar ernstige probleme in enige gebied was, was die Getuies van die omliggende gebiede gretig om te help. In 1933 is 12 600 Getuies in die Verenigde State byvoorbeeld in 78 afdelings ingedeel. Wanneer daar gereelde inhegtenisnemings in ’n gebied was of wanneer teenstanders daarin geslaag het om radiostasies te dwing om uitsaaikontrakte vir programme wat deur Jehovah se Getuies voorberei is te kanselleer, is die Genootskap se kantoor in Brooklyn daarvan in kennis gestel. Binne ’n week is versterkings na daardie gebied gestuur om ’n gekonsentreerde getuienis te lewer.
Na gelang van die behoefte het tussen 50 en 1 000 Getuies op ’n vasgestelde tyd bymekaargekom, gewoonlik in die buitewyke van die gebied waarin daar gewerk sou word. Hulle was almal vrywilligers; party het tot 320 kilometer daarvandaan gekom. Afsonderlike groepe is gebied gegee wat dalk binne 30 minute of moontlik binne twee uur gedek kon word. Terwyl elke motor se groepie in hulle toegewese deel begin werk het, het ’n komitee van broers na die polisie gegaan om hulle in kennis te stel van die werk wat gedoen word en om hulle ’n lys te gee van al die Getuies wat daardie oggend in die gemeenskap werk. Die amptenare in die meeste plekke het besef dat hulle eie magte deur die Getuies oorweldig is en het die werk ongehinderd laat voortgaan. In sommige plekke het hulle hulle tronk volgemaak, maar kon daarna niks verder doen nie. Vir diegene wat in hegtenis geneem is, het die Getuies regsverteenwoordigers byderhand gehad om borg te voorsien. Die uitwerking was soos dié van die simboliese swerm sprinkane waarna die Skrif in Joël 2:7-11 en Openbaring 9:1-11 verwys. Op dié manier was dit moontlik om die goeie nuus te bly verkondig selfs ten spyte van hewige vervolging.
Dade van aanmatigende amptenare word aan die kaak gestel
Die Genootskap het dit goedgedink om mense in party gebiede in kennis te stel van wat hulle plaaslike owerheid gedoen het. Toe die howe in Quebec die Getuies aan prosedures onderwerp het wat ’n mens aan die tribunale van die Inkwisisie laat dink het, is ’n brief waarin die feite uiteengesit is aan al die lede van Quebec se wetgewende liggaam gestuur. Toe daar niks van gekom het nie, het die Genootskap ’n afskrif van die brief aan 14 000 sakemanne oor die hele provinsie gestuur. Daarna is die inligting na koerantredakteurs geneem om gepubliseer te word.
In die oostelike Verenigde State is die publiek deur radio-uitsendings daarvan in kennis gestel. In die Brooklynse Bethel het ’n aantal opgeleide toneelspelers, wat ander goed kon naboots, ’n groep gevorm wat as Die Koning se Teater bekend gestaan het. Wanneer Jehovah se Getuies deur aanmatigende amptenare verhoor is, is ’n volledige stenografiese verslag van die hofverrigtinge opgeneem. Die toneelspelers was in die hof teenwoordig sodat hulle goed vertroud kon raak met die stemtoon en manier waarop die polisie, die aanklaer en die regter gepraat het. Ná ’n uitgebreide advertensieveldtog om seker te maak dat hulle baie luisteraars sou hê, het Die Koning se Teater hoftonele merkwaardig getrou opgevoer sodat die publiek presies sou weet hoe hulle amptenare optree. Weens al die publisiteit wat daaraan gegee is, het party van hierdie amptenare mettertyd die sake waarby die Getuies betrokke was versigtiger gehanteer.
Verenigde optrede ondanks Nazi-onderdrukking
Toe die regering van Nazi-Duitsland ’n veldtog op tou gesit het om die bedrywighede van Jehovah se Getuies in Duitsland stop te sit, het die Getuies herhaalde pogings aangewend om hulle standpunt aan die Duitse owerheid te stel. Maar daar was geen verligting nie. Teen die somer van 1933 is hulle werk in die meeste Duitse state verbied. Daarom het Jehovah se Getuies op 25 Junie 1933 ’n verklaring by ’n byeenkoms in Berlyn aangeneem waarin hulle die feite aangaande hulle bediening en die oogmerke daarvan uiteengesit het. Afskrifte is aan al die hooggeplaaste regeringsamptenare gestuur, en miljoene is onder die publiek versprei. In Julie 1933 het die howe bowendien geweier om ’n verhoor vir regstelling toe te staan. Vroeg die volgende jaar het J. F. Rutherford ’n persoonlike brief oor die omstandighede aan Adolf Hitler geskryf, en dit is deur ’n spesiale afgevaardigde aan hom afgelewer. Daarna het die wêreldwye broederskap tot handeling oorgegaan.
Sondagoggend, 7 Oktober 1934, om nege-uur, het elke groep Getuies in Duitsland bymekaargekom. Hulle het Jehovah se leiding en seën gevra. Toe het elke groep ’n brief aan Duitse regeringsamptenare gestuur waarin hulle hulle vasbeslotenheid verklaar het om Jehovah aan te hou dien. Voor hulle uitmekaargegaan het, het hulle die woorde van hulle Here, Jesus Christus, in Mattheüs 10:16-24 bespreek. Daarna het hulle uitgegaan en vir hulle bure aangaande Jehovah en sy Koninkryk onder Christus getuig.
Daardie selfde dag het Jehovah se Getuies regoor die wêreld bymekaargekom, en ná ’n verenigde gebed tot Jehovah het hulle ’n kabelgram gestuur waarin hulle Hitler se regering gewaarsku het: “Jou mishandeling van Jehovah se getuies skok alle goeie mense op aarde en bring oneer op God se naam. Hou op om Jehovah se getuies te vervolg; anders sal God jou en jou nasionale party vernietig.” Maar dit was nie die einde van die saak nie.
Die Gestapo het hulle pogings verskerp om die bedrywighede van Jehovah se Getuies te onderdruk. Ná massa-inhegtenisnemings in 1936 het hulle gedink dat hulle welslae behaal het. Maar toe, op 12 Desember 1936, het ongeveer 3 450 Getuies wat nog vry was in Duitsland die land blitsvinnig met ’n gedrukte resolusie gedek wat Jehovah se voorneme duidelik uiteengesit en verduidelik het hoe vasbeslote Jehovah se Getuies was om God as heerser eerder te gehoorsaam as die mense. Die teenstanders kon nie verstaan hoe so ’n verspreiding moontlik was nie. ’n Paar maande later, toe die Gestapo die aanklagte in die resolusie verkleineer het, het Jehovah se Getuies ’n ope brief saamgestel waarin hulle onomwonde die name genoem het van die Nazi-amptenare wat die Getuies van Jehovah soos besetenes mishandel het. Ook hierdie brief is in 1937 wyd en syd in Duitsland versprei. Sodoende is die dade van goddelose mense voor almal blootgelê. Dit het die publiek ook die geleentheid gegee om te kies watter weg hulle persoonlik met betrekking tot hierdie knegte van die Allerhoogste sou volg.—Vergelyk Mattheüs 25:31-46.
Wêreldwye publisiteit bring ’n bietjie verligting
Daar is ook ander regerings wat Jehovah se Getuies hard behandel het deur hulle vergaderinge en openbare predikingswerk te verbied. In party gevalle het hierdie regerings daartoe bygedra dat die Getuies uit hulle sekulêre werk gedwing en hulle kinders verhinder is om skool te gaan. ’n Aantal regerings het ook van fisiese wreedheid gebruik gemaak. Nogtans het hierdie selfde lande gewoonlik ’n grondwet wat godsdiensvryheid waarborg. Om verligting vir hulle vervolgde broers te bring, het die Wagtoringgenootskap dikwels wêreldwye publisiteit aan die besonderhede van sulke behandeling gegee. Dit word deur middel van Die Wagtoring en die Ontwaak! gedoen, en die pers publiseer soms van hierdie verslae. Derduisende briewe met versoeke namens die Getuies stroom dan van regoor die wêreld in regeringsamptenare se kantore in.
As gevolg van so ’n kampanje in 1937 het die goewerneur van Georgia, in die Verenigde State, binne twee dae sowat 7 000 briewe uit vier lande ontvang, en die burgemeester van La Grange, Georgia, is ook onder duisende briewe toegegooi. Sulke kampanjes is ook namens Jehovah se Getuies gehou in 1978 en 1979 in Argentinië, 1976 in Benin, 1989 in Burundi, 1950 en 1957 in die Dominikaanse Republiek, 1957 in Ethiopië, 1971 in Gaboen, 1963 en 1966 in Griekeland, 1959 in Jordanië, 1970 in Kameroen, 1952 in Maleia, 1968, 1972, 1975 en weer in 1976 in Malawi, 1976 in Mosambiek, 1964 en 1966 in Portugal, 1972 in Singapoer, 1961 en weer in 1962 in Spanje en ook in 1983 in Swaziland.
As ’n onlangse voorbeeld van wat Jehovah se Getuies in alle wêrelddele doen om vir hulle verdrukte broers verligting te bring, kan ’n mens na die omstandighede in Griekeland kyk. Weens die hewige vervolging van Jehovah se Getuies op aanstigting van die Grieks-Ortodokse geestelikes in daardie land het Die Wagtoring en die Ontwaak! (met ’n gesamentlike internasionale oplaag van oor die 22 000 000 eksemplare) in 1986 ’n verslag van die besonderhede van die vervolging bevat. Getuies in ander lande is gevra om namens hulle broers aan amptenare van die Griekse regering te skryf. Hulle het; en soos die Atheense koerant Vradyni berig het, is die Minister van Justisie toegegooi onder ongeveer 200 000 briewe uit meer as 200 lande en in 106 tale.
Die volgende jaar toe ’n saak waarby die Getuies betrokke was in die appèlhof in Hania, Kreta, verhoor is, was verteenwoordigers van Jehovah se Getuies uit sewe ander lande (Duitsland, Engeland, Frankryk, Italië, Japan, Spanje en die Verenigde State) teenwoordig as partye in die saak en ter ondersteuning van hulle Christenbroers. Ná ’n ongunstige beslissing in 1988 in die Hooggeregshof van Griekeland, in nog ’n saak waarby die Getuies betrokke was, het hulle toe na die Europese Kommissie van Menseregte geappelleer. Op 7 Desember 1990 is daar aan 16 regsgeleerdes uit omtrent alle dele van Europa ’n lêer voorgelê met 2 000 inhegtenisnemings en honderde hofsake waarin Jehovah se Getuies in Griekeland gevonnis is omdat hulle oor die Bybel gepraat het. (Van 1938 tot 1992 was daar in werklikheid 19 147 sulke inhegtenisnemings in Griekeland.) Die Kommissie het eenparig besluit dat die saak deur die Europese Hof van Menseregte verhoor moet word.
In party gevalle bring dit ’n mate van verligting as sulke verontagsaming van menseregte aan die kaak gestel word. Maar ongeag watter stappe heersers of regters doen, Jehovah se Getuies gaan voort om God as hulle Opperheerser te gehoorsaam.
Die verkryging van wetlike erkenning
Die magtiging om die ware godsdiens te beoefen, ontstaan beslis nie by enige mens of enige menslike regering nie. Dit kom van Jehovah God self. In baie lande was dit egter vir Jehovah se Getuies voordelig om by die regering as ’n godsdiensvereniging te registreer sodat hulle die beskerming kon kry wat die sekulêre wet hulle bied. Planne om eiendom vir ’n takkantoor te koop of om baie Bybellektuur te druk, is voortgehelp deur plaaslike wetlike korporasies te stig. In ooreenstemming met die presedent wat die apostel Paulus in eertydse Filippi gestel het om ‘die goeie nuus wetlik te bevestig’, doen Jehovah se Getuies gepaste stappe om dit te bewerkstellig.—Filip. 1:7, NW.
Dit was soms baie moeilik. In Oostenryk, waar ’n konkordaat met die Vatikaan verseker dat die Katolieke Kerk geldelike steun van die regering sal ontvang, is die pogings van Jehovah se Getuies byvoorbeeld aanvanklik deur amptenare verwerp wat gesê het: ‘Julle voorneme is om ’n godsdiensorganisasie te stig, en só ’n organisasie kan nie onder Oostenrykse wet gevorm word nie.’ In 1930 kon hulle egter ’n vereniging registreer om Bybels en Bybellektuur te versprei.
In Spanje gaan die 20ste-eeuse bedrywighede van Jehovah se Getuies terug tot die tyd van die Eerste Wêreldoorlog. Maar sedert die vroeë jare van die Inkwisisie in die 15de eeu was die Rooms-Katolieke Kerk en die Spaanse Staat die meeste van die tyd kop in een mus. Veranderinge in die politieke en godsdienstige klimaat het daartoe gelei dat individue ’n ander godsdiens kon beoefen, maar openbare blyke van hulle geloof was verbied. Ondanks hierdie omstandighede het Jehovah se Getuies in 1956 en weer in 1965 wetlike erkenning in Spanje probeer verkry. En tog was dit eers toe die Spaanse Parlement die Godsdiensvryheidswet van 1967 uitgevaardig het dat enige ware vooruitgang moontlik was. Op 10 Julie 1970, toe daar reeds meer as 11 000 Getuies in Spanje was, is wetlike erkenning uiteindelik toegestaan.
In 1948 is daar by die Franse koloniale goewerneur van Dahomey (wat nou as Benin bekend staan) aansoek om wetlike registrasie van die Wagtoringgenootskap gedoen. Maar dit was eers in 1966, ses jaar nadat die land ’n onafhanklike republiek geword het, dat sulke wetlike registrasie toegestaan is. Daardie wetlike erkenning is egter in 1976 herroep en toe in 1990 herstel toe veranderinge in die politieke klimaat en in die amptelike gesindheid ten opsigte van godsdiensvryheid plaasgevind het.
Hoewel Jehovah se Getuies jare lank wetlike erkenning in Kanada geniet het, is teenstanders deur die Tweede Wêreldoorlog ’n verskoning gebied om ’n nuwe goewerneur-generaal te oorreed om die Getuies onwettig te verklaar. Dit is op 4 Julie 1940 gedoen. Twee jaar later, toe die Getuies die geleentheid gebied is om voor ’n verkose komitee van die Laerhuis vertoë te lewer, het daardie komitee ten sterkste aanbeveel dat die verbod op Jehovah se Getuies en hulle wetlike korporasies opgehef word. Maar dit was eers nadat herhaalde en uitgebreide debatte in die Laerhuis gevoer en baie werk gedoen is om handtekeninge in twee landwye petisies bymekaar te maak dat die Minister van Justisie, ’n Rooms-Katoliek, verplig gevoel het om die verbod heeltemal op te hef.
Dit het basiese veranderinge in die sienswyse van regerings in Oos-Europa geverg voordat Jehovah se Getuies wetlike erkenning in daardie land kon verkry. Nadat die Getuies daar dekades lank by regerings om godsdiensvryheid aansoek gedoen het, het hulle uiteindelik in 1989 in Pole en Hongarye wetlike erkenning ontvang, in 1990 in Roemenië en Oos-Duitsland (voor sy vereniging met die Bondsrepubliek Duitsland), in 1991 in Bulgarye en wat destyds die Sowjetunie was en in 1992 in Albanië.
Jehovah se Getuies streef daarna om met die wette van enige nasie saam te werk. Op grond van die Bybel staan hulle respek vir regeringsamptenare ten sterkste voor. Maar wanneer die wette van mense in stryd met duidelik uiteengesette gebooie van God is, antwoord hulle: “Ons moet aan God meer gehoorsaam wees as aan die mense.”—Hand. 5:29.
Wanneer vrees mense die basiese vryhede laat vergeet
Weens die toename in dwelmmisbruik onder baie mense en weens inflasie, wat mans en hulle vrouens dikwels dwing om sekulêre werk te doen, het Jehovah se Getuies in die Verenigde State gevind dat hulle voor nuwe omstandighede in hulle bediening te staan kom. Baie buurte staan amper leeg gedurende die dag en diefstal is iets algemeens. Mense is vreesbevange. In die laat sewentiger- en vroeë tagtigerjare is ’n nuwe vlaag lisensie-ordonnansies in verband met werwingswerk uitgevaardig met die doel om vreemdelinge in gemeenskappe te beheer. Party dorpe het gedreig om Jehovah se Getuies in hegtenis te neem as hulle nie permitte gekry het nie. Maar ’n goeie wetlike grondslag was reeds gelê, en daarom kon hulle die probleme buite die hof probeer skik.
Waar probleme onstaan, kan die plaaslike ouere manne met die dorpsamptenare vergader om ’n oplossing te vind. Jehovah se Getuies weier volstrek om toestemming te vra om werk te doen wat God hulle beveel het, en die Amerikaanse Grondwet, wat deur beslissings in die Appèlhof gesteun word, waarborg godsdiens- en persvryheid wat nie die betaling van geld as voorwaarde het nie. Maar Jehovah se Getuies besef dat mense vreesbevange is, en as dit nodig is, sal hulle instem om die polisie in kennis te stel voor hulle in ’n sekere gebied met hulle getuieniswerk begin. Maar as geen aanvaarbare vergelyk getref kan word nie, sal ’n advokaat van die Genootskap se hoofkwartier met die plaaslike amptenare in aanraking kom om die werk van Jehovah se Getuies aan hulle te verduidelik, asook die grondwetlike aspekte wat hulle reg om te preek steun sowel as hulle vermoë om daardie reg uit te oefen deur federale burgerlike skadevergoedingseise teen die munisipaliteit en sy amptenare in te stel.f
In party lande is dit selfs nodig om hof toe te gaan om die basiese vryhede te herbevestig wat lank reeds as vanselfsprekend aanvaar word. Dit was in 1976 en weer in 1983 die geval in Finland. Om kwansuis die vrede van huisbewoners te bewaar, het talle plaaslike ordonnansies godsdienstige werk wat van huis tot huis gedoen word, verbied. Maar in die hof in Lovisa en in Rauma is die aandag daarop gevestig dat die predikingswerk van huis tot huis ’n deel van Jehovah se Getuies se godsdiens is en dat die regering hierdie metode van evangelisasiewerk goedgekeur het toe hulle die handves van die godsdiensvereniging van Jehovah se Getuies goedgekeur het. Daar is ook getoon dat baie mense die besoeke van die Getuies verwelkom en dat dit ’n beperking van vryheid sal wees as sulke bedrywighede verbied word net omdat nie almal dit waardeer nie. Ná die gunstige uitslag van daardie sake het baie dorpe en stede hulle ordonnansie herroep.
’n Invloed op die staatsreg
Die bedrywighede van Jehovah se Getuies het, in party lande, ’n groot invloed op die vorming van die wet gehad. Elke Amerikaanse regstudent weet goed watter bydrae Jehovah se Getuies gelewer het tot die verdediging van die burgerregte in die Verenigde State. Die omvang van hierdie bydrae word weergegee in artikels soos: “Jehovah se Getuies se bydrae tot die Staatsreg”, wat in die Minnesota Law Review vir Maart 1944 verskyn het en “’n Katalisator vir die evolusie van die Staatsreg: Jehovah se Getuies in die Appèlhof”, wat in 1987 in die University of Cincinnati Law Review gepubliseer is.
Hulle hofsake maak ’n aansienlike deel uit van die Amerikaanse wet wat verband hou met godsdiensvryheid, vryheid van spraak en persvryheid. Hierdie sake het ’n groot bydrae daartoe gelewer om nie net die vryhede van Jehovah se Getuies te bewaar nie, maar ook dié van die hele bevolking. In ’n toespraak by Drake-universiteit het Irving Dilliard, ’n bekende skrywer en redakteur, gesê: “Of ons nou daarvan hou of nie, die Jehovah se Getuies het meer daartoe bygedra om ons vryhede te bewaar as enige ander godsdiensgroep.”
En aangaande die situasie in Kanada sê die voorwoord van die boek State and Salvation—The Jehovah’s Witnesses and Their Fight for Civil Rights: “Die Jehovah se Getuies het die staat, en die Kanadese volk, geleer wat die praktiese toepassing van regsbeskerming vir andersdenkende groepe behoort te wees. Die . . . vervolging [van die Getuies in die provinsie Quebec] het boonop ’n reeks sake tot gevolg gehad wat in die veertiger- en vyftigerjare na die Appèlhof van Kanada verwys is. Hulle het ook ’n belangrike bydrae gelewer tot Kanada se gesindheid ten opsigte van burgerregte en hulle het die grondslag gelê vir burgerlike vryhede in die reg in Kanada vandag.” “Een van die resultate” van die Getuies se regstryd om godsdiensvryheid, verduidelik die boek, “is die lang proses van bespreking en debattering wat tot die Handves van Regte gelei het”, wat nou ’n deel van die fundamentele reg van Kanada is.
Die oppergesag van God se wet
Wanneer Jehovah se Getuies by regsake betrokke was, het dit hoofsaaklik getuig van hulle oortuiging dat God se wet die hoogste gesag is. Die standpunt wat hulle ingeneem het, spruit voort uit die feit dat hulle die geskil oor universele soewereiniteit verstaan. Hulle erken Jehovah as die enigste ware God en die regmatige Soewerein van die heelal. Daarom neem hulle die onwrikbare standpunt in dat enige wette of hofbeslissings wat hulle sou verbied om Jehovah se bevele te gehoorsaam ongeldig is en dat mense wat sulke beperkings ingestel het buite hulle gesag gehandel het. Hulle het dieselfde standpunt ingeneem as die apostels van Jesus Christus wat gesê het: “Ons moet aan God meer gehoorsaam wees as aan die mense.”—Hand. 5:29.
Met God se hulp is Jehovah se Getuies vasbeslote om hierdie goeie nuus van God se Koninkryk in die hele bewoonde aarde te verkondig tot ’n getuienis vir al die nasies voor die einde kom.—Matt. 24:14.
[Voetnote]
a Die eerste nommer het op 1 Oktober 1919 verskyn. Die verspreiding van daardie tydskrif en sy opvolgers, die Vertroosting en die Ontwaak!, was buitengewoon groot. In 1992 was die gereelde oplaag van die Ontwaak! 13 110 000 in 67 tale.
b Wanneer Jehovah se Getuies weens hulle getuieniswerk voor die hof gedaag is, was dit hulle algemene beleid om appèl aan te teken pleks van ’n boete te betaal. As hulle die appèlsaak verloor het, het hulle, indien die wet dit toegelaat het, eerder tronk toe gegaan as om die boete te betaal. Die voortdurende weiering van die Getuies om boetes te betaal, het gehelp om party amptenare te ontmoedig sodat hulle nie met die getuieniswerk bly inmeng het nie. Hoewel hierdie beleid dalk steeds onder sekere omstandighede gevolg word, het Die Wagtoring van 1 Julie 1975 (Engelse uitgawe, 1 April 1975) getoon dat ’n boete in baie gevalle tereg as regterlike straf beskou kan word, en as dit betaal word, is dit nie ’n skulderkenning nie, net soos dit nie bewys dat ’n mens skuldig is wanneer jy tronk toe gaan nie.
c Lovell v. City of Griffin, 303 U.S. 444 (1938).
d Schneider v. State of New Jersey (Town of Irvington), 308 U.S. 147 (1939).
e 310 U.S. 296 (1940).
f 297 Mass. 65 (1935). Een van die partye in die saak was ’n agtjarige skoolseun. Die korrekte spelling van sy naam is Carleton Nichols.
g 302 U.S. 656 (1937) (van Georgia).
h 303 U.S. 624 (1938) (van New Jersey).
i 306 U.S. 621 (1939) (van Kalifornië).
j 306 U.S. 621 (1939) (van Massachusetts).
k 310 U.S. 586 (1940). Walter Gobitas (die regte spelling), die vader, en sy kinders William en Lillian, het hof toe gegaan om te verhinder dat die skoolraad weier om die twee kinders, wat nie die landsvlag wou salueer nie, toe te laat om die Minersville- openbare skool by te woon. Die federale streekhof en die rondgaande appèlhof het albei ten gunste van Jehovah se Getuies beslis. Daarna het die skoolraad die saak na die Appèlhof geappelleer.
l 316 U.S. 584 (1942).
a 319 U.S. 105 (1943).
b Gedurende die 1943-kalenderjaar is petisies en appèlsake in 24 hofsake waarby Jehovah se Getuies betrokke was aan die Appèlhof van die Verenigde State voorgelê.
c 319 U.S. 624 (1943).
d 319 U.S. 583 (1943).
e Van 1919 tot 1988 is daar in altesaam 138 sake waarby Jehovah se Getuies betrokke was by die Amerikaanse Appèlhof petisies ingedien en appèl aangeteken. Eenhonderd-en-dertig van hierdie sake is deur Jehovah se Getuies aanhangig gemaak; agt deur hulle regsteenstanders. In 67 sake het die Appèlhof geweier om die sake te hersien, want op daardie tydstip is daar volgens die Hof geen belangrike federale grondwetlike of wetlike vrae geopper nie. In 47 van die sake wat die Hof wel oorweeg het, was die beslissings ten gunste van Jehovah se Getuies.
f Jane Monell v. Department of Social Services of the City of New York, 436 U.S. 658 (1978).
[Lokteks op bladsy 680]
Regerings het die werk van Jehovah se Getuies in die een land na die ander verbied
[Lokteks op bladsy 682]
Die saak is afgewys, en die priester het woedend uit die hofgebou gestorm!
[Lokteks op bladsy 693]
Party amptenare het die sake waarby die Getuies betrokke was versigtiger gehanteer
[Venster op bladsy 684]
’n Getuienis vir die Amerikaanse Appèlhof
Toe Joseph F. Rutherford, ’n lid van die Balie van New York en die president van die Wagtoringgenootskap, voor die Appèlhof van die Verenigde State as regsverteenwoordiger in die “Gobitis”-saak verskyn het, het hy dit duidelik gestel hoe belangrik dit is dat ’n mens jou aan die soewereiniteit van Jehovah God moet onderwerp. Hy het gesê:
“Jehovah se getuies is diegene wat getuig vir die naam van die almagtige God, wie se naam alleen JEHOVAH is. . . .
“Ek vestig die aandag op die feit dat Jehovah God, meer as sesduisend jaar gelede, beloof het om ’n regering van geregtigheid deur die Messias op te rig. Hy sal daardie belofte binnekort nakom. Die hedendaagse feite in die lig van profesieë toon dat dit naby is. . . .
“God, Jehovah, is die enigste bron van lewe. Niemand anders kan lewe gee nie. Die staat Pennsilvanië kan nie lewe gee nie. Die Amerikaanse Regering kan nie. God het hierdie wet [wat die aanbidding van beelde verbied] gemaak om, soos Paulus sê, Sy volk teen afgodediens te beskerm. U sê miskien dit is iets gerings. Maar die daad van Adam om van die verbode vrug te eet, was ook. Dit was nie die appel wat Adam geëet het nie, maar dit was sy daad van ongehoorsaamheid teenoor God. Die vraag is of die mens God of die een of ander menslike instelling gaan gehoorsaam. . . .
“Ek herinner hierdie Hof daaraan (dit is beswaarlik nodig dat ek dit doen) dat dié Hof in die saak ‘Church v. United States’ beslis het dat Amerika ’n Christelike nasie is; en dit beteken dat Amerika aan die Goddelike wet gehoorsaam moet wees. Dit beteken ook dat hierdie Hof geregtelik kennis neem van die feit dat die wet van God die opperste gesag is. En as ’n mens gewetensgetrou glo dat God se wet die opperste gesag is en hom gewetensgetrou daarvolgens gedra, kan geen menslike gesag sy gewete beheer of daarmee inmeng nie. . . .
“Mag ek die aandag op die volgende vestig: dat elke sessie van hierdie Hof geopen word met die afroeper wat hierdie woorde aankondig: ‘God behoed die Verenigde State en hierdie agbare Hof.’ En nou sê ek: Mag God hierdie agbare Hof daarvan behoed om ’n fout te begaan wat die mense van die Verenigde State in ’n totalitêre klas sal lei en al die vryhede wat deur die Grondwet gewaarborg word, sal vernietig. Dit is ’n saak wat vir elke Amerikaner wat God en Sy Woord liefhet onaantasbaar is.”
[Venster op bladsy 687]
Die weg word gebaan vir ’n ommekeer
Toe die Amerikaanse Appèlhof in 1940 in “Minersville School District v. Gobitis” beslis het dat skoolkinders verplig kan word om die vlag te salueer, het agt van die nege regters daarmee saamgestem. Net regter Stone het afgewyk. Maar twee jaar later, toe hulle hulle afwykende mening in die saak “Jones v. Opelika” laat aanteken het, het nog drie regters (Black, Douglas en Murphy) die geleentheid gebruik om te sê hulle meen dat die beslissing in die “Gobitis”-saak verkeerd was omdat dit godsdiensvryheid in ’n ondergeskikte posisie geplaas het. Dit het beteken dat vier uit die nege regters ten gunste daarvan was om die beslissing in die “Gobitis”-saak ter syde te stel. Twee van die ander vyf regters wat godsdiensvryheid as minder belangrik beskou het, het afgetree. Twee nuwe regters (Rutledge en Jackson) was regters op die regbank toe die volgende vlagsalueringsaak in die Appèlhof verhoor is. In 1943, in die saak “West Virginia State Board of Education v. Barnette”, het hulle albei ten gunste van godsdiensvryheid pleks van verpligte vlagsaluering gestem. Die Hof het dus met 6 stemme teen 3 die standpunt wat dit ingeneem het in vyf vroeëre sake (“Gobitis”, “Leoles”, “Hering”, “Gabrielli” en “Johnson”) waarin na hierdie Hof geappelleer is ter syde gestel.
In sy afwykende mening oor die “Barnette”-saak het regter Frankfurter interessant genoeg gesê: “Die Hof sal van tyd tot tyd sy posisie verander, net soos dit in die verlede die geval was. Maar ek glo dat hierdie Hof voor hierdie sake van Jehovah se Getuies (behalwe kleiner afwykings wat later reggestel is) nog nooit beslissings ter syde gestel het wat die magte van demokratiese regering beperk het nie.”
[Venster op bladsy 688]
“’n Eeue oue vorm van sendingevangelisasie”
In 1943, in die saak “Murdock v. Pennsylvania”, het die Appèlhof van die Verenigde State onder andere gesê:
“Die persoonlike verspreiding van godsdienstraktate is ’n eeue oue vorm van sendingevangelisasie—so oud soos die geskiedenis van die drukpers. Dit het deur die jare heen ’n groot rol gespeel in verskeie godsdiensbewegings. Hierdie vorm van evangelisasie word vandag op groot skaal deur verskeie godsdienssektes gebruik wie se kolporteurs die Evangelie na derduisende huise neem en deur persoonlike besoeke aanhangers vir hulle geloof probeer werf. Dit is meer as predikingswerk; dit is meer as die blote verspreiding van godsdienslektuur. Dit is ’n kombinasie van albei. Die doel daarvan is net so evangelies soos die opwekkingsdiens. Hierdie vorm van godsdiensbedrywigheid beklee dieselfde hoë posisie onder die Eerste Wysiging as aanbidding in die kerke en die hou van preke van die kansels af. Dit het dieselfde reg op beskerming as die ortodokser en konvensioneler beoefening van godsdiens. Dit het ook dieselfde reg as die ander op die waarborge van vryheid van spraak en persvryheid.”
[Venster op bladsy 690]
“Gelyke regte vir almal”
Onder die bogenoemde opskrif het ’n destyds bekende Kanadese rubriekskrywer in 1953 geskryf: “’n Groot vreugdevuur op Parliament Hill behoort die Kanadese Hooggeregshof se beslissing in die Saumur-saak [wat deur Jehovah se Getuies voor die Hof gebring is] te vier; ’n vreugdevuur wat ’n groot gebeurtenis waardig is. Min beslissings in die geskiedenis van die Kanadese regstelsel kan belangriker wees. Min howe kon ’n beter diens aan Kanada gelewer het. Die Kanadese wat hulle erfenis van vryheid waardeer, is aan geen ander hof soveel verskuldig nie. . . . Geen vreugdevuur is groot genoeg om hierdie bevryding te vier nie.”
[Venster op bladsy 694]
’n Kragtige verklaring aan die Nazi-staat
Op 7 Oktober 1934 is die volgende brief deur elke gemeente van Jehovah se Getuies in Duitsland aan die Duitse regering gestuur:
“AAN DIE AMPTENARE VAN DIE REGERING:
“Die Woord van Jehovah God, soos dit in die Heilige Bybel uiteengesit is, is die opperste wet, en dit is ons enigste riglyn, aangesien ons ons aan God toegewy het en ware en opregte volgelinge van Christus Jesus is.
“Gedurende die afgelope jaar, en in teenstelling met God se wet en in stryd met ons regte, het julle ons as Jehovah se getuies verbied om bymekaar te kom om God se Woord te bestudeer en hom te aanbid en te dien. In sy Woord beveel hy ons om nie ons vergaderinge te versuim nie (Hebreërs 10:25). Jehovah beveel ons: ‘Julle is my getuies dat ek God is. Gaan en vertel die mense my boodskap’ (Jesaja 43:10, 12, “KJ”; Jesaja 6:9, “KJ”; Mattheüs 24:14). Daar is ’n direkte konflik tussen julle wet en God se wet, en in navolging van die getroue apostels ‘moet ons aan God meer gehoorsaam wees as aan die mense’, en dit is wat ons sal doen (Handelinge 5:29). Hiermee stel ons julle dus in kennis dat ons God se bevele tot elke prys sal gehoorsaam, dat ons sal vergader om sy Woord te bestudeer en dat ons hom sal aanbid en dien soos hy beveel het. As julle regering of amptenare ons geweld aandoen omdat ons God gehoorsaam, sal ons bloed op julle wees, en julle sal voor die almagtige God verantwoording moet doen.
“Ons het geen belange in politieke aangeleenthede nie, maar is ten volle toegewy aan God se koninkryk onder Christus sy Koning. Ons sal niemand seermaak of kwaad aandoen nie. Ons sal ons daarin verheug om in vrede te wandel en goed te doen aan alle mense soos die geleentheid hom voordoen, maar aangesien julle regering en sy amptenare voortgaan om ons te probeer dwing om aan die hoogste wet van die heelal ongehoorsaam te wees, staan ons nou onder verpligting om julle in kennis te stel dat ons Jehovah God, deur sy genade, sal gehoorsaam en ten volle op Hom sal vertrou om ons van alle verdrukking en verdrukkers te verlos.”
[Venster op bladsy 697]
Getuies onder verbod stel hulle saak duidelik
In 1940 is die organisasie van Jehovah se Getuies in Kanada deur die regering verbied. Daarna was daar meer as 500 geregtelike vervolgings. Watter verdediging kon die Getuies aanvoer? Eerbiedig dog ferm, het hulle verklarings soos die volgende voor die Hof gedoen:
‘Ek het geen verskoning omdat ek hierdie boeke het nie. Hulle leer mense om die weg na die ewige lewe te vind. Ek glo opreg dat hulle die voorneme van die almagtige God verduidelik om ’n Koninkryk van geregtigheid oor die aarde op te rig. Hulle is vir my die grootste seën in my lewe. Na my siening sal dit ’n sonde teenoor die Almagtige wees om hierdie boeke, en die boodskap van God wat daarin bevat word, te vernietig, net soos dit ’n sonde sal wees om die Bybel te verbrand. Elke mens moet kies of hy hom eerder die misnoeë van mense of die misnoeë van die almagtige God op die hals wil haal. Wat my betref, ek het my standpunt aan die kant van die Here en Sy Koninkryk ingeneem en ek probeer die naam van die Allerhoogste, wat Jehovah is, eer, en as ek daarvoor gestraf word, sal diegene wat die straf uitdeel voor God aanspreeklik wees.’
[Venster op bladsy 698]
Hoe lede van die Kanadese regering dit beskou het
Hier is verklarings wat party lede van die Kanadese Laerhuis in 1943 gedoen het toe hulle die Minister van Justisie aangespoor het om die verbod op Jehovah se Getuies en hulle wetlike organisasies op te hef:
“Die Departement van Justisie het geen getuienis voor die komitee gelewer wat getoon het dat Jehovah se getuies op enige tydstip as ’n onwettige organisasie verklaar moes word nie . . . Dit strek die dominium Kanada tot skande dat mense weens hulle godsdiensoortuigings vervolg moet word soos hierdie arme mense vervolg is.” “Na my mening is dit net suiwer godsdiensvooroordeel wat hierdie verbod van krag hou.”—Mnr. Angus MacInnis.
“Die meeste van ons het ondervind dat hulle onskadelike mense is, totaal ontbloot van enige bedoeling om die staat te benadeel. . . . Waarom is die verbod nog nie opgehef nie? Dit kan nie wees weens vrees dat hierdie organisasie die welvaart van die staat sal benadeel of dat hulle dade die oorlogspoging sal ondermyn nie. Daar was nog nooit eens die geringste getuienis dat dit die geval is nie.”—Mnr. John G. Diefenbaker.
“Dit laat ’n mens wonder of die optrede teen Jehovah se Getuies grootliks as gevolg van hulle gesindheid teenoor die Rooms-Katolieke is, pleks van hulle ondermynende gesindheid.”—Mnr. Victor Quelch.
[Venster op bladsy 699]
“Bevordering van godsdiensvryheid”
“Dit sou nie reg wees om hierdie kort ondersoek van die probleme van Jehovah se Getuies met die Staat af te sluit sonder om te verwys na die bevordering van godsdiensvryheid onder ons Grondwet wat ’n gevolg is van hulle volgehoue pogings nie. In onlangse jare het hulle meer van die howe se tyd as enige ander godsdiensgroep in beslag geneem, en dit het vir die publiek gelyk of hulle verkramp is, maar hulle was getrou aan die oortuiging van hulle gewete, en as gevolg daarvan het die Federale howe ’n reeks beslissings wat die Amerikaanse burgers se waarborge ten opsigte van godsdiensvryheid verseker en uitgebrei het en wat hulle burgerlike vryhede beskerm en vergroot het. Ongeveer een-en-dertig sake waarby hulle betrokke was, is in die vyf jaar van 1938 tot 1943 in die Appèlhof verhoor, en die beslissings in hierdie en latere sake het die vryhede in die Verklaring van Regte oor die algemeen in groot mate bevorder, en veral die beskerming van godsdiensvryheid.”—“Church and State in the United States” deur Anson Phelps Stokes, Deel III, 1950, bladsy 546.
[Venster/Prente op bladsy 700, 701]
Vreugde oor vryheid van aanbidding
In baie lande waar Jehovah se Getuies in die verlede nie algehele godsdiensvryheid gehad het nie, vergader hulle nou openlik om te aanbid en verkondig hulle die goeie nuus van God se Koninkryk vrylik.
Quebec, Kanada
Gedurende die veertigerjare is die paar Getuies hier in Châteauguay deur ’n gepeupelbende aangeval. In 1992 het die meer as 21 000 Getuies in die provinsie Quebec openlik in hulle Koninkryksale vergader
St. Petersburg, Rusland
In 1992 het 3 256 hulle by die eerste internasionale byeenkoms van Jehovah se Getuies in Rusland laat doop
Palma, Spanje
Nadat Jehovah se Getuies in 1970 wetlike erkenning in Spanje ontvang het, was groot tekens aan hulle vergaderplekke ’n weerspieëling van hulle vreugde omdat hulle openlik bymekaar kon kom
Tartu, Estland
Getuies in Estland is dankbaar dat hulle sedert 1990 Bybellektuur ongehinderd kan ontvang
Maputo, Mosambiek
Binne ’n jaar nadat Jehovah se Getuies in 1991 wetlike status in hierdie land gekry het, het geesdriftige Getuies in meer as 50 gemeentes hulle bediening in en om die hoofstad uitgevoer
Cotonou, Benin
In 1990 was baie van die Getuies wat by ’n vergadering aangekom het, verbaas om ’n banier te sien wat Jehovah se Getuies openlik verwelkom. Hier het hulle uitgevind dat die verbod op hulle aanbidding opgehef is
Praag, Tsjeggo-Slowakye
Hier is ’n paar mense wat Jehovah 40 jaar onder die regeringsverbod gedien het. In 1991 was hulle verheug om by ’n internasionale byeenkoms van Jehovah se Getuies in Praag byeen te kom
Luanda, Angola
Toe die verbod in 1992 opgehef is, het meer as 50 000 mense en gesinne toegelaat dat die Getuies die Bybel met hulle studeer
Kiëf, Oekraïne
In hierdie land word vergaderinge (wat dikwels in gehuurde sale gehou word) goed bygewoon, veral sedert Jehovah se Getuies in 1991 wetlike erkenning ontvang het
[Prente op bladsy 679]
In 138 sake waarby Jehovah se Getuies betrokke was, is daar geappelleer na en petisies ingedien by die Amerikaanse Appèlhof. Van 1939 tot 1963 het Hayden Covington (hier op die foto) in 111 van hierdie sake as advokaat gedien
[Prent op bladsy 681]
Maurice Duplessis, die premier van Quebec, kniel in die laat dertigerjare in die openbaar voor kardinaal Villeneuve en sit ’n ring aan sy vinger as bewys van die noue bande tussen die Kerk en die Staat. In Quebec was die vervolging van Jehovah se Getuies besonder hewig
[Prent op bladsy 683]
W. K. Jackson, wat op die regspersoneel by die Genootskap se hoofkwartier was, het tien jaar as ’n lid van die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies gedien
[Prent op bladsy 685]
Rosco Jones, wie se saak oor die bediening van Jehovah se Getuies twee keer na die Amerikaanse Appèlhof toe gegaan het
[Prente op bladsy 686]
Regters van die Amerikaanse Appèlhof wat verpligte vlagsaluering in die “Barnette”-saak met 6 stemme teen 3 ten gunste van godsdiensvryheid verwerp het. Dit het die Hof se vroeëre beslissing in die “Gobitis”-saak ter syde gestel
Kinders wat by die sake betrokke was
Lillian en William Gobitas
Marie en Gathie Barnette
[Prent op bladsy 689]
Aimé Boucher, wat deur Kanada se Hooggeregshof vrygespreek is in ’n beslissing wat die aanklagte van opruiing teen Jehovah se Getuies verwerp het
[Prent op bladsy 691]
Hierdie traktaat, in drie tale, het die hele Kanada ingelig oor die wandade wat in Quebec teen Jehovah se Getuies gepleeg is
[Prent op bladsy 692]
Die behoefte het ontstaan om Jehovah se Getuies regsprosedures te leer sodat hulle teëstand teen hulle bediening die hoof kon bied; hier is ’n paar regspublikasies wat hulle gebruik het