Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w23 Mei bl. 2-7
  • Hoe om die gehalte van ons gebede te verbeter

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hoe om die gehalte van ons gebede te verbeter
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2023
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • JESUS HET TYD GEMAAK OM TE BID
  • VYF BELANGRIKE ONDERWERPE VIR GEBED
  • Waardeer jou voorreg van gebed
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2022
  • Kom nader aan God deur gebed
    Wat leer die Bybel werklik?
  • Die voorreg van gebed
    Wat kan die Bybel ons leer?
  • Kom nader aan God deur gebed
    Geniet die lewe vir ewig! – Bybellesse wat jou kan help
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2023
w23 Mei bl. 2-7

STUDIEARTIKEL 20

Hoe om die gehalte van ons gebede te verbeter

“Stort julle hart voor hom uit.” – PS. 62:8.

LIED 45 Die bepeinsing van my hart

IN HIERDIE ARTIKELa

Collage: ’n Broer bid op verskillende tye gedurende die dag. 1. Voordat hy opstaan. 2. Voordat hy ’n maaltyd saam met sy gesin eet. 3. Voordat hy deur middel van videoverbinding aan die bediening deelneem. 4. Terwyl hy in ’n rustige omgewing buite is. 5. Voordat hy gaan slaap.

Ons kan gereeld tot Jehovah bid en sy leiding vra in alle aspekte van ons lewe (Sien paragraaf 1)

1. Wat nooi Jehovah sy aanbidders om te doen? (Sien ook prent.)

WIE kan ons help wanneer ons vertroosting en leiding nodig het? Ons weet wat die antwoord op daardie vraag is. Ons kan tot Jehovah God bid. Jehovah nooi ons om dit te doen. Hy wil hê dat ons gereeld moet bid – “sonder ophou” (1 Tess. 5:17). Ons kan vryelik tot hom bid en hom vir sy leiding vra in alle aspekte van ons lewe (Spr. 3:5, 6). Jehovah is baie vrygewig, en daarom sê hy dat ons soveel as wat ons wil tot hom kan bid.

2. Wat sal ons in hierdie artikel bespreek?

2 Ons waardeer die geskenk van gebed. Maar omdat ons baie het om te doen, sukkel ons dalk om tyd te vind om te bid. En ons voel dalk dat ons die gehalte van ons gebede moet verbeter. Maar ons is bly dat ons baie aanmoediging en leiding in die Bybel kan vind. In hierdie artikel sal ons bespreek hoe ons tyd kan maak om te bid deur Jesus se voorbeeld te ondersoek. Ons sal ook bespreek hoe ons die gehalte van ons gebede kan verbeter deur vyf belangrike onderwerpe in te sluit.

JESUS HET TYD GEMAAK OM TE BID

3. Wat het Jesus oor gebed verstaan?

3 Jesus het verstaan dat ons gebede baie belangrik vir Jehovah is. Lank voordat hy aarde toe gekom het, het hy gesien hoe sy Vader die gebede van getroue mans en vrouens beantwoord. Byvoorbeeld, Jesus was by sy Vader toe Hy die opregte gebede van Hanna, Dawid, Elia en baie ander getroue knegte beantwoord het (1 Sam. 1:10, 11, 20; 1 Kon. 19:4-6; Ps. 32:5). Dit is hoekom Jesus sy dissipels geleer het om gereeld en met vertroue te bid! – Matt. 7:7-11.

4. Wat leer ons uit Jesus se gebede?

4 Deur middel van sy eie gebede tot Jehovah het Jesus vir sy dissipels ’n voorbeeld gestel om te volg. Jesus het regdeur sy bediening gereeld gebid. Hy moes tyd maak om te bid omdat hy dikwels besig en deur baie mense omring was (Mark. 6:31, 45, 46). Hy het vroeg in die oggend opgestaan sodat hy tyd alleen kon hê om te bid (Mark. 1:35). Op ten minste een geleentheid het hy die hele nag lank gebid voordat hy ’n belangrike besluit gemaak het (Luk. 6:12, 13). En die aand voor sy dood het Jesus herhaaldelik gebid net voordat hy die moeilikste deel van sy aardse toewysing voltooi het. – Matt. 26:39, 42, 44.

5. Hoe kan ons Jesus navolg wanneer ons bid?

5 Jesus se voorbeeld leer ons dat ons tyd moet maak om te bid, maak nie saak hoe besig ons is nie. Net soos Jesus moet ons dalk tyd opsysit om te bid – dalk kan ons vroeg in die oggend opstaan of ’n bietjie later in die aand wakker bly. Wanneer ons dit doen, wys ons vir Jehovah dat ons hierdie spesiale geskenk waardeer. ’n Suster met die naam Lynne onthou hoe dankbaar sy was toe sy vir die eerste keer geleer het oor die voorreg van gebed. Sy sê: “Toe ek geleer het dat ek enige tyd met Jehovah kan praat, het dit my gehelp om hom as my goeie Vriend te beskou en om my gebede te wil verbeter.” Baie van ons voel beslis dieselfde. So kom ons kyk na vyf belangrike onderwerpe wat ons by ons gebede kan insluit.

VYF BELANGRIKE ONDERWERPE VIR GEBED

6. Wat is Jehovah waardig om te ontvang volgens Openbaring 4:10, 11?

6 Loof Jehovah. In ’n indrukwekkende visioen het die apostel Johannes 24 ouderlinge in die hemel gesien wat Jehovah aanbid. Hulle het God geloof en gesê dat hy waardig is om “die heerlikheid en die eer en die krag” te ontvang. (Lees Openbaring 4:10, 11.) Getroue engele het ook baie redes om Jehovah te loof en te eer. Hulle is saam met hom in die hemel en het hom goed leer ken. Hulle sien sy eienskappe in wat hy doen. Wanneer hulle die dinge sien wat Jehovah doen, motiveer dit hulle om hom te loof. – Job 38:4-7.

7. Vir watter dinge kan ons Jehovah loof?

7 Ons moet Jehovah ook in ons gebede loof. Ons kan dit doen deur vir hom te sê wat ons omtrent hom waardeer en liefhet. Terwyl jy die Bybel lees en studeer, probeer om Jehovah se eienskappe te identifiseer wat jy veral bewonder (Job 37:23; Rom. 11:33). Sê dan vir Jehovah hoe jy oor daardie eienskappe voel. Ons kan Jehovah ook loof omdat hy ons en al ons Christenbroers en -susters help. Hy sorg vir ons en beskerm ons die hele tyd. – 1 Sam. 1:27; 2:1, 2.

8. Wat is ’n paar redes hoekom ons vir Jehovah dankie sê? (1 Tessalonisense 5:18)

8 Sê vir Jehovah dankie. Ons het baie redes om in gebed vir Jehovah dankie te sê. (Lees 1 Tessalonisense 5:18.) Ons kan vir hom dankie sê vir enige iets goeds wat ons het omdat elke goeie geskenk van hom af kom (Jak. 1:17). Byvoorbeeld, ons kan vir hom dankie sê vir ons pragtige aarde en die wonderlike dinge wat hy gemaak het. Ons kan ook vir hom sê hoe dankbaar ons is vir ons lewe, ons familie, ons vriende en ons hoop. En ons wil vir Jehovah dankie sê omdat hy ons toelaat om ’n kosbare vriendskap met hom te geniet.

9. Hoekom sal dit dalk nodig wees om waardering vir Jehovah te ontwikkel?

9 Ons moet onsself dalk ’n bietjie meer inspan om te dink oor die redes wat ons het om dankbaar teenoor Jehovah te wees. Vandag is baie mense ondankbaar. Mense fokus dikwels op wat hulle wil hê, eerder as op wat hulle kan doen om te wys dat hulle die dinge waardeer wat hulle het. As daardie gesindheid aan ons sou afsmeer, kan ons gebede net ’n lys word van dinge wat ons vir Jehovah vra. Om te keer dat dit gebeur, moet ons aanhou om waardering te ontwikkel vir alles wat Jehovah vir ons doen en aanhou om vir hom dankie te sê daarvoor. – Luk. 6:45.

’n Suster bid terwyl sy in die aand op haar huis se dak sit. Daar is ’n Bybel en ’n notaboek langs haar op ’n tafel.

As ons aanhou om vir Jehovah dankie te sê vir die dinge wat hy vir ons gee, kan dit ons help om te volhard (Sien paragraaf 10)

10. Hoe het gevoelens van dankbaarheid ’n suster gehelp om te volhard? (Sien ook prent.)

10 ’n Dankbare gesindheid kan ons help om te volhard wanneer ons deur moeilike tye gaan. Kyk na die ondervinding van Kjoeng-Soek, wat in Die Wagtoring van 15 Januarie 2015 is. Sy was met gevorderde longkanker gediagnoseer. Sy het erken: “Dit was vir my ’n groot slag. Dit het gevoel asof ek alles verloor het, en ek was baie bang.” Wat het haar gehelp om te volhard? Sy het gesê dat sy elke aand voordat sy gaan slaap het na haar huis se dak gegaan het en hardop oor vyf dinge gebid het waarvoor sy op daardie dag dankbaar was. Dit het haar minder angstig laat voel en haar gemotiveer om vir Jehovah te sê hoe lief sy hom het. Sy het ondervind hoe Jehovah sy getroue knegte help wanneer hulle ernstige probleme het, en sy het besef dat daar baie meer seëninge in ons lewe is as moeilike tye. Net soos Kjoeng-Soek het ons baie redes om dankbaar teenoor Jehovah te wees, selfs wanneer ons deur ’n moeilike tyd gaan. Wanneer ons vir hom in gebed sê hoe dankbaar ons is, kan dit ons help om te volhard en om kalm te bly.

11. Hoekom het Jesus se dissipels moed nodig gehad nadat Jesus na die hemel teruggekeer het?

11 Vra Jehovah om vir jou moed te gee wanneer jy preek. Net voordat Jesus na die hemel teruggekeer het, het hy sy dissipels herinner aan hulle toewysing om ’n getuienis te gee oor hom “in Jerusalem, in die hele Judea en Samaria en tot in die mees afgeleë deel van die aarde” (Hand. 1:8; Luk. 24:46-48). ’n Kort rukkie later het die Joodse leiers die apostels Petrus en Johannes gearresteer en hulle voor die Sanhedrin gebring. Hulle het hierdie getroue mans beveel om op te hou preek en hulle selfs gedreig (Hand. 4:18, 21). Hoe het Petrus en Johannes gereageer?

12. Wat het die dissipels gedoen volgens Handelinge 4:29, 31?

12 Toe die Joodse godsdiensleiers vir Petrus en Johannes gedreig het, het die dissipels gesê: “Oordeel self of dit in God se oë reg is om na julle te luister eerder as na God. Maar ons kan nie ophou praat oor die dinge wat ons gesien en gehoor het nie” (Hand. 4:19, 20). Toe Petrus en Johannes vrygelaat was, het die dissipels ’n gebed tot Jehovah gedoen wat op sy wil gefokus het. Hulle het gebid: “Help u slawe om u woord moedig te verkondig.” Jehovah het daardie opregte gebed beantwoord. – Lees Handelinge 4:29, 31.

13. Wat kan ons leer uit die voorbeeld van Djin-hioek?

13 Ons kan die dissipels navolg deur aan te hou preek selfs wanneer die regering ons beveel om op te hou. Kyk na die voorbeeld van Djin-hioek, ’n broer wat in die tronk was as gevolg van sy neutrale standpunt. In die tronk was hy aangestel om te kyk na ’n paar gevangenes wat in alleenopsluiting was, maar hy mag net met hulle gepraat het oor die dinge wat hulle nodig het en nie oor die Bybel nie. Hy het gebid om die waarheid moedig en taktvol by elke geleentheid te verkondig (Hand. 5:29). Hy sê: “Jehovah het my gebede beantwoord deur vir my die moed en wysheid te gee om baie vyf minuut lange Bybelstudies net daar by die seldeure te begin. In die aand het ek briewe geskryf wat ek dan die volgende dag vir die gevangenes gegee het.” Ons kan ook die vertroue hê dat Jehovah ons sal help om ons bediening uit te voer. Soos Djin-hioek kan ons bid vir moed en wysheid.

14. Wat kan ons help wanneer ons probleme het? (Psalm 37:3, 5)

14 Vra Jehovah om jou te help om probleme te hanteer. Baie van ons ly as gevolg van ’n siekte of emosionele probleme, die dood van ’n geliefde, ’n moeilike familiesituasie, vervolging of ’n ander probleem. En dinge soos pandemies en oorloë het baie van hierdie probleme selfs moeiliker gemaak om te hanteer. Stort jou hart voor Jehovah uit. Vertel hom van jou situasie net soos jy ’n goeie vriend daarvan sou vertel. Jy kan daarvan seker wees dat Jehovah “vir jou [sal] optree”. – Lees Psalm 37:3, 5.

15. Hoe kan gebed ons help om te “volhard wanneer [ons] moeilike tye deurmaak”? Gee ’n voorbeeld.

15 As ons volhou met gebed, sal dit ons help om te “volhard wanneer [ons] moeilike tye deurmaak” (Rom. 12:12). Jehovah weet wat sy aanbidders deurmaak – “hy hoor hulle geroep om hulp” (Ps. 145:18, 19). Kristie, ’n 29-jarige pionier, het gevind dat dit waar is. Sy het skielik begin om ernstige gesondheidsprobleme te ondervind. As gevolg daarvan het sy baie depressief geword. Later het sy uitgevind dat haar ma met ’n terminale siekte gediagnoseer is. Kristie sê: “Ek het baie hard tot Jehovah gebid en hom gevra om my die krag te gee om deur elke dag te kom. Ek het probeer om by ’n goeie geestelike roetine te bly deur die vergaderinge by te woon en persoonlike studie te doen.” Sy voeg by: “Gebed het my gehelp om deur die donker tye te kom. Ek het geweet dat Jehovah altyd daar is, en daardie gedagte het my verskriklik baie vertroos. Al het my gesondheidsprobleme nie onmiddellik verdwyn nie, het Jehovah my gebede beantwoord deur vir my innerlike vrede en ’n kalm hart te gee.” Ons moet nooit vergeet dat Jehovah “weet . . . hoe om mense wat hom met toegewydheid dien, uit moeilike omstandighede te red” nie. – 2 Pet. 2:9.

Collage: ’n Broer neem stappe om versoeking te weerstaan. 1. Hy bid ernstig. 2. Hy haal ’n app van sy tablet af. 3. Hy lees die Bybel.

Om versoeking te weerstaan moet jy (1) tot Jehovah bid en vir sy hulp vra, (2) in ooreenstemming met jou gebede optree en (3) jou verhouding met Jehovah versterk (Sien paragraaf 16-17)

16. Hoekom het ons Jehovah se hulp nodig om versoeking te weerstaan?

16 Vra Jehovah om jou te help om versoeking te weerstaan. Omdat ons onvolmaak is, moet ons heeltyd teen die versoeking veg om te doen wat verkeerd is. Satan doen alles wat hy kan om daardie geveg so moeilik as moontlik te maak. Een manier hoe hy probeer om ons denke op ’n negatiewe manier te beïnvloed, is deur middel van onsedelike vermaak. Sulke vermaak kan ons verstand met onrein gedagtes vul – gedagtes wat ons onrein in Jehovah se oë kan maak en wat tot ernstige sonde kan lei. – Mark. 7:21-23; Jak. 1:14, 15.

17. Hoe kan ons in ooreenstemming met ons gebede optree om versoeking te weerstaan? (Sien ook prent.)

17 Ons het Jehovah se hulp nodig as ons die versoeking wil weerstaan om te doen wat verkeerd is. Jesus het die volgende versoek by die modelgebed ingesluit: “Moet ons nie in versoeking bring nie, maar verlos ons van die Duiwel” (Matt. 6:13). Jehovah wil ons help, maar ons moet hom vra vir sy hulp. Ons moet ook in ooreenstemming met ons gebede optree. Ons kan ons bes probeer om nie die verkeerde idees wat in Satan se wêreld gewild is, te lees en daarna te luister nie (Ps. 97:10). Ons kan ons verstand met opbouende gedagtes vul deur die Bybel te lees en te studeer. Om vergaderinge by te woon en te preek, sal ook ons gedagtes beskerm. En Jehovah belowe dat hy nie sal toelaat dat ons ’n versoeking deurmaak wat ons nie kan hanteer nie. – 1 Kor. 10:12, 13.

18. Wat moet ons almal doen wanneer dit by gebed kom?

18 Elkeen van ons moet meer as ooit bid as ons getrou aan Jehovah wil bly gedurende hierdie moeilike laaste dae. Sit elke dag tyd opsy om uit die hart te bid. Jehovah wil hê dat ons ons ‘hart voor hom moet uitstort’ in gebed (Ps. 62:8). Loof Jehovah en sê vir hom dankie vir alles wat hy doen. Vra hom om jou te help om moedig te wees in die bediening. Smeek hom om jou te help om enige probleme te hanteer en om enige versoeking te weerstaan wat jy dalk ondervind. Moenie toelaat dat enige iets of enige een keer dat jy gereeld tot Jehovah bid nie. Maar hoe beantwoord Jehovah ons gebede? Ons sal daardie belangrike vraag in die volgende artikel bespreek.

HOE SAL JY ANTWOORD?

  • Hoe het Jesus gewys dat gebed vir hom belangrik is?

  • Wat is ’n paar onderwerpe wat ons by ons gebede kan insluit?

  • Wat is jy vasbeslote om te doen wanneer dit by jou gebede kom?

LIED 42 Die gebed van God se kneg

a Ons wil hê dat ons gebede soos liefdevolle briewe aan ’n dierbare vriend moet wees. Maar dit is nie altyd maklik om tyd te vind om te bid nie. En dit kan moeilik wees om te weet waarvoor om te bid. Hierdie artikel sal hierdie twee belangrike onderwerpe bespreek.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel