Deel 1—Eertydse Egipte—die eerste van die groot wêreldmoondhede
EGIPTE—die eertydse land van die Farao’s en van die Nyl—was een van die wêreld se groot beskawings. Sy kuns versier groot museums. Sy geskiedenis word in skoolhandboeke vertel. Sy groot monumente vul toeriste met ontsag. Boonop het talle Bybelgebeure in hierdie land plaasgevind of was hierdie land daarby betrokke. Die Bybel meld Egipte en sy mense meer as 700 keer.
Maar wat weet jy werklik van eertydse Egipte? As jy meer daarvan leer, sal dit jou help om baie dinge wat in die Bybel gemeld word te verstaan.
In Egipte het argeoloë baie dinge ontdek wat die Bybelverslag bevestig. Beskou byvoorbeeld die verhaal van Josef. Name, titels, Josef se posisie as huisbestuurder, die posisie wat hy as onderheerser in die land en as voedseladministrateur ontvang het, die Egiptiese manier om mense te begrawe en selfs die gewoonte van bakkers om mandjies brood op hulle koppe te dra—daar is bevind dat dit alles met Egiptiese gewoontes van daardie tyd ooreenkom.—Genesis, hoofstukke 39–47; 50:1-3.
Die land en sy mense
Egipte is afhanklik van die Nyl. Daardie rivier se vrugbare vallei, wat van Aswân tot Kaïro gemiddeld net sowat 19 kilometer breed is, strek noordwaarts soos ’n smal groen strook deur die dorre woestyn van Afrika. In die verlede het sy jaarlikse oorstromings vrugbare slik gebring wat Egipte ’n uitvoerder van voedsel en ’n toevlugsoord tydens hongersnood gemaak het (Genesis 12:10). Die vroegste papier is uit papirusriete gemaak wat langs die rivierwalle voorkom.
Die breë delta, waar die Nyl se waters uitwaaier voordat dit in die blou Middellandse See loop, word Benede-Egipte genoem. Dit is blykbaar hier waar “die land Gosen” geleë was, waar die Israeliete gedurende hulle lang verblyf in Egipte gewoon het.—Genesis 47:27.
Egiptiese godsdiens
Die eertydse Egiptenaars het geglo dat hulle Farao ’n god is. Hierdie feit voeg betekenis by Farao se minagtende vraag aan Moses: “Wie is [Jehovah] na wie se stem ek moet luister?” (Exodus 5:2). Die Egiptenaars het ook talle ander gode gehad. ’n Lys met die name van ongeveer 740 van hulle is in die graf van Toetmoses III ontdek. Die Egiptenaars het drietalle gode, of drie-eenhede, aanbid, en een van die gewildste hiervan was die drietal Osiris, Isis en Horus.
Talle van Egipte se belangrikste gode is afgebeeld met menseliggame en dierekoppe. Die Egiptenaars het Horus met ’n valkkop en Toth met die kop van ’n ibis of ’n aap afgebeeld. Katte, jakkalse, krokodille, bobbejane en verskeie voëls is weens hulle assosiasie met sekere gode as heilig beskou. Die Apisbul, wat as die inkarnasie van die god Osiris beskou is, is in ’n tempel by Memphis gehou en is toe by sy dood ’n omslagtige begrafnis gegee en selfs gemummifiseer. Beroemde Egiptiese skarabeë, wat soos krale as beskermende talismans gedra is, was afbeeldings van die miskruier—wat as ’n manifestasie van die skeppingsgod beskou is.
Ondanks ’n lang verblyf in Egipte en noue kontak met die mense van daardie land, het die Israeliete net een God, Jehovah, gehad en moes hulle hom alleen dien. Hulle is gewaarsku om geen godsdiensbeeld—van God self of van ’n voël, dier, vis of enigiets anders—te maak nie. Hulle aanbidding van ’n goue kalf kort na hulle uittog uit Egipte het moontlik uit Egiptiese invloed voortgespruit.—Exodus 32:1-28; Deuteronomium 4:15-20.
Geloof in onsterflikheid
Die Egiptenaars het vas aan onsterflikheid geglo. Die Egiptiese heersers het dus praalgraftombes, vol lewensbenodigdhede en weelde-artikels, voorberei in die hoop dat dit vir hulle ewige geluk in die hiernamaals sou verseker. Die piramides is die vernaamste voorbeeld van hierdie gebruik.
Goue juwele, klere, meubels, wyn, voedsel, erdewerk, ivoorhouers en selfs blokkies waarop oogverf fyngemaal kan word, is versigtig in Egiptiese graftombes geplaas. Hulle het geglo dat hierdie items in ’n lewe ná die graf gebruik kon word. In vroeër tye is slawe doodgemaak en saam met hul meesters begrawe om hulle na die dood te dien. ’n Versameling magiese spreuke bekend as die “dodeboek” is in duisende Egiptiese doodskiste gevind. Daar is gehoop dat hierdie magiese spreuke ’n dooie sou help om die verskillende gevare van die hiernamaals die hoof te bied.
Hoe anders was die Israeliete se beskouing tog! Hulle het geweet, soos die Bybel later sou sê, dat ‘die dooies glad niks weet nie’. En dat wanneer ’n mens sterf, ‘dit op daardie dag met sy planne gedaan is’.a Hulle hoop vir toekomstige lewe het op die opstanding berus.—Prediker 9:5, 10; Psalm 146:4; Job 14:13-15.
Wie het wanneer geleef?
Egiptoloë identifiseer 31 “dinastieë” van Egiptiese konings en praat van die Ou Ryk (dinastieë 3-6), die Middelryk (dinastieë 11, 12) en die Nuwe Ryk (dinastieë 18-20). Maar hierdie manier van berekening is allesbehalwe akkuraat. Dit is gegrond op twyfelagtige en fragmentariese geskrifte en sluit moontlik ’n paar konings wat terselfdertyd in verskillende streke geheers het eerder as ’n opeenvolging van konings in.b
Toe Moses die eerste boeke van die Bybel begin skryf het, het hy die gebruik gevolg wat klaarblyklik eie aan die Egiptenaars was deur hul koning “Farao” te noem, sonder om ’n persoonlike naam te gebruik. Ons ken dus nie die name van die Farao’s wat Abraham en Josef geken het nie of watter een tydens Israel se uittog uit Egipte geheers het nie. Maar die titel “Farao” is later saam met die koning se persoonlike naam gebruik, wat dit moontlik gemaak het om Bybelgebeure met die Egiptiese koningslys te verbind. Hier is sommige van die Farao’s wat vir ’n student van die Bybel van besondere belang is:
Achenaten (van die sogenaamde 18de dinastie) was ’n vurige aanbidder van die sonskyf Aten. In 1887 is ’n versameling van ongeveer 377 kleitafels by Tel el-Amarna, sowat 320 kilometer suid van Kaïro, gevind. Hierdie interessante tafels was diplomatieke korrespondensie wat Achenaten en sy vader Amenophis III ontvang het. Dit het briewe bevat van die heersers van Jerusalem, Megiddo, Hasor, Sigem, Lagis, Hebron, Gasa en ander stadstate in Palestina. Hierdie briewe, wat miskien geskryf is kort voordat Israel Kanaän binnegegaan het, openbaar oorlogsvetes en -komplotte. Hulle toon ook dat elke dorp sy eie koning gehad het, soos die Bybelboek Josua aandui.
Toetankamen, ’n skoonseun van Achenaten, is die beroemde “koning Toet” wie se luisterryke goue graftoebehore deur argeoloë ontdek en in verskeie museums tentoongestel is. Hierdie toebehore is ’n uitstekende voorbeeld van die Farao’s se rykdom. Dit was rykdom soos hierdie wat Moses vroeër die rug toegekeer het toe hy “geweier [het] om die seun van Farao se dogter genoem te word, omdat hy verkies het om liewer sleg behandel te word saam met die volk van God as om ’n tyd lank die genot van die sonde te hê”.—Hebreërs 11:24, 25.
Merneptach was van die “19de dinastie”. Op ’n oorwinningsmonument wat in ’n tempel by Thebe gevind is, het hierdie Farao die volgende woorde laat opteken: “Israel se mense is min, sy nakomelinge bestaan nie meer nie.” Dit is die enigste regstreekse vermelding van Israel as ’n nasie wat tot dusver in eertydse Egiptiese verslae gevind is. Hoewel dit klaarblyklik ’n ongegronde bewering is, dui hierdie bewering blykbaar aan dat die Israeliete se verowering van Kanaän reeds plaasgevind het. Daardie verowering van 1473 v.G.J. moes dus tussen die tyd toe Achenaten die Tel el-Amarna-briewe ontvang het en die tyd van Merneptach plaasgevind het.
Sisak (Sjesjonk I, “22ste dinastie”) is die eerste Farao wat by name in die Bybel genoem word. Hy het Juda met ’n kragtige strydwamag en perderuiters binnegeval, Jerusalem bedreig, en “die skatte van die huis van die HERE en die skatte van die huis van die koning weggeneem; hy het alles weggeneem” (2 Kronieke 12:9). Hierdie gebeurtenis word bevestig deur ’n reliëf op die suidelike muur van die Amontempel te Karnak (eertydse Thebe). Dit toon 156 geboeide gevangenes, waarvan elkeen ’n verowerde stad of dorp, waaronder Megiddo, Sunem en Gibeon, verteenwoordig. Onder die plekke wat verower is, het Sisak selfs die “land van Abraham” aangegee—die vroegste verwysing na Abraham in Egiptiese verslae.
Ander wêreldmoondhede verrys
Egipte is uiteindelik deur Assirië as heersende wêreldmoondheid vervang. Maar Egipte het ’n sterk politieke mag gebly. Hosea, die laaste koning van die noordelike tienstammeryk van Israel het in ’n onsuksesvolle poging om die juk van Assirië af te gooi met koning So van Egipte saamgesweer (2 Konings 17:3, 4). Jare later, gedurende die heerskappy van koning Hiskia van Juda, het koning Tirhaka van Ethiopië (waarskynlik die Ethiopiese heerser van Egipte, Farao Taharka) na Kanaän opgeruk en die Assiriese koning Sanherib se aanval tydelik afgewend (2 Konings 19:8-10). Sanherib se eie gedenkrolle, wat in Assirië gevind is, praat klaarblyklik hiervan wanneer dit sê: “Ek het persoonlik . . . die strydwadrywers van die koning van Ethiopië lewend gevange geneem.”—Oosterse Instituut se prisma van Sanherib, Universiteit van Chicago.
Jehovah se profeet Jesaja het voorspel dat Egipte in “die hand van ’n harde meester” oorgegee sou word en dat ’n “strenge” koning oor die Egiptenaars sou heers (Jesaja 19:4). Die betroubaarheid van hierdie profesie word bevestig deur ’n Assiriese dokument waarin Sanherib se seun Esar-Haddon spog met sy verowering van Egipte deur te sê: “Sy koning, Tirhaka, het ek vyf keer met boogskote gewond en oor sy hele land geheers.”
Farao Nego het omstreeks 629 v.G.J. opgeruk om die leërs van die opkomende derde wêreldmoondheid, Babilon, te stuit. Die Bybel sê dat Josia van Jerusalem onverstandig opgetree het deur te probeer om die Egiptiese magte by Megiddo te stuit en dat hy verslaan en doodgemaak is (2 Kronieke 35:20-24).c Ongeveer vier jaar later, in 625 v.G.J., is Farao Nego self by Karkemis deur die Babiloniërs verslaan. Die Bybel sowel as die Babiloniese Kronieke maak melding van hierdie gebeurtenis wat die Babiloniërs beheer oor westelike Asië gegee het.
In 525 v.G.J. het Egipte onder die beheer van die vierde wêreldmoondheid, Medo-Persië, gekom. Amper twee eeue later, in 332 v.G.J., het Alexander die Grote op die toneel verskyn en Egipte aan die vyfde wêreldmoondheid, Griekeland, onderwerp. Alexander het die stad Alexandrië in Egipte se smal deltagebied gestig, waar die eerste vertaling van die Bybel uit Hebreeus na Grieks in ongeveer 280 v.G.J. begin is. Hierdie vertaling, wat as die Septuaginta bekend geword het, was die Bybel wat deur Jesus se volgelinge in die Griekssprekende wêreld gebruik is.
In die tyd van Rome, die sesde wêreldmoondheid, is Jesus as ’n jong kind na Egipte gebring om hom teen jaloerse Herodes te beskerm (Mattheüs 2:13-15). Op Pinkster 33 G.J. was Egiptenaars in Jerusalem om die wonderlike verkondiging van die Christelike goeie nuus te hoor. En die welsprekende, eerste-eeuse Christen, Apollos, het daarvandaan gekom.—Handelinge 2:10; 18:24.
Ja, Egipte en die Egiptenaars het ’n belangrike rol in Bybelgeskiedenis gespeel, en talle argeologiese ontdekkings bevestig wat die Skrif oor hierdie oeroue land sê. Trouens, Egipte was so belangrik dat dit in sommige profetiese passasies simbolies is van die hele wêreld onder Satan se beheer (Esegiël 31:2; Openbaring 11:8). Maar ondanks sy krag as ’n wêreldmoondheid kon eertydse Egipte nooit die vervulling van Jehovah se voornemens dwarsboom nie. En dit was ook die geval met die tweede wêreldmoondheid van Bybelgeskiedenis, Assirië, soos ons in die volgende nommer van Die Wagtoring sal sien.
[Voetnote]
a The Jewish Encyclopedia sê: “Die geloof dat die siel sy bestaan voortsit na die dood van die liggaam word . . . nêrens uitdruklik in die Heilige Skrif geleer nie.”
b Kyk die boek Aid to Bible Understanding, bladsye 324, 325, uitgegee deur die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap, vir ’n interessante bespreking van die probleme in verband met hierdie lyste.
c Dít was een van die beslissende veldslae by Megiddo wat tot gevolg gehad het dat dit as ’n simbool gebruik word van God se beslissende, finale slag teen opstandige mensenasies by Har–Magedon, of Armageddon.—Openbaring 16:16.
[Kaart op bladsy 23]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
Middellandse See
Karkemis
Eufraat
Megiddo
Jerusalem
Alexandrië
GOSHEN
Memphis
Nyl
BENEDE-EGIPTE
Thebe
[Erkenning]
Gebaseer op ’n kaart waarvan outeursreg voorbehou word deur die Prente-argief (Nabye Oosterste geskiedenis) en Israel se departement van landmeetkunde
[Prent op bladsy 24]
Egiptiese god wat met ’n menseliggaam en ’n valkkop afgebeeld is
[Erkenning]
Met vriendelike vergunning van die Britse Museum, Londen
[Prent op bladsy 25]
’n Gedeelte van die “dodeboek” wat in ’n Egiptiese doodskis gevind is
[Erkenning]
Met vriendelike vergunning van die Bestuur van die Museo Egizio, Turyn
Egiptiese doodskis en bedekking vir ’n mummie
[Erkenning]
Met vriendelike vergunning van die Bestuur van die Museo Egizio, Turyn
[Prent op bladsy 26]
Koning Toetankamen langs die sittende god Amon
[Erkenning]
Met vriendelike vergunning van die Bestuur van die Museo Egizio, Turyn