Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w93 4/15 bl. 14-19
  • Jongmense—Wat jaag julle na?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Jongmense—Wat jaag julle na?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Waak teen slegte omgang
  • Vlug vir verkeerde begeertes
  • Strewe na ’n hegte verhouding met Jehovah
  • Gee jou hart aan jou ouers
  • Hou aan om geregtigheid na te jaag!
  • Jongmense—Verbly Jehovah se hart
    Ons Koninkryksbediening—1993
  • Jongmense, bou julle vir die toekoms?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2004
  • Jongmense, wandel op ’n wyse wat Jehovah waardig is
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2003
  • Vertrou op Jehovah en sy Woord
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
w93 4/15 bl. 14-19

Jongmense—Wat jaag julle na?

“Vlug vir die begeerlikhede van die jonkheid en jaag ná geregtigheid, geloof, liefde, vrede, saam met die wat die Here uit ’n rein hart aanroep.”—2 TIMOTHEÜS 2:22.

1. Wat is ons hoop vir die jongmense in ons midde?

“JEHOVAH SE GETUIES”, het die Sweedse Pinkster-koerant Dagen (Die Dag) gesê, “is die groep wat jaarliks die grootste aantal nuwe lidmate win en die grootste groep jongmense het.” Miskien is jy een van hierdie groep rein, godvresende jongmense. Jy is dalk van kleins af in die Christelike lewenswyse grootgemaak, of jy het dalk van die Koninkryksboodskap gehoor en dit op jou eie aangeneem. Wat ook al die geval is, ons is bly om jou in ons midde te hê. En dit is ons hoop dat jy, soos lojale jong Christene in die eerste eeu, ’n weg van geregtigheid sal najaag. Die apostel Johannes se woorde beskryf jou heel moontlik: ‘Jy is sterk en die woord van God bly in jou en jy het die Bose oorwin.’—1 Johannes 2:14.

2. Watter faktore kan dit moeilik maak om gedurende “die bloei van die jeug” ’n weg van geregtigheid na te jaag?

2 Baie—ja die meeste—hedendaagse jong Christene weerstaan die druk wat die wêreld op hulle uitoefen. Maar jy sal vind dat dit nie maklik is om so ’n lewenswyse te handhaaf nie. Wanneer jy in “die bloei van die jeug” is, kan jy deur nuwe en intense emosies oorweldig voel (1 Korinthiërs 7:36, NW). Terselfdertyd dra jy miskien ’n groter las van verantwoordelikheid op skool, by die huis of in die gemeente. Daar is selfs regstreekse druk van Satan die Duiwel. Hy is vasbeslote om soveel mense as moontlik te mislei, en hy val diegene aan wat na ’n maklike prooi lyk—net soos hy in die tuin van Eden gedoen het. Destyds het hy sy oorredingslis nie op die ouer, beter ingeligte Adam gebruik nie, maar op die jonger en betreklik onervare vrou, Eva (Genesis 3:1-5). Eeue later het Satan soortgelyke taktiek op die jong Christengemeente in Korinthe gebruik. Die apostel Paulus het gesê: “Ek vrees dat, net soos die slang Eva deur sy listigheid bedrieg het, julle sinne so miskien bedorwe kan raak, vervreemd van die opregtheid teenoor Christus.”—2 Korinthiërs 11:3.

3, 4. Wat is sommige van die instrumente wat Satan die Duiwel gebruik om jongmense te mislei, en met watter moontlike gevolg?

3 Vandag is jou Christenouers ook besorg oor jou. Nie dat hulle dink jy het bose neigings nie, maar hulle weet uit ondervinding dat jongmense veral ’n maklike prooi vir Satan se “listige dade” is (Efesiërs 6:11, voetnoot in NW). Satan se strikke lyk nie onheilspellend nie, inteendeel, hulle lyk heel aantreklik, begeerlik. Op televisie word materialisme, eksplisiete seks en geweld sowel as spiristisme as vermaak opgedis. Jong verstande kan met dinge gevul word wat alles behalwe ‘waar, eerbaar, regverdig, rein, lieflik en loflik’ is (Filippense 4:8). Portuurdwang is ’n ander magtige instrument van Satan. ’n Mens se portuurs kan jou onder kwaai druk plaas om hulle lewenstyl, kleredrag en persoonsversorging na te volg (1 Petrus 4:3, 4). Koerantrubriekskrywer William Brown het opgemerk: “As daar enige enkele, wêreldlike God vir die tiener is, is dit die God van gelykvormigheid. . . . Daar is vir tieners niks ergers as om anders te moet wees nie.” ’n Getuiemeisie in Italië het erken: “Ek was skaam om vir my skoolmaats te sê dat ek ’n Getuie is. En omdat ek geweet het dat Jehovah nie tevrede met my is nie, was ek hartseer en neerslagtig.”

4 Dit ly geen twyfel nie—Satan wil jou tot jou ondergang lei. Talle jongmense in die wêreld gaan hulle lewe gedurende die groot verdrukking verloor omdat hulle toegelaat het dat hulle mislei word (Esegiël 9:6). Die enigste manier om te oorleef, is om wat reg is na te jaag.

Waak teen slegte omgang

5, 6. (a) Watter uitdagings moes die jong man Timotheüs die hoof bied terwyl hy in Efese gewoon het? (b) Watter raad het Paulus vir Timotheüs gehad?

5 Dít is die kern van die apostel Paulus se raad aan die jong man Timotheüs. Timotheüs het die apostel Paulus langer as tien jaar op sy sendingreise vergesel. Toe Timotheüs in die heidense stad Efese gedien het, was Paulus in ’n Romeinse tronk waar hy op sy teregstelling gewag het. Namate die dag van sy dood nadergekom het, was Paulus ongetwyfeld besorg oor hoe Timotheüs sou vaar. Efese was ’n stad wat bekend was vir sy rykdom, onsedelikheid en verdorwe vermaak, en Timotheüs sou nie meer die ondersteuning van sy geliefde mentor hê nie.

6 Daarom het Paulus die volgende aan sy “geliefde kind” geskryf: “In ’n groot huis is daar nie alleen voorwerpe van goud en silwer nie, maar ook van hout en erdewerk; en sommige tot eer, maar ander tot oneer. As iemand hom dus hiervan deeglik reinig, sal hy ’n voorwerp tot eer wees, geheilig en bruikbaar vir die Here, toeberei vir elke goeie werk. Maar vlug vir die begeerlikhede van die jonkheid en jaag ná geregtigheid, geloof, liefde, vrede, saam met die wat die Here uit ’n rein hart aanroep.”—2 Timotheüs 1:2; 2:20-22.

7. (a) Wat was die ‘voorwerpe van oneer’ waarteen Paulus gewaarsku het? (b) Hoe kan hedendaagse jongmense Paulus se woorde toepas?

7 Paulus het Timotheüs dus gewaarsku dat daar selfs onder mede-Christene ‘voorwerpe van oneer’ kan wees—met ander woorde, mense wat hulle nie reg gedra nie. As omgang met sekere gesalfde Christene ’n nadelige uitwerking op Timotheüs kon hê, hoeveel slegter is omgang met wêreldlinge tog nie vir ’n hedendaagse jong Christen nie! (1 Korinthiërs 15:33, NW). Dit beteken nie dat jy jou skoolmaats moet ignoreer nie. Maar jy moet oppas dat jy nie té betrokke by hulle raak nie, selfs al laat dit jou met tye soos ’n alleenloper lyk. Dit kan baie moeilik wees. ’n Brasiliaanse meisie het gesê: “Dis moeilik. My skoolmaats nooi my altyd na partytjies en plekke wat nie vir jong Christene geskik is nie. Dan sê hulle: ‘Wat! Gaan jy nie saam nie? Jy’s laf!’”

8, 9. (a) Hoe kan omgang met oënskynlik gawe wêreldlinge vir ’n Christen gevaar inhou? (b) Waar kan jy vriende vind wat ’n heilsame invloed op jou sal hê?

8 Party wêreldse jongmense lyk miskien gaaf bloot omdat hulle nie rook, slegte taal gebruik of geslagsonsedelikheid beoefen nie. Maar as hulle nie geregtigheid najaag nie, kan hulle vleeslike denke en gesindhede jou maklik beïnvloed. Hoeveel kan jy in elk geval met ongelowiges gemeen hê? (2 Korinthiërs 6:14-16). Trouens, die geestelike waardes wat jy as kosbaar beskou, is vir hulle blote “dwaasheid”! (1 Korinthiërs 2:14). Kan jy hulle vriendskap behou sonder om jou beginsels prys te gee?

9 Bly dus weg van metgeselle wat ’n onheilsame invloed op jou kan hê. Beperk jou omgang tot geestelikgesinde Christene wat Jehovah werklik liefhet. Wees selfs in die gemeente op jou hoede vir jongmense wat negatief of krities is. Namate jy geestelik groei, sal jou keuse van vriende waarskynlik verander. Een tienderjarige Getuiemeisie het gesê: “Ek het nuwe vriende in ander gemeentes begin maak. Dit het my laat besef hoe onnodig dit is om wêreldse vriende te hê.”

Vlug vir verkeerde begeertes

10, 11. (a) Wat beteken dit om te “vlug vir die begeerlikhede van die jonkheid”? (b) Hoe kan ’n mens ‘vir die hoerery vlug’?

10 Paulus het Timotheüs ook gewaarsku om te “vlug vir die begeerlikhede van die jonkheid”. Wanneer ’n mens jonk is, kan die begeerte om gewild te wees, pret te hê of jou geslagsdrange te bevredig groot druk op jou uitoefen. As sulke begeertes nie bedwing word nie, kan dit daartoe lei dat jy sondig. Paulus het gevolglik gesê ’n mens moet vir skadelike begeertes vlug—om te vlug asof ’n mens se lewe daarvan afhang.a

11 Seksuele begeertes het byvoorbeeld al tot baie jong Christene se geestelike ondergang gelei. Die Bybel sê dus tereg dat ons moet “vlug vir die hoerery” (1 Korinthiërs 6:18). Wanneer ’n paartjie mekaar die hof maak, saam uitgaan, kan hulle hierdie beginsel toepas deur omstandighede te vermy wat ’n mens in die versoeking kan bring—soos om alleen in ’n huis of ’n geparkeerde motor te wees. Dit klink dalk outyds om ’n chaperon saam te neem, maar dit kan ’n werklike beskerming wees. En hoewel party liefdesbetuigings gepas kan wees, moet redelike perke daaraan gestel word sodat onreine gedrag vermy kan word (1 Thessalonicense 4:7). Om van hoerery te vlug, beteken ook dat ’n mens rolprente en TV-vertonings vermy wat verkeerde begeertes kan opwek (Jakobus 1:14, 15). As onsedelike gedagtes ongevraagd by jou opkom, moet jy dadelik jou gedagtes in ’n ander rigting stuur. Gaan stap ’n ent; lees iets; doen die een of ander huishoudelike takie. Gebed is in hierdie opsig veral ’n kragtige hulpmiddel.—Psalm 62:9.b

12. Hoe leer ’n mens om die kwaad te haat? Lig toe.

12 Jy moet bowenal leer om die kwaad te haat, te verafsku en te verfoei (Psalm 97:10). Hoe haat jy dít wat aanvanklik dalk prettig of genotvol is? Deur aan die gevolge te dink! “Moenie dwaal nie; God laat Hom nie bespot nie; want net wat die mens saai, dit sal hy ook maai. Hy wat in sy vlees saai, sal uit die vlees verderf maai; maar hy wat in die Gees saai, sal uit die Gees die ewige lewe maai” (Galasiërs 6:7, 8). Wanneer jy in die versoeking kom om aan hartstog toe te gee, moet jy dink aan wat die belangrikste is—hoe dit Jehovah God sal bedroef. (Vergelyk Psalm 78:41, NW.) Dink ook aan die moontlikheid van ’n ongewenste swangerskap of dat jy ’n siekte, soos vigs, kan opdoen. Dink aan die emosionele verwoesting en verlies aan selfrespek wat dit tot gevolg kan hê. Daar is ook die moontlike langtermyngevolge. Een Christenvrou het erken: “Ek en my man het albei geslagsomgang gehad voor ons mekaar ontmoet het. Hoewel ons albei vandag Christene is, is ons vorige seksuele verhoudings ’n bron van rusies en jaloesie in ons huwelik.” Die verlies van jou teokratiese voorregte of die moontlikheid dat jy uit die Christengemeente uitgesit kan word, moet ook nie oor die hoof gesien word nie! (1 Korinthiërs 5:9-13). Is dit die moeite werd om só ’n hoë prys vir enige kortstondige genot te betaal?

Strewe na ’n hegte verhouding met Jehovah

13, 14. (a) Waarom is dit nie genoeg om net van die kwaad te vlug nie? (b) Hoe kan ’n mens ‘dit najaag om Jehovah te ken’?

13 Maar dit is nie genoeg om net van die kwaad te vlug nie. Timotheüs is ook aangespoor om ‘geregtigheid, geloof, liefde en vrede na te jaag’. Dit dui op kragdadige optrede. Die profeet Hosea het die ontroue nasie van Israel op soortgelyke wyse gesmeek: “Kom en laat ons terugkeer tot die HERE . . . laat ons dit najaag om die HERE [“Jehovah”, NW] te ken” (Hosea 6:1-3). Het jý kennis van Jehovah nagejaag? Dit behels meer as om net vergaderinge by te woon en met jou ouers in die velddiens uit te gaan. Een Christenvrou het bely: “My ouers het my in die waarheid grootgemaak, en ek is op ’n jong ouderdom gedoop. . . . Ek het selde van ’n vergadering af weggebly en het nie ’n maand se velddiens oorgeslaan nie, maar ek het nooit ’n hegte, persoonlike verhouding met Jehovah aangekweek nie.”

14 ’n Ander jong meisie erken dat sy Jehovah ook nie as ’n Vriend en Vader leer ken het nie, maar hom meer as ’n abstrakte Gees beskou het. Sy het in onsedelikheid verval en het op 18 ’n ongehude moeder geword. Moenie dieselfde fout begaan nie! ‘Jaag dit na om Jehovah te ken’, soos Hosea gemaan het. Deur gebed en deur daagliks met Jehovah te wandel, kan jy hom jou intieme vriend maak. (Vergelyk Miga 6:8; Jeremia 3:4.) As ons hom soek, “is Hy nie ver van elkeen van ons nie” (Handelinge 17:27). ’n Gereelde program van persoonlike Bybelstudie is dus noodsaaklik. So ’n program hoef nie omvattend of ingewikkeld te wees nie. “Ek lees elke dag die Bybel 15 minute lank”, sê ’n jong meisie, Melody. Ruim tyd in om elke nommer van Die Wagtoring en die Ontwaak! te lees. Berei vir gemeentelike vergaderinge voor sodat jy ‘ander tot liefde en goeie werke kan aanspoor’.—Hebreërs 10:24, 25.

Gee jou hart aan jou ouers

15. (a) Waarom is dit soms moeilik om aan ’n mens se ouers gehoorsaam te wees? (b) Waarom strek gehoorsaamheid ’n jongmens gewoonlik tot voordeel?

15 Godvresende ouers kan ’n bron van ware hulp en ondersteuning wees. Maar let op die rol wat jy moet speel: “Kinders, julle moet jul ouers gehoorsaam wees in die Here, want dit is reg. Eer jou vader en jou moeder—dit is die eerste gebod met ’n belofte—sodat dit met jou goed mag gaan en jy lank mag lewe op die aarde” (Efesiërs 6:1-3). Jy word weliswaar ouer en wil waarskynlik meer vryheid hê. Jy word dalk ook al hoe meer bewus van jou ouers se beperkinge. “Ons mensevaders”, het die apostel Paulus erken, “kon net na hulle goeddunke optree” (Hebreërs 12:10, The Jerusalem Bible). Dit strek jou nietemin op die lange duur steeds tot voordeel om hulle te gehoorsaam. Jou ouers het jou lief en ken jou beter as enigiemand anders. Hoewel jy nie altyd met hulle saamstem nie, dra hulle gewoonlik jou belange op die hart. Waarom sal jy jou dan verset teen hulle pogings om jou “in die tug en vermaning van die Here” groot te maak? (Efesiërs 6:4). Dit is waarlik net ’n dwaas wat ‘die tug van sy vader verag’ (Spreuke 15:5). ’n Verstandige jongmens sal sy ouers se gesag erken en hulle die respek betoon wat hulle toekom.—Spreuke 1:8.

16. (a) Waarom is dit onverstandig vir jongmense om hulle probleme vir hulle ouers weg te steek? (b) Wat kan jongmense doen om kommunikasie met hulle ouers te verbeter?

16 Dit sal beteken dat jy jou ouers die waarheid vertel, hulle laat weet as jy probleme het, soos kwellende twyfelgedagtes oor die waarheid, of as jy jou aan ongewenste gedrag skuldig gemaak het (Efesiërs 4:25). As jy sulke verontrustende situasies vir jou ouers probeer wegsteek, skep dit net meer probleme (Psalm 26:4, NAV). Sommige ouers wend weliswaar nie juis ’n poging aan om te kommunikeer nie. “My ma gaan sit nooit om ’n bietjie met my te gesels nie”, het een jong meisie gekla. “Ek het nooit die moed om te sê hoe ek voel nie, omdat ek bang is sy gaan my kritiseer.” As jy jou in ’n soortgelyke situasie bevind, moet jy verstandig ’n geskikte tyd soek om jou ouers te vertel hoe jy voel. “My seun, gee my jou hart”, spoor Spreuke 23:26 ons aan. Probeer om gereeld met hulle oor jou kwellinge te praat, voordat ernstige probleme ontstaan.

Hou aan om geregtigheid na te jaag!

17, 18. Wat sal ’n jongmens help om in sy najaging van geregtigheid te volhard?

17 Teen die einde van sy tweede brief het Paulus Timotheüs gemaan: “Bly jy in wat jy geleer het en waarvan jy verseker is, omdat jy weet van wie jy dit geleer het” (2 Timotheüs 3:14). Jy moet dieselfde doen. Moenie toelaat dat enigiemand of enigiets jou weglok sodat jy nie meer geregtigheid najaag nie. Satan se wêreld—ondanks sy aanloklikhede—is deurtrek van goddeloosheid. Hierdie wêreld en almal wat ’n deel daarvan is, gaan binnekort verdelg word (Psalm 92:8). Jy moet vasbeslote wees om nie saam met Satan se aanhangers vernietig te word nie.

18 Daarom moet jy jou doelwitte, begeertes en belange voortdurend ondersoek. Vra jou af: ‘Behou ek ’n hoë standaard van spraak en gedrag wanneer my ouers en gemeentelede my nie kan sien nie? Watter soort vriende kies ek? Word my kleredrag en persoonsversorging deur wêreldse portuurs voorgeskryf? Watter doelwitte het ek vir my gestel? Het ek my hart op die voltydse diens gesit—of op ’n beroep in Satan se sterwende stelsel van dinge?’

19, 20. (a) Waarom moet ’n jongmens nie moedeloos voel oor Jehovah se vereistes nie? (b) Van watter voorsienings kan jongmense gebruik maak?

19 Miskien besef jy dat jy sekere veranderinge in jou denke moet aanbring (2 Korinthiërs 13:11). Moenie moedeloos voel nie. Onthou, Jehovah verwag nie meer van jou as wat redelik is nie. Die profeet Miga het gevra: “Wat vra die HERE van jou anders as om reg te doen en liefde te betrag en ootmoedig te wandel met jou God?” (Miga 6:8). Dit sal nie te moeilik wees as jy ten volle gebruik maak van Jehovah se voorsienings om jou te help nie. Bly ná aan jou ouers. Assosieer gereeld met die Christengemeente. Wend veral ’n poging aan om die gemeentelike ouere manne te leer ken. Hulle is besorg oor jou geluk en kan ’n bron van ondersteuning en vertroosting wees (Jesaja 32:2). Kweek bowenal ’n hegte, intieme verhouding met Jehovah God aan. Hy sal jou die krag en die wil gee om wat reg is na te jaag!

20 Sommige jongmense ondermyn egter hulle pogings om geestelik te groei deur na skadelike musiek te luister. Die volgende artikel sal hierdie onderwerp breedvoerig bespreek.

[Voetnote]

a Die Griekse woord vir “vlug” word ook in Mattheüs 2:13 gebruik waar Maria en Josef aangesê is om te “vlug na Egipte” om aan Herodes se moordplanne te ontkom.—Vergelyk Mattheüs 10:23.

b In hoofstuk 26 van die boek Vrae wat jongmense vra—Antwoorde wat werk, wat deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc. uitgegee is, sal jy heelwat nuttige wenke vind om geslagsdrange te beheers.

Kan jy onthou?

◻ Waarom is jongmense veral ’n maklike prooi vir Satan se “listige dade”?

◻ Waarom is dit gevaarlik om noue omgang met wêreldse jongmense te hê?

◻ Hoe kan jy vir geslagsonsedelikheid vlug?

◻ Hoe kan jy na ’n hegte verhouding met Jehovah strewe?

◻ Waarom is dit belangrik om met jou ouers te kommunikeer?

[Prent op bladsy 16]

Paartjies wat mekaar die hof maak, tree verstandig op as hulle mekaar leer ken waar hulle nie van ander mense afgesonder is nie, soos om te gaan ysskaats

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel