Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w97 9/15 bl. 3-7
  • Arm en tog ryk—Hoe is dit moontlik?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Arm en tog ryk—Hoe is dit moontlik?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Getroues van die ou tyd
  • Bly eerlik
  • Bied terneergedruktheid die hoof
  • Die krag van gebed
  • Die waarde van Bybelstudie
  • Lei kinders op vir die lewe
  • Vrygewigheid
  • Wees vlytig
  • Jehovah sorg vir sy volk
  • Beter tye in die vooruitsig
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
  • Hoe om die morele uitdaging van armoede die hoof te bied
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
  • Die einde van armoede kom nader
    Ontwaak!—1998
  • Binnekort sal niemand meer arm wees nie!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
w97 9/15 bl. 3-7

Arm en tog ryk—Hoe is dit moontlik?

Eeue gelede het ’n wyse man gebid dat hy nie arm word nie. Waarom het hy dit versoek? Omdat hy bang was dat armoede dalk aanleiding sou gee tot gesindhede en dade wat sy verhouding met God in gevaar sou stel. Dit blyk uit sy woorde: “Laat my geniet die brood wat vir my bestem is . . . dat ek nie, as ek arm geword het, steel en my aan die Naam van my God vergryp nie.”—SPREUKE 30:8, 9.

BETEKEN dit dat dit vir iemand wat arm is onmoontlik is om God getrou te dien? Hoegenaamd nie! Deur die geskiedenis heen het tallose knegte van Jehovah God hulle onkreukbaarheid teenoor hom gehandhaaf ondanks die ontberinge wat armoede meebring. Op sy beurt is Jehovah lief vir diegene wat op hom vertrou, en hy sorg vir hulle.

Getroues van die ou tyd

Die apostel Paulus het self tye van nood ondervind (2 Korintiërs 6:3, 4). Hy het ook ’n “groot wolk” van getroue voor-Christelike getuies beskryf, waarvan party “rondgeloop [het] in skaapvelle, in bokvelle, terwyl hulle gebrek gely het . . . Hulle het rondgeswerf in woestyne en berge en grotte en gate van die aarde.”—Hebreërs 11:37, 38; 12:1.

Een van hierdie getroues was die profeet Elia. Gedurende ’n droogte wat drie en ’n half jaar geduur het, het Jehovah gereeld vir hom voedsel voorsien. God het eers rawe gebruik om vir die profeet brood en vleis te bring (1 Konings 17:2-6, vgl. NW). Later het Jehovah op wonderdadige wyse gesorg dat die voorraad meel en olie waaruit ’n weduwee vir Elia kos gegee het, nie opraak nie (1 Konings 17:8-16). Die voedsel was baie eenvoudig, maar dit het die profeet, die vrou en haar seun aan die lewe gehou.

Jehovah het die getroue profeet Jeremia insgelyks gedurende swaar ekonomiese tye gehelp. Jeremia het die Babiloniese beleg van Jerusalem oorleef toe mense “brood by die gewig en met kommer [moes] eet” (Esegiël 4:16). Uiteindelik het die hongersnood in die stad so erg geword dat party vroue die vlees van hulle eie kinders geëet het (Klaagliedere 2:20). Al was Jeremia in die gevangenis weens sy onverskrokke predikingswerk het Jehovah gesorg dat hy daagliks “’n ronde brood” ontvang “totdat al die brood in die stad op was”.—Jeremia 37:21, NW.

Jeremia het dus, soos Elia, min gehad om te eet. Die Skrif sê nie vir ons wat of hoe gereeld Jeremia geëet het toe daar nie meer brood in Jerusalem was nie. Ons weet egter dat Jehovah hom gehelp het en dat hy daardie verskriklike tyd van hongersnood oorleef het.

Vandag is daar armoede in alle wêrelddele. Volgens die Verenigde Nasies kom armoede die algemeenste in Afrika voor. In 1996 het ’n persverklaring van die VN gesê: “Ten minste die helfte van alle Afrikane leef in armoede.” Ondanks verslegtende ekonomiese omstandighede pas al hoe meer Afrikane Bybelbeginsels in hulle lewe toe en dien hulle God getrou, vol vertroue dat hy hulle sal help. Beskou ’n paar voorbeelde uit een deel van ons wêreld vol probleme.

Bly eerlik

Michael,a wat in Nigerië woon, is ’n boer en het ses kinders wat hy moet onderhou. “Dit is moeilik om eerlik te wees wanneer jy nie geld het om vir jou gesin te sorg nie”, sê hy. “Maar wanneer ek in die versoeking kom om oneerlik te wees, herinner ek my aan Efesiërs 4:28, wat sê: ‘Laat die steler nie meer steel nie, maar laat hom liewer harde werk doen deur met sy hande werk te doen wat goed is.’ Wanneer ek versoek word, vra ek my dus af: ‘Het ek vir hierdie geld gewerk?’”

“Byvoorbeeld,” voeg Michael by, “terwyl ek eendag langs die pad geloop het, het ek gesien hoe ’n sak van ’n motorfiets afval. Ek kon nie die motorfietsryer stop nie en het toe die sak opgetel en gesien dat dit vol geld is! Ek het die naam in die sak gebruik om die eienaar op te spoor en het die sak vir hom teruggegee.”

Bied terneergedruktheid die hoof

’n Man in Noord-Afrika het gesê: “Armoede is [soos] om in ’n diep gat vas te sit terwyl jy die lig kan sien sowel as hoe mense vryelik rondloop, maar jy het nie ’n stem waarmee jy om hulp kan roep of ’n leer waarmee jy kan uitklim nie.” Dit is geen wonder nie dat armoede dikwels terneergedruktheid en frustrasie meebring! Selfs knegte van God kan die rykdom van ander sien en begin dink dat ’n lewe van onkreukbaarheid nie die moeite werd is nie. (Vergelyk Psalm 73:2-13.) Hoe kan sulke gevoelens teëgewerk word?

Peter, ’n man in Wes-Afrika, het ná 19 jaar in die staatsdiens afgetree. Hy leef nou hoofsaaklik van ’n klein pensioen. “Wanneer ek tye van moedeloosheid ervaar,” sê Peter, “herinner ek my aan wat ek in die Bybel en in die Wagtoringgenootskap se publikasies gelees het. Hierdie ou stelsel staan op die punt om verby te gaan, en ons verwag ’n beter stelsel.

“Ek dink ook aan 1 Petrus 5:9, wat sê: ‘Weerstaan [Satan], vas in die geloof, in die wete dat dieselfde dinge in die vorm van lyding in die hele gemeenskap van julle broers in die wêreld veroorsaak word.’ Ek is dus nie die enigste een wat swaarkry nie. Hierdie herinneringe help my om ontmoedigende en neerdrukkende gedagtes te verwerp.”

“Buitendien”, voeg Peter by, “het Jesus baie wonderwerke verrig toe hy op die aarde was, maar hy het niemand materieel ryk gemaak nie. Waarom moet ek verwag dat hy my ryk sal maak?”

Die krag van gebed

Nog ’n manier waarop ons negatiewe denke die hoof kan bied, is deur nader aan Jehovah God te kom in gebed. Toe Mary in 1960 een van Jehovah se Getuies geword het, het haar familie haar verstoot. Vandag is sy ’n ongetroude vrou in haar vyftigerjare en is sy fisies swak en het sy baie min in materiële sin. Nietemin is sy ywerig in die Christelike bediening.

Mary sê: “Wanneer ek ontmoedig voel, nader ek Jehovah in gebed. Ek weet dat niemand my méér kan help as hy nie. Ek het geleer dat Jehovah jou help wanneer jy op hom vertrou. Ek dink altyd oor hierdie woorde van koning Dawid na, wat in Psalm 37:25 opgeteken is: ‘Ek was jonk, ook het ek oud geword, maar nooit het ek die regverdige verlate gesien, of dat sy nageslag brood soek nie.’

“Ek word ook bemoedig deur die ondervindinge van ouer geestelike broers en susters in Die Wagtoring. Jehovah God het hulle gehelp, en daarom weet ek dat hy sal voortgaan om my ook te help. Hy seën my klein onderneming waar ek fufu [’n kassawemeel] verkoop, en ek is in staat om in my daaglikse behoeftes te voorsien. Soms wanneer ek omtrent niks meer geld het nie en ek wonder wat ek moet doen, stuur Jehovah iemand wat vir my ’n geskenk gee en sê: ‘Suster, neem dit asseblief.’ Jehovah het my nog nooit teleurgestel nie.”

Die waarde van Bybelstudie

Jehovah se Getuies heg groot waarde aan die bestudering van God se Woord, die Bybel, en die armes onder hulle is geen uitsondering nie. Die 60-jarige John dien as ’n pionier (’n voltydse Koninkryksverkondiger) en ’n bedieningskneg in die gemeente. Hy woon in ’n vervalle tweeverdiepinggebou waarin 13 gesinne bly. Sy kamer is ’n deel van die gang op die onderste verdieping wat met laaghout afgeskort is. Daar binne is twee ou stoele en ’n tafel met ’n hoë stapel Bybelstudiehulpe daarop. Hy slaap op ’n strooimat.

In die verlede het John sowat ’n rand per dag verdien deur brood te verkoop, maar toe daar ’n verbod op koringinvoer geplaas is, het hy sy inkomste verloor. Hy sê: “Dit is soms vir my baie moeilik, maar ek hou aan met die pionierdiens. Dit is Jehovah wat my onderskraag. Ek doen enige werk wat ek kry en steun nie op enige mens om my te onderhou of te voed nie, hoewel die broers in die gemeente baie behulpsaam is. Hulle help my om werk te soek, en soms gee hulle vir my geld as ’n geskenk.

“Ek ruim tyd in om die Bybel en die Wagtoringgenootskap se publikasies te lees. Ek studeer in die vroeë oggendure wanneer die huis stil is en lees later in die nag wanneer ons ook al elektrisiteit het. Ek weet ek moet aanhou om persoonlike studie te doen.”

Lei kinders op vir die lewe

Daniel is ’n wewenaar met ses kinders. In 1985 het hy die werk verloor wat hy 25 jaar lank gehad het, maar hy het werk as ’n winkelier gevind. “Die lewe is ekonomies gesproke moeilik vir die gesin”, sê hy. “Ons kan nou net een maal per dag eet. Eenkeer het ons drie dae lank nie geëet nie. Ons kon net water drink om aan die gang te bly.”

Daniel dien as ’n ouer man in die gemeente. “Ek bly nooit van Christelike vergaderinge weg nie, en ek bly besig met teokratiese toewysings”, sê hy. “Wanneer daar werk aan die Koninkryksaal gedoen moet word, maak ek seker dat ek daar is. En wanneer dinge moeilik gaan, herinner ek my aan Petrus se woorde aan Jesus in Johannes 6:68: ‘Here, na wie toe sal ons weggaan?’ Waarheen sal ek gaan as ek ophou om Jehovah te dien? Paulus se woorde wat ons in Romeine 8:35-39 vind, maak my ook meer vasbeslote, want dit toon dat niks ons van die liefde van God en Christus sal skei nie. Dit is die gesindheid wat ek by my kinders probeer inskerp. Ek sê gedurig vir hulle dat ons Jehovah nooit moet verlaat nie.” Daniel se ywer, tesame met ’n gereelde gesinsbybelstudie, het ’n positiewe uitwerking op sy kinders.

Vrygewigheid

’n Mens sou dink dat diegene wat in volslae armoede lewe glad nie in staat sou wees om finansieel by te dra om Koninkryksbelange te bevorder nie. Maar dit is nie die geval nie. (Vergelyk Lukas 21:1-4.) Party Getuies in Ghana wie se vernaamste bedrywigheid bestaansboerdery is, merk ’n deel van hulle grond af sodat hulle dit kan gebruik vir die bevordering van die belange van God se Koninkryk. Wanneer die opbrengs van daardie deel van hulle grond verkoop word, word die geld uitsluitlik vir daardie doel gebruik, wat onder andere beteken dat hulle bydraes gee by die plaaslike Koninkryksaal van Jehovah se Getuies.

Joan, wat in Sentraal-Afrika woon, is ’n pionier. Sy verkoop brood om vir haar verlamde man en vier ander afhanklikes te sorg. Toe die gemeente waarin Joan is banke nodig gehad het vir die Koninkryksaal, het haar gesin besluit om al die geld wat hulle in die huis gehad het te skenk. Hulle het niks oorgehad nie. Die volgende dag het iemand egter onverwags ’n ou skuld betaal, wat hulle geld gegee het wat hulle nie gedink het hulle ooit sou ontvang nie!

Joan is opgeruimd en bekommer haar nie uitermate oor geld nie. “Ek verduidelik my situasie in gebed aan Jehovah, en dan gaan ek uit in die veldbediening. Ons weet dat daar min hoop op beter tye in hierdie stelsel van dinge is. Tog weet ons dat Jehovah in ons behoeftes sal voorsien.”

Wees vlytig

Jehovah se Getuies word gekenmerk deur hulle liefde vir mekaar (Johannes 13:35). Dié wat geld het, help hulle mede-Christene wat behoeftig is. Dit kom dikwels in die vorm van ’n geskenk en soms as hulp met ’n werkgeleentheid.

Mark, wat in die Kongo woon, ly aan melaatsheid. Dit het sy tone en vingers misvorm. Hy moet gevolglik met behulp van krukke loop. Toe Mark besluit het om Jehovah te dien, het hy groot veranderinge in sy lewe begin aanbring. Hy het opgehou om kos te bedel en het sy eie voedsel begin kweek. Hy maak ook kleistene, wat hy verkoop.

Ondanks sy liggaamsgebrek het Mark aangehou om vlytig te werk. Hy het uiteindelik ’n stuk grond gekoop en ’n beskeie huisie daarop gebou. Vandag dien Mark as ’n gemeentelike ouer man en is hy ’n gerespekteerde man in die dorp waar hy woon. Hy help nou ander behoeftiges.

Op baie plekke is dit natuurlik feitlik onmoontlik om werk te vind. ’n Christelike ouer man wat by een van die Wagtoringgenootskap se takkantore in Sentraal-Afrika werk, het geskryf: “Baie broers hier is sonder werk. Party probeer om self werk te skep, maar dit is moeilik. Baie het geredeneer dat hulle materiële opofferings sal maak om pionierbedienaars te wees, aangesien hulle gaan swaarkry ongeag wat hulle doen. Baie wat dit doen, vind dat hulle in oorvloediger mate geseën word as wat die geval sou gewees het as hulle ’n werk met min of geen betaling gehad het.”

Jehovah sorg vir sy volk

Jesus Christus het van homself gesê: “Vosse het gate en voëls van die hemel het slaapplekke, maar die Seun van die mens het geen plek om sy kop neer te lê nie” (Lukas 9:58). Die apostel Paulus het eweneens geskryf: “Tot die huidige uur toe is ons steeds honger en ook dors en skraps geklee en word ons rondgeslaan en is ons dakloos.”—1 Korintiërs 4:11.

Jesus sowel as Paulus het ’n lewe met beperkte ekonomiese middele gekies sodat hulle hulle bediening in groter mate kon nastreef. Baie hedendaagse Christene is arm omdat hulle geen ander keuse het nie. Hulle pas nietemin Bybelbeginsels in hulle lewe toe en probeer ywerig om God te dien. Hulle weet dat Jehovah hulle innig liefhet wanneer hulle ondervind hoe waar hierdie versekering van Jesus is: “Hou dan aan om eers die koninkryk en sy regverdigheid te soek, en al hierdie ander [materiële dinge] sal vir julle bygevoeg word” (Matteus 6:25-33). Daarbenewens het hierdie arm knegte van God bewyse van dié feit: “Die seën van die HERE—dit maak ryk”.—Spreuke 10:22.

[Voetnote]

a Die name in hierdie artikel is verander.

[Venster op bladsy 6]

Wie is “daders van die woord”?

VOLGENS ’n Gallup-opname van 1994 glo 96 persent van Amerikaners “in God of ’n universele gees”. Daar is ook “meer kerke per capita in die Verenigde State as in enige ander nasie op aarde”, het U.S.News & World Report gesê. Ondanks hierdie vroom voorkoms, sê die veteraanmeningspeiler George Gallup jr.: “Die nugtere waarheid is dat die meeste Amerikaners nie weet wat hulle glo of waarom hulle dit glo nie.”

Statistiek toon ook dat daar ’n groot kloof tussen baie mense se godsdiensoortuigings en hulle optrede bestaan. Byvoorbeeld, “sosioloë merk op dat van die dele van die land met die hoogste misdaadsyfer toevallig ook plekke is waar godsdiensoortuiging en -beoefening die sterkste is”, sê die skrywer Jeffery Sheler.

Dit behoort ons nie te verbaas nie. Waarom nie? Want reeds in die eerste eeu het die apostel Paulus mede-Christene gewaarsku dat hulle versigtig moet wees vir diegene wat ‘in die openbaar verkondig dat hulle God ken, maar hom deur hulle werke verloën’ (Titus 1:16). Daarbenewens het Paulus vir die jong man Timoteus gesê dat “die laaste dae” gekenmerk sou word deur mense “wat ’n vorm van godvrugtige toegewydheid het maar die krag daarvan verloën”.—2 Timoteus 3:1, 5.

Ware Christene doen egter hulle bes om Jesus Christus se opdrag uit te voer om te ‘gaan en dissipels te maak van mense van al die nasies’ (Matteus 28:19). Op hierdie manier word hulle “daders van die woord en nie net hoorders . . . nie”.—Jakobus 1:22.

[Prent op bladsy 7]

Mense in alle wêrelddele heg groot waarde aan Bybelstudie

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel