Hoofstuk Vier
Die Een van wie al die profete getuig het
1. Wat toon die feite omtrent Jesus se voormenslike bestaan oor sy verhouding met Jehovah?
“DIE Vader het geneentheid vir die Seun en wys hom alles wat hy self doen” (Johannes 5:20). Wat ’n intieme verhouding het die Seun tog met sy Vader, Jehovah, geniet! Hierdie hegte verhouding het begin toe hy geskep is, ontelbare millenniums voor sy geboorte as ’n mens. Hy was God se enigverwekte Seun, die enigste een wat regstreeks deur Jehovah geskep is. Alle ander dinge in die hemel en op aarde is deur middel van hierdie innig geliefde eersgebore Seun geskep (Kolossense 1:15, 16). Hy het ook as God se Woord, of Woordvoerder, gedien, die Een deur wie God se wil aan ander oorgedra is. Hierdie een, die Seun vir wie God besonder lief was, het die mens Jesus Christus geword.—Spreuke 8:22-30; Johannes 1:14, 18; 12:49, 50.
2. In watter mate het Bybelprofesieë na Jesus verwys?
2 Voordat God se eersgebore Seun wonderdadig as ’n mens verwek is, is talle geïnspireerde profesieë oor hom opgeteken. Die apostel Petrus het vir Kornelius gesê: “Van hom getuig al die profete” (Handelinge 10:43). In die Bybel word daar soveel aandag op Jesus se rol gevestig dat ’n engel vir die apostel Johannes gesê het: “Dit is die aflegging van getuienis omtrent Jesus wat profesie inspireer” (Openbaring 19:10). Hierdie profesieë het hom duidelik as die Messias geïdentifiseer. Hulle het die aandag gevestig op verskillende rolle wat hy in die vervulling van God se voornemens sou speel. Dit alles moet vandag vir ons van groot belang wees.
Wat die profesieë geopenbaar het
3. (a) Wie word in die profesie in Genesis 3:15 voorgestel deur die slang, “die vrou” en die ‘saad van die slang’? (b) Waarom is die ‘vermorseling van die slang se kop’ vir Jehovah se knegte van groot belang?
3 Die eerste van hierdie profesieë is ná die opstand in Eden uitgespreek. Jehovah het vir die slang gesê: “Ek sal vyandskap stel tussen jou en die vrou en tussen jou saad en haar saad. Hy sal jou kop vermorsel, en jy sal hom in die hakskeen wond” (Genesis 3:15). Hierdie profesie is in werklikheid gerig tot Satan, die een wat deur die slang verteenwoordig is. “Die vrou” is Jehovah se lojale hemelse organisasie, wat vir hom soos ’n getroue vrou is. Die ‘saad van die slang’ sluit al die engele en mense in wat die gees van Satan openbaar, dié wat Jehovah en Sy volk teëstaan. Die ‘vermorseling van die slang se kop’ beteken die uiteindelike vernietiging van die opstandige Satan, wat Jehovah belaster het en groot droefheid vir die mensdom veroorsaak het. Maar wie is die vernaamste lid van die “saad” wat die vermorseling sal doen? Dit het eeue lank ’n “heilige geheim” gebly.—Romeine 16:20, 25, 26.
4. Hoe het Jesus se geslagslyn gehelp om hom as die beloofde Saad te identifiseer?
4 Ná ongeveer 2 000 jaar van mensegeskiedenis het Jehovah verdere besonderhede verstrek. Hy het aangedui dat die Saad in die geslagslyn van Abraham sou verskyn (Genesis 22:15-18). Maar die geslagslyn van die Saad sou nie van vleeslike afstamming afhang nie, maar van God se keuse. Ondanks Abraham se liefde vir sy seun Ismael, Hagar se seun, het Jehovah gesê: “My verbond sal ek met Isak tot stand bring, wat Sara . . . vir jou sal baar” (Genesis 17:18-21). Later is hierdie verbond bevestig, nie met Isak se eersgebore seun Esau nie, maar met Jakob, van wie die 12 stamme van Israel afgestam het (Genesis 28:10-14). Na verloop van tyd is daar getoon dat die Saad in die stam Juda, in die geslag van Dawid, gebore sou word.—Genesis 49:10; 1 Kronieke 17:3, 4, 11-14.
5. Wat het aan die begin van Jesus se aardse bediening duidelik getoon dat hy die Messias is?
5 Watter ander leidrade is oor die Saad se identiteit gegee? Meer as 700 jaar vooruit het die Bybel Betlehem aangewys as die plek waar die beloofde Saad as mens gebore sou word. Dit het ook geopenbaar dat die Saad reeds “uit die dae van onbepaalde tyd” bestaan het, sedert die tyd toe hy in die hemel geskep is (Miga 5:2). Die presiese tyd wanneer hy as die Messias op die aarde sou verskyn, is ook voorspel, deur die profeet Daniël (Daniël 9:24-26). En toe Jesus met heilige gees gesalf is, toe hy Jehovah se Gesalfde geword het, het God se stem uit die hemel hom duidelik as Sy Seun geïdentifiseer (Matteus 3:16, 17). Die Saad is geopenbaar! Filippus kon dus met oortuiging sê: “Ons het die een gevind van wie Moses, in die Wet, en die Profete geskryf het, Jesus.”—Johannes 1:45.
6. (a) Wat het Jesus se volgelinge volgens Lukas 24:27 besef? (b) Wie is die vernaamste lid van die ‘saad van die vrou’, en wat beteken dit dat hy die slang se kop sal vermorsel?
6 Daarna het Jesus se volgelinge besef dat daar letterlik tientalle profetiese verwysings na hom in die geïnspireerde Skrif was (Lukas 24:27). Dit het selfs duideliker geword dat Jesus die vernaamste lid van die ‘saad van die vrou’ is, die een wat die slang se kop sal vermorsel, wat Satan sal verbrysel sodat hy nie meer bestaan nie. Deur middel van Jesus sal al God se beloftes aan die mensdom, alles waarna ons hunker, vervul word.—2 Korintiërs 1:20.
7. Buiten om te weet wie die Een is na wie die profesieë verwys, wat anders is dit goed om te besef?
7 Watter uitwerking moet hierdie kennis op ons hê? Die Bybel vertel van ’n Etiopiese eunug wat party van hierdie profesieë oor die komende Verlosser en Messias gelees het. Hy het dit nie verstaan nie en vir die evangeliedienaar Filippus gevra: “Van wie sê die profeet dit?” Maar die eunug het die saak nie daar gelaat toe hy die antwoord gekry het nie. Nadat hy aandagtig na Filippus se verduideliking geluister het, het die man besef dat waardering vir hierdie vervulde profesie optrede van sy kant vereis. Hy het besef dat hy gedoop moet word (Handelinge 8:32-38; Jesaja 53:3-9). Reageer ons op dieselfde manier?
8. (a) Wat het Abraham se poging om Isak te offer, voorafgeskadu? (b) Waarom het Jehovah vir Abraham gesê dat alle nasies hulleself deur middel van die Saad sou seën, en hoe is dit vandag op ons van toepassing?
8 Dink ook aan die roerende verhaal van Abraham se poging om Isak, sy enigste seun by Sara, te offer (Genesis 22:1-18). Dit het voorafgeskadu wat Jehovah sou doen—dat hy sy enigverwekte Seun sou opoffer: “God het die wêreld so liefgehad dat hy sy enigverwekte Seun gegee het, sodat elkeen wat geloof in hom beoefen, nie vernietig sal word nie maar die ewige lewe kan hê” (Johannes 3:16). Dit gee ons die vertroue dat Jehovah, net soos hy sy enigverwekte Seun gegee het om Sy voorneme te vervul, ook aan ons “alle ander dinge goedgunstig [sal] gee” (Romeine 8:32). Wat verg dit van ons? Soos opgeteken in Genesis 22:18, het Jehovah vir Abraham gesê dat alle nasies hulleself deur middel van die Saad sou seën “omdat [Abraham] na [God se] stem geluister het”. Ons moet ook na Jehovah en sy Seun luister: “Hy wat geloof in die Seun beoefen, het die ewige lewe; hy wat aan die Seun ongehoorsaam is, sal die lewe nie sien nie, maar die gramskap van God bly op hom.”—Johannes 3:36.
9. Wat sal ons doen as ons waardering het vir die hoop op die ewige lewe wat deur Jesus se offerande moontlik gemaak is?
9 As ons waardering het vir die hoop op die ewige lewe wat deur Jesus se offerande moontlik gemaak is, sal ons die dinge wil doen wat Jehovah vir ons deur Jesus gesê het. Hierdie dinge hou verband met ons liefde vir God en vir ons naaste (Matteus 22:37-39). Jesus het getoon dat ons liefde vir Jehovah ons sal beweeg om ander te leer “om alles te onderhou wat [Jesus ons] beveel het” (Matteus 28:19, 20). En ons wil hierdie liefde met medeknegte van Jehovah deel deur ons gereelde “onderlinge vergadering” met hulle (Hebreërs 10:25; Galasiërs 6:10). Wanneer ons na God en sy Seun luister, moet ons ook nie dink dat hulle volmaaktheid van ons vereis nie. Hebreërs 4:15 sê dat Jesus, as ons Hoëpriester, “met ons swakhede kan simpatiseer”. Hoe bemoedigend is dit tog, veral wanneer ons God deur Christus in gebed nader om ons te help om ons swakhede te bowe te kom!—Matteus 6:12.
Toon geloof in Christus
10. Waarom is daar geen redding behalwe in Jesus Christus nie?
10 Nadat die apostel Petrus aan die Joodse Hoë Raad in Jerusalem verduidelik het dat Bybelprofesieë deur Jesus vervul is, het hy kragtig afgesluit: “Daar [is] geen redding in enigiemand anders nie, want daar is nie ’n ander naam onder die hemel wat onder die mense gegee is waardeur ons gered moet word nie” (Handelinge 4:12). Aangesien al Adam se nakomelinge sondaars is, het hulle dood geen waarde wat as ’n losprys vir enigiemand gebruik kan word nie. Maar Jesus was volmaak, en sy lewe het offerwaarde gehad (Psalm 49:6-9; Hebreërs 2:9). Hy het vir God ’n losprys aangebied wat presies dieselfde waarde gehad het as die volmaakte lewe wat Adam verloor het (1 Timoteus 2:5, 6). Dit het dit vir ons moontlik gemaak om ewige lewe in God se nuwe wêreld te verkry.
11. Verduidelik hoe ons grootliks by Jesus se offerande kan baat vind?
11 Die losprys het dit ook vir ons moontlik gemaak om selfs nou ander voordele te ontvang. Al is ons sondaars, maak Jesus se offerande dit byvoorbeeld vir ons moontlik om ’n rein gewete te hê omdat ons sondes vergewe kan word. Dit is baie meer as wat die Israeliete ooit verkry het deur die diereoffers wat die Mosaïese Wet vereis het (Handelinge 13:38, 39; Hebreërs 9:13, 14; 10:22). Maar as ons hierdie vergifnis wil ontvang, moet ons eerlik erken dat ons Christus se offerande baie nodig het: “As ons die bewering maak: ‘Ons het geen sonde nie’, mislei ons onsself en is die waarheid nie in ons nie. As ons ons sondes bely, is hy getrou en regverdig om ons ons sondes te vergewe en ons van alle onregverdigheid te reinig.”—1 Johannes 1:8, 9.
12. Waarom is waterdoop belangrik om ’n goeie gewete voor God te verkry?
12 Hoe kan sondaars geloof in Christus en sy offerande openbaar? Toe mense in die eerste eeu gelowiges geword het, het hulle dit in die openbaar getoon. Hoe? Hulle het hulle laat doop. Waarom? Omdat Jesus beveel het dat al sy dissipels gedoop moet word (Matteus 28:19, 20; Handelinge 8:12; 18:8). ’n Persoon sal nie huiwer as sy hart werklik geraak word deur die liefdevolle voorsiening wat Jehovah deur Jesus gemaak het nie. Hy sal die nodige veranderinge in sy lewe aanbring, hom in gebed aan God toewy en sy toewyding deur waterdoop simboliseer. Deur op hierdie manier geloof te toon, doen hy ’n “versoek tot God om ’n goeie gewete”.—1 Petrus 3:21.
13. Wat moet ons daaromtrent doen as ons besef dat ons gesondig het, en waarom?
13 Selfs hierna sal sondige neigings natuurlik nog kop uitsteek. Wat dan? Die apostel Johannes het gesê: “Ek skryf hierdie dinge aan julle sodat julle nie ’n sonde begaan nie. En tog, as iemand ’n sonde begaan, het ons ’n helper by die Vader, Jesus Christus, ’n regverdige. En hy is ’n soenoffer vir ons sondes” (1 Johannes 2:1, 2). Beteken dit dat ons maar enigiets kan doen en dat alles weer reg sal wees as ons tot God om vergifnis bid? Nie noodwendig nie. Die sleutel tot vergifnis is opregte berou. Ons het miskien ook die hulp van ouer, meer ervare lede van die Christengemeente nodig. Ons moet besef hoe verkeerd ons daad was en opreg spyt wees daaroor sodat ons ’n ernstige poging sal aanwend om dit nie te herhaal nie (Handelinge 3:19; Jakobus 5:13-16). As ons dit doen, kan ons seker wees dat Jesus ons sal help en dat ons in Jehovah se guns herstel sal word.
14. (a) Verduidelik ’n belangrike manier waarop ons by Jesus se offerande baat vind. (b) Wat sal ons doen as ons werklik geloof het?
14 Jesus se offerande het ewige lewe in die hemel moontlik gemaak vir ’n “klein kuddetjie”, die sekondêre deel van die saad van Genesis 3:15 (Lukas 12:32; Galasiërs 3:26-29). Dit het ook ewige lewe op ’n paradysaarde moontlik gemaak vir duisendmiljoene ander mense (Psalm 37:29; Openbaring 20:11, 12; 21:3, 4). Ewige lewe is “die gawe wat God gee . . . deur Christus Jesus, ons Here” (Romeine 6:23; Efesiërs 2:8-10). As ons geloof in hierdie gawe het, sowel as waardering vir die manier waarop dit moontlik gemaak is, sal ons dit toon. Ons sal die Christelike bediening een van die belangrikste dinge in ons lewe maak as ons besef op watter wonderlike wyse Jehovah Jesus gebruik het om Sy wil uit te voer en hoe noodsaaklik dit is dat ons almal Jesus se voetstappe noukeurig volg. Ons geloof sal blyk uit die oortuiging waarmee ons ander van hierdie luisterryke gawe van God vertel.—Handelinge 20:24.
15. Hoe het geloof in Jesus Christus ’n verenigende uitwerking?
15 Wat ’n voortreflike, verenigende uitwerking het sulke geloof tog! Daardeur kom ons nader aan Jehovah, aan sy Seun en aan mekaar in die Christengemeente (1 Johannes 3:23, 24). Dit laat ons ons verheug oor die feit dat Jehovah goedgunstig aan sy Seun “die naam gegee [het] wat bo elke ander naam [behalwe God se naam] is, sodat in die naam van Jesus elke knie sou buig van dié in die hemel en dié op die aarde en dié onder die grond, en elke tong openlik sou erken dat Jesus Christus Here is tot die heerlikheid van God die Vader”.—Filippense 2:9-11.
Hersieningsbespreking
• Waarom was die Messias se identiteit by sy verskyning duidelik vir dié wat waarlik God se Woord geglo het?
• Wat is van die dinge wat ons moet doen om ons waardering vir Jesus se offerande te toon?
• Op watter maniere het ons reeds by Jesus se offerande baat gevind? Hoe help dit ons wanneer ons tot Jehovah om vergifnis van sondes bid?
[Prent op bladsy 36]
Jesus het vir sy volgelinge gesê dat hulle ander moet leer om God se gebooie te bewaar