Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w98 2/15 bl. 12-17
  • Jehovah bring baie seuns tot heerlikheid

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Jehovah bring baie seuns tot heerlikheid
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Tot heerlikheid gebring
  • “Uit God gebore”
  • Bewyse van verwekking
  • Die getuienis van die gees
  • In spesiale verbonde ingebring
  • Geroep, uitverkies en getrou
  • Wie het werklik ’n hemelse roeping?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
  • Christengetuies met hemelse burgerskap
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
  • Glorieryke vryheid vir die kinders van God is op hande
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
  • Het jy “die gees van die waarheid” ontvang?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2002
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
w98 2/15 bl. 12-17

Jehovah bring baie seuns tot heerlikheid

“Dit was gepas vir [God] om, ten einde baie seuns tot heerlikheid te bring, die Hoofbewerker van hulle redding deur lyding te vervolmaak.”—HEBREËRS 2:10.

1. Waarom kan ons seker wees dat Jehovah se voorneme met die mensdom verwesenlik sal word?

JEHOVAH het die aarde geskep om die ewige tuiste van ’n volmaakte mensegesin te wees wat eindelose lewe geniet (Prediker 1:4; Jesaja 45:12, 18). Ons voorvader Adam het weliswaar gesondig en die sonde en die dood sodoende aan sy nageslag oorgedra. Maar God se voorneme met die mensdom sal deur sy Beloofde Saad, Jesus Christus, verwesenlik word (Genesis 3:15; 22:18; Romeine 5:12-21; Galasiërs 3:16). Liefde vir die mensdom het Jehovah beweeg om “sy enigverwekte Seun [te gee], sodat elkeen wat geloof in hom beoefen, nie vernietig sal word nie maar die ewige lewe kan hê” (Johannes 3:16). En liefde het Jesus beweeg “om sy siel te gee as ’n losprys in ruil vir baie” (Matteus 20:28). Hierdie “ooreenstemmende losprys” koop die regte en vooruitsigte terug wat Adam verbeur het en maak die ewige lewe moontlik.—1 Timoteus 2:5, 6; Johannes 17:3.

2. Hoe is die aanwending van Jesus se losprysofferande op Israel se jaarlikse Versoendag afgebeeld?

2 Die aanwending van Jesus se losprysofferande is op die jaarlikse Versoendag afgebeeld. Op daardie dag het Israel se hoëpriester eers ’n bul as ’n sondoffer gebring en die bloed daarvan by die heilige Ark in die Allerheiligste van die tabernakel, en later in die tempel, aangebied. Dit is ten behoewe van homself, sy huisgesin en die stam van Levi gedoen. Net so het Jesus Christus die waarde van sy bloed vir God aangebied om eers die sondes van sy geestelike “broers” te dek (Hebreërs 2:12; 10:19-22; Levitikus 16:6, 11-14). Op die Versoendag het die hoëpriester ook ’n bok as ’n sondoffer gebring en die bloed daarvan in die Allerheiligste aangebied en sodoende vir die sondes van die 12 niepriesterlike stamme van Israel versoening gedoen. Die Hoëpriester Jesus Christus sal insgelyks sy lewensbloed aanwend ten behoewe van dié mense wat geloof beoefen en so hulle hulle sondes kwytskeld.—Levitikus 16:15.

Tot heerlikheid gebring

3. Wat het God 1900 jaar lank, volgens Hebreërs 2:9, 10, gedoen?

3 God het 1900 jaar lank iets merkwaardigs met betrekking tot Jesus se “broers” gedoen. Die apostel Paulus het hieroor geskryf: “Ons sien Jesus, wat ’n bietjie laer as engele gemaak is, met heerlikheid en eer gekroon omdat hy die dood ondergaan het, sodat hy deur God se onverdiende goedhartigheid vir elke mens die dood sou smaak. Want dit was gepas vir die een [Jehovah God] ter wille van wie alle dinge is en deur wie alle dinge is om, ten einde baie seuns tot heerlikheid te bring, die Hoofbewerker van hulle redding deur lyding te vervolmaak” (Hebreërs 2:9, 10). Die Hoofbewerker van redding is Jesus Christus, wat volmaakte gehoorsaamheid geleer het deur die dinge wat hy as ’n mens op die aarde gely het (Hebreërs 5:7-10). Jesus was die eerste een wat as ’n geestelike seun van God verwek is.

4. Wanneer en hoe is Jesus as God se geestelike Seun verwek?

4 Jehovah het sy heilige gees, of werkende krag, gebruik om Jesus as sy geestelike Seun te verwek, om hom tot hemelse heerlikheid te bring. Terwyl Jesus alleen saam met Johannes die Doper was, het hy algehele onderdompeling in water ondergaan om te simboliseer dat hy homself vir God aanbied. Lukas se Evangelieverslag sê: “Toe die hele volk gedoop is, is ook Jesus gedoop, en terwyl hy gebid het, is die hemel geopen en het die heilige gees in liggaamlike gedaante soos ’n duif op hom neergedaal, en ’n stem het uit die hemel gekom: ‘Jy is my Seun, die geliefde; ek het jou goedgekeur’” (Lukas 3:21, 22). Johannes het die heilige gees op Jesus sien neerdaal en gehoor hoe Jehovah met openlike goedkeuring van hom as Sy geliefde Seun praat. By daardie geleentheid en deur heilige gees het Jehovah Jesus verwek as die eerste van die ‘baie seuns wat tot heerlikheid gebring sou word’.

5. Wie was die eerstes wat by Jesus se offerande baat gevind het, en hoeveel is hulle?

5 Jesus se “broers” was die eerstes wat by sy offerande baat gevind het (Hebreërs 2:12-18). In ’n visioen het die apostel Johannes hulle reeds in heerlikheid op die hemelse berg Sion saam met die Lam, die verrese Here Jesus Christus, gesien. Johannes het ook hulle getal bekend gemaak en gesê: “Ek het gesien, en kyk! die Lam het gestaan op die berg Sion, en saam met hom honderd-vier-en-veertigduisend met sy naam en die naam van sy Vader op hulle voorkoppe geskrywe. . . . Hulle is uit die mensdom gekoop as eerstelinge vir God en vir die Lam, en geen onwaarheid is in hulle mond gevind nie; hulle is sonder smet” (Openbaring 14:1-5). Die ‘baie seuns wat tot heerlikheid gebring word’ in die hemel tel dus slegs 144 001—Jesus en sy geestelike broers.

“Uit God gebore”

6, 7. Wie word “uit God gebore”, en wat beteken dit vir hulle?

6 Diegene wat deur Jehovah verwek word, is “uit God gebore”. Die apostel Johannes het sulke persone aangespreek en geskryf: “Elkeen wat uit God gebore is, bedryf nie sonde nie, want Sy [Jehovah se] voortplantingsaad bly in so iemand, en hy kan nie sonde beoefen nie, want hy is uit God gebore” (1 Johannes 3:9). Hierdie “voortplantingsaad” is God se heilige gees. In medewerking met sy woord het dit elkeen van die 144 000 “’n nuwe geboorte” tot ’n hemelse hoop gegee.—1 Petrus 1:3-5, 23.

7 Jesus was van sy menslike geboorte af God se Seun, net soos die volmaakte man Adam “die seun van God” was (Lukas 1:35; 3:38). Ná Jesus se doop was dit egter betekenisvol dat Jehovah verklaar het: “Jy is my Seun, die geliefde; ek het jou goedgekeur” (Markus 1:11). Deurdat hierdie verklaring met die vloei van die heilige gees gepaardgegaan het, was dit duidelik dat God Jesus toe as Sy geestelike Seun voortgebring het. Jesus is toe as ’t ware “’n nuwe geboorte” gegee met die reg om weer eens lewe as ’n Geesseun van God in die hemel te ontvang. Soos hy word sy 144000 geestelike broers “weer gebore”. (Johannes 3:1-8; sien Die Wagtoring van 15 November 1992, bladsye 3-6.) En soos Jesus word hulle deur God gesalf en beveel om die goeie nuus te verkondig.—Jesaja 61:1, 2; Lukas 4:16-21; 1 Johannes 2:20.

Bewyse van verwekking

8. Watter bewyse was daar van geesverwekking in die geval van (a) Jesus (b) sy vroeë dissipels?

8 Daar was bewyse dat Jesus deur die gees verwek is. Johannes die Doper het die gees op Jesus sien neerdaal en God se verklaring van die pas gesalfde Messias se geestelike seunskap gehoor. Maar hoe sou Jesus se dissipels weet dat hulle deur die gees verwek is? Wel, op die dag van Jesus se hemelvaart het hy gesê: “Johannes het wel met water gedoop, maar nie baie dae hierna nie sal julle in heilige gees gedoop word” (Handelinge 1:5). Jesus se dissipels is op Pinksterdag 33 G.J. “in heilige gees gedoop”. Daardie uitstorting van die gees het gepaardgegaan met ‘’n gedruis uit die hemel soos dié van ’n voortstuwende, stywe bries’ en “tonge soos van vuur” op elkeen van die dissipels. Wat veral merkwaardig was, was die dissipels se vermoë om “in ander tale [te] praat, net soos die gees aan hulle gegee het om te spreek”. Daar was dus sigbare en hoorbare bewyse dat die weg tot hemelse heerlikheid as God se seuns vir volgelinge van Christus geopen is.—Handelinge 2:1-4, 14-21; Joël 2:28, 29.

9. Watter bewyse was daar dat die Samaritane, Kornelius en ander in die eerste eeu deur die gees verwek is?

9 ’n Ruk later het Filippus die evangeliedienaar in Samaria gepreek. Hoewel die Samaritane sy boodskap aangeneem het en gedoop is, het hulle nie bewyse gehad dat God hulle as sy seuns verwek het nie. Toe die apostel Petrus en Johannes gebid en daardie gelowiges die hande opgelê het, het hulle op die een of ander manier wat duidelik vir waarnemers was “heilige gees begin ontvang” (Handelinge 8:4-25). Dit het bewys dat die gelowige Samaritane deur die gees as seuns van God verwek is. In 36 G.J. het Kornelius en ander nie-Jode insgelyks God se waarheid aangeneem. Petrus en die Joodse gelowiges wat hom vergesel het, “was verbaas, omdat die heilige gees as vrye gawe ook op mense van die nasies uitgestort is. Want hulle het gehoor hoe hulle in tale praat en God groot maak” (Handelinge 10:44-48). Baie eerste-eeuse Christene het “gawes van die gees” ontvang, soos om in tale te praat (1 Korintiërs 14:12, 32). Hierdie mense het dus duidelike bewys gehad dat hulle deur die gees verwek is. Maar hoe sou latere Christene weet of hulle deur die gees verwek is of nie?

Die getuienis van die gees

10, 11. Hoe sou jy op grond van Romeine 8:15-17 verduidelik hoe die gees met diegene getuig wat Christus se mede-erfgename is?

10 Al 144 000 gesalfde Christene het onbetwisbare bewys ontvang dat hulle God se gees het. In verband hiermee het Paulus geskryf: “Julle het ’n gees van aanneming as seuns ontvang, deur welke gees ons uitroep: ‘Abba, Vader!’ Die gees self getuig met ons gees dat ons God se kinders is. As ons dan kinders is, is ons ook erfgename: ja, erfgename van God, maar mede-erfgename met Christus, mits ons saam ly, sodat ons ook saam verheerlik kan word” (Romeine 8:15-17). Gesalfde Christene het ’n gees, ’n oorheersende gevoel, van seunskap teenoor hulle hemelse Vader (Galasiërs 4:6, 7). Hulle is heeltemal seker dat hulle deur God tot geestelike seunskap verwek is as mede-erfgename met Christus in die hemelse Koninkryk. Hierin speel Jehovah se heilige gees ’n besliste rol.

11 Onder die invloed van God se heilige gees beweeg die gees, of oorheersende gesindheid, van gesalfdes hulle om positief te reageer op wat God se Woord oor die hemelse hoop sê. Wanneer hulle byvoorbeeld lees wat die Skrif oor Jehovah se geestelike kinders sê, erken hulle spontaan dat sulke woorde op hulle van toepassing is (1 Johannes 3:2). Hulle weet dat hulle “in Christus Jesus” asook in sy dood “in gedoop is” (Romeine 6:3). Hulle vaste oortuiging is dat hulle God se geestelike seuns is, wat sal sterf en, soos Jesus, tot hemelse heerlikheid opgewek sal word.

12. Wat het God se gees in gesalfde Christene gewek?

12 Om tot geestelike seunskap verwek te word, is nie ’n aangekweekte begeerte nie. Geesverwektes wil nie hemel toe gaan omdat hulle angstig is oor die huidige ontberinge op die aarde nie (Job 14:1). Jehovah se gees het eerder in ware gesalfdes ’n hoop en ’n begeerte gewek wat ongewoon is vir mense oor die algemeen. Sulke geesverwektes weet dat die ewige lewe in menslike volmaaktheid op ’n paradysaarde, omring deur ’n gelukkige gesin en vriende, wonderlik sal wees. Maar so ’n lewe is nie die grootste begeerte van hulle hart nie. Gesalfdes se hemelse hoop is so sterk dat hulle alle aardse vooruitsigte en bande gewillig opoffer.—2 Petrus 1:13, 14.

13. Wat was Paulus se ‘vurige begeerte’ volgens 2 Korintiërs 5:1-5, en wat dui dit aan met betrekking tot geesverwektes?

13 Hulle godgegewe hoop op hemelse lewe is so sterk dat hulle soos Paulus voel, wat geskryf het: “Ons weet dat as ons aardse huis, hierdie tent, afgebreek sou word, ons ’n gebou sal hê wat van God kom, ’n huis wat nie met hande gemaak is nie, ewig, in die hemele. Want in hierdie woonhuis kreun ons inderdaad en begeer ons vurig om ons met die een te beklee wat vir ons uit die hemel bestem is, sodat ons, nadat ons ons werklik daarmee beklee het, nie naak bevind sal word nie. Trouens, ons wat in hierdie tent is, kreun, omdat ons beswaar is; want ons wil dit nie aflê nie, maar wil ons met die ander een beklee, sodat die sterflike deur die lewe verswelg kan word. En hy wat ons juis hiervoor voortgebring het, is God, wat ons die onderpand van wat gaan kom, dit wil sê die gees, gegee het” (2 Korintiërs 5:1-5). Paulus se ‘vurige begeerte’ was om as ’n onsterflike geesskepsel in die hemel opgewek te word. Hy het met verwysing na die menslike liggaam die metafoor van ’n opvoubare tent gebruik, ’n brose en tydelike woning in vergelyking met ’n huis. Hoewel Christene wat die gees as ’n onderpand van komende hemelse lewe het in ’n sterflike, vleeslike liggaam op die aarde lewe, sien hulle uit na ‘’n gebou wat van God kom’, ’n onsterflike, onverderflike geesliggaam (1 Korintiërs 15:50-53). Soos Paulus kan hulle in alle erns sê: “Ons hou goeie moed en wil liewer van die [menslike] liggaam afwesig raak en by die Here [in die hemel] gaan woon.”—2 Korintiërs 5:8.

In spesiale verbonde ingebring

14. Watter verbond het Jesus eerste genoem toe hy die Gedenkmaalviering ingestel het, en watter rol speel dit met betrekking tot geestelike Israeliete?

14 Geesverwekte Christene is seker dat hulle in twee spesiale verbonde ingebring is. Jesus het een hiervan genoem toe hy ongesuurde brood en wyn gebruik het om die herdenking van sy naderende dood in te stel en van die wynbeker gesê het: “Hierdie beker beteken die nuwe verbond kragtens my bloed, wat ten behoewe van julle uitgestort gaan word” (Lukas 22:20; 1 Korintiërs 11:25). Wie is die partye in die nuwe verbond? Jehovah God en die lede van geestelike Israel—diegene wat Jehovah van voorneme is om tot hemelse heerlikheid te bring (Jeremia 31:31-34; Galasiërs 6:15, 16; Hebreërs 12:22-24). Die nuwe verbond, wat deur Jesus se vergote bloed bekragtig is, neem uit die nasies ’n volk vir Jehovah se naam en maak hierdie geesverwekte Christene deel van Abraham se “saad” (Galasiërs 3:26-29; Handelinge 15:14). Die nuwe verbond maak dit vir alle geestelike Israeliete moontlik om tot heerlikheid gebring te word deur tot onsterflike lewe in die hemel opgewek te word. Aangesien dit “’n ewige verbond” is, is die voordele daarvan ewigdurend. Ons sal nog moet sien of hierdie verbond ook op ander maniere gedurende die Millennium en daarna ’n rol sal speel.—Hebreërs 13:20.

15. In watter ander verbond word Jesus se gesalfde volgelinge in ooreenstemming met Lukas 22:28-30 ingebring, en sedert wanneer?

15 Die “baie seuns” wat Jehovah van voorneme was om “tot heerlikheid te bring”, is ook individueel in die verbond vir ’n hemelse Koninkryk ingebring. Aangaande hierdie verbond tussen homself en sy navolgers het Jesus gesê: “Julle is . . . dié wat in my beproewinge altyddeur by my gebly het; en ek sluit ’n verbond met julle, net soos my Vader ’n verbond met my gesluit het, vir ’n koninkryk, sodat julle aan my tafel in my koninkryk kan eet en drink en op trone kan sit om die twaalf stamme van Israel te oordeel” (Lukas 22:28-30). Die Koninkryksverbond het in werking getree toe Jesus se dissipels op Pinkster 33 G.J. met heilige gees gesalf is. Hierdie verbond bly vir ewig van krag tussen Christus en sy medekonings (Openbaring 22:5). Geesverwekte Christene is dus daarvan oortuig dat hulle in die nuwe verbond en in die verbond vir die Koninkryk is. By vieringe van die Here se Aandmaal gebruik dus slegs die betreklike klein aantal oorblywende gesalfdes wat nog op die aarde is die brood, wat Jesus se sondelose menslike liggaam voorstel, en die wyn, wat sy volmaakte bloed afbeeld wat in die dood uitgestort is en die nuwe verbond bekragtig het.—1 Korintiërs 11:23-26; sien Die Wagtoring van 1 Februarie 1989, bladsye 17-20.

Geroep, uitverkies en getrou

16, 17. (a) Wat moet waar wees van al die 144 000 om tot heerlikheid gebring te word? (b) Wie is die “tien konings”, en hoe behandel hulle die aardse oorblyfsel van Christus se “broers”?

16 Die eerste aanwending van Jesus se losprysofferande maak dit vir 144 000 moontlik om tot hemelse lewe geroep te word en om uitverkies te word deurdat God hulle deur sy gees verwek. Hulle moet natuurlik hulle ‘uiterste bes doen om hulle roeping en verkiesing te verseker’ en moet hulle tot in die dood getrou betoon as hulle tot heerlikheid gebring wil word (2 Petrus 1:10; Efesiërs 1:3-7; Openbaring 2:10). Die klein oorblyfsel van gesalfdes wat nog op die aarde is, handhaaf hulle onkreukbaarheid hoewel hulle deur “tien konings” teëgestaan word wat al die politieke magte afbeeld. “Hulle sal teen die Lam veg”, het ’n engel gesê, “maar die Lam sal hulle oorwin omdat hy Here van die here en Koning van die konings is. Ook sal die geroepenes en uitverkorenes en getroues wat saam met hom is, oorwin.”—Openbaring 17:12-14.

17 Menslike heersers kan niks teen Jesus, die “Koning van die konings”, doen nie, want hy is in die hemel. Maar hulle openbaar vyandigheid teenoor die oorblyfsel van sy “broers” wat nog op die aarde is (Openbaring 12:17). Dit sal by God se oorlog van Armageddon tot ’n einde kom, wanneer die “Koning van die konings” en sy “broers”—“die geroepenes en uitverkorenes en getroues”—seker van die oorwinning is (Openbaring 16:14, 16). Intussen is geesverwekte Christene baie besig. Wat doen hulle nou, voordat hulle deur Jehovah tot heerlikheid gebring word?

[Wat is jou antwoord?

◻ Wie word deur God ‘tot hemelse heerlikheid gebring’?

◻ Wat beteken dit om “uit God gebore” te word?

◻ Hoe ‘getuig die gees’ met party Christene?

◻ In watter verbonde is geesverwektes ingebring?

[Prent op bladsy 15]

Op Pinkster 33 G.J. is daar bewys gelewer dat die weg tot hemelse heerlikheid geopen is

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel