Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w97 10/15 bl. 13-18
  • Jehovah Waardeer Diens Wat Met Jou Hele Siel Verrig Word

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Jehovah Waardeer Diens Wat Met Jou Hele Siel Verrig Word
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die prag van diens wat met ons hele siel verrig word
  • Ons word nie met mekaar vergelyk nie
  • ’n Dankbare vrou se “baie duur” geskenk
  • ’n Weduwee se “twee muntstukkies”
  • Leer uit Jehovah se beskouing oor diens wat met ons hele siel verrig word
  • Deel 5—Die voordele van heelhartige diens
    Ons Koninkryksbediening—1991
  • Dien met jou hele siel!
    Ons Koninkryksbediening—1996
  • Sy het die swaard van droefheid oorwin
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2014
  • Wat ons uit Maria se voorbeeld kan leer
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2009
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
w97 10/15 bl. 13-18

Jehovah Waardeer Diens Wat Met Jou Hele Siel Verrig Word

“Wat julle ook al doen, doen dit met julle hele siel soos vir Jehovah en nie vir mense nie.”—KOLOSSENSE 3:23.

1, 2. (a) Wat is die allergrootste voorreg wat ons kan geniet? (b) Waarom kan ons soms nie alles in God se diens doen wat ons wil doen nie?

OM Jehovah te dien, is die allergrootste voorreg wat ons kan geniet. Met reg moedig hierdie tydskrif Christene al lank aan om by die bediening betrokke te raak en selfs “in voller mate” te dien wanneer dit moontlik is (1 Tessalonisense 4:1). Ons kan egter nie altyd alles doen wat ons hart graag in God se diens wil doen nie. “My omstandighede vereis dat ek voltyds moet werk”, verduidelik ’n ongetroude suster wat byna 40 jaar gelede gedoop is. “Die rede waarom ek werk, is nie om pragtige klere te koop of duur vakansies te geniet nie, maar om noodsaaklike onkoste te kan dek, soos mediese en tandheelkundige koste. Ek voel asof ek Jehovah die oorskiet gee.”

2 Liefde vir God spoor ons aan om soveel in die predikingswerk te doen as wat vir ons moontlik is. Maar ons omstandighede in die lewe beperk dikwels wat ons kan doen. Die nakoming van ander skriftuurlike verantwoordelikhede, soos gesinsverpligtinge, neem moontlik baie van ons tyd en energie in beslag (1 Timoteus 5:4, 8). In hierdie “kritieke tye . . . wat moeilik is om deur te kom”, word die lewe al hoe swaarder (2 Timoteus 3:1). Wanneer ons nie alles in die bediening kan doen wat ons wil doen nie, kan ons hart ons in ’n mate pynig. Ons wonder dalk of God met ons aanbidding tevrede is.

Die prag van diens wat met ons hele siel verrig word

3. Wat verwag Jehovah van ons almal?

3 In Psalm 103:14 gee die Bybel ons die liefdevolle versekering dat Jehovah “weet watter maaksel ons is, gedagtig dat ons stof is”. Hy verstaan ons beperkinge beter as enigiemand anders. Hy vereis nie meer as wat ons kan gee nie. Wat verwag hy? Iets wat elkeen, ongeag sy posisie in die lewe, kan gee: “Wat julle ook al doen, doen dit met julle hele siel soos vir Jehovah en nie vir mense nie” (Kolossense 3:23). Ja, Jehovah verwag dat ons—ons almal—hom met ons hele siel dien.

4. Wat beteken dit om Jehovah met ons hele siel te dien?

4 Wat beteken dit om Jehovah met ons hele siel te dien? Die Griekse woord wat as “met julle hele siel” vertaal word, beteken letterlik “uit die siel”. Die “siel” verwys na die hele mens, met al sy fisiese en verstandelike vermoëns. Diens wat met ons hele siel verrig word, beteken dus om van onsself te gee, om al ons vermoëns te gebruik en ons kragte ten volste in God se diens in te span. Kortom, dit beteken dat ons alles doen wat ons siel kan doen.—Markus 12:29, 30.

5. Hoe toon die voorbeeld van die apostels dat almal nie ewe veel in die bediening moet doen nie?

5 Beteken diens wat met ons hele siel verrig word dat ons almal ewe veel in die bediening moet doen? Dit sou onmoontlik wees, want omstandighede en vermoëns wissel van siel tot siel. Dink aan die getroue apostels van Jesus. Hulle kon nie almal ewe veel doen nie. Ons weet byvoorbeeld baie min van party van die apostels, soos Simon, die Kananeër, en Jakobus, die seun van Alfeus. Miskien was hulle bedrywigheid as apostels ietwat beperk (Matteus 10:2-4). In teenstelling daarmee kon Petrus talle gewigtige verantwoordelikhede aanvaar—Jesus het hom selfs “die sleutels van die koninkryk” gegee! (Matteus 16:19). Maar Petrus is nie bo die ander verhef nie. Toe Johannes die visioen van die Nuwe Jerusalem in die Openbaring (ongeveer 96 G.J.) ontvang het, het hy 12 fondamentstene gesien waarop “die twaalf name van die twaalf apostels” gegraveer was (Openbaring 21:14).a Jehovah het die diens van al die apostels op prys gestel, al kon party blykbaar meer doen as ander.

6. Wat gebeur in Jesus se illustrasie van die saaier met die saad wat op “die goeie grond” gesaai is, en watter vrae ontstaan?

6 Jehovah vereis eweneens nie dat ons almal ewe veel in die predikingswerk doen nie. Jesus het dit getoon in die illustrasie van die saaier, waarin die predikingswerk vergelyk is met die werk om saad te saai. Die saad het op verskillende soorte grond geval, wat die verskillende hartstoestande illustreer van diegene wat die boodskap hoor. “Wat die een betref wat op die goeie grond gesaai is,” het Jesus verduidelik, “dit is die een wat die woord hoor en die sin daarvan begryp, wat werklik vrug dra en voortbring, hierdie een honderd-, daardie een sestig-, die ander dertigvoudig” (Matteus 13:3-8, 18-23). Wat is hierdie vrugte, en waarom word dit in verskillende hoeveelhede voortgebring?

7. Wat is die vrugte van die saad wat gesaai word, en waarom word dit in verskillende hoeveelhede voortgebring?

7 Aangesien die saad wat gesaai word “die woord van die koninkryk” is, verwys die vrugte wat gedra word na die verspreiding van daardie woord, om met ander daaroor te praat (Matteus 13:19). Die hoeveelheid vrugte wat gedra word, wissel—van dertigvoudig tot honderdvoudig—omdat vermoëns en omstandighede in die lewe verskil. Iemand met goeie gesondheid en fisiese stamina kan moontlik meer tyd aan die predikingswerk wy as iemand wie se krag deur ’n chroniese siekte of die ouderdom ondermyn word. ’n Jong, ongetroude persoon sonder gesinsverantwoordelikhede kan moontlik meer doen as iemand wat voltyds moet werk om vir ’n gesin te voorsien.—Vergelyk Spreuke 20:29.

8. Hoe beskou Jehovah diegene wat die beste gee wat hulle siel kan gee?

8 Is die persoon wat met sy hele siel dien en dertigvoudig voortbring in God se oë minder toegewyd as die een wat honderdvoudig voortbring? Hoegenaamd nie! Die hoeveelheid vrugte verskil dalk, maar Jehovah is tevrede solank die diens wat gelewer word die beste is wat ons siel kan gee. Onthou die verskillende hoeveelhede vrugte kom alles uit harte wat “goeie grond” is. Die Griekse woord (ka·losʹ) wat met “goeie” vertaal word, beskryf iets wat “pragtig” is en wat “die hart verbly en die oë streel”. Hoe bemoedigend is dit tog om te weet dat ons hart pragtig is in God se oë wanneer ons ons bes doen!

Ons word nie met mekaar vergelyk nie

9, 10. (a) Watter soort negatiewe redenasie kan in ons hart ontstaan? (b) Hoe toon die illustrasie in 1 Korintiërs 12:14-26 dat Jehovah nie hoeveel ons doen, vergelyk met hoeveel ander doen nie?

9 Maar ons onvolmaakte hart beskou dinge moontlik anders. Dit vergelyk dalk ons diens met dié van ander. Dit redeneer dalk: ‘Ander doen soveel meer as ek in die bediening. Hoe kan Jehovah ooit tevrede wees met my diens?’—Vergelyk 1 Johannes 3:19, 20.

10 Jehovah se gedagtes en weë is baie hoër as ons s’n (Jesaja 55:9). Ons kry ’n beter insig in die manier waarop Jehovah ons individuele pogings beskou in 1 Korintiërs 12:14-26, waar die gemeente vergelyk word met ’n liggaam met baie lede—oë, hande, voete, ore, ensovoorts. Dink ’n bietjie aan die letterlike liggaam. Hoe belaglik sou dit tog wees om jou oë met jou hande of jou voete met jou ore te vergelyk! Elke liggaamsdeel het ’n ander funksie, en tog is al die dele nuttig en word hulle waardeer. Op soortgelyke wyse waardeer Jehovah diens wat met jou hele siel verrig word, ongeag of ander meer doen en of hulle minder doen.—Galasiërs 6:4.

11, 12. (a) Waarom voel party dalk dat hulle “swakker” of “minder eerbaar” is? (b) Hoe beskou Jehovah ons diens?

11 Soms voel party van ons dalk dat ons, weens die beperkinge wat swak gesondheid, die ouderdom of ander omstandighede op ons plaas, “swakker” of “minder eerbaar” is. Maar dit is nie hoe Jehovah sake beskou nie. Die Bybel sê vir ons dat “dié lede van die liggaam wat swakker lyk nodig is, en die dele . . . wat ons dink minder eerbaar is, dié omring ons met oorvloediger eer . . . Nietemin het God die liggaam saamgestel en oorvloediger eer gegee aan die deel wat ’n tekort gehad het” (1 Korintiërs 12:22-24). Elke persoon kan dus dierbaar vir Jehovah wees. Hy stel ons diens binne ons beperkinge hoog op prys. Beweeg jou hart jou nie om alles in jou vermoë te doen om so ’n simpatieke en liefdevolle God te dien nie?

12 Wat dus vir Jehovah saak maak, is nie dat jy soveel doen as wat iemand anders doen nie, maar dat jy doen wat jy—jou siel—persoonlik kan doen. Jehovah se waardering vir ons individuele pogings is op ’n baie treffende manier getoon deur die manier waarop Jesus gedurende die laaste paar dae van sy lewe op aarde teenoor twee vroue met uiteenlopende omstandighede opgetree het.

’n Dankbare vrou se “baie duur” geskenk

13. (a) Wat was die omstandighede toe Maria welriekende olie op Jesus se kop en voete uitgegooi het? (b) Hoeveel was Maria se olie werd?

13 Vrydagaand, 8 Nisan, het Jesus in Betanië aangekom, ’n klein dorpie aan die oostelike helling van die Olyfberg, omtrent drie kilometer van Jerusalem af. Jesus het dierbare vriende in hierdie dorp gehad—Maria, Marta en hulle broer, Lasarus. Jesus was moontlik dikwels ’n gas in hulle huis. Maar Saterdagaand het Jesus en sy vriende by die huis van Simon, ’n gewese melaatse wat moontlik deur Jesus genees is, geëet. Terwyl Jesus aan tafel gelê het, het Maria ’n nederige daad verrig wat haar innige liefde getoon het vir die man wat haar broer opgewek het. Sy het ’n fles met welriekende olie oopgebreek wat “baie duur” was. Ja, baie duur! Dit was 300 denarii werd, gelyk aan omtrent ’n jaar se loon. Sy het hierdie geurige olie op Jesus se kop en op sy voete uitgegooi. Sy het selfs sy voete met haar hare afgedroog.—Markus 14:3; Lukas 10:38-42; Johannes 11:38-44; 12:1-3.

14. (a) Hoe het die dissipels op Maria se gebaar gereageer? (b) Hoe het Jesus vir Maria verdedig?

14 Die dissipels was verontwaardig! ‘Waarom hierdie verkwisting?’ het hulle gevra. Judas het sy oneerlike motiewe agter ’n skyn van liefdadigheid teenoor die behoeftiges verberg en gesê: “Waarom is hierdie welriekende olie nie vir driehonderd denarii verkoop en vir die armes gegee nie?” Maria het stilgebly. Jesus het egter vir die dissipels gesê: “Laat staan haar. Waarom probeer julle haar lastig val? Sy het ’n voortreflike [’n vorm van ka·losʹ] daad aan my gedoen. . . . Sy het gedoen wat sy kon; sy het dit vooraf op haar geneem om welriekende olie aan my liggaam te sit met die oog op die begrafnis. Voorwaar, ek sê vir julle: Oral waar die goeie nuus in die hele wêreld verkondig word, sal wat hierdie vrou gedoen het ook vertel word ter gedagtenis aan haar.” Hoe moes die hartlikheid van Jesus se woorde tog Maria se hart gerusgestel het!—Markus 14:4-9; Johannes 12:4-8.

15. Waarom het wat Maria gedoen het Jesus so diep getref, en wat leer ons daaruit oor diens wat met ons hele siel verrig word?

15 Wat Maria gedoen het, het Jesus diep getref. Volgens sy mening het sy ’n prysenswaardige daad verrig. Dit was nie die materiële waarde van die geskenk wat vir Jesus saak gemaak het nie, maar die feit dat ‘sy gedoen het wat sy kon’. Sy het die geleentheid aangegryp en het gegee wat sy kon. Ander vertalings het hierdie woorde soos volg weergegee: “Sy het alles gedoen wat sy kon”, of: “Sy het alles gedoen wat in haar vermoë was” (An American Translation; The Jerusalem Bible). Maria het met haar hele siel gegee omdat sy haar beste gegee het. Dit is wat diens wat met ons hele siel verrig word werklik beteken.

’n Weduwee se “twee muntstukkies”

16. (a) Hoe het dit gebeur dat Jesus ’n arm weduwee se bydrae gesien het? (b) Hoeveel was die weduwee se muntstukkies werd?

16 ’n Paar dae later, op 11 Nisan, het Jesus ’n lang dag in die tempel deurgebring, waar sy gesag bevraagteken is en hy moeilike vrae oor belasting, die opstanding en ander sake moes beantwoord. Hy het die skrifgeleerdes en Fariseërs veroordeel, onder andere omdat hulle “die huise van die weduwees verslind” (Markus 12:40). Toe het Jesus klaarblyklik in die Voorhof van die Vroue gaan sit, waar daar volgens Joodse oorlewering 13 skatkiste was. Hy het ’n ruk lank daar gesit en die mense goed dopgehou terwyl hulle hulle bydraes ingegooi het. Talle ryk mense het gekom, waarvan party moontlik eiegeregtig, selfs vertonerig, voorgekom het. (Vergelyk Matteus 6:2.) Jesus het na een spesifieke vrou begin kyk. Gewone oë sou dalk niks buitengewoons omtrent haar of haar gawe opgemerk het nie. Maar Jesus, wat kon weet wat in die harte van ander is, het geweet dat sy “’n arm weduwee” was. Hy het ook geweet presies hoeveel sy gegee het—‘twee muntstukkies wat baie min waarde het’.b—Markus 12:41, 42.

17. Hoe het Jesus die weduwee se bydrae beskou, en wat leer ons daaruit oor hoe om aan God te gee?

17 Jesus het sy dissipels na hom toe geroep, want hy wou hê dat hulle die les wat hy hulle wou leer eerstehands moes sien. Sy het “meer ingegooi . . . as almal wat geld in die skatkiste gegooi het”, het Jesus gesê. Volgens sy mening het sy meer ingegooi as al die ander saam. Sy het “alles ingegooi wat sy gehad het”—haar laaste bietjie geld. Sodoende het sy haar in Jehovah se sorgsame hande geplaas. Die persoon wat op hierdie manier uitgesonder is as ’n voorbeeld van hoe om aan God te gee, is iemand wie se gawe omtrent geen materiële waarde gehad het nie. In God se oë was dit egter van onskatbare waarde!—Markus 12:43, 44; Jakobus 1:27.

Leer uit Jehovah se beskouing oor diens wat met ons hele siel verrig word

18. Wat leer ons uit die manier waarop Jesus teenoor die twee vroue opgetree het?

18 Uit Jesus se optrede teenoor hierdie twee vroue leer ons ’n paar hartverblydende lesse oor hoe Jehovah diens beskou wat met ons hele siel verrig word (Johannes 5:19). Jesus het nie die weduwee met Maria vergelyk nie. Hy het die weduwee se twee muntstukkies net soveel waardeer as Maria se “baie duur” olie. Aangesien elke vrou haar beste gegee het, was hulle gawes in God se oë albei waardevol. As gevoelens van onwaardigheid dus by jou opkom omdat jy nie alles kan doen wat jy in God se diens wil doen nie, moet jy nie moed opgee nie. Jehovah aanvaar graag die beste wat jy kan gee. Onthou, Jehovah “sien die hart aan”, en daarom is hy ten volle bewus van jou hartsbegeertes.—1 Samuel 16:7.

19. Waarom moet ons nie krities wees oor wat ander in hulle diens aan God doen nie?

19 Jehovah se beskouing oor diens wat met ons hele siel verrig word, behoort ’n uitwerking te hê op die manier waarop ons mekaar beskou en behandel. Hoe liefdeloos sou dit tog wees om die pogings van ander te kritiseer of om een persoon se diens met dié van iemand anders te vergelyk! Dit is ongelukkig soos een Christen geskryf het: “Soms gee party die indruk dat ’n mens óf ’n pionier is óf niks. Dié van ons wat sukkel om ‘net’ as gewone Koninkryksverkondigers aan die gang te bly, wil ook graag gewaardeer voel.” Ons moet onthou dat ons nie die reg het om te oordeel wat vir ’n mede-Christen diens is wat met sy hele siel verrig word nie (Romeine 14:10-12). Jehovah waardeer die diens wat elkeen van die miljoene getroue Koninkryksverkondigers met hulle hele siel verrig, en ons moet ook.

20. Wat is gewoonlik die beste beskouing wat ons medeaanbidders betref?

20 Maar sê nou dit lyk of party minder in die bediening doen as wat hulle kan? ’n Afname in die bedrywigheid van ’n medeaanbidder kan vir besorgde ouer manne heel moontlik ’n aanduiding wees dat hy hulp of aanmoediging nodig het. Terselfdertyd moet ons nie vergeet nie dat diens wat met hulle hele siel verrig word vir party meer soos die weduwee se klein muntstukkies is as soos Maria se duur olie. Dit is gewoonlik die beste beskouing om aan te neem dat ons broers en susters Jehovah liefhet en dat sodanige liefde hulle sal beweeg om soveel moontlik te doen—nie so min as moontlik nie. Geen gewetensgetroue kneg van Jehovah sou tog kies om minder as sy beste in sy diens aan God te doen nie!—1 Korintiërs 13:4, 7.

21. Watter lonende loopbaan streef baie na, en watter vrae ontstaan?

21 Maar vir baie van God se volk het diens wat met hulle hele siel verrig word ’n uiters lonende loopbaan beteken—die pionierbediening. Watter seëninge ontvang hulle? En wat van dié van ons wat nog nie pionierdiens kon doen nie—hoe kan ons die pioniergees betoon? Hierdie vrae sal in die volgende artikel bespreek word.

[Voetnote]

a Aangesien Mattias vir Judas as ’n apostel vervang het, sou sy naam—nie Paulus s’n nie—onder dié wees wat op die 12 fondamentstene verskyn het. Hoewel Paulus ’n apostel was, was hy nie een van die 12 nie.

b Elkeen van hierdie muntstukkies was ’n lepton, die kleinste Joodse muntstuk wat destyds in omloop was. Twee lepta was gelyk aan 1/64 van ’n dagloon. Volgens Matteus 10:29 kon ’n mens twee mossies, van die goedkoopste voëls wat die armes vir voedsel gebruik het, vir ’n assarion (die ekwivalent van agt lepta) koop. Hierdie weduwee was dus beslis arm, want sy het net die helfte gehad van wat nodig was om een mossie te koop, skaars genoeg vir ’n enkele maaltyd.

Hoe sou jy antwoord?

◻ Wat beteken dit om Jehovah met ons hele siel te dien?

◻ Hoe toon die illustrasie in 1 Korintiërs 12:14-26 dat Jehovah ons nie met ander vergelyk nie?

◻ Wat kan ons uit Jesus se kommentare oor Maria se duur olie en die weduwee se twee muntstukkies leer van hoe ons met ons hele siel moet gee?

◻ Watter uitwerking moet Jehovah se beskouing oor diens wat met ons hele siel verrig word, hê op die manier waarop ons mekaar beskou?

[Prent op bladsy 15]

Maria het haar beste gegee deur “baie duur” olie oor Jesus se liggaam uit te gooi

[Prent op bladsy 16]

Die weduwee se muntstukkies —in materiële sin amper waardeloos, maar van onskatbare waarde in Jehovah se oë

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel