Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w88 3/1 bl. 18-22
  • Ouerskap onder God se volk

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ouerskap onder God se volk
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Ouerskap in Israel
  • Swaar tye vir kinders in Israel
  • Ouerskap onder die vroeë Christene
  • ‘Verdrukking vir die vlees’
  • “Die tyd is kort”
  • Ouerskap vandag
  • ’n Voorbeeld uit die ou tyd
  • “Swaar tye”
  • Verantwoordelike ouerskap in hierdie tyd van die einde
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
  • Vrae van lesers
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2005
  • Behou geloof en ’n goeie gewete
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
  • Dit is dringender as ooit tevore dat ons waaksaam bly
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2003
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
w88 3/1 bl. 18-22

Ouerskap onder God se volk

“Mag Jehovah . . . julle nog duisend maal talryker maak.”—DEUTERONOMIUM 1:11, NW.

1. Hoe praat die Bybel van ouerskap?

“KYK, seuns is ’n erfdeel van die HERE; die vrug van die moederskoot is ’n beloning. Soos pyle in die hand van ’n held, so is die seuns van die jeug. Gelukkig is die man wat sy pylkoker daarmee gevul het!” So lees ons in Psalm 127:3-5. Ja, die vermoë om kinders voort te bring, is ’n wonderlike voorreg wat die Skepper Jehovah aan die eerste mensepaar en hulle nakomelinge gegee het.—Genesis 1:28.

Ouerskap in Israel

2. Waarom was groot gesinne wenslik order die nakomelinge van Abraham, Isak en Jakob?

2 Abraham se nakomelinge deur Isak en Jakob het groot gesinne as baie wenslik beskou. Selfs die kinders van byvroue is as wettig beskou. Dit was die geval met sommige van Jakob se seuns, wat aartsvaders van die 12 stamme van Israel geword het. (Genesis 30:3-12; 49:16-21; vergelyk 2 Kronieke 11:21.) Ofskoon God se oorspronklike reëling vir die huwelik monogamie was, het hy poligamie en die aanhou van byvroue onder Abraham se nakomelinge toegelaat, en dit het ’n vinniger bevolkingsaanwas moontlik gemaak. Die Israeliete sou ’n volk word so “talryk soos die stof van die aarde” (2 Kronieke 1:9; Genesis 13:14-16). Uit daardie nasie sou die beloofde “saad” kom deur wie “al die nasies van die aarde” hulleself kon seën.—Genesis 22:17, 18, vgl. NW; 28:14; Deuteronomium 1:10, 11.

3. Wat was die situasie in Israel gedurende Salomo se heerskappy?

3 Dit is duidelik dat kinders in Israel as ’n teken van Jehovah se seën beskou is (Psalm 128:3, 4). Ons moet egter in gedagte hou dat die openingswoorde van hierdie artikel, soos aangehaal uit Psalm 127, deur koning Salomo geskryf is, en ’n groot deel van hierdie koning se heerskappy was ’n besonder gunstige tyd vir Israel. Die Bybel sê oor daardie tydperk: “Juda en Israel was talryk soos die sand wat aan die seestrand is in menigte; hulle het geëet en gedrink en was bly. Juda en Israel [het] veilig gewoon . . . , elkeen onder sy wingerdstok en onder sy vyeboom, van Dan [in die noorde] tot Berseba [in die suide], al die dae van Salomo.”—1 Konings 4:20, 25.

Swaar tye vir kinders in Israel

4, 5. (a) Waarom was dit nie altyd ’n vreugde in Israel om kinders voort te bring nie? (b) Watter hartverskeurende tonele het hulle by minstens twee geleenthede in Jerusalem afgespeel?

4 Maar daar was ander tydperke in Israel se geskiedenis toe dit allesbehalwe ’n vreugde was om kinders voort te bring. Ten tyde van die eerste vernietiging van Jerusalem het die profeet Jeremia geskryf: “My oë teer weg in trane, . . . omdat kind en suigling op die pleine van die stad versmag. . . . Moet vroue dan hulle vrug eet, kindertjies wat op die hande gedra word?” “Die hande van teerhartige vroue het hulle eie kinders gekook.”—Klaagliedere 2:11, 20; 4:10.

5 Soortgelyke hartverskeurende tonele het hulle blykbaar byna sewe eeue later afgespeel. Die Joodse geskiedskrywer Josephus vertel dat kinders gedurende die beleg van Jerusalem in 70 G.J. kos uit die monde van hulle vaders gegryp het, en moeders het kos uit die monde van hulle babas geneem. Hy beskryf hoe ’n Joodse vrou haar baba doodgemaak en toe die liggaam gebraai en ’n deel daarvan geëet het. Om kinders in die Joodse wêreld te bring gedurende die jare net voor die voltrekking van Jehovah se oordele aan Juda en Jerusalem in 607 v.G.J. en 70 G.J. kon nouliks verantwoordelike ouerskap genoem word.

Ouerskap onder die vroeë Christene

6, 7. (a) Watter gebruike het Jesus onder Christene afgeskaf? (b) Deur middel waarvan sou geestelike Israel vermeerder, en hoe weet ons dit?

6 Hoe is ouerskap onder die vroeë Christene beskou? Ons moet in die eerste plek daarop let dat Jesus veelwywery en die aanhou van byvroue onder sy dissipels afgeskaf het. Hy het Jehovah se oorspronklike standaard heringestel, naamlik monogamie, of die huwelik van een man met een vrou (Mattheüs 19:4-9). Waar vleeslike Israel deur geboorteaanwas talryk geword het, sou geestelike Israel deur dissipelmakery vermeerder.—Mattheüs 28:19, 20; Handelinge 1:8.

7 As die uitbreiding van die ware Christelike geloof hoofsaaklik deur geboorteaanwas sou plaasvind, sou Jesus nie sy dissipels aangemoedig het om ongetroud te bly “ter wille van die koninkryk van die hemele” nie (Mattheüs 19:10-12). Die apostel Paulus sou nie geskryf het nie: “Hy wat in die huwelik uitgee, doen goed; maar hy wat in die huwelik nie uitgee nie, doen beter.”—1 Korinthiërs 7:38.

8. Wat toon dat baie van die vroeë Christene getroud was en kinders gehad het?

8 Hoewel Jesus en Paulus die ongehude staat ter bevordering van Koninkryksbelange aanbeveel het, het nie een van die twee dit egter voorgeskryf nie. Albei het voorsien dat sommige Christene sou trou. En sommige van hulle sou uit die aard van die saak kinders hê. Die Christelike Griekse Skrifte bevat verskeie gedeeltes wat aan die vroeë Christene spesifieke raad gegee het oor hoe kinders grootgemaak moet word (Efesiërs 6:1-4; Kolossense 3:20, 21). As ouere manne of bedieningsknegte getroud was, moes hulle voorbeeldige ouers wees.—1 Timotheüs 3:4, 12.

9. Hoe sou sekere Christinne volgens Paulus beskerm word deur kinders te hê, maar wat sou hulle daarbenewens nodig hê?

9 Die apostel Paulus het selfs gesê dat dit vir sommige Christinne ’n beskerming kon wees om kinders te hê. Oor materiële hulp aan arm weduwees het hy geskryf: “Jy moet die jong weduwees afwys; want . . . hulle [leer] ook om ledig by die huise rond te gaan; en nie alleen is hulle ledig nie, maar ook praatsiek en bemoeisiek, want hulle praat wat nie behoorlik is nie. Ek wil dan hê dat die jong weduwees moet trou, kinders baar, hulle huise [bestuur] en die teëparty geen aanleiding gee om kwaad te spreek nie. Want sommige het al afgewyk agter die Satan aan.” Sulke vroue sou “gered word deur kinders te baar, as hulle bly in geloof en liefde en heiligmaking, met ingetoënheid”.—1 Timotheüs 5:11-15, vgl. NW; 2:15.

‘Verdrukking vir die vlees’

10. Watter ander raad vir weduwees het Paulus in sy eerste brief aan die Korinthiërs gegee?

10 Dit is nietemin opmerklik dat dieselfde apostel Paulus, in sy eerste brief aan die Korinthiërs, ’n ander oplossing vir weduwees aan die hand gedoen het. Hy het sy advies om te trou gekwalifiseer deur te sê dat hy dit “by wyse van toelating” gegee het. Hy het geskryf: “Vir die ongetroudes en die weduwees sê ek, dit is vir hulle goed as hulle bly soos ek; maar as hulle hul nie kan beheers nie, laat hulle trou; want dit is beter om te trou as om van begeerte te brand. Sy [’n weduwee] is egter gelukkiger as sy so bly, volgens my gevoele. En ek meen dat ek ook die Gees van God het.”—1 Korinthiërs 7:6, 8, 9, 40.

11. (a) Wat sou getroudes ondervind, en hoe werp die kruisverwysing by 1 Korinthiërs 7:28 lig hierop? (b) Wat het Paulus bedoel toe hy gesê het: “Ek wil julle spaar”?

11 Paulus het verduidelik: “As ’n maagd trou, sondig sy nie. Maar sulke mense sal verdrukking hê vir die vlees, en ek wil julle spaar” (1 Korinthiërs 7:28). Met betrekking tot hierdie ‘verdrukking vir die vlees’ verwys die kruisverwysing in die New World Translation ons na Genesis 3:16, waar ons lees: “Aan die vrou het Hy [Jehovah] gesê: Ek sal grootliks vermeerder jou moeite en jou swangerskap; met smart sal jy kinders baar; en na jou man sal jou begeerte wees, en hý sal oor jou heers.” Benewens moontlike huweliksprobleme sluit die ‘verdrukking vir die vlees’ wat getroudes sou deurmaak ongetwyfeld probleme in wat met die voortbring van kinders gepaard gaan. Hoewel Paulus nòg die huwelik nòg die voortbring van kinders belet het, het hy dit klaarblyklik sy plig geag om sy mede-Christene te waarsku dat hierdie dinge probleme en hindernisse kon meebring wat hulle diens aan Jehovah kon bemoeilik.

“Die tyd is kort”

12. Watter raad het die apostel Paulus aan getroude Christene gegee, en om watter rede?

12 In die eerste eeu G.J. het Christene nie die vryheid gehad om soos wêreldlinge te lewe nie. Hulle situasie sou selfs hulle huwelikslewe raak. Paulus het geskryf: “Maar dit sê ek, broeders, die tyd is kort; van nou af moet ook die wat vroue het, wees asof hulle nie het nie; . . . en die wat hierdie wêreld gebruik, asof hulle dit nie ten volle gebruik nie; want die gedaante van hierdie wêreld gaan verby. En ek wil hê dat julle onbesorg moet wees. . . . Ek sê dit tot julle eie voordeel, nie om julle van jul vryheid te beroof nie, maar met die oog op ’n welvoeglike en onafgebroke toewyding aan die Here.”—1 Korinthiërs 7:29-35.

13. In watter sin was ‘die tyd kort’ vir die eerste-eeuse Christene?

13 Bybelgeleerde Fréderic Godet het geskryf: “Terwyl ongelowiges vas glo dat die wêreld onbepaald sal voortbestaan, hou die Christen altyd die groot verwagte feit, die Parousia [Teenwoordigheid], voor oë.” Christus het aan sy dissipels die teken van sy “teenwoordigheid” gegee en hulle gewaarsku: “Waak dan, omdat julle nie weet watter uur julle Here kom nie” (Mattheüs 24:3, 42, vgl. NW). Die oorblywende tyd was “kort” in die sin dat daardie eerste-eeuse Christene in voortdurende afwagting van Christus se koms moes lewe. Bowendien het hulle nie geweet hoeveel tyd daar individueel vir hulle oor was voordat “tyd en lotgeval” hulle lewe beëindig het en alle moontlikheid uitgeskakel het om ‘hulle roeping vas te maak’ nie.—Prediker 9:11; 2 Petrus 1:10.

14. (a) Hoe moet ons Mattheüs 24:19 verstaan? (b) Hoe het Jesus se waarskuwing dringender geword namate die jaar 66 G.J. nader gekom het?

14 Vir Christene in Judea en Jerusalem was die nodigheid om te “waak” veral gebiedend. Toe Jesus teen die tweede vernietiging van Jerusalem gewaarsku het, het hy gesê: “Wee die vroue wat swanger is en die wat nog soog, in daardie dae” (Mattheüs 24:19). Jesus het weliswaar nie vir eerste-eeuse Christene gesê dat hulle nie kinders mag hê nie. Hy het bloot ’n profetiese feit gestel deur aan te dui dat dit vir swanger vroue en die met jong kinders moeiliker sou wees om vinnig te vlug wanneer die teken van Jerusalem se naderende vernietiging verskyn het (Lukas 19:41-44; 21:20-23). Ons kan nietemin daarvan seker wees dat, namate die onrus onder die Jode in Judea gedurende die jare voor 66 G.J. toegeneem het, vroeë Christene Jesus se waarskuwing onthou het en dat dit hulle gesindheid teenoor die voortbring van kinders in daardie moeilike tye beïnvloed het.

Ouerskap vandag

15, 16. (a) Hoe is ‘die tyd kort’ vir Christene wat vandag lewe? (b) Watter vrae moet Christene hulle afvra?

15 Hoe moet Christene vandag, in hierdie “tyd van die einde”, die huwelik en die voortbring van kinders beskou? (Daniël 12:4). Dit is nou meer as ooit so dat ‘die gedaante van hierdie wêreld verbygaan’, of, soos ’n ander vertaling dit stel, ‘hierdie wêreld soos ons hom ken aan die verbygaan is’.—1 Korinthiërs 7:31, NAV.

16 Nou, soos nooit tevore nie, is ‘die tyd kort’. Ja, daar is min tyd oor vir Jehovah se volk om die werk te voltooi wat hy hulle gegee het, naamlik: “Hierdie evangelie van die koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld tot ’n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom” (Mattheüs 24:14). Daardie werk moet volbring word voor die einde aanbreek. Dit is dus gepas dat Christene hulle afvra hoe dit hulle aandeel in daardie lewensbelangrike werk sal raak indien hulle trou of, as hulle reeds getroud is, kinders in die wêreld bring.

’n Voorbeeld uit die ou tyd

17. (a) Watter werk moes Noag en sy drie seuns voor die Vloed voltooi, en hoe lank het dit blykbaar geneem? (b) Wat was moontlik die redes waarom Noag se seuns en hulle vroue nie gedurende die tydperk voor die Vloed kinders gehad het nie?

17 Jesus het die tyd van “die teenwoordigheid van die Seun van die mens” met “die dae van Noag” vergelyk (Mattheüs 24:37, NW). Noag en sy drie seuns het ’n bepaalde taak gehad om voor die Vloed te voltooi. Dit het die bou van ’n reuse-ark asook prediking behels (Genesis 6:13-16; 2 Petrus 2:5). Toe Jehovah instruksies oor die bou van die ark gegee het, was Noag se seuns blykbaar reeds getroud (Genesis 6:18). Ons weet nie presies hoe lank dit geneem het om die ark te bou nie, maar dit het waarskynlik etlike dekades in beslag geneem. Dit is interessant dat Noag se seuns en hulle vrouens gedurende daardie hele tydperk voor die Vloed geen kinders gehad het nie. Die apostel Petrus sê uitdruklik dat ‘agt siele deur water heen gered is’, dit wil sê, vier egpare maar geen kinders nie (1 Petrus 3:20). Daar was moontlik twee redes waarom die seuns kinderloos gebly het. Ten eerste het hulle, met die oog op die naderende vernietiging deur ’n watervloed, ’n godgegewe taak gehad wat hulle onverdeelde aandag geverg het. Ten tweede was hulle ongetwyfeld ongeneë om kinders in ’n wêreld in te bring waar “die boosheid van die mens op die aarde groot was en al die versinsels wat hy in sy hart bedink [het], altyddeur net sleg was”, ’n wêreld “vervul met geweld”.—Genesis 6:5, 13.

18. Hoe gee die weg wat Noag se seuns en hulle vrouens ingeslaan het ons stof tot nadenke, al stel dit nie ’n standaard om na te volg nie?

18 Dit beteken nie dat die handelwyse van Noag se seuns en hulle vrouens voor die Vloed bedoel is om die standaard te stel vir egpare wat vandag lewe nie. Hulle voorbeeld gee ons nietemin stof tot nadenke, aangesien Jesus Noag se dag vergelyk het met die tyd waarin ons nou lewe.

“Swaar tye”

19. (a) Hoe vergelyk ons tyd met Noag se dag? (b) Wat het Paulus vir “die laaste dae” voorspel, en hoe raak hierdie profesie ouerskap?

19 Net soos Noag en sy gesin lewe ons ook in ’n “wêreld van goddelose mense” (2 Petrus 2:5). Soos hulle is ons in “die laaste dae” van ’n goddelose stelsel wat op die vooraand van vernietiging staan. Die apostel Paulus het voorspel dat “die laaste dae” van Satan se stelsel “swaar tye” sou meebring. Hy het voorts getoon dat die grootmaak van kinders een van die probleme van hierdie swaar tye sou wees deur te sê dat kinders “ongehoorsaam aan hulle ouers” sou wees. Hy het gesê dat mense oor die algemeen, en dit sluit kinders en adolessente in, “ondankbaar, onheilig, sonder natuurlike liefde” sou wees (2 Timotheüs 3:1-3). Hoewel Paulus hier toestande onder wêreldse mense voorspel het, sou sulke heersende gesindhede dit natuurlik vir Christene des te moeiliker maak om kinders op te voed, soos baie ondervind het.

20. Wat sal in die volgende artikel bespreek word?

20 Al die voorgaande toon dat ons ’n gebalanseerde beskouing van ouerskap moet hê. Hoewel dit baie vreugdes kan bring, kan dit ook baie hartseer bring. Dit het voor- en nadele. Sommige hiervan sal in die volgende artikel bespreek word.

Ter hersiening

◻ Waarom was groot gesinne wenslik in Israel?

◻ Wat toon dat kinders soms droefheid vir die Jode meegebring het?

◻ Hoe sou geestelike Israel in getal aangroei?

◻ Hoe was ‘die tyd kort’ vir die vroeë Christene?

◻ Wat was moontlik die redes waarom Noag se seuns en hulle vroue voor die Vloed kinderloos gebly het, maar wat van die situasie vandag?

[Prent op bladsy 21]

Ouers met jong kinders sou dit moeiliker vind om vinnig uit Jerusalem te vlug

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel