Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w84 10/15 bl. 4-7
  • Is die kerke opgewasse teen die krisis?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Is die kerke opgewasse teen die krisis?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Godvrugtige toewyding—Wat is dit?
  • Wat is die feite?
  • Wat sal die uiteinde wees?
  • ’n Godsdiensherlewing of ’n geestelike krisis?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
  • Voeg godvrugtige toegewydheid by jou volharding
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2002
  • Beoefen godvrugtige toegewydheid soos Jesus
    Ons Koninkryksbediening—1991
  • Volg Jesus se voorbeeld van godvrugtige toegewyheid na
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
w84 10/15 bl. 4-7

Is die kerke opgewasse teen die krisis?

SOWEL sekulêre as godsdienstige tydskrifte en nuusblaaie laat nie op hulle wag om oor die “welslae” van sommige kerke verslag te doen nie. Hulle vertel van gebedsdienste wat mense nader aan God bring. Hulle berig dat preke in sommige kerke deesdae meer geestelik en minder maatskaplik of polities is. Hulle praat van geestelike bystand aan die armes, oplewingsnaweke, Bybelstudiegroepe, liturgie

se dansklasse, en van gewillige leke wat help waar daar ’n tekort aan priesters en nonne is. Dit word alles beskou as tekens van ’n godsdiensherlewing.

In ’n toespraak verlede Maart voor die National Association of Evangelicals het president Reagan van die Verenigde State verklaar: “’n Geestelike herontwaking het in Amerika begin. Geloof en hoop word in ere herstel. Amerikaners keer terug tot God . . . En ek glo dat Hy begin het om ons geseënde land te heel.” Sulke woorde van vertroue versterk beslis die indruk dat die baie probleme waarmee die benoude mensdom vandag te kampe het uiteindelik deur die geestelike herontwaking opgelos sal word.

Dit klink miskien alles baie mooi, maar wat het die “geestelike herontwaking” en “herlewing” tot dusver bereik? Mense is moontlik meer ingenome met hulself, maar het hulle beter Christene geword? Mense dink dalk dat hulle meer geestelik gesind is, maar stel hulle meer in geestelike dinge as in materiële strewes belang? Godloosheid word beskou as ’n vername oorsaak van vandag se krisis, maar is mense gehelp om godvrugtige toewyding te toon? Die antwoorde is van kritieke belang indien ons wil vasstel of die kerke opgewasse is teen die huidige krisis of nie.

Godvrugtige toewyding—Wat is dit?

Godsvrug, of godvrugtige toewyding, is al omskryf as toewyding aan God of as ’n geneigdheid tot God. Dit is dus veel meer as ’n blote vertoon van uiterlike vroomheid of godsdienstigheid. ’n Persoon met godvrugtige toewyding is nie soseer begaan oor sy eie behoeftes nie, maar streef eerder daarna om God se wil te ken en te doen, om ’n intieme verhouding met hom te hê. Die gevolg is dat ’n persoon se lewe ten goede verander, want “die godsaligheid [“godvrugtige toewyding”, NW] is nuttig vir alles, omdat dit die belofte van die teenwoordige en die toekomende lewe het”.—1 Timotheüs 4:8.

Behoort diegene wat hulle tot godsdiens wend bloot omdat hulle deur die werklikhede van die lewe ontnugter is tot hierdie kategorie? Of is hulle eerder soos die mense wat die apostel Paulus gesê het “’n gedaante van godsaligheid het, maar die krag daarvan verloën het”?—2 Timotheüs 3:5.

As iemand hom tot God wend om bloot ’n persoonlike behoefte te bevredig in plaas daarvan om God se wil te leer en hom te dien, is die voorwerp van toewyding mos eintlik hyself in plaas van God, nie waar nie? Hierdie soort toewyding het geen krag om ’n lewe van selfbevrediging in ’n lewe van selfopofferende diens aan God te verander nie.

Paulus se woorde strook met Jesus se beroemde Bergpredikasie. Jesus het getoon dat nie almal wat bely dat hulle sy volgelinge is vir hom aanneemlik sou wees nie, en toe bygevoeg: “Baie sal in daardie dag vir My sê: Here, Here, het ons nie in u Naam geprofeteer en in u Naam duiwels uitgedrywe en in u Naam baie kragte gedoen nie? En dan sal Ek aan hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid werk!”—Mattheüs 7:22, 23.

Dit is dus nie ’n vertoon van godsdienstigheid wat by God tel nie. As iemand God se leiding en seën wil geniet, moet hy bereid wees om God se voorskrifte, soos in die Bybel vervat, te aanvaar en in sy lewe toe te pas. Soos die psalmdigter dit gestel het: “U woord is ’n lamp vir my voet en ’n lig vir my pad” (Psalm 119:105). Word die mense wat hulle vandag tot godsdiens wend, gehelp om hierdie voorskrifte te leer en te gehoorsaam?

Wat is die feite?

’n Onlangse opname onder 10 000 aktiewe Katolieke in 60 gemeentes in die Verenigde State het aan die lig gebring dat 77 persent van hulle hoofsaaklik besorg is oor wat met die land gaan gebeur, vergeleke met slegs 40 persent wat oor “persoonlike redding” besorg was. ’n Gallup-peiling het eweneens bevind dat, van al die vrae wat mense graag aan God sou wou stel, die gewildste een is: “Sal daar ooit blywende wêreldvrede wees?”

In hierdie swaar tye is daar stellig niks daarmee verkeerd om oor die toekoms besorg te wees nie. Maar hoe verskil sulke reaksies tog van wat Jesus vir sy dissipels gesê het: “As hierdie dinge begin gebeur, kyk dan na bo en hef julle hoofde op, omdat julle verlossing naby is” (Lukas 21:28). Die bevindings van die opname toon dat, ten spyte van al die pratery oor ’n geestelike herontwaking, angs oor die toekoms vandag die harte en verstande van mense oorheers. Hulle godsdiens het hulle weinig gehelp om die krisis van ons swaar tye die hoof te bied.—Kyk Lukas 21:26.

Wat groter geestelikheid onder kerklidmate betref, het ’n hoofartikel in die tydskrif Ministry van die Sewendedagsadventiste gesê dat “daar dikwels weinig in die lewenswyse van ons lidmate of van onsself is om ons van ons nie-Christelike bure te onderskei”. Die blad sê verder dat die kerk sy lidmate in werklikheid ‘’n teologiese grondslag gee om die materialisme en verbruikerslewenstyl van die ongelowiges te aanvaar’ deur God voor te stel as iemand wat “die beste vir Sy volk wil hê en wat sal sorg dat hulle dit kry”.

The Economist van Londen sê eweneens, nadat dit berig het dat “daar tekens is van ’n voortgesette (selfs toenemende) belangstelling in godsdienskwessies”, dat “die Anglikaanse Kerk voor die probleem te staan gekom het van hoe om diegene te help wat wil weet wat om te glo terwyl die Kerk self nie weet wat hy glo nie”.

Wat van gesins- en menslike waardes? Het die kerke hulle lidmate versterk teen die verderflike invloed en onsedelike weë van die wêreld? Het hulle beter eggenote, ouers en kinders voortgebring? ’n Onlangse opname onder 8 000 kinders en 10 000 ouers van kerkgaande gesinne in 13 denominasies gee ons ten minste ’n idee van die situasie.

Volgens Christianity Today het die studie gevind dat 42 persent van die kinders sê dat godsdienssake nooit in hulle gesin bespreek word nie, en 40 persent sê dat hulle meer leiding van hulle ouers oor seksuele aangeleenthede wil hê. Onder vyftienjariges het 53 persent al alkohol gebruik, en 20 persent het al dagga gerook, ’n Vroeëre studie, waarvan in The Ann Arbor News verslag gedoen is, het gevind dat 59 persent van die seuns en 42 persent van die meisies gesê het dat hulle geslagsgemeenskap gehad het teen die tyd dat hulle 18 was.

Ten slotte, help die kerke hulle volgelinge om die gewelddadige gees van die wêreld te vermy? Ons sou ten minste dit verwag as die kerke dan ’n stabiliserende krag in vandag se swaar tye moet wees, nie waar nie? Maar ongelukkig kom meer en meer mense tot die besef dat godsdiens regstreeks of onregstreeks bygedra het tot die meeste van die oorloë en botsings wat die mensdom geteister het en steeds teister. Waaraan dink jy wanneer jy van plekke soos Ierland, Libanon en Iran hoor? Ten spyte van die pastorale briewe en vredes-optogte is groot godsdienste vandag in van die bloedigste konflikte gewikkel.

Wat kan ons dan sê van die sogenaamde godsdiensontwaking? Daar is miskien tekens van ’n godsdienstige herlewing, maar dit kan nouliks ’n geestelike herlewing genoem word. In plaas daarvan dat hulle geestelik opgebou en versterk word om die swaar tye te oorleef, word die meeste persone wat hulle tot die godsdienste van die wêreld wend op ’n gerusstellende lewensbaan geplaas, ’n formalistiese aanbiddingswyse. Hulle het ‘’n gedaante van godsaligheid, maar het die krag daarvan verloën’, soos die apostel Paulus voorspel het. Die oppervlakkige “herontwaking” en “herlewing” pas duidelik in by die res van die verslegtende toestande—sedelike agteruitgang, gesinsverbrokkeling, misdadigheid, geweld, en so meer—wat ons swaar tye kenmerk.—2 Timotheüs 3:1-5.

Wat sal die uiteinde wees?

Deur die eertydse godsdiensstad Babilon as simbool te gebruik, toon die Bybel dat wêreldgodsdiens geheel en al te gronde sal gaan. Die boek Openbaring voorspel: “Een sterk engel het ’n klip opgetel soos ’n groot meulsteun en dit in die see gegooi en gesê: So, met ’n vaart, sal Babilon, die groot stad, neergegooi word en nooit meer gevind word nie.”—Openbaring 18:21.

Maar voor daardie skielike einde kom, is daar geleentheid om ag te slaan op die goddelike waarskuwing van Openbaring 18:4: “Gaan uit haar uit, my volk, sodat julle nie gemeenskap met haar sondes mag hê en van haar plae ontvang nie.” Rondom die wêreld, in 205 lande, het Jehovah se Getuies op daardie waarskuwing ag geslaan en na God se Koninkryk as die mensdom se enigste hoop gevlug (Mattheüs 24:14). Sal jy onder die duisende wees wat by hulle aansluit in daardie vlug na veiligheid? Die besluit berus by jou.

[Prent op bladsy 5]

Mense dink moontlik dat hulle meer godsdienstig is, maar stel hulle meer in geestelike dinge belang?

[Lokteks op bladsy 6]

Ten spyte van die pastorale briewe en vredesoptogte is groot godsdienste vandag in van die bloedigste konflikte gewikkel

[Prent op bladsy 7]

Honderdduisende slaan vandag ag op die waarskuwing om valse godsdiens te verlaat

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel