Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w08 1/15 bl. 8-12
  • Skenk aandag aan jou “onderrigkuns”

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Skenk aandag aan jou “onderrigkuns”
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2008
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Ontwikkel die “onderrigkuns”
  • Baseer jou onderrigting op God se Woord
  • Gebruik doeltreffende vrae
  • Hou dit eenvoudig
  • Help studente om te waardeer wat hulle leer
  • Toon liefdevolle belangstelling
  • Hoe om ’n Bybelstudie te hou wat tot doop lei – Deel twee
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2020
  • Help jou Bybelstudente om gedoopte dissipels te word
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan(Studie-uitgawe) — 2021
  • Bereik jou Bybelstudent se hart
    Ons Koninkryksbediening—1993
  • Hoe om ’n Bybelstudie te hou wat tot doop lei – Deel een
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2020
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2008
w08 1/15 bl. 8-12

Skenk aandag aan jou “onderrigkuns”

“Verkondig die woord, . . . wys tereg, berispe, vermaan, met alle lankmoedigheid en onderrigkuns.”—2 TIM. 4:2.

1. Watter opdrag het Jesus sy dissipels gegee, en watter voorbeeld het hy gestel?

ONDANKS die wonderbaarlike genesings wat Jesus gedurende sy aardse bediening verrig het, was hy hoofsaaklik bekend as ’n leermeester, of onderrigter, nie as ’n geneser of wonderdoener nie (Mark. 12:19; 13:1). Die verkondiging van die goeie nuus van God se Koninkryk het voorrang geniet in Jesus se lewe, en dit is ook die geval met sy hedendaagse volgelinge. Christene het ’n opdrag om aan te hou met die dissipelmaakwerk deur mense te leer om alles te onderhou wat Jesus beveel het.—Matt. 28:19, 20.

2. Wat moet ons doen om ons predikingstoewysing uit te voer?

2 Om ons opdrag uit te voer om dissipels te maak, streef ons voortdurend daarna om ons onderrigvermoë te verbeter. Die apostel Paulus het die belangrikheid van hierdie vaardigheid beklemtoon toe hy aan sy metgesel in die predikingswerk, Timoteus, geskryf het. Hy het gesê: “Let voortdurend op jouself en op jou onderrigting. Bly by hierdie dinge, want deur dit te doen, sal jy jouself red sowel as dié wat na jou luister” (1 Tim. 4:16). Die soort onderrigting wat Paulus in gedagte gehad het, is nie die blote oordrag van kennis nie. Bekwame Christenbedienaars bereik die harte van mense en motiveer hulle om veranderinge in hulle lewe aan te bring. Dit is ’n kuns. Hoe kan ons dan die “onderrigkuns” ontwikkel wanneer ons die goeie nuus van God se Koninkryk aan ander bekend maak?—2 Tim. 4:2.

Ontwikkel die “onderrigkuns”

3, 4. (a) Hoe kan ons die “onderrigkuns” ontwikkel? (b) Hoe help die Teokratiese Bedieningskool ons om bekwame onderrigters te word?

3 Een woordeboek definieer “kuns” as ’n “vaardigheid wat deur studie, oefening of waarneming aangeleer word”. Ons moet aan al drie hierdie aspekte aandag skenk om bekwame onderrigters van die goeie nuus te word. Ons kan slegs deur biddende studie ’n juiste begrip van ons onderwerp verkry. (Lees Psalm 119:27, 34.) As ons bekwame bedienaars waarneem terwyl hulle onderrig, help dit ons om hulle metodes aan te leer en hulle na te volg. En as ons gereeld probeer oefen, of toepas, wat ons leer, sal dit ons help om ons vermoëns te slyp.—Luk. 6:40; 1 Tim. 4:13-15.

4 Jehovah is ons Grootse Onderrigter. Deur die sigbare deel van sy organisasie gee hy sy knegte op aarde leiding oor hoe hulle hulle predikingsopdrag moet uitvoer (Jes. 30:20, 21). In hierdie verband hou elke gemeente weekliks ’n Teokratiese Bedieningskool, wat bedoel is om al die studente op die skool te help om bekwame verkondigers van God se Koninkryk te word. Die vernaamste handboek van hierdie skool is die Bybel. Jehovah se geïnspireerde Woord sê vir ons wat om ander te leer. Daarbenewens toon dit watter onderrigmetodes doeltreffend en gepas is. Die Teokratiese Bedieningskool herinner ons gereeld daaraan dat ons vaardiger onderrigters sal word as ons ons onderrigting op God se Woord baseer, vrae doeltreffend gebruik, met eenvoud onderrig en opregte belangstelling in ander toon. Kom ons ondersoek elkeen van hierdie punte afsonderlik. Dan sal ons bespreek hoe ons ’n student se hart kan bereik.

Baseer jou onderrigting op God se Woord

5. Waarop moet ons ons onderrigting baseer, en waarom?

5 Jesus, die grootste van alle menslike onderrigters, het sy leringe op die Skrif gebaseer (Matt. 21:13; Joh. 6:45; 8:17). Hy het nie uit homself gespreek nie, maar in die naam van die Een wat hom gestuur het (Joh. 7:16-18). Dit is die voorbeeld wat ons volg. Wat ons dus in die deur-tot-deur-bediening of tydens tuisbybelstudies sê, moet berus op die gesag van God se Woord (2 Tim. 3:16, 17). Ongeag hoeveel slim redenasies ons gebruik, dit kan nooit so doeltreffend en kragtig wees soos die geïnspireerde Skrif nie. Die Bybel het gesag. Watter punt ons ’n student ook al probeer help om te verstaan, die beste metode wat ons kan gebruik, is om hom of haar te laat lees wat die Skrif daaroor sê.—Lees Hebreërs 4:12.

6. Hoe kan ’n onderrigter seker maak dat die student die punt snap van die materiaal wat bespreek word?

6 Dit beteken natuurlik nie dat ’n Christenonderrigter nie vir ’n Bybelstudie hoef voor te berei nie. Inteendeel, die onderrigter moet vooraf goed nadink oor watter tekste hy of die student tydens die studie uit die Bybel gaan lees. Oor die algemeen is dit goed om die tekste te lees wat die grondslag vir ons oortuigings voorsien. Dit is ook nodig om die student te help om die sin te begryp van elke teks wat hy lees.—1 Kor. 14:8, 9.

Gebruik doeltreffende vrae

7. Waarom is die gebruik van vrae ’n goeie onderrigmetode?

7 Die vaardige gebruik van vrae stimuleer die denke en help die onderrigter om die student se hart te bereik. Vra jou student dus om tekste aan jou te verduidelik eerder as om dit aan hom te verduidelik. Soms is ’n bykomende vraag of selfs ’n aantal vrae nodig om jou student te help om die regte begrip te verkry. Wanneer jy die student op hierdie manier by die leerproses betrek, help jy hom in werklikheid nie net om die redes vir ’n sekere gevolgtrekking te verstaan nie, maar ook om self van daardie gevolgtrekking oortuig te raak.—Matt. 17:24-26; Luk. 10:36, 37.

8. Hoe kan ons onderskei wat in ’n student se hart is?

8 Vrae en antwoorde word in ons publikasies as studiemetode gebruik. Die meeste van die mense met wie jy die Bybel studeer, sal die gedrukte vrae ongetwyfeld maklik kan beantwoord met behulp van die inligting in die ooreenstemmende paragrawe. Maar die onderrigter met onderskeidingsvermoë sal nie tevrede wees met net die regte antwoorde nie. Byvoorbeeld, ’n student kan dalk ’n juiste verduideliking gee van wat die Bybel oor hoerery sê (1 Kor. 6:18). Taktvolle beskouingsvrae kan egter aan die lig bring wat die student werklik dink van wat hy leer. Die onderrigter kan dus vra: “Waarom veroordeel die Bybel geslagsomgang buite die huwelik? Wat dink jy van hierdie godgegewe beperking? Dink jy dat dit enige voordeel inhou om volgens God se sedelike standaarde te lewe?” Die antwoorde op sulke vrae kan openbaar wat in die student se hart is.—Lees Matteus 16:13-17.

Hou dit eenvoudig

9. Wat moet ons in gedagte hou wanneer ons skriftuurlike inligting oordra?

9 Die meeste van die waarhede in God se Woord is eintlik redelik eenvoudig. Maar dalk is die mense met wie ons die Bybel studeer, verwar deur die leerstellings van valse godsdiens. Ons rol as onderrigters is om die Bybel maklik verstaanbaar te maak. Bekwame onderrigters dra inligting eenvoudig, duidelik en akkuraat oor. As ons hierdie riglyn volg, sal ons die waarheid nie ingewikkelder maak as wat dit hoef te wees nie. Vermy onnodige besonderhede. Dit is nie nodig om kommentaar te lewer oor elke aspek van ’n teks wat ons lees nie. Konsentreer slegs op wat noodsaaklik is om die punt onder bespreking duidelik te maak. Die student sal dieper skriftuurlike waarhede begin verstaan namate sy begrip toeneem.—Heb. 5:13, 14.

10. Watter faktore bepaal hoeveel materiaal tydens ’n Bybelstudie gedek moet word?

10 Hoeveel materiaal moet in een studiesessie gedek word? Onderskeidingsvermoë is hiervoor nodig. Die vermoëns en omstandighede van die student sowel as die onderrigter sal wissel, maar ons moet altyd in gedagte hou dat dit ons oogmerk as onderrigters is om ons student te help om vaste geloof op te bou. Ons gee hom dus genoeg tyd om die waarhede wat in God se Woord geleer word, te lees, te begryp en te aanvaar. Ons bespreek nie meer materiaal as wat hy kan begryp nie. Terselfdertyd beweeg ons teen ’n redelike pas. Wanneer ons student ’n punt gesnap het, beweeg ons na die volgende punt.—Kol. 2:6, 7.

11. Watter les in verband met onderrigting kan ons by die apostel Paulus leer?

11 Die apostel Paulus het die boodskap van die goeie nuus eenvoudig gehou wanneer hy met nuwelinge gepraat het. Hoewel hy hooggeleerd was, het hy nie hoogdrawende taal gebruik nie. (Lees 1 Korintiërs 2:1, 2.) Die eenvoud van skriftuurlike waarheid trek opregte mense aan en bevredig hulle. Niemand hoef ’n intellektueel te wees om dit te verstaan nie.—Matt. 11:25; Hand. 4:13; 1 Kor. 1:26, 27.

Help studente om te waardeer wat hulle leer

12, 13. Wat kan ’n student beweeg om toe te pas wat hy leer? Lig toe.

12 Om doeltreffend te wees, moet ons onderrigting ’n student se hart raak. Die student moet verstaan hoe die inligting op hom persoonlik van toepassing is, hoe hy daarby baat vind en hoe sy lewe sal verbeter as hy skriftuurlike riglyne volg.—Jes. 48:17, 18.

13 Byvoorbeeld, ons bespreek dalk Hebreërs 10:24, 25, wat Christene aanspoor om saam met medegelowiges te vergader vir skriftuurlike aanmoediging en liefdevolle omgang. As die student nog nie gemeentelike vergaderinge bywoon nie, kan ons kortliks beskryf hoe dit gehou word en wat bespreek sal word. Ons kan noem dat gemeentelike vergaderinge deel van ons aanbidding is en toon dat ons persoonlik daarby baat vind. Ons kan die student dan nooi om dit by te woon. Die rede waarom hy skriftuurlike opdragte nakom, moet sy begeerte wees om Jehovah te gehoorsaam, nie om sy studiehouer tevrede te stel nie.—Gal. 6:4, 5.

14, 15. (a) Wat kan ’n Bybelstudent oor Jehovah leer? (b) Hoe kan kennis van God se persoonlikheid ’n Bybelstudent tot voordeel strek?

14 ’n Basiese voordeel wat dit vir studente inhou wanneer hulle die Bybel bestudeer en die beginsels daarin toepas, is dat hulle Jehovah as persoon leer ken en begin waardeer (Jes. 42:8). Hy is nie net die liefdevolle Vader en die Skepper en Eienaar van die heelal nie, maar hy openbaar ook sy persoonlikheid en vermoëns aan dié wat hom liefhet en dien. (Lees Eksodus 34:6, 7.) Kort voordat Moses die nasie Israel uit Egiptiese gevangenskap gelei het, het Jehovah homself geïdentifiseer met die woorde: “Ek sal word wat ek sal word” (Eks. 3:13-15). Dit het geïmpliseer dat Jehovah sou word wat ook al nodig was om sy voornemens met betrekking tot sy uitverkore volk uit te voer. Die Israeliete het Jehovah sodoende in die rol van Redder, Krygsman, Voorsiener en Vervuller van beloftes sowel as in ander hoedanighede leer ken.—Eks. 15:2, 3; 16:2-5; Jos. 23:14.

15 Jehovah sal moontlik nie so drasties in die lewe van ons studente ingryp soos in die geval van Moses nie. Maar namate ons studente toeneem in geloof en waardering vir wat hulle leer en namate hulle dit begin toepas, sal hulle ongetwyfeld sien hoe belangrik dit is om op Jehovah te vertrou vir moed, wysheid en leiding. Wanneer hulle dit doen, sal hulle Jehovah ook leer ken in die rol van ’n wyse en vertroude Raadgewer, Beskermer en vrygewige Voorsiener van alles wat hulle nodig het.—Ps. 55:22; 63:7; Spr. 3:5, 6.

Toon liefdevolle belangstelling

16. Waarom is natuurlike vermoë nie die belangrikste faktor in hoe suksesvol ons as ’n onderrigter is nie?

16 As jy dink dat jy nie so ’n vaardige onderrigter is as wat jy graag wil wees nie, kan jy moed skep. Jehovah en Jesus hou toesig oor die opvoedkundige program wat vandag wêreldwyd uitgevoer word (Hand. 1:7, 8; Op. 14:6). Hulle kan ons pogings seën sodat ons woorde die verlangde uitwerking op ’n regskape persoon het (Joh. 6:44). ’n Onderrigter se opregte liefde vir sy student kan meer as vergoed vir enige gebrek aan natuurlike vermoë. Die apostel Paulus het getoon dat hy besef het hoe belangrik dit is om lief te wees vir dié wat geleer word.—Lees 1 Tessalonisense 2:7, 8.

17. Hoe kan ons opregte belangstelling in elke Bybelstudent toon?

17 Ons kan ook opregte belangstelling in elke Bybelstudent toon deur tyd te neem om hom te leer ken. Terwyl ons skriftuurlike beginsels met hom bespreek, sal ons waarskynlik met sy omstandighede vertroud raak. Ons sien moontlik dat sy lewe reeds in ooreenstemming is met sommige van die punte wat hy uit die Bybel geleer het. Op ander gebiede moet hy dalk nog aanpassings maak. Deur die student te help om te sien hoe die inligting wat tydens Bybelstudiesessies bespreek word, op hom persoonlik van toepassing is, kan ons hom liefdevol help om ’n ware dissipel van Christus te word.

18. Waarom is dit belangrik om saam met en vir ons student te bid?

18 Bowenal kan ons saam met en vir ons student bid. Dit moet vir hom duidelik wees dat dit ons oogmerk is om hom te help om sy Skepper beter te leer ken, nader aan Hom te kom en by Sy leiding baat te vind. (Lees Psalm 25:4, 5.) Wanneer ons bid vir Jehovah se seën op ’n student se pogings om toe te pas wat hy leer, sal die student sien hoe belangrik dit is om ’n ‘dader van die woord’ te word (Jak. 1:22). En wanneer die student na ons opregte gebede luister, sal hy ook leer hoe om te bid. Wat ’n vreugde is dit tog om Bybelstudente te help om hulle eie verhouding met Jehovah op te bou!

19. Wat sal in die volgende artikel bespreek word?

19 Dit is bemoedigend om te weet dat meer as ses en ’n halfmiljoen Getuies regoor die wêreld die “onderrigkuns” ontwikkel met die doel om opregtes van hart te help om alles te onderhou wat Jesus beveel het. Watter resultate lewer ons predikingswerk op? Die antwoord op hierdie vraag sal in die volgende artikel bespreek word.

Onthou jy?

• Waarom moet Christene die “onderrigkuns” ontwikkel?

• Watter metodes kan ons gebruik om ons onderrigting doeltreffender te maak?

• Wat kan vergoed vir enige gebrek aan natuurlike onderrigvermoë aan ons kant?

[Prent op bladsy 9]

Is jy ’n student op die Teokratiese Bedieningskool?

[Prent op bladsy 10]

Waarom is dit belangrik om jou student te nooi om uit die Bybel te lees?

[Prent op bladsy 12]

Bid saam met en vir jou student

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel