Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • re hfst. 9 bl. 41-47
  • Hou vas aan Jesus se naam

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hou vas aan Jesus se naam
  • Openbaring—Sy groot klimaks is op hande!
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Verderflike invloede
  • Vermy sektarisme!
  • ‘Verborge manna en ’n wit klippie’
  • Christus praat met die gemeentes
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2003
  • Hoor wat die gees aan die gemeentes sê
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
  • Vind baat by die “koring van die hemel”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
  • Openbaring – Wat dit vir jou beteken
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2022
Sien nog
Openbaring—Sy groot klimaks is op hande!
re hfst. 9 bl. 41-47

Hoofstuk 9

Hou vas aan Jesus se naam

PERGAMUM

1. Watter gemeente het Jesus se volgende boodskap ontvang, en in watter soort stad het daardie Christene gewoon?

AS ONS van Smirna af met die kuspad 80 kilometer noord en dan 24 kilometer deur die Caicusrivier-vallei na die binneland reis, bereik ons Pergamum, wat nou Bergama genoem word. Die stad was beroemd vir sy tempel van Zeus, of Jupiter. Argeoloë het die altaar van daardie tempel in die 1800’s na Duitsland vervoer, waar dit nog steeds, tesame met baie standbeelde en reliëfs van heidense gode, in die Pergamon-museum in Berlyn gesien kan word. Watter boodskap sou die Here Jesus aan die gemeente stuur wat te midde van al daardie afgodediens gewoon het?

2. Hoe bevestig Jesus sy identiteit, en wat beteken dit dat hy ‘die tweesnydende swaard’ het?

2 Jesus bevestig eers sy identiteit deur te sê: “En skryf aan die engel van die gemeente in Pergamum: Hierdie dinge sê hy wat die skerp, lang tweesnydende swaard het” (Openbaring 2:12). Jesus herhaal hier die beskrywing wat in Openbaring 1:16 van hom gegee is. As Regter en Skerpregter sal hy dié wat sy dissipels vervolg, doodmaak. Hoe vertroostend is hierdie versekering tog! Maar wat oordeel betref, laat diegene in die gemeente ook gewaarsku wees dat Jehovah, wat deur sy “boodskapper van die verbond”, Jesus Christus, optree, “’n haastige getuie [sal] word” teen alle verklaarde Christene wat hulle skuldig maak aan afgodediens, onsedelikheid, leuens en oneerlikheid en wat nie vir die behoeftiges sorg nie (Maleagi 3:1, 5; Hebreërs 13:1-3). Dit is noodsaaklik om ag te slaan op die raad en teregwysing wat God deur Jesus gee!

3. Watter valse aanbidding is in Pergamum beoefen, en waarom kan daar gesê word dat “die troon van Satan” daar was?

3 Jesus sê nou vir die gemeente: “Ek weet waar jy woon, dit wil sê waar die troon van Satan is” (Openbaring 2:13a). Daardie Christene was waarlik omring deur sataniese aanbidding. Benewens die tempel van Zeus was daar ’n heiligdom vir Asklepios, die god van die geneeskunde. Pergamum was ook beroemd as ’n sentrum vir die kultus van keiseraanbidding. Die Hebreeuse woord wat met “Satan” vertaal word, beteken “Teenstander”, en sy “troon” beeld sy wêreldheerskappy af wat ’n tyd lank deur God toegelaat word (Job 1:6, voetnoot in NW). Die oorvloed van afgodediens in Pergamum het getoon dat Satan se “troon” stewig gevestig was in daardie stad. Hoe kwaad moes Satan tog gewees het omdat die Christene daar nie in nasionalistiese aanbidding voor hom gebuig het nie!

4. (a) Watter lof swaai Jesus die Christene in Pergamum toe? (b) Wat het die Romeinse gesant Plinius aan keiser Trajanus geskryf omtrent die behandeling van Christene? (c) Watter weg het die Christene in Pergamum ondanks die gevaar ingeslaan?

4 Ja, “die troon van Satan” is daar in Pergamum. “En tog”, sê Jesus verder, “hou jy vas aan my naam, en jy het jou geloof in my nie verloën nie, selfs in die dae van Antipas, my getuie, die getroue, wat aan julle sy, waar Satan woon, doodgemaak is” (Openbaring 2:13b). Dit is inderdaad aangrypende lof! Antipas se marteldood was ongetwyfeld die gevolg van sy weiering om demonistiese gebruike te beoefen en die Romeinse keiser te aanbid. Nie lank nadat Johannes hierdie profesie ontvang het nie, het Plinius die Jongere, persoonlike gesant van keiser Trajanus van Rome, aan Trajanus geskryf en verduidelik wat hy doen wanneer hy te doen kry met mense wat daarvan beskuldig word dat hulle Christene is—’n metode wat deur die keiser goedgekeur is. Dié wat ontken het dat hulle Christene is, is vrygelaat nadat hulle, soos Plinius gesê het, “’n smeekbede aan die gode agter my aan gesê het, wierook en wyn aan u [Trajanus se] beeld geoffer het . . . en, daarbenewens, Christus gevloek het”. As daar bevind is dat iemand ’n Christen is, is hy tereggestel. Hoewel die Christene in Pergamum voor sulke gevaar te staan gekom het, het hulle nie hulle geloof verloën nie. Hulle het ‘vasgehou aan Jesus se naam’ deur voort te gaan om sy hoë posisie as Jehovah se Verdediger en aangestelde Regter te eer. As Koninkryksgetuies het hulle lojaal Jesus se voetstappe gevolg.

5. (a) Watter hedendaagse teenbeeld van die kultus van keiseraanbidding het vir Christene in ons tyd kwaai beproewinge meegebring? (b) Watter hulp het Die Wagtoring aan Christene voorsien?

5 Jesus het by verskeie geleenthede bekend gemaak dat Satan oor hierdie teenswoordige goddelose wêreld heers, maar danksy Jesus se onkreukbaarheid het Satan geen houvas op hom gehad nie (Matteus 4:8-11; Johannes 14:30). In ons tyd het magtige nasies, veral “die koning van die noorde” en “die koning van die suide”, om wêreldoorheersing gestry (Daniël 11:40). Patriotiese ywer word opgesweep, en die kultus van keiseraanbidding het ’n hedendaagse teenbeeld in die vlaag van nasionalisme wat die aarde teister. Artikels oor neutraliteit in The Watchtower van 1 November 1939 en weer in Die Wagtoring van 15 Januarie 1980 en 1 September 1986 het duidelik uiteengesit wat die Bybel oor hierdie kwessie leer en het riglyne voorsien vir Christene wat in die naam van Jehovah wil wandel en die wêreld wil oorwin, soos Jesus so moedig gedoen het.—Miga 4:1, 3, 5; Johannes 16:33; 17:4, 6, 26; 18:36, 37; Handelinge 5:29.

6. Hoe het Jehovah se Getuies, soos Antipas, in hedendaagse tye ’n sterk standpunt ingeneem?

6 Sulke raad was dringend nodig. Jehovah se Getuies, die gesalfdes sowel as hulle metgeselle, moes te midde van blinde patriotiese ywer standvastig in die geloof bly. In die Verenigde State is honderde kinders en onderwysers uit skole gesit omdat hulle nie die landsvlag gesalueer het nie, terwyl die Getuies in Duitsland wreed vervolg is omdat hulle geweier het om die swastika te salueer. Soos reeds gemeld is, het Hitler se Nazi’s duisende van Jehovah se lojale knegte doodgemaak omdat hulle geweier het om aan sulke nasionalistiese afgodediens deel te neem. In die 1930’s, gedurende die bloeityd van Sjintoïstiese keiseraanbidding in Japan, het twee pionierbedienaars baie Koninkryksaad gesaai in Taiwan, wat deur die Japannese beset was. Die militêre maghebbers het hulle in die gevangenis gegooi, waar een van hulle weens die wrede behandeling gesterf het. Die ander een is later vrygelaat, maar toe in die rug geskiet—’n hedendaagse Antipas. Daar is vandag nog lande waar die aanbidding van nasionalistiese simbole en uitsluitlike toegewydheid aan die Staat vereis word. Talle jong Getuies is opgesluit, en heelparty selfs tereggestel, vanweë die moedige standpunt wat hulle as neutrale Christene ingeneem het. As jy ’n jongmens is wat met sulke geskille te kampe het, moet jy God se Woord daagliks bestudeer sodat jy ‘geloof kan hê tot behoud van die siel’, met die ewige lewe in die vooruitsig.—Hebreërs 10:39–11:1; Matteus 10:28-31.

7. Hoe het kinders in Indië die geskil ten opsigte van nasionalistiese aanbidding die hoof gebied, en met watter gevolg?

7 Skoliere het soortgelyke geskille die hoof gebied. In 1985 het drie jong kinders van Jehovah se Getuies in die staat Kerala, Indië, geweier om hulle Bybelse geloof prys te gee en het hulle nie die volkslied gesing nie. Hulle het eerbiedig gestaan terwyl ander gesing het, maar hulle is nietemin uit die skool gesit. Hulle vader het tot in die Hooggeregshof van Indië teen hierdie optrede geappelleer, waar die twee regters ten gunste van die kinders beslis het en moedig gesê het: “Ons tradisie leer verdraagsaamheid; ons filosofie leer verdraagsaamheid; ons grondwet pas verdraagsaamheid toe; laat ons dit nie afwater nie.” Die publisiteit in koerante en gunstige hoofartikels wat uit hierdie saak voortgespruit het, het die hele volk, wat destyds feitlik een vyfde van die wêreldbevolking uitgemaak het, ingelig dat daar Christene in daardie land is wat die ware God Jehovah aanbid en dat hulle lojaal by Bybelbeginsels bly.

Verderflike invloede

8. Waaroor moes Jesus die Christene in Pergamum berispe?

8 Ja, die Christene in Pergamum was handhawers van onkreukbaarheid. “Nietemin”, sê Jesus, “het ek ’n paar dinge teen jou.” Wat het hulle gedoen om berisping te verdien? Jesus sê vir ons: “Dat jy daar diegene het wat vashou aan die leer van Bileam, wat vir Balak geleer het om ’n struikelblok voor die kinders van Israel te lê, om afgodsoffers te eet en om hoerery te pleeg.”—Openbaring 2:14.

9. Wie was Bileam, en hoe het sy raad “’n struikelblok voor die kinders van Israel” gelê?

9 In Moses se dag is Bileam, ’n nie-Israelitiese profeet wat kennis gedra het van Jehovah se weë, deur koning Balak van Moab gehuur om Israel te vervloek. Jehovah het Bileam weerstaan en hom gedwing om seëninge vir die Israeliete en weë vir hulle vyande uit te spreek. Bileam het Balak se gevolglike gegriefdheid laat bedaar deur ’n subtieler aanval voor te stel: Laat die Moabitiese vroue Israel se mans tot growwe geslagsonsedelikheid en afgodediens aan die valse god Baäl van Peor verlei! Hierdie taktiek het gewerk. Jehovah se regverdige toorn het ontvlam, en hy het ’n plaag gestuur wat 24 000 van daardie Israelitiese hoereerders doodgemaak het—’n plaag wat eers gestuit is toe priester Pinehas daadwerklik opgetree het om die kwaad uit Israel te verwyder.—Numeri 24:10, 11; 25:1-3, 6-9; 31:16.

10. Watter struikelblokke het die gemeente in Pergamum binnegedring, en waarom het daardie Christene dalk gedink dat God hulle oortredings sou verskoon?

10 Is daar nou, in Johannes se dag, soortgelyke struikelblokke in Pergamum? Daar is! Onsedelikheid en afgodediens het die gemeente binnegedring. Daardie Christene het hulle nie gesteur aan God se waarskuwings wat deur middel van die apostel Paulus gegee is nie (1 Korintiërs 10:6-11). Dalk dink hulle dat Jehovah hulle seksuele oortredings sal verskoon omdat hulle vervolging verduur het. Jesus stel dit dus duidelik dat hulle sulke goddeloosheid moet vermy.

11. (a) Waarvoor moet Christene oppas, en watter denkwyse moet hulle vermy? (b) Hoeveel mense is deur die jare heen uit die Christengemeente gesit, en hoofsaaklik om watter rede?

11 Christene moet ook vandag oppas dat hulle nie “die onverdiende goedhartigheid van ons God in ’n verskoning vir losbandige gedrag verander” nie (Judas 4). Ons is verplig om te haat wat sleg is en om ‘ons liggaam te kasty’ sodat ons ’n weg van Christelike reinheid kan volg (1 Korintiërs 9:27; Psalm 97:10; Romeine 8:6). Ons moet nooit dink dat ywer in God se diens en onkreukbaarheid tydens vervolging ons die reg gee om ons aan seksuele wangedrag skuldig te maak nie. Deur die jare heen is tienduisende oortreders uit die wêreldwye Christengemeente gesit, hoofsaaklik weens geslagsonsedelikheid. In sommige jare was daar selfs meer as wat in eertydse Israel weens die Baäl van Peor geval het. Mag ons waaksaam bly sodat ons nooit in daardie geselskap beland nie!—Romeine 11:20; 1 Korintiërs 10:12.

12. Soos in die geval van knegte van God in vroeë tye, watter beginsels geld vandag vir Christene?

12 Jesus berispe die Christene in Pergamum ook omdat hulle ‘afgodsoffers eet’. Wat sou dit behels? Met die oog op Paulus se woorde aan die Korintiërs het party dalk hulle Christelike vryheid misbruik en die gewetens van ander opsetlik gekwets. Maar dit is waarskynliker dat hulle op die een of ander manier daadwerklik aan afgodiese seremonies deelgeneem het (1 Korintiërs 8:4-13; 10:25-30). Getroue Christene moet vandag onselfsugtige liefde betoon wanneer hulle hulle Christelike vryheid uitoefen en oppas dat hulle ander nie laat struikel nie. Hulle moet beslis moderne vorme van afgodediens, soos die aanbidding van TV-, rolprent- en sportsterre of die verafgoding van geld of selfs hulle eie buik, vermy!—Matteus 6:24; Filippense 1:9, 10; 3:17-19.

Vermy sektarisme!

13. Watter teregwysing gee Jesus vervolgens aan die Christene in Pergamum, en waarom het die gemeente dit nodig gehad?

13 Jesus wys die Christene in Pergamum verder tereg en sê: “So het jy ook dié wat op dieselfde wyse vashou aan die leer van die sekte van Nikolaus” (Openbaring 2:15). Jesus het die Efesiërs vroeër geprys omdat hulle die dade van hierdie sekte haat. Maar die Christene in Pergamum het raad nodig om die gemeente teen sektarisme te vrywaar. Christelike standaarde moet strenger nageleef word sodat die eenheid waarvoor Jesus in Johannes 17:20-23 gebid het, bewaar kan word. Dit is nodig “om deur die gesonde leer te vermaan sowel as om die teësprekers tereg te wys”.—Titus 1:9.

14. (a) Met wie het die Christengemeente van die begin af te kampe gehad, en hoe het die apostel Paulus hulle beskryf? (b) Op watter woorde van Jesus moet enigiemand wat dalk ’n splintergroep wil volg, ag slaan?

14 Die Christengemeente het van die begin af te kampe gehad met trotse afvalliges, wat deur vleiende, bedrieglike woorde “in stryd met die leer” wat deur Jehovah se kanaal voorsien word, “verdeeldheid veroorsaak en tot struikeling aanleiding gee” (Romeine 16:17, 18). Paulus het in byna al sy briewe teen hierdie gevaar gewaarsku.a In hedendaagse tye, waarin Jesus die ware gemeente tot sy Christelike reinheid en eenheid herstel het, bestaan die gevaar van sektarisme nog steeds. Enigiemand wat dalk ’n splintergroep wil volg, waardeur ’n sekte gevorm word, moet dus op Jesus se volgende woorde ag slaan: “Toon dan berou. So nie, kom ek gou na jou toe, en ek sal met die lang swaard van my mond teen hulle oorlog voer.”—Openbaring 2:16.

15. Hoe ontstaan sektarisme?

15 Maar hoe ontstaan sektarisme? ’n Selfaangestelde onderrigter saai dalk twyfel deur die een of ander Bybelwaarheid (soos die feit dat ons in die laaste dae lewe) te betwis, en gevolglik skei ’n splintergroep wat hom volg, hulle af (2 Timoteus 3:1; 2 Petrus 3:3, 4). Of iemand kritiseer die manier waarop Jehovah sy werk laat doen en moedig laksheid aan deur te beweer dat dit nie skriftuurlik of nodig is om die Koninkryksboodskap van huis tot huis te verkondig nie. Dit sal hierdie persone nederig hou as hulle Jesus en sy apostels se voorbeeld volg deur aan hierdie diens deel te neem; maar hulle verkies om af te stig en dan agteroor te sit, terwyl hulle die Bybel miskien net af en toe as ’n private groep lees (Matteus 10:7, 11-13; Handelinge 5:42; 20:20, 21). Sulke mense versin hulle eie idees oor die Herdenking van Jesus se dood, die skriftuurlike bevel om ons van bloed te onthou, die viering van vakansiedae en die gebruik van tabak. Verder minag hulle Jehovah se naam; hulle val baie gou heeltemal terug in die permissiewe weë van Babilon die Grote. Nog erger, party word deur Satan beweeg om teen ‘hulle medeslawe’, hulle eertydse broers, te draai en hulle te “slaan”.—Matteus 24:49; Handelinge 15:29; Openbaring 17:5.

16. (a) Waarom moet dié wat weens afvalliges se invloed weifel, sonder versuim berou toon? (b) Wat sal gebeur met dié wat weier om berou te toon?

16 Enigiemand wat weens afvalliges se invloed weifel, moet sonder versuim ag slaan op Jesus se aansporing om berou te toon! Afvallige propaganda moet verwerp word soos die gif wat dit is! Dit is gegrond op afguns en haat, in teenstelling met die regverdige, kuise en lieflike waarhede waarmee Jesus sy gemeente voed (Lukas 12:42; Filippense 1:15, 16; 4:8, 9). Wat dié betref wat weier om berou te toon, die Here Jesus voer inderdaad “met die lang swaard van [sy] mond teen hulle oorlog”. Hy sif sy volk om die eenheid te bewaar waarvoor hy gedurende sy laaste aand saam met sy dissipels op die aarde gebid het (Johannes 17:20-23, 26). Aangesien afvalliges die liefdevolle raad en hulp verwerp wat deur die sterre in sy regterhand aangebied word, oordeel en straf Jesus hulle “met die grootste strengheid” en lewer hy hulle oor aan “die duisternis daar buite”. Hulle word uitgesit, sodat hulle nie meer soos suurdeeg onder God se volk kan werk nie.—Matteus 24:48-51; 25:30; 1 Korintiërs 5:6, 9, 13; Openbaring 1:16.

‘Verborge manna en ’n wit klippie’

17. Watter beloning wag op gesalfde Christene wat “oorwin”, en wat moes die Christene in Pergamum weerstaan?

17 Daar wag ’n wonderlike beloning op almal wat ag slaan op Jesus se raad, wat onder leiding van Jehovah se heilige gees gegee word. Luister! “Laat die een wat ’n oor het, hoor wat die gees vir die gemeentes sê: Aan hom wat oorwin, sal ek van die verborge manna gee, en ek sal hom ’n wit klippie gee, en op die klippie staan ’n nuwe naam geskrywe wat niemand ken nie, behalwe die een wat dit ontvang” (Openbaring 2:17). Die Christene in Pergamum word dus, soos die Christene in Smirna, aangespoor om te “oorwin”. As hulle suksesvol wil wees, moet diegene in Pergamum, waar die troon van Satan is, afgodediens vermy. Hulle moet die onsedelikheid, die sektarisme en die afvalligheid wat met Balak, Bileam en die sekte van Nikolaus verband hou, weerstaan. As hulle dit doen, sal daardie gesalfde Christene genooi word om van “die verborge manna” te eet. Wat beteken dit?

18, 19. (a) Wat was die manna wat Jehovah aan die Israeliete voorsien het? (b) Watter manna was verborge? (c) Wat word deur die eet van die verborge manna afgebeeld?

18 In Moses se dag het Jehovah manna voorsien om die Israeliete gedurende hulle reis deur die wildernis te voed. Daardie manna was nie verborge nie, want dit het elke oggend—behalwe op die Sabbat—wonderdadig verskyn, soos ’n vlokkerige ryp wat die aarde bedek. Dit was ’n goddelike voorsiening om die Israeliete aan die lewe te hou. Jehovah het Moses beveel om “in al [Israel se] geslagte” van hierdie “brood” as aandenking in ’n goue kruik in die heilige verbondsark te hou.—Eksodus 16:14, 15, 23, 26, 33; Hebreërs 9:3, 4.

19 Wat ’n gepaste simbool! Hierdie manna was in die Allerheiligste van die tabernakel verberg, waar die wonderdadige lig wat bokant die Ark se deksel geskyn het, die teenwoordigheid van Jehovah afgebeeld het (Eksodus 26:34). Niemand mag daardie heilige plek binnegegaan het om die verborge manna te eet nie. Maar Jesus het gesê dat sy gesalfde volgelinge wat oorwin, “die verborge manna” sou eet. Soos Christus voor hulle sal hulle ingaan, “nie . . . in ’n heiligdom wat met hande gemaak is, wat ’n kopie van die werklikheid is nie, maar in die hemel self” (Hebreërs 9:12, 24). By hulle opstanding beklee hulle hulle met onverderflikheid en onsterflikheid—’n wonderlike voorsiening van Jehovah, afgebeeld deur die feit dat die onbederfbare “verborge manna” aan hulle gegee word. Hoe bevoorreg is hierdie groepie oorwinnaars tog!—1 Korintiërs 15:53-57.

20, 21. (a) Wat word gesimboliseer deur die feit dat gesalfde Christene ’n wit klippie ontvang? (b) Watter hoop koester die groot menigte, aangesien daar net 144 000 wit klippies is?

20 Hulle ontvang ook “’n wit klippie”. In Romeinse howe is klippies gebruik wanneer ’n oordeel gevel is.b ’n Wit klippie het vryspraak beteken, terwyl ’n swart klippie veroordeling, dikwels tot die dood, beteken het. Die feit dat Jesus “’n wit klippie” aan die Christene in Pergamum gee, sou aandui dat hy hulle onskuldig, suiwer en rein bevind. Maar Jesus se woorde het moontlik ’n verdere betekenis. In Romeinse tye is klippies ook as toegangskaartjies tot belangrike geleenthede gebruik. Die wit klippie kan dus dui op iets baie besonders vir die gesalfde Christen wat oorwin—toegang tot ’n geëerde plek in die hemel tydens die huwelik van die Lam. Net 144 000 sulke klippies word voorsien.—Openbaring 14:1; 19:7-9.

21 Beteken dit dat jy buite rekening gelaat word as jy een van die groot menigte medeaanbidders is? Glad nie! Hoewel jy nie die wit klippie ontvang wat toegang tot die hemel verleen nie, kan jy, as jy volhard, uit die groot verdrukking kom om ’n aandeel te hê aan die vreugdevolle werk om die Paradys op aarde te herstel. Verrese getroues uit voor-Christelike tye en lede van die ander skape wat korter gelede gesterf het, sal hierdie werk saam met jou doen. Uiteindelik sal al die ander vrygekoopte dooies begunstig word met ’n opstanding tot lewe op ’n paradysaarde.—Psalm 45:16; Johannes 10:16; Openbaring 7:9, 14.

22, 23. Wat is die betekenis van die naam wat geskrywe staan op die klippie wat aan gesalfde Christene gegee word, en watter aansporing behoort dit te gee?

22 Wat is die nuwe naam wat op die klippie geskrywe staan? ’n Naam is ’n manier om ’n persoon te identifiseer en hom van ander te onderskei. Hierdie gesalfde Christene ontvang die klippie nadat hulle hulle aardse loopbaan as oorwinnaars voltooi het. Dit is derhalwe duidelik dat die naam op die klippie verband hou met hulle voorreg om in die hemel met Jesus verenig te word—’n uiters intieme posisie van koninklike diens wat slegs deur dié wat die hemelse Koninkryk beërf, ten volle waardeer en geniet sal word. Dit is dus ’n naam, of ’n ampsbetiteling, “wat niemand ken nie, behalwe die een wat dit ontvang”.—Vergelyk Openbaring 3:12.

23 Wat ’n aansporing is dit tog vir die Johannes-klas om te “hoor wat die gees vir die gemeentes sê” en dit toe te pas! En hoe spoor dit tog hulle metgeselle, die groot menigte, aan om getrou saam met hulle te dien terwyl hulle hulle kameraadskap hier op die aarde kan geniet en Jehovah se Koninkryk saam met hulle kan bekend maak!

[Voetnote]

a Sien ook 1 Korintiërs 3:3, 4, 18, 19; 2 Korintiërs 11:13; Galasiërs 4:9; Efesiërs 4:14, 15; Filippense 3:18, 19; Kolossense 2:8; 1 Tessalonisense 3:5; 2 Tessalonisense 2:1-3; 1 Timoteus 6:3-5; 2 Timoteus 2:17; 4:3, 4; Titus 1:13, 14; 3:10; Hebreërs 10:26, 27.

b Sien Handelinge 26:10 en voetnoot in NW.

[Prente op bladsy 43]

Hierdie bewyse van wydverspreide heidense aanbidding word in die Pergamon-museum in Berlyn uitgestal

[Prente op bladsy 45]

’n Hoeveelheid manna is in die verbondsark verberg. Vir gesalfdes wat oorwin, beteken die feit dat simboliese verborge manna aan hulle gegee word, dat hulle onsterflikheid ontvang

[Prent op bladsy 45]

Die wit klippie is vir dié wat toegang tot die huwelik van die Lam verkry

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel